Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 7/1 bl. 10-14
  • ‘Salig is julle wanneer mense julle vervolg’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Salig is julle wanneer mense julle vervolg’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons moet vervolging verwag
  • Die vroeë Christene is vervolg
  • Vervolging in die “laaste dae”
  • Gelukkig ondanks vervolging!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Vervolg en tog gelukkig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Volhard vreugdevol ondanks vervolging
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Vervolg ter wille van regverdigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 7/1 bl. 10-14

‘Salig is julle wanneer mense julle vervolg’

“Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele.”—Mattheüs 5:11, 12.

1-4. Watter ondervinding kan ons laat wonder of ’n mens jou kan verheug tydens vervolging?

KAN jy werklik salig of gelukkig wees wanneer mense leuens oor jou vertel en jou allerhande kwaad probeer aandoen? Beskou die geval van ’n jong vrou in Finland wat die Bybel ’n paar jaar gelede saam met Jehovah se Getuies begin bestudeer het. Sy het haar eerlank verbly oor die goeie dinge wat sy oor Jehovah se voorneme met die mensdom geleer het, en sy het innige waardering vir sy goedheid en liefde verkry.

2 Maar toe het haar man begin om haar Bybelstudie teë te staan, en toe sy geweier het om daarmee op te hou, het hy geweld teen haar gebruik. Eindelik het hy by die hof om ’n skeidingsbevel aansoek gedoen. Kort daarna is die jong vrou uit haar huis gesit en gedwing om haar drie jong kinders, waaronder ’n baba wat net ouer as ’n jaar was, te verlaat aangesien die hof hulle aan die sorg van die vader toevertrou het. Waarom? Het sy hulle verwaarloos? Nee, want haar Bybelstudie het haar inderdaad gehelp om ’n beter vrou en moeder te wees.

3 ’n Paar weke later het haar man haar met geweld by haar werk laat haal en na die gesondheidsentrum laat neem sodat sy as kranksinnig gesertifiseer en in ’n sielsieke-inrigting geplaas kon word. Die dokter wat haar ondersoek het, het aanvanklik geweier om so ’n bevel uit te reik, maar onder druk van die man het hy wel later ’n bevel uitgereik sodat sy in ’n sielsieke-inrigting opgeneem moes word. Teen daardie tyd het die jong vrou, wat toe reeds gedoop en een van Jehovah se Getuies was, na ’n ander stad gegaan waar sy ’n ander dokter geraadpleeg het. Nadat hy haar ondersoek het, het hierdie dokter haar geredelik ’n sertifikaat gegee wat bevestig het dat sy gesond van verstand is.

4 Maar dit het nie die eerste dokter se bevel ongeldig gemaak nie. Sy moes dus etlike weke lank wegkruip totdat die bevel verval het. Die dokter het daarna geweier om ’n nuwe een uit te reik, met die gevolg dat die suster na haar tuisdorp kon terugkeer. Mettertyd het haar man ’n egskeiding op grond van die skeidingsbevel verkry, en die hof het die kinders in die vader se sorg geplaas.

5, 6. (a) Is hierdie of ’n soortgelyke ondervinding rede tot blydskap? Waarom? (Markus 10:29, 30). (b) Watter redes het Job na sy vervolging gehad om hom te verheug, soos getoon in die tekste wat aangegee word?

5 Sou jy dink dat so ’n ondervinding rede tot blydskap is? Geen vrou of moeder sal gelukkig wees as sy uit haar huis gesit en haar jong kinders van haar af weggeneem word nie. Sy sal haar ook nie verheug as haar dierbares probeer om haar in ’n sielsieke-inrigting te laat opneem net omdat sy die Bybel wil bestudeer en die goeie beginsels daarvan wil toepas nie. Maar let op die rede wat Jesus verstrek vir blydskap onder sulke omstandighede: “Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele.”—Mattheüs 5:12.

6 Ja, as die rede vir die vervolging waarlik “om My ontwil” is soos Jesus in die vorige vers gesê het, kan ons ons verbly dat ons net soos Jesus die geleentheid het om ons onkreukbaarheid aan Jehovah te toon en ’n aandeel te hê in die regverdiging van sy naam. Ons bewys sodoende dat die Duiwel ’n leuenaar is wanneer hy beweer dat hy alle mense van God afvallig kan maak. As ons ons op hierdie wyse aan Jehovah God se kant skaar, behaag dit hom, en dit sal beslis beloon word, soos die geval van Job toon.—Job 1:9, 10; 42:10-16; 1 Petrus 2:19, 20.

Ons moet vervolging verwag

7. (a) Waarom kan Christene verwag om vervolg te word? (b) Geld dit vir alle Christene, of slegs vir party van hulle?

7 Maar waarom sal enigiemand vervolg word net omdat hy God se Woord, die Bybel, wil bestudeer en ’n Christen wil wees? Jesus het die vraag so beantwoord: “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar. Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie” (Johannes 15:18-21). Vervolging is iets wat Christene moet verwag, soos die apostel Paulus in sy tweede geïnspireerde brief aan Timotheüs getoon het. Hy het geskryf: “Almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.”—2 Timotheüs 3:12.

8. Wie sit in werklikheid agter die vervolging van Christene, en wat is sy doel?

8 Ons moet nooit vergeet dat die een wat agter die vervolging sit niemand anders as die groot teenstander, Satan die Duiwel, is nie. Jou standvastigheid as ’n Christen en jou liefde vir Jehovah God toon dat die Duiwel ’n leuenaar is, want hy beweer dat niemand God werklik liefhet nie en dat indien iemand Hom dien, dit slegs as gevolg van die voordele is wat dit vir homself inhou. Satan het geroem dat as hy die vrye hand gegee word, hy Job, en by implikasie ook alle ander mense, van God afvallig kon maak (Job 1:8-11; 2:3-5). Alhoewel die Duiwel nie daarin geslaag het om Job sy onkreukbaarheid te laat prysgee nie, het hy nog nooit tou opgegooi nie.—2 Korinthiërs 4:4.

Die vroeë Christene is vervolg

9. Verstrek voorbeelde uit die Skrif wat toon watter soorte vervolging die vroeë Christene moes verduur.

9 Net soos Jesus gewaarsku het, het die vroeë Christene vervolging verduur, soms hewige vervolging. Baie is uit hulle huise gedryf en gedwing om na ander gebiede te vlug, soos in die geval van die gemeente in Jerusalem (Handelinge 8:1). Ander, soos die apostel Johannes, is verban (Openbaring 1:9). Die apostel Paulus en sy medewerkers in die openbare bediening is gestenig en geslaan (Handelinge 14:19; 16:22). Baie van die vroeë Christene is in die tronk gestop, party is van hulle besittings beroof en party is selfs gedood (Kolossense 4:3; Filemon 9, 10; Hebreërs 10:34; 13:3; Handelinge 12:1, 2). Maar hulle het hulle verbly, want hulle het ten volle begryp waarom hulle vervolg word.

10. Wat toon dat die volgelinge van Christus in die eerste eeu nie deur vervolging geïntimideer is nie?

10 Het sulke vervolging die werk om ‘oor God te spreek en vir Jesus te getuig’ laat ophou of selfs laat afneem? Nee, want die vroeë Christene het hulle nie laat intimideer nie. Die verslag in Handelinge 5:40-42 deel ons mee dat die amptenare van die Joodse Sanhedrinhof ‘die apostels ingeroep, hulle laat slaan en hulle bevel gegee het om nie in die Naam van Jesus te spreek nie en hulle laat gaan het’. Wat het hierdie Christene toe gedoen? “Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly. En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.”

11. Hoe het Petrus en Johannes gereageer op dreigemente teen hulle?

11 Die apostels Petrus en Johannes het vroeër voor die Sanhedrin verskyn omdat hulle ’n kreupel man genees het en omdat hulle in die naam van Jesus geleer het. Die verslag sê vir ons: “En hulle [die owerstes en ouderlinge] het hul geroep en hulle bevel gegee om in die geheel nie in die Naam van Jesus te spreek of te leer nie. Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie. En nadat hulle nog dreigemente bygevoeg het, aangesien hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie, het hulle ter wille van die volk hulle losgelaat.”—Handelinge 4:18-21.

12. Vir watter hulp van Jehovah af het die apostels en dissipels gebid toe hulle vervolg is?

12 Hulle is nie deur die dreigemente banggemaak nie. Die verslag toon dat die apostels en die dissipels gepas tot Jehovah gebid het, nie dat hy die vervolging moet wegneem nie, maar dat hy hulle die krag deur sy gees moes gee om sy woord steeds met vrymoedigheid te spreek. En dit het hy gedoen.—Handelinge 4:29, 31.

13. Watter voordele het Paulus se gevangenskap in Rome ingehou volgens sy brief aan die Filippense?

13 Paulus se gevangenskap in Rome het goeie gevolge gehad, soos hy in sy brief aan die Filippense verduidelik het: “Ek wil hê dat julle moet weet, broeders, dat wat my wedervaar het, eerder op bevordering van die evangelie uitgeloop het, sodat my boeie openbaar geword het in Christus onder die hele keiserlike lyfwag en by al die ander, en die meeste van die broeders wat in die Here deur my boeie vertroue gekry het, dit des te meer waag om die woord onbevrees te spreek” (Filippense 1:12-14). Ja, Paulus se vervolging het daartoe gelei dat ’n groter getuienis gegee word, nie alleen as gevolg van die publisiteit en geleenthede wat hy gehad het om vir hofdienaars te getuig nie, maar ook omdat ander Christene daardeur bemoedig is om meer te doen.

Vervolging in die “laaste dae”

14. Wat is volgens Jesus die rede waarom ons vandag vervolg word?

14 Net soos God se profete van die ou tyd en net soos Jesus Christus en sy apostels en dissipels in die eerste eeu vervolging verduur het, kan Christene in hierdie “laaste dae” van hierdie stelsel verwag om vervolg te word. Jesus het dit voorspel as deel van die samegestelde “teken” van die einde van hierdie stelsel. Hy het gesê: “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.”—Mattheüs 24:9.

15, 16. (a) Watter verdere profesie aangaande ons tyd toon dat ons vervolging kan verwag as gevolg van ons getuieniswerk? (b) Watter vrae ontstaan nou?

15 Later het Jesus vir die apostel Johannes getoon wat Sy volgelinge op aarde na die geboorte van die hemelse koninkryk kon verwag. Hy het beeldspraak gebruik en gesê: “Toe die draak [wat in vers 9 as “die ou slang wat genoem word duiwel en Satan” geïdentifiseer is] sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou [God se universele organisasie] vervolg wat die seuntjie [die koninkryk met Christus as koning] gebaar het . . . En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.”—Openbaring 12:13, 15-17.

16 Is dit in hierdie “laaste dae” bewaarheid? Hoe het ware Christene in ons dag vervolging verduur, en hoe kon hulle hulle verbly ten spyte daarvan? Watter uitwerking het die vervolging op hulle en op baie wat dit aanskou het, gehad? Hierdie vrae sal in die volgende artikel beantwoord word.

[Prent op bladsy 11]

Diegene wat soos Job toon dat die Duiwel ’n leuenaar is, sal beslis beloon word

[Prent op bladsy 13]

Petrus, Johannes en ander vroeë Christene het hulle nie laat intimideer deur amptenare wat hulle Godgegewe werk teëgestaan het nie

[Prente op bladsy 14]

‘Die draak was vertoornd en het weggegaan om oorlog te voer teen diegene wat die getuienis van Jesus Christus hou.’—Openbaring 12:15-17.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel