Beskeidenheid—’n sieraad vir jonk en oud
BESKEIDENHEID is ’n bekoorlike eienskap. Dit kan die besitter daarvan beminlik maak. En wie is nie bly as ander van hom hou nie? Daar kan dus tereg gesê word dat beskeidenheid ’n sieraad vir jonk en oud is.
Maar dit lyk of veral jongmense dit moeilik vind om ’n behoorlike balans te verkry wat beskeidenheid betref. Daar is enersyds die jong persone wat oënskynlik te beskeie is. Hulle huiwer om verantwoordelikheid te aanvaar omdat hulle pynlik bewus is van hulle beperkte kennis en gebrek aan ervaring. Baie jongmense is andersyds te vol vertroue omdat hulle blykbaar onbewus is van hulle beperkings weens ’n gebrek aan ervaring. Die Bybel bevat voorbeelde van albei soorte jongmense.
Kontrasterende voorbeelde
Die droewige gevolge van ’n gebrek aan beskeidenheid is toegelig in die geval van koning Salomo se seun Rehabeam. Hy was nog baie jonk toe hy sy vader op die troon van die twaalf-stammeryk van Israel opgevolg het. Watter weg het Rehabeam ingeslaan toe die mense by hom gepleit het om hulle laste te verlig? Hoewel die ouer raadgewers hom aangespoor het om medelye te toon, het hy hulle wyse raad in die wind geslaan. Rehabeam het eerder geluister na die raad van jonger manne wat hom aangeraai het om die volk hardvogtig te behandel. Hy het dus vir hulle gesê: “Het my vader julle juk swaar gemaak—ék sal by julle juk nog byvoeg; het my vader julle met die sweep getugtig—ék sal julle met gesels tugtig.” As Rehabeam ’n beskeie jong man was, sou hy geluister het na die raad van die ouer raadgewers en die laste van die volk verlig het. Omdat hy dit nie gedoen het nie, het hy 10 van die 12 stamme verloor.—1 Konings 12:3-24.
Elihu het ’n skerp teenstelling met Rehabeam gevorm. Hy het ’n goeie voorbeeld vir alle hedendaagse jong manne gestel omdat hy nie uitermate terughoudend of te vol selfvertroue was nie. Hoewel Elihu geweet het wat om te sê, het hy dae lank geduldig na Job en sy skynheilige, sogenaamde troosters geluister. Slegs toe ‘die woorde van Job geëindig het’, het Elihu, met die nodige beskeidenheid, begin spreek. “Ek is jonk, en u is hoogbejaard”, het hy gesê. “Daarom was ek beskroomd en het gevrees om my kennis aan u mee te deel.”—Job 31:40; 32:4-7.
Hoeveel doeltreffender en gewigtiger was Elihu se woorde tog omdat hy gewag het totdat daardie bejaarde manne klaar gepraat het! Elihu het klaarblyklik die sleutel tot die probleem besit, terwyl hulle duidelik getoon het dat hulle nie begryp het waarom dit alles gaan nie. En waarom het dit gegaan? Die geskil oor die regmatigheid van Jehovah God se soewereiniteit en of Hy mense op aarde kon hê wat getrou aan Hom sou bly ondanks wat hulle moes ly.—Job 1:7-2:10.
Kyk ook na Jeremia. Toe Jehovah God hom as ’n profeet aangestel het, het hy aangevoer dat hy nie daartoe in staat is nie weens sy betreklike jonkheid. God het egter geantwoord: “Moenie sê: Ek is jonk nie; want na wie Ek jou ook al stuur, moet jy gaan; en wat Ek jou ook al beveel, moet jy spreek. Wees vir hulle nie bevrees nie, want Ek is met jou om jou uit te red” (Jeremia 1:7, 8). Met behulp van God se gees het Jeremia sy skugterheid te bowe gekom en God se boodskappe onverskrokke gespreek. Maar die profeet was nooit verwaand nie. Wanneer hy voor konings en ander amptenare verskyn het, het hy altyd gespreek met die diepe eerbied wat by ’n beskeie persoon pas.
Uit die geïnspireerde verslag kan ons aflei dat Timotheüs nog ’n beskeie jong persoon was wat effens skaam of terughoudend was. Hoewel die Bybel dit nie spesifiek sê nie, kan ons hierdie gevolgtrekking maak uit wat dit wel sê. Let daarop dat Timotheüs se ouer vriend, die apostel Paulus, vir hom gesê het: “Laat niemand jou jonkheid verag nie.” As Timotheüs baie selfvertroue gehad het, sou dit ongetwyfeld nie nodig gewees het vir Paulus om dit vir hom te sê nie. Dit was waarskynlik ook as gevolg van Timotheüs se beskeidenheid en terughoudendheid dat Paulus dit nodig gevind het om vir die gemeente in Korinthe te sê: “As Timotheüs kom, sorg dat hy sonder vrees by julle is, want hy doen die werk van die Here net soos ek. Laat niemand hom dan minag nie.”—1 Timotheüs 4:12; 1 Korinthiërs 16:10, 11.
Jong en ou Christene sal klaarblyklik die onverstandige, onbeskeie weg van Rehabeam wil vermy. Maar hulle is verstandig as hulle die eerbiedige, beskeie manier van Elihu navolg. En uit die voorbeelde van Jeremia en Timotheüs kan jonger Christene leer dat hulle beskeie dog moedig moet voortgaan in Jehovah se diens, al is hulle ietwat skaam of terughoudend. As hulle volhard, sal hulle mettertyd iets verkry wat hulle diens aan Jehovah grootliks sal verbeter.
Die waarde van ervaring
Jonger persone het veel om voor dankbaar te wees. Wyse koning Salomo het van hulle voorregte gesê: “Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid; en wandel in die weë van jou hart en in die aanskouing van jou oë.”—Prediker 11:9.
Maar met blakende gesondheid en oorgenoeg fisiese energie, en dikwels met ’n kop vol boekekennis, is jongmense dikwels geneig om te vol selfvertroue te wees. Hulle glo gevolglik dat hulle die probleme kan oplos waarmee ouer manne geslagte lank al worstel. Maar die feit bly staan dat jongmense, ondanks al hulle geleerdheid, gretigheid en liggaamskrag, ’n gebrek aan ervaring het. Dit is waarskynlik waarom die Romeinse dramaturg Plaotus gesê het dat “beskeidenheid ’n jong man pas”. Ervaring temper gewoonlik ’n persoon se geesdrif, gretigheid en selfvertroue. Daar word gevolglik gesê dat ’n jong dokter begin met ’n honderd rate vir elke kwaal, maar na jare van ondervinding ontdek dat daar honderd kwale vir elke raat is!
Ja, ervaring—dit is wat die verskil maak! Die Bybel sê selfs dat Jesus Christus vir sy amp as Koning en Hoëpriester volmaak is deur ervaring, deur die dinge wat hy gely het (Hebreërs 4:15; 5:8, 9). Daar is al gesê dat die ondervinding ’n duur leermeester is, maar dat dwase by niemand leer nie. Die wêreld is natuurlik vol mense wat nie beskeie genoeg is om selfs uit ondervinding te leer nie. Maar ondervinding kan waarlik help om die beskeie persoon wys te maak.
Hulpmiddele tot beskeidenheid
Jong en ou Christene weet dat beskeidenheid ’n sieraad is. Maar hoe kan hierdie wenslike eienskap verkry word? Een van die dinge wat ons sal help om beskeidenheid te verkry, is as ons daagliks die Bybel, die Woord van God, lees. Dit gee ons die regte perspektief en help ons om onsself nie te ernstig op te neem nie. Skriflesing help ons ook om dinge uit God se standpunt te sien. Die Skrif toon byvoorbeeld dat mense vir God net soos sprinkane is, en dat selfs hele nasies soos druppels water is wat uit ’n emmer val (Jesaja 40:15, 22). Die Bybel vermaan ons in werklikheid om beskeie te wees wanneer dit vra: “Wat vra Jehovah van jou terug anders as om geregtigheid te beoefen en goedheid lief te hê en beskeie te wandel met jou God?” En die apostel Paulus toon wat dit presies beteken om beskeie te wees wanneer hy sê: “Ek [sê] vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees.” Ons moet iets van onsself dink, maar die beskeie individu sorg dat hy nie sy waarde oorskat nie.—Miga 6:8, NW; Romeine 12:3, NTP.
Let op dat die raad wat pas gemeld is, nie net tot jongmense gerig is nie, maar tot almal, ou mense sowel as jongmense. Die Bybel toon egter dat beskeidenheid veral jongmense pas. Die Skrif toon bowendien dat gemeentelike verantwoordelikheid van die tyd van Moses tot die dae van Jesus se apostels deur die “oudstes”, die ouere manne, gedra is (Exodus 3:16; 1 Petrus 5:1-3). Die Bybel sê ook: “Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees.” Dit beteken dat die jonger manne nie trots of hoogmoedig moet wees nie. Maar is sulke raad slegs op die jonger manne van toepassing? Nee, want die apostel Petrus sê voorts: “Wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” Nederigheid en beskeidenheid is inderdaad nou verwant.—1 Petrus 5:5.
Ons sal almal gehelp word om beskeie te wees as ons ons voortdurend daaraan herinner dat beskeidenheid die verstandige weg vir jonk sowel as oud is. Beskeidenheid sal ons baie moeite bespaar, want dit sal voorkom dat ons verwaand word en meer beloof as wat ons kan doen. Dit sal voorkom dat ons ’n gees van mededinging of wedywer by ander wek, en sal ons innemender persone maak. Beskeidenheid werk ook gemoedsrus en vergenoegdheid in die hand, eienskappe wat onontbeerlik is vir geluk. Dit is dus nie sonder rede dat wyse koning Salomo gesê het nie: “By die beskeidenes is wysheid.”—Spreuke 11:2.
[Prent op bladsy 9]
Jong Elihu het beskeie gewag om die waarheid te spreek