Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 3/15 bl. 28-32
  • Die aankweek van Christelike beskeidenheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die aankweek van Christelike beskeidenheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Voorbeelde van beskeidenheid
  • Beskeidenheid het sin
  • Hulpmiddele om beskeidenheid aan te kweek
  • Christelike beskeidenheid—’n blyk van wysheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Beskeidenheid—’n Eienskap wat vrede bevorder
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Waarom beskeidenheid nog steeds belangrik is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Jy kan beskeie bly​—⁠Selfs wanneer dit moeilik is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 3/15 bl. 28-32

Die aankweek van Christelike beskeidenheid

1. Watter betuigings toon dat sommige manne van die wêreld beskeidenheid op prys gestel het?

BESKEIDENHEID is ’n deug wat eens deur die wyse manne van hierdie wêreld op prys gestel is. Ons word gevolglik meegedeel: “’n Beskeie persoon win dikwels die welbehae van diegene met wie hy omgaan, want niemand beny ’n man wat oënskynlik nie ingenome met homself is nie.” En daar is al gesê: “Beskeidenheid is ’n lig wat brand; dit berei die verstand voor om kennis te ontvang, en die hart vir die waarheid.” Dit is onwaarskynlik dat iemand met ’n gebrek aan beskeidenheid ’n ontvanklike gemoed sal hê.

2. Hoe het sekere beroemde manne beskeidenheid aan die dag gelê?

2 Sommige manne wat beroemd is vir hulle ontdekkings het andersyds beskeidenheid geopenbaar. Albert Einstein het byvoorbeeld eenkeer gesê dat “’n gees openbaar word in die wette van die Heelal—’n gees verreweg hoër as dié van die mens, en ’n gees wat ons met ons beskeie vermoëns nederig moet laat voel”. En sir Isaac Newton, wat deur baie as die grootste wetenskaplike van alle tye beskou word, het eenkeer gesê: “As ek verder as ander gesien het, was dit omdat ek op die skouers van reuse gestaan het.” Sommige chirurge wat op Jehovah se Getuies geopereer het, het klaarblyklik ’n soortgelyke beskouing. Nadat hulle met welslae baie moeilike operasies sonder bloedoortappings uitgevoer het, het hulle vir hulle Getuiepasiënte gesê dat God die eer daarvoor moet kry, nie die chirurge self nie.

Voorbeelde van beskeidenheid

3. (a) Wat sal ons help om beskeidenheid aan te kweek? (b) Wat kan oor Moses en beskeidenheid gesê word?

3 Wat sal ons help om die uiters wenslike, ja, uiters noodsaaklike eienskap beskeidenheid aan te kweek? Die toepassing van alles wat in die vorige artikel oor beskeidenheid gesê is, sal ons ongetwyfeld help om beskeidenheid aan te kweek. Nog iets wat ons sal help om beskeidenheid aan te kweek, is as ons kyk na die kragtige wyse waarop Jehovah sy beskeie dienaars gebruik het. Hoe kon God ooit manne gebruik wat eersugtig was en die aandag op hulself in plaas van op hul Maker gevestig het? Moses het dit net een keer gedoen—en weliswaar onder groot druk en provokasie. Maar hoe duur het dit hom tog te staan gekom! Dat Moses waarlik beskeie was, blyk egter uit sy aanvanklike beskroomdheid om voor Farao te verskyn. Die Skrif sê daarbenewens: “Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem.”—Numeri 12:3; Exodus 4:10-17.

4. Hoe het Elihu en Josef die nodige beskeidenheid geopenbaar?

4 Nog ’n goeie voorbeeld van beskeidenheid was jong Elihu. Hy het geduldig gewag totdat Job en sy drie metgeselle, wat ouer as hy was, hulle sê gesê het voordat hy gepraat het. Elihu het nie ’n meerderwaardige houding gehad nie, maar alle lof aan sy Maker gegee (Job 32:4-11, 21, 22; 36:9). Josef, die seun van die aartsvader Jakob, het ook die nodige beskeidenheid aan die dag gelê toe hy voor magtige Farao verskyn het en daar vir hom gevra is of hy die koning se droom kon uitlê. Josef het Jehovah die eer gegee vir die uitlegging van drome.—Genesis 40:8; vergelyk Daniël 2:26-30.

5. Waarom was Gideon se beskeidenheid vir Jehovah God belangrik?

5 Beskou ook die geval van Gideon. Toe hy sy opdrag ontvang het, het hy beskeie gesê dat sy geslag die swakste in Manasse is en dat hyself die geringste in sy vader se huis is. Gideon was dus net die man wat Jehovah wou gebruik om die Midianiete te verslaan, want God was vasbeslote om die eer vir die oorwinning te kry. Slegs ’n waarlik beskeie man kon behoorlik in daardie situasie dien.—Rigters 6:14-16; 7:2-7.

6. (a) Waarom het jong koning Salomo se versoek Jehovah behaag? (b) Watter ander jong dienaar van Jehovah het gepaste beskeidenheid aan die dag gelê, en ten opsigte waarvan? (c) Hoe kan die gesindheid van jong Elihu, Salomo en Jeremia betreklik jong en onervare getuies van Jehovah beïnvloed?

6 Jong Salomo het eweneens beskeidenheid aan die dag gelê net nadat hy koning gemaak is. Toe God in ’n droom vir hom gevra het wat hy graag wou hê, het Salomo beskeie geantwoord: “Ek is ’n jong seun; . . . Gee dus aan u kneg ’n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer?” Salomo se beskeidenheid het Jehovah so behaag dat Hy hom nie alleen wysheid gegee het nie, maar ook groot rykdom en eer (1 Konings 3:4-14). As gevolg van Salomo se beskeidenheid het Jehovah hom die wysste van alle menseheer-sers gemaak. Jeremia het soortgelyke beskeidenheid aan die dag gelê met die oog op sy jonkheid toe hy geroep is om Jehovah se profeet te wees (Jeremia 1:6-8). Is jy ’n betreklik jong of onervare getuie van Jehovah? Dan sal jy beslis wys wees as jy net soos Elihu, Salomo en Jeremia die nodige beskeidenheid aan die dag lê.

7. Hoe stel Paulus se woorde in 1 Korinthiërs 2:1-5 ’n goeie voorbeeld van beskeidenheid vir Koninkryksverkondigers?

7 Die beskeidenheid van die apostel Paulus was ook opmerklik. Hoewel hy ’n hooggeleerde Fariseër was en later op kragtige wyse deur Jehovah God gebruik is, het Paulus nie met sy agtergrond en voorregte te koop geloop nie. Hy het self gesê: “Toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God kom verkondig met voortreflikheid van woorde of van wysheid nie, want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde. Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing; en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God” (1 Korinthiërs 2:1-5). Sommige van Jehovah se Getuies kom uit die hooggeleerdes. Maar net soos Paulus openbaar hulle beskeidenheid wanneer hulle die goeie nuus verkondig en volg hulle wyslik die apostel se goeie voorbeeld.

8. Hoe het Jesus die beste en grootste voorbeeld van beskeidenheid gestel?

8 Die grootste en beste voorbeeld van beskeidenheid is natuurlik niemand anders as Jesus Christus nie. Watter kontras bestaan daar tog tussen die Seun van God en die een wat Satan die Duiwel geword het! Christus het nooit onbeskeie probeer om aan Jehovah God gelyk te wees nie (Mattheüs 4:8-10; Filippense 2:5-8, NW). Jesus is eerder volkome tevrede om sy Vader se assistent en woordvoerder te wees (Spreuke 8:30; Johannes 1:1). Terwyl hy op aarde was, het hy herhaaldelik gepraat van sy onderworpenheid aan God (Johannes 5:19, 30; 7:28; 8:28, 42). Hy het persoonlike eer geweier en die aandag op Jehovah gevestig (Markus 10:18). En ten tye van Jesus se grootste beproewing was sy gesindheid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Mattheüs 26:39). Jesus het ongetwyfeld vir ons ’n goeie voorbeeld op die gebied van beskeidenheid gestel. Al God se geesskepsele en alle mense behoort dus beslis beskeie te wees.

Beskeidenheid het sin

9. Waarom het beskeidenheid aan die kant van God se dienaars sin volgens 1 Korinthiërs 4:6, 7?

9 Dit is logies vir ons om beskeie te wees; dit het sin. Om mee te begin, is ons nie almal onvolmaak nie? Niemand kan dit ontken nie! (1 Konings 8:46). Ons begaan almal foute. Ons het beperkte ondervinding en ons kennis is geensins oneindig nie. Daarbenewens het ons niks wat ons nie ontvang het nie. Die apostel Paulus het medegelowiges dus aangespoor om nie verder te gaan as die dinge wat geskrywe is nie “sodat”, soos hy dit gestel het, “julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ’n derde nie. Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?” (1 Korinthiërs 4:6, 7). Wat ons is, word immers grootliks bepaal deur ons oorgeërfde genetiese samestelling, ons milieu en veral deur God se voorsienigheid.

10. Waarvan hang welslae in heilige diens af, en hoe moet bewustheid van daardie feit ons raak?

10 Is dit daarbenewens nie ’n feit dat, ongeag enige welslae wat ons in ons heilige diens behaal, alles van Jehovah se seën afhang nie? Ter toeligting: Dit maak nie saak hoe hard ’n boer werk nie, die weer speel ’n baie belangrike rol by die groei van gewasse. En die psalmis het tereg opgemerk: “As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.” Die apostel Paulus het dieselfde gedagte gestel in verband met die werk van Christenbedienaars toe hy geskryf het: “Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei. So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei” (Psalm 127:1; 1 Korinthiërs 3:6, 7). Ja, as ons oor die saak redeneer, moet ons saamstem dat beskeidenheid vir ons almal gepas is, ongeag ons vermoëns, bekwaamhede of besittings.

Hulpmiddele om beskeidenheid aan te kweek

11. Hoe sal liefde vir Jehovah God ons help om beskeie te wees?

11 Een van die eienskappe wat ons sal help om beskeie te wees, is liefde, onselfsugtige liefde. As ons alles waardeer wat Jehovah God vir ons gedoen het, nou vir ons doen en nog vir ons gaan doen, sal ons hom waarlik met ons hele hart, siel, verstand en krag liefhê (Markus 12:30). Dan sal ons ons nie op onsself beroem nie. Grootpratery is immers die teenoorgestelde van beskeidenheid. Ons sal liewer altyd met die nodige beskeidenheid praat en handel sodat ons nie die aandag op onsself vestig nie, maar op Jehovah God, sodat hy al die heerlikheid en eer kry. Sodoende sal ons ag slaan op die raad: “Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek [Jehovah] is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ’n behae, spreek [Jehovah].”—Jeremia 9:23, 24.

12. Hoe kan ’n goeie verhouding met God ons help om beskeie te wees?

12 ’n Intieme verhouding met Jehovah sal ons ook help om te alle tye beskeie te wees. Daar word van ons verwag om beskeie met ons God te wandel (Miga 6:8, NW). In die mate dat die Skepper, sy grootheid, sy majesteit en sy hoedanighede vir ons werklik is, dermate sal ons die nodige beskeidenheid aan die dag lê. Ons wil graag dieselfde gesindheid hê as Moses, wat “volgehou [het] soos een wat die Onsienlike sien” (Hebreërs 11:27). Dit is asof ons klein kindertjies is wat ons hemelse Vader se hand neem. As ons onsself gereeld met Jehovah se Woord voed en “volhard in die gebed”, ja, “bid sonder ophou”, sal dit ons help om hierdie goeie, intieme verhouding met God te hê.—Romeine 12:12; 1 Thessalonicense 5:17.

13. Hoe kan ons begeerte om Jesus Christus na te volg ons help om beskeie te wees?

13 Liefde en waardering vir alles wat ons Heer, Jesus Christus, vir ons gedoen het en kennis van wat dit beteken om sy voetstappe noukeurig na te volg, sal ons ook help om beskeie te wees. Watter goeie, edel, onselfsugtige, volmaakte voorbeeld het Jesus tog vir ons gestel! In die mate wat ons ons verpligting om sy voetstappe noukeurig na te volg ernstig opneem, dermate sal ons gehelp word om beskeie te wees. Hoe so? Omdat ons sal besef hoe ver ons daarin te kort skiet om hom ten volle na te volg. Ons voel dalk ingenome met onsself wanneer ons ons met sommige ander vergelyk. Maar het ons rede om so ingenome te voel naas Jesus Christus? Ons moet eerder voel soos die apostel Paulus gevoel het—ons moet pynlik bewus wees van die feit dat ons versuim om te doen wat ons werklik wil doen en so dikwels doen wat ons in werklikheid nie wil doen nie. Geen Christen wat terdeë bewus is van die mate waarin hy daarin te kort skiet om Jesus Christus na te volg, sal geneig wees om hom op homself te beroem nie,—Romeine 7:15-26.

14. Waarom kan broederliefde ons help om beskeie te wees?

14 Liefde vir ons medegetuies van Jehovah en vir ons gesinslede sal ons eweneens help om beskeie te wees. Een Koninkrykslied stel dit soos volg: “Liefde sien die goeie raak. Poog om almal sterk te maak.” Ja, liefde sal ons help om ander se goeie eienskappe te waardeer. Maar hoe kan dit ons help om beskeie te wees? Wel, ’n gebrek aan beskeidenheid gee ander aanstoot en laat hulle ongemaklik voel. Aangesien ons nie diegene wat ons liefhet aanstoot wil gee nie, sal opregte broederliefde ons beskeie maak. ’n Gebrek aan beskeidenheid wek mededinging, wedywer, of laat ander minderwaardig voel. Maar “die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie”. Dit is eerder beskeie.—1 Korinthiërs 13:4.

15. Hoe kan selfbeheersing ons help om beskeie te wees?

15 Selfbeheersing, ’n vrug van God se heilige gees, help ons ook om beskeidenheid aan te kweek (Galasiërs 5:22). Hou die twee werklik verband? Inderdaad. ’n Individu is dikwels geneig om die selfsugtige of selfvleiende ding te sê of te doen, soms bloot omdat hy impulsief optree. Sodra ’n persoon dit gesê of gedoen het, besef hy moontlik sy fout. Dit is omdat die mensehart skelm, verraderlik en bedrieglik is (Jeremia 17:9, Die Lewende Bybel; The Jerusalem Bible; The New English Bible). Maar as ons selfbeheersing aan die dag lê, stilstaan en nadink oor presies hoe ons woorde en dade ander sal raak, sal dit ons help om die nodige beskeidenheid aan die dag te lê. As ons byvoorbeeld nie behoorlik daaroor nadink nie, kan ons geneig wees om die lekkerste of grootste stuk vleis, koek of vrug te neem wanneer ons bedien word of ’n dis tydens ete omgestuur word. Maar selfbeheersing en bedagsaamheid sal ons in staat stel om daardie impuls te weerstaan. Dieselfde geld wanneer iemand onbeskeie die beste sitplek by ’n maaltyd inneem. Hy kan versoek word om na ’n minder belangrike plek te skuif, soos Jesus in ’n gelykenis getoon het. Maar as ons ’n bietjie dink en beskeie is, sal dit verhoed dat ons so ’n pynlike fout begaan.—Lukas 14:8-11.

16. Waarom kan geloof in Jehovah ons help om beskeie te wees?

16 Nog ’n vrug van die gees wat ons sal help om beskeidenheid aan te kweek, is geloof in Jehovah, wat voortspruit uit ’n goeie verhouding met hom. Die gevalle menslikenatuur is geneig om die vrees te wek dat ’n mens die goeie dinge van die lewe gaan misloop, hetsy dit materiële, intellektuele, emosionele of geestelike dinge is. Maar geloof in Jehovah sal verhoed dat ons vermetel of onbeskeie na vore dring. Ons sal eerder sake in Jehovah se hande laat. As ons beskeie is, sal ons kan wag totdat God sake regstel of toesien dat ons erkenning verkry of voorregte ontvang. Voordat Dawid koning geword het, het hy hierdie beskeidenheid aan die dag gelê. Hy kon eiemagtig opgetree het, want hy is as koning gesalf. Dawid kon dadelik Israel se heerser geword het deur koning Saul om die lewe te bring, maar nee, Dawid het beskeie op Jehovah gewag om die koningskap aan hom te gee, en dit is wat Jehovah op Sy bestemde tyd gedoen het.—1 Samuel 24:2-6; 26:10-11.

17. Hoe kan empatie ons help om beskeie te wees?

17 Nog iets wat ons help om beskeie te wees, is empatie, die vermoë om jou in iemand anders se plek te stel. ’n Gebrek aan beskeidenheid kan byvoorbeeld veroorsaak dat ’n gemeentelike ouere man herhaaldelik sy tyd oorskry wanneer hy dele op gemeentelike vergaderinge behartig. Maar as hy empatie het, sal hy hom in die plek van sy mede-ouere manne kan stel wat graag genoeg tyd wil hê vir hulle dele op die program. Die beskeie ouere man sal ook aan sy geestelike broers en susters dink wat dit nie waardeer wanneer ’n vergadering om geen goeie rede te lank aanhou nie. Trouens, empatie sal ’n persoon in alle verhoudinge beskeie laat wees, nie net in die Christengemeente nie. Dit was empatie wat die apostel Paulus ‘vir die Jode soos ’n Jood laat word het, vir diegene onder die wet, soos een wat onder die wet is, vir die swakkes soos ’n swakke’, ensovoorts—alles ter wille van die goeie nuus. Dit het beteken dat hy beskeie was en vir sy hoorders getoon het dat hy nie gedink het dat hy beter as hulle is nie.—1 Korinthiërs 9:19-23.

18. Wat kan ten gunste van Christelike beskeidenheid gesê word?

18 Christelike beskeidenheid is waarlik aanbevelenswaardig. Hoeveel verwoesting is tog deur die hele geskiedenis heen aangerig weens ’n gebrek aan beskeidenheid! Beskeidenheid het waarlik sin vir die Christen. Dit bring ’n goeie verhouding met God, ons medegetuies van Jehovah, ons gesin en ander mee. Beskeidenheid sal ons selfs persoonlik help, want dit sal ons vergenoeg maak en verhoed dat ons gefrustreerd raak. God se Woord help ons baie om beskeie te wees. Laat ons dus blyke van ware wysheid lewer deur Christelike beskeidenheid aan te kweek en aan die dag te lê.

Hoe sou jy die volgende beantwoord?

◻ Hoe het sommige jongmense in die Bybelverslag beskeidenheid aan die dag gelê?

◻ Hoe het Jesus Christus die grootste en beste voorbeeld van beskeidenheid gestel?

◻ Hoe kan liefde vir Jehovah en ’n goeie verhouding met hom ons help om beskeidenheid aan te kweek?

◻ Hoe kan ons begeerte om Jesus Christus na te volg ons help om beskeidenheid aan die dag te lê?

◻ Waarom kan broederliefde ons help om beskeie te wees as aanbidders van Jehovah?

[Prent op bladsy 30]

As ons ons gereeld met God se Woord voed en “bid sonder ophou”, sal dit ons help om beskeidenheid aan te kweek

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel