Kan jy jou nou voorberei op vervolging?
“As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg.”—JOHANNES 15:20
1, 2. Watter onverwagte stappe het sommige regerings teen Jehovah se Getuies gedoen?
STEL jou voor dat jy een oggend vroeg in die bed lê. Jy wonder slaperig of jy dadelik moet opstaan en of jy nog ’n paar oomblikke kan ontspan. Maar eers skakel jy die radio aan om die vroeë nuus te hoor. Skielik laat die omroeper jou wawyd wakker skrik. Hy kondig aan: “Volgens ’n regeringsbevel is die Jehovasgetuiesekte dwarsdeur die land verbied.” Dis die einde van jou ontspanning!
2 In ons dag het dit, of iets soortgelyks, Christene in verskeie lande oorgekom. Daar was dikwels aanduidings van wat aan die kom was. Maar soms was die verbod heeltemal onverwags. Moet dit ons verbaas?
3. Watter kontrasterende ondervindinge het Jesus Christus in 33 G.J. gehad?
3 Nie werklik nie. Soortgelyke dinge het in die eerste eeu plaasgevind. Jy sal onthou hoedat Jesus Christus, in die vroeë noordelike lente van 33 G.J., op ’n esel in Jerusalem ingery het. Die mense het hom vreugdevol toegejuig en hulle klere op die pad voor hom oopgegooi. Maar wat het ’n paar dae later gebeur? Jesus het voor Pontius Pilatus tereggestaan, en ’n skare van daardie selfde stad het bloeddorstig uitgeroep: “Laat Hom gekruisig word! . . . Laat Hom gekruisig word!” (Mattheüs 21:6-9; 27:22, 23). Die situasie het skielik verander.
4. Watter behandeling moet ons as Jesus se volgelinge te wagte wees?
4 Ons moet dus nie verbaas wees wanneer die situasie vandag in sommige lande verander en vervolging onverwags ontstaan nie. Onthou, as ons waarlik Jesus se volgelinge is, moet ons vervolging te wagte wees (Johannes 15:20). Dit beklemtoon die belangrikheid van Jesus se woorde: “Bly dus waaksaam.”—Mattheüs 24:42, NAV.
5. Watter vrae verdien nou ons aandag?
5 Hoe kan ons dit doen? Is daar ’n manier waarop ons ons kan voorberei, ingeval die ergste sou gebeur?
Berei jou verstand en hart voor
6, 7. (a) Waarom is dit moeilik om fisiese voorbereiding vir vervolging te tref? (b) Watter veel belangriker voorbereiding vir vervolging is moontlik?
6 Dit is moeilik om fisiese voorbereiding vir vervolging te tref omdat jy nie weet wat die situasie presies sal wees nie. Totdat dit gebeur, sal jy nie weet of ’n verbod streng of lig afgedwing gaan word, of selfs wat verbied gaan word nie. Dit is moontlik slegs die predikingswerk van huis tot huis wat verbied sal word, of moontlik godsdiensvergaderinge. Soms word die wettige organisasie van Jehovah se Getuies ontbind of sommige individue dadelik opgesluit. Ons kan verskeie plekke in gedagte hou waar lektuur versteek kan word indien dit nodig is. Maar verder is daar nie veel wat ons kan doen om fisiese voorbereiding te tref nie.
7 Jy kan egter jou verstand en hart voorberei, en dit is baie belangriker. Dink na oor waarom vervolging toegelaat word en waarom jy voor heersers gebring kan word. “Tot ’n getuienis”, het Jesus gesê (Mattheüs 10:16-19). Indien jou hart ten volle voorbereid is om getrou te bly, ongeag wat gebeur, kan Jehovah openbaar wat die verstandige handelwyse is wanneer die behoefte ontstaan. Hoe kan ons ons gevolglik geestelik op vervolging voorberei?
Hoe behandel jy mense?
8. Waarom kon Paulus sê dat hy ‘bly was oor beledigings’?
8 Die apostel Paulus het gesê: “Ek [is] bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus” (2 Korinthiërs 12:10, NAV). Het Paulus daarvan gehou om beledig te word? Natuurlik nie. Maar vervolging sluit dikwels beledigings in, en as dit nodig was om God se naam te loof, het Paulus dit met graagte verduur.
9. Hoe kan ons ons nou voorberei om “beledigings . . . ter wille van Christus” te verduur?
9 Ons kan daarvan seker wees dat ons ook op die een of ander stadium “beledigings . . . ter wille van Christus” sal moet verduur. Ons kan beledig of selfs fisies mishandel word. Gaan ons volhard? Wel, hoe beskou ons onsself nou? Neem ons onsself baie ernstig op en reageer ons vinnig op ware of vermeende beledigings? Dan kan ons ons gerus daarop toelê om “lankmoedigheid, . . . sagmoedigheid, selfbeheersing” te kweek (Galasiërs 5:22). Dit sal uitstekende opleiding wees om nou ’n Christelike lewe te lei, en dit kan ten tye van vervolging jou lewe red.
Hoe beskou jy velddiens?
10. Wat is die korrekte Skriftuurlike reaksie wanneer ons predikingswerk verbied word?
10 Die eerste ding wat dikwels tydens ’n verbod belet word, is die openbare verkondiging van die “goeie nuus”. In hierdie laaste dae is die predikings- en dissipelmaakwerk egter noodsaaklik. Hoe anders sal mense van God se Koninkryk leer? Die regte reaksie op so ’n verbod is gevolglik dié van die apostels toe die Joodse godsdiensleiers probeer het om hulle predikingswerk te verbied (Handelinge 5:28, 29). Tydens ’n verbod is sommige vorme van die predikingswerk moontlik verbode. Maar die werk moet op die een of ander wyse gedoen word. Sal jy die krag hê om ondanks die druk van vervolging aan te hou preek?
11, 12. Hoe kan jy vasstel of jy die nodige krag het om tydens vervolging aan te hou preek?
11 Wel, hoe beskou jy die predikingswerk nou? Laat jy toe dat klein hindernisse op die prediking inbreuk maak sodat jy ongereeld in die velddiens is? Wat sal jy dan tydens ’n verbod doen? Ly jy nou aan mensevrees? Is jy bereid om in jou eie straat van huis tot huis te preek? Is jy bang om alleen te werk? In sommige lande trek dit dikwels te veel aandag wanneer twee mense saam werk. Wanneer dit veilig is om dit te doen, kan jy gerus nou van tyd tot tyd alleen werk. Dit sal goeie opleiding wees.
12 Doen jy tydskrifwerk op straat? Het jy die moed en inisiatief om geleenthede vir informele getuieniswerk te skep? Werk jy in sakegebied? Is jy bang om ryk of invloedryke mense te nader? Gestel jy doen net ’n sekere soort predikingswerk. Wat gaan jy dan doen as daardie soort prediking tydens ’n verbod nie meer moontlik is nie?
13. Wat kan jy nou omtrent jou bediening doen ten einde voorbereid te wees om tydens vervolging te preek?
13 Besef jy dat jy in sekere opsig ’n swakheid het? Dit is nou die tyd om dit te bowe te kom. Leer om op Jehovah te vertrou en ’n bekwamer bedienaar te word. Dan sal jy beter toegerus wees om nou te preek en beter voorbereid wees om tydens vervolging te volhard.
Is jy betroubaar?
14, 15. (a) Watter soort eerste-eeuse Christene moes ’n bestendigende invloed uitgeoefen het toe vervolging uitgebreek het? (b) Hoe kan ’n hedendaagse kneg van Jehovah soos daardie sterk, vroeë Christene word?
14 Dwarsdeur die Christelike Griekse Skrifte word individue gemeld wat steunpilare in die gemeente was. Onesiforus het Paulus byvoorbeeld moedig gehelp toe hy in Rome in die gevangenis was (2 Timotheüs 1:16). Febe is aangeprys vanweë haar harde werk in die gemeente in Kenchreë (Romeine 16:1, 2). Sulke manne en vroue moes sekerlik ’n bestendige invloed uitgeoefen het toe vervolging uitgebreek het. Hulle was ‘waaksaam, het vasgestaan in die geloof, manmoedig opgetree en sterk geword’.—1 Korinthiërs 16:13, NAV.
15 Alle Christene, ouere manne in die besonder, moet probeer om vordering te maak en soos hierdie sterk, vroeë Christene te word (1 Timotheüs 4:15). Leer om vertroulike sake stil te hou en om besluite op grond van Skriftuurlike beginsels te neem. Leer jouself om Christelike eienskappe in ander te onderskei sodat jy sal weet wie onder druk betroubaar sal wees. Lê jou, met Jehovah se krag, daarop toe om ’n steunpilaar in julle gemeente te word, iemand wat ander help in plaas van iemand wat altyd hulp nodig het.—Galasiërs 6:5.
Kom jy met ander oor die weg?
16, 17. Hoe kan die toepassing van Kolossense 3:12, 13 jou nou help om jou op vervolging voor te berei?
16 Die apostel Paulus het ons aangespoor: “Beklee julle . . . met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar” (Kolossense 3:12, 13). Is dit vir jou maklik? Of irriteer ander mense se tekortkominge jou baie? Neem jy maklik aanstoot of word jy gou mismoedig? Dan is hier nog ’n terrein waarop jy jou kan voorberei.
17 In lande waar vergaderinge verbode is, vergader Christene gereeld in klein groepies. Onder sulke omstandighede word hulle tekortkominge selfs opvallender. Leer jouself dus nou om ander se swakhede te verdra, net soos hulle ongetwyfeld joune verdra. Moenie krities teenoor ander wees en hulle aldus baie ontmoedig nie. En leer jouself en jou kinders om ander mense se eiendom te respekteer terwyl julle Gemeentelike Boekstudies bywoon. Tydens vervolging sal sulke respek vrede in die hand werk.
Is jy nuuskierig?
18. Waarom is dit soms veiliger om net te weet wat jy moet weet?
18 Sommige van ons is van nature baie nuuskierig. Ons kan dit nie verduur om ‘oningelig’ te wees nie. Is dit met jou die geval? Dink dan hieraan: Wanneer die werk van Jehovah se Getuies verbied word, probeer die owerheid soms om uit te vind wat hulle organisatoriese reëlings en die name van verantwoordelike opsieners is. As jy hierdie dinge weet, kan jy fisies mishandel word in ’n poging om jou te dwing om dit te onthul. En as jy dit wel onthul, kan dit die werk van jou broers ernstig benadeel. Dit is gevolglik soms veiliger om net te weet wat jy moet weet en niks meer nie.
19. Wat kan jou nou help om nie vertroulike sake bekend te maak wanneer jy eendag vervolg word nie?
19 Kan jy nou daarvoor oefen? Ja. As daar byvoorbeeld ’n regterlike komiteesaak in die gemeente is, moet individue tevrede wees met wat die ouere manne goeddink om te sê en nie nuuskierig probeer om besonderhede te wete te kom nie. Die vrouens en kinders van ouere manne moet nie druk op hulle probeer uitoefen om vertroulike sake bekend te maak nie. Ons moet in alle opsigte leer om nie “bemoeisiek” te wees nie.—2 Thessalonicense 3:11.
Is jy ’n Bybelstudent?
20, 21. Hoe sal vlytige Bybelstudie nou jou help wanneer die werk verbied word?
20 Die Bybel is die grondslag vir ’n Christen se geestelike krag. Dit verstrek antwoorde op sy belangrikste vrae en verleen toegang tot die wysheid van God self (2 Timotheüs 3:14-16). Alle Christene erken dit in beginsel. Maar watter plek beklee die Bybel werklik in jou lewe? Bestudeer jy dit gereeld en laat jy jou in al jou handelinge daardeur lei?—Psalm 119:105.
21 Toegang tot ons Bybellektuur is dikwels baie beperk wanneer die werk verbied is. Soms is dit selfs moeilik om Bybels in die hande te kry. Onder sulke omstandighede sal die heilige gees jou herinner aan dinge wat jy tevore geleer het. Maar dit sal jou nie herinner aan dinge wat jy nie geleer het nie! Hoe meer jy nou studeer, des te meer sal gevolglik in jou verstand en hart geberg word sodat die heilige gees dit in tye van nood na vore kan bring.—Markus 13:11.
Bid jy?
22. Hoe kan ‘volharding in die gebed’ nuttig wees wanneer ’n mens jou op vervolging voorberei?
22 Dit is ’n belangrike vraag wanneer ons aan vervolging dink. Die Bybel vermaan: “Volhard in die gebed” (Romeine 12:12). Gebed is regstreekse kommunikasie met Jehovah God. Daardeur kan ons vra om die krag om moeilikhede te verduur en regte besluite te neem, asook ’n persoonlike verhouding met Jehovah God opbou. Selfs al neem teenstanders ons lektuur, ons Bybels en ons omgang met ander Christene weg, kan hulle nooit ons voorreg van gebed wegneem nie. In die sterkste gevangenis kan ’n Christen met God in aanraking kom. As ons die voorreg van gebed ten volle benut, is dit gevolglik ’n voortreflike manier om ons voor te berei op wat die toekoms ook al mag inhou.
Vertrou jy gesag?
23. Waarom moet ons ons vertroue in die aangestelde ouere manne en in “die getroue en verstandige dienskneg” opbou?
23 Dit is ook belangrik om hierdie vertroue op te bou. Die ouere manne in die gemeente is ’n deel van God se voorsiening om ons te beskerm. Die ouere manne moet optree op ’n wyse wat ons vertroue waardig is, en die res van die gemeente moet leer om hulle te vertrou (Jesaja 32:1, 2; Hebreërs 13:7, 17). Dit is selfs nog belangriker dat ons leer om “die getroue en verstandige dienskneg” te vertrou.—Mattheüs 24:45-47.
24. Hoe kan ons ons voorberei om leuenagtige aanvalle deur vyande van Jehovah se volk te weerstaan?
24 Vyande kan leuens oor God se organisasie versprei (1 Timotheüs 4:1, 2). In een land is sommige Christene mislei om te glo dat die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies die Christelike godsdiens verlaat het, terwyl hulle nog daaraan getrou gebly het. ’n Goeie manier om jou voor te berei om sulke aanvalle te weerstaan is om sterk liefde vir jou broers op te bou en te leer om Jehovah se reëling te vertrou.—1 Johannes 3:11.
Jy kan seëvier
25. Wat sal ons help om te seëvier wanneer ons vervolg word?
25 Nadat hy vervolging verduur het, het die bejaarde apostel Johannes ons meegedeel: “Alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof” (1 Johannes 5:4). Jy kan nie in jou eie krag seëvier nie. Satan en sy wêreld is sterker as jy. Maar hulle is nie sterker as Jehovah God nie. As ons dus God se gebooie bewaar, om sy gees bid om ons te onderskraag en volkome op hom vertrou vir krag om te volhard, kan ons seëvier.—Habakuk 3:13, 18; Openbaring 15:2; 1 Korinthiërs 15:57.
26. Wat moet jy doen selfs al word jy nie nou vervolg nie?
26 In alle lande word sommige Christene vervolg, hetsy deur geopponeerde huweliksmaats of op ’n ander wyse. In sommige lande ly al God se knegte as gevolg van die amptelike dade van die plaaslike regering. Maar selfs al verduur jy op die oomblik nie persoonlik teenstand of buitengewone ontbering nie, moet jy onthou dat dit te eniger tyd kan gebeur. Jesus het gesê dat die vervolging van Christene ’n deel sou wees van die teken van die tyd van die einde; daarom moet ons dit altyd te wagte wees (Mattheüs 24:9). Berei jou dus gerus nou daarop voor. Neem jou voor dat, ongeag wat voorlê, jou gedrag jou hemelse Vader, Jehovah God, altyd tot lof sal strek.—Spreuke 27:11.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Watter soort voorbereiding kan jy nou vir vervolging tref?
◻ Wat kan jy nou doen om die nodige krag te verkry om tydens vervolging aan te hou preek?
◻ Hoe kan die toepassing van Kolossense 3:12, 13 nou nuttig wees wanneer vervolging ontstaan?
◻ Waarom moet jy jou vertroue in die aangestelde ouere manne en “die getroue en verstandige dienskneg” opbou?
◻ Hoe kan jy seëvier wanneer jy vervolg word?