Hoe om vir familielede te getuig
1. Waarom is onderskeidingsvermoë nodig wanneer ons vir familielede getuig?
1 Watter groter vreugde kan ons smaak as om die nuwe wêreld saam met ons geliefdes in te gaan, verenig met hulle in die aanbidding van Jehovah! As ons vir familielede getuig, kan hierdie vreugdevolle vooruitsig ’n werklikheid word. Maar om dit op ’n verkwikkende wyse te doen, verg onderskeidingsvermoë. ’n Kringopsiener het gesê: “Diegene wat hulle familielede se nuuskierigheid prikkel deur in klein dosisse te getuig, behaal die beste resultate.” Hoe kan ons dit doen?
2. Hoe kan opregte belangstelling in ons familielede ons help om hulle nuuskierigheid te prikkel?
2 Prikkel hulle nuuskierigheid: Dink goed na oor hoe jy jou familielede se belangstelling kan wek (Spr. 15:28). Waaroor is hulle bekommerd? Met watter uitdagings het hulle te kampe? Dalk kan jy vir hulle ’n artikel of ’n interessante teks wys oor ’n onderwerp wat vir hulle van spesiale belang is. As jou familielede nie naby jou woon nie, kan jy dit dalk in ’n brief of per telefoon doen. Saai saadjies van waarheid sonder om hulle te oorweldig, en vertrou op Jehovah om hierdie saadjies te laat groei.—1 Kor. 3:6.
3. Hoe kan die belangstelling wat ons familielede in ons het, die weg baan vir ’n getuienis?
3 Jesus het vir ’n man uit wie hy baie demone uitgedryf het, gesê: “Gaan huis toe na jou familielede, en vertel vir hulle alles wat Jehovah vir jou gedoen het en dat hy jou barmhartig was” (Mark. 5:19). Stel jou voor watter indruk dit op sy familielede gemaak het! Hoewel jy dalk nie iets sal ondervind wat heeltemal so dramaties is nie, stel jou familielede waarskynlik in jou bedrywighede of in dié van jou kinders belang. As jy hulle vertel van ’n toespraak wat jy op die Teokratiese Bedieningskool gehad het, ’n byeenkoms wat jy bygewoon het, ’n besoek aan Bethel of ’n persoonlike mylpaal wat jy bereik het, kan dit die weg baan om verder met hulle oor Jehovah en sy organisasie te praat.
4. Watter slaggate moet ons vermy wanneer ons vir familielede getuig?
4 Gebruik onderskeidingsvermoë: Wanneer ons vir familielede getuig, moet ons nie vir hulle te veel op ’n slag vertel nie. Een broer onthou die tyd toe hy die Bybel begin studeer het en erken: “Ek het my ma destyds ure lank gebombardeer met verduidelikings oor byna alles wat ek uit die Bybel geleer het, en dit het dikwels tot woordewisselings gelei, veral met my pa.” Selfs wanneer ’n familielid belangstelling in die Bybel se boodskap toon, moet ’n mens op so ’n wyse antwoord dat die persoon meer wil weet (Spr. 25:7). Toon altyd respek, goedhartigheid en geduld, net soos jy sou doen wanneer jy met vreemdelinge in die bediening praat.—Kol. 4:6.
5. Wat moet ons doen as familielede nie gunstig reageer wanneer ons vir hulle getuig nie?
5 Jesus se familielede het op ’n stadium gedink dat hy van sy verstand af geraak het (Mark. 3:21). Maar later het sommige van hulle gelowiges geword (Hand. 1:14). As jou aanvanklike pogings om jou familielede van die waarheid te vertel, nie ’n gunstige reaksie uitlok nie, moet jy nie moed opgee nie. Omstandighede en gesindhede kan verander. Wees altyd op die uitkyk na nog ’n geleentheid om hulle iets te vertel wat dalk hulle nuuskierigheid sal prikkel. Jy sal dalk die vreugde smaak om hulle te help om op die pad na die ewige lewe te kom.—Matt. 7:13, 14.