Is jy weetgierig?
WEETGIERIGHEID is ’n “begeerte om te weet”. Groot belangstelling maak ’n persoon gretig om te leer, om dinge uit te vind. Jehovah het hierdie gretigheid in ons geplant, sodat ons feitlik van die oomblik van geboorte af beweeg word om die wêreld om ons te ondersoek. Ons bestaan is op sigself ’n nimmereindigende leerproses. As ons ryp, gebalanseerde volwassenes wil word, moet ons ons weetgierigheid, ons begeerte om dinge uit te vind, bevredig.
Dit geld veral op geestelike gebied. Ons vooruitsigte op die ewige lewe hang daarvan af dat ons omtrent Jehovah God leer (Johannes 17:3). Die Bybel sê vir ons dat hy wil hê dat ons moet probeer om meer oor hom te wete te kom, dat ons moet “rondtas om Hom te vind” (Handelinge 17:23, 24, 27, NAV). As ons ons weetgierigheid onderdruk of dit nie laat ontwikkel nie, sal ons vooruitgang baie stadig wees. Trouens, ’n gebrek aan belangstelling in geestelike dinge kan noodlottig wees.—Psalm 119:33, 34; Hosea 4:6.
Gevolglik het Jehovah dit sy volk van die vroegste tye af altyd op die hart gedruk dat hulle onderrig moet ontvang en moet leer ten einde ’n gepaste leerlus te bevredig (Deuteronomium 6:6, 7; 31:12; 2 Kronieke 17:9). Jesus die Messias was die grootste onderrigter wat nog op die aarde was (Mattheüs 9:35). Sy dissipels het sy voorbeeld gevolg. Selfs toe hulle teenstand ondervind het, het hulle “sonder ophou . . . onderrig . . . en die goeie nuus bekend gemaak” (Handelinge 5:42, NW). Sulke onderrig het belangstelling in weetgierige verstande gewek. Baie was soos die Bereane, wat “met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek [het] om te sien of dit is soos Paulus sê”.—Handelinge 17:11, NAV.
Baie van die bedrywighede van die hedendaagse Christengemeente draai eweneens om onderrig. So vervul die gemeente ’n vername doel van sy bestaan, naamlik om ’n begeerte om van Jehovah en sy voornemens te leer, aan te wakker en te bevredig. Hierdie soort weetgierigheid is heilsaam en voordelig.
Gepaste beperkinge op weetgierigheid
Maar soms moet kinders teen hulle eie weetgierigheid beskerm word. Wanneer ’n baba iets warms probeer aanraak of uit nuuskierigheid ’n glasvoorwerp in sy mond sit om dit te proe, kan hy seerkry. Ons belemmer nie sy groei as ons sy weetgierigheid in daardie opsigte ontmoedig nie.
Wanneer kinders ouer word, kan hulle nuuskierigheid hulle weer in die moeilikheid laat beland. ’n Tienerseun kan baie nuuskierig wees oor wat ’n pornografiese tydskrif bevat. Of ’n tienermeisie kan tabak of ander dwelms uit nuuskierigheid op die proef stel. ’n Groep jongmense kom dalk bymekaar en drink baie bier—in ’n poging om dronk te word, net om uit te vind hoe dit voel! Ons belemmer weer eens nie ’n tiener se natuurlike groei en ontwikkeling as ons hierdie soort weetgierigheid ontmoedig nie.
Is daar gebiede waarop ’n ryp Christen se weetgierigheid hom in die moeilikheid kan laat beland? Ja, inderdaad. Paulus het Timotheüs gewaarsku teen diegene wat ’n Christen se nuuskierigheid probeer prikkel in ’n poging om sy geloof te ondermyn. “O Timotheüs”, het Paulus gesê, “bewaar jou pand en vermy die onheilige, onsinnige praatjies en teëwerpinge van die valslik sogenaamde kennis, waarvan sommige belydenis gedoen het en, wat die geloof betref, op ’n dwaalweg geraak het.”—1 Timotheüs 6:20, 21.
In sy tweede brief aan Timotheüs het Paulus nog ’n waarskuwing gegee: “[Hulle het] van die waarheid afgedwaal . . . omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om” (2 Timotheüs 2:18). Kan jy jou voorstel hoe sulke bewerings die nuuskierigheid gaande gemaak het? Onbehoedsame persone het dalk gewonder: ‘Wat bedoel hierdie manne? Hoe kan hulle sê dat die opstanding reeds plaasgevind het?’ Uit nuuskierigheid het hulle miskien geluister. Die gevolg? Party se geloof is ondermyn. Om uit nuuskierigheid na sulke woorde te luister, was net so gevaarlik soos om uit nuuskierigheid met dwelms of pornografie te eksperimenteer.
Beteken dit dat Christene bekrompe is, onwillig om na ander mense se menings te luister? Nee, dit is nie die punt nie. Hulle word eerder gemaan om nie dinge in hulle verstande in te neem wat hulle later leed kan aandoen nie. Dink net hoe anders die geskiedenis sou gewees het as Eva geweier het om haar nuuskierigheid die vrye loop te gee deur na die bedrieglike woorde van Satan die Duiwel te luister! (Genesis 3:1-6). Die apostel Paulus het die ouere manne in Efese gewaarsku teen “wolwe” wat dieselfde gees openbaar wat Satan teenoor Eva geopenbaar het, en wat “verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Handelinge 20:29, 30). Hulle gebruik “vervalste woorde” om ons ‘uit te buit’. Hierdie woorde bevat gedagtes wat verderflik is vir die geestelikheid van ’n Christen.—2 Petrus 2:3, NW.
Sou jy, as jy weet dat ’n sekere drankie giftig is, dit uit nuuskierigheid drink om te proe hoe dit smaak, of om te sien of jou liggaam sterk genoeg is om die gif teë te werk? Natuurlik nie. Is dit dan verstandig om jou verstand oop te stel vir woorde wat bedoel is om jou te bedrieg en jou van die waarheid weg te lok? Nouliks!
Pas op vir wêreldse filosofieë
Weetgierigheid kan ons ook benadeel as dit ons beweeg om wêreldse filosofieë te ondersoek. Filosofie word gedefinieer as “menslike pogings om die totale menslike ondervinding, die onderliggende oorsake en beginsels van die werklikheid deur middel van die rede en bespiegeling te verstaan en te vertolk”. Maar op die ou end is diegene wat menslike filosofieë bevorder soos diegene wat “altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie” (2 Timotheüs 3:7). Hulle onvermoë word deur een basiese fout veroorsaak: hulle vertrou op menslike wysheid in plaas van op wysheid van God.
Die apostel Paulus het hierdie fout openlik blootgelê. Hy het met die Korinthiërs oor “die wysheid van hierdie wêreld” gepraat, wat “dwaasheid by God” is (1 Korinthiërs 3:19). En hy het die Romeine teen diegene gewaarsku wat ‘dwaas geword het in hulle oorlegginge’ (Romeine 1:21, 22). Jehovah is die bron van alles wat ons het. Ons vertrou tereg op hom om “juiste kennis en volledige onderskeidingsvermoë” te voorsien en aan ons “die diep dinge van God” te openbaar (Filippense 1:9, NW; 1 Korinthiërs 2:10, NW). Die vernaamste bron van God se wysheid is sy Woord, die Bybel.
Omdat menslike filosofieë God se Woord ignoreer, moet ons nooit die gevaar wat hulle inhou, onderskat nie. Moderne filosofiese denke het talle leraars van die Christendom verlei sodat hulle die evolusieleer aangeneem het. Hulle laat vaar selfs hulle geloof in die inspirasie van die Bybel ten gunste van hoër kritiek in ’n poging om intellektuele aansien te verkry. Politieke en maatskaplike filosofieë wat die klem op persoonlike vryheid lê, het gelei tot ’n epidemie van aborsies, wydverspreide geslagsonsedelikheid, dwelmmisbruik en ander vernietigende gebruike. Materialistiese denke laat die meeste mense vandag geluk en sukses aan hulle materiële besittings meet.
Al hierdie filosofieë verteenwoordig pogings om probleme op te los of geluk te soek deur menseredenering en sonder God se hulp. Hulle almal ignoreer die basiese waarheid wat Jeremia besef het: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Ons geluk en ons redding hang af van ons gehoorsaamheid aan en vertroue op Jehovah. Dit is derhalwe verstandig om die versoeking te weerstaan om die vrye loop aan ons nuuskierigheid te gee en ons verstand aan mense-idees bloot te stel wat ons denke kan verderf en ons uiteindelik verlore kan laat onder diegene wat geen hoop het nie.
Weetgierigheid oor die naderende einde
Sedert Jehovah se openbaring in Eden dat hy voornemens is om die bose gevolge van Satan se opstand uit die weg te ruim, het Sy getroue knegte altyd ’n lewendige belangstelling getoon in die volbrenging van die goddelike voorneme. Selfs die engele het hierin belanggestel! (1 Petrus 1:12). In Jesus se dag het talle intens belanggestel om die presiese tyd te weet wanneer die Koninkryk sou kom. Maar Jesus het herhaaldelik vir hulle gesê dat dit nie Jehovah se wil is dat hulle dit weet nie (Mattheüs 25:13; Markus 13:32; Handelinge 1:6, 7). Enige poging om ’n spesifieke datum vas te stel, sou tevergeefs gewees het. Hy het hulle aangespoor om eerder aandag te skenk aan hulle Christelike verantwoordelikhede en elke dag die dringendheid van die tyd voor oë te hou.—Lukas 21:34-36.
Wêreldgebeure lewer vandag oorweldigende bewys dat die einde naby is, en daar is groot nuuskierigheid oor die dag waarop dit sal plaasvind. Sekere verwikkelinge het party miskien daarvan oortuig dat hulle vasgestel het wat die dag en die uur is. Hulle was baie ontsteld, het miskien selfs opgehou om God te dien, toe hulle verwagtinge nie verwesenlik is nie. Dit is baie beter om die saak in Jehovah se hande te laat en te vertrou dat hy die einde presies op die regte tyd sal bring. Alles wat ons nodig het om gereed te wees, is voorsien.
Balans is nodig
Soos talle ander dinge in die lewe kan ons weetgierigheid dus ’n seën of ’n vloek wees. As dit behoorlik gerig word, kan dit skatte van kennis oplewer wat vreugde en verkwikking verskaf. Gesonde weetgierigheid oor ons Skepper, sy wil en sy voornemens, kan uiters bevredigend en voordelig wees. Onbeheerste, ongesonde nuuskierigheid kan ons in ’n moeras van bespiegeling en menseteorieë inlok waarin ware geloof en godvrugtige toewyding nie staande kan bly nie. Wanneer jou weetgierigheid dreig om jou in iets twyfelagtigs in te lei, moet jy derhalwe ‘op jou hoede wees dat jy nie miskien meegesleep word en wegval uit jou eie vastigheid nie’.—2 Petrus 3:17.