Insig in die nuus
Argentinië se stilswyende kerk
“Bloed bevlek kerk in Argentinië”, lui die opskrif van die National Catholic Reporter van 12 April 1985. Na raming is ’n ongelooflike 10 000 tot 30 000 burgers tydens Argentinië se voormalige militêre bewind ontvoer en sonder verhoor om die lewe gebring. Maar waarnemers sê dat dit duisende onskuldige lewens kon gered het as die Katolieke Kerk beswaar gemaak het. In plaas daarvan, sê die berig, “was die Argentynse kerk—met ’n paar dapper uitsonderings—tjoepstil gedurende die hele sewejarige skrikbewind” wat geëindig het toe ’n burgerlike regering in 1983 aan die bewind gekom het. Nog erger, sommige lede van die hiërargie het met die militêre regering geheul.
Waarom het die kerk geswyg? Deels uit vrees vir vergelding. Maar die koerant gee ’n ander rede aan: “Die bisdom het die militêre regering ook as ’n magsbron aangeneem.” Dit het talle voorregte ontvang. Die berig sluit af: “Die Argentynse ervaring kom so sterk ooreen met die optrede van die Katolieke Kerk in Nazi-Duitsland, dat dit weer eens die vraag laat ontstaan of mag vir die kerk belangriker is as die Evangelie wat noodsaaklik is vir ’n getuienis van die waarheid.”
Dit toon hoe dwaas dit vir godsdiens is om witvoetjie by politieke magte te soek. Dit kan tot ’n kompromis van beginsels lei. Dit is interessant dat die boek Openbaring die verbintenis van Kerk en Staat veroordeel waar dit die wêreldryk van valse godsdiens beskryf as ’n hoer “met wie die konings van die aarde gehoereer het” (Openbaring 17:2). Geen wonder dat Jesus vir sy volgelinge gesê het dat hulle “nie van die wêreld” moet wees nie.—Johannes 15:19.
‘Sy onvermoë om homself te voed’
“Dit is vandag onmoontlik om in Afrika te reis sonder om deur militêre beelde oorweldig te word”, sê die Bulletin of the Atomic Scientists. Maar die benutting van geld en mannekrag om hierdie leërs te onderhou, dra by tot hongersnood, veral wanneer oorlog uitbreek. Die Bulletin meld enkele voorbeelde: “In Ethiopië, Tsjad, Mosambiek, Angola, die Soedan en Uganda het ernstige en dikwels langdurige opstande, oorloë of grensbotsings die infrastruktuur beskadig, gewasse vernietig en menselyding vererger.” Die berig sê: “Op ’n vasteland met sulke ernstige probleme, met inbegrip van ’n fundamentele onvermoë om homself te voed, is die gebruik van ontsaglike somme en aansienlike mannekrag vir militêre doeleindes tragies.”
Dit is inderdaad tragies! Die boek Openbaring beeld hierdie toestande gepas simbolies uit. Dit beskryf ’n ruiter met ’n swaard op ’n vuurrooi perd, en aan hom “is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem” deur oorlog. Op sy hakke is ’n swart perd en sy ruiter kondig hongersnood aan (Openbaring 6:3-6). Die kombinasie van oorlog en hongersnood in Afrika is een voorbeeld van hierdie profesie se vervulling in ons dag.—Kyk ook Mattheüs 24:6-8.
“’n Slawelewe”
“Die tradisionele beeld van miljoenêrs wat op die strande van St. Tropez rondspeel, aan die hange van Aspen bak, in hulle Cadillac of Rolls-Royce na die wedrenne gaan of eenvoudig ’n goeie sigaar kou, verskil hemelsbreed van die werklikheid.” So sê The Guardian Weekly in ’n berig oor ’n onlangse studie deur dr. Thomas Stanley van Georgia State University. “Amerika se gemiddelde miljoenêr lei hoogs waarskynlik ’n slawelewe.” Waarom? Omdat hy meer ure as ander mense werk—oor die algemeen 75 uur per week. “Die meeste van die land se rykes is eenvoudig gewone klein sakemanne wat vervelige, moeilike lewens lei.” Hulle spaar geld vir hulle aftrede. Maar weens hulle uitputtende werkroosters sterf baie voordat hulle aftree. Sulke manne het min tyd vir die lewe se genietinge.
In teenstelling hiermee beveel ’n wyse man van die ou tyd aan “dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is ’n gawe van God” (Prediker 3:12, 13). In plaas van sleurwerk moet ’n man se werk bevredigend wees en hom in staat stel om die heilsame, eenvoudige dinge te geniet wat God voorsien. Ware Christene vermy dus wyslik die ydele gejaag na rykdom. Hulle weet dat ’n mens ware vergenoegdheid verkry deur ‘skatte in die hemel, nie op die aarde nie, bymekaar te maak’.—Mattheüs 6:19, 20.