Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 7/1 bl. 15-21
  • Volhard vreugdevol ondanks vervolging

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Volhard vreugdevol ondanks vervolging
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vervolging in talle vorme
  • Die doel van vervolging
  • Hoe om vervolging te verdra
  • Volharding ondanks verbooie
  • Die belangrikheid van vergaderinge
  • Die predikingswerk tydens verbooie
  • Die goeie resultate van volgehoue onkreukbaarheid
  • Kan jy jou nou voorberei op vervolging?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Christene verduur vervolging met volharding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • ‘Salig is julle wanneer mense julle vervolg’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Jy kan lojaal bly wanneer jy vervolg word
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 7/1 bl. 15-21

Volhard vreugdevol ondanks vervolging

“Ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie.”—Romeine 5:3-5.

1. Wat blyk duidelik uit die vervolging van Christene in hierdie “laaste dae”?

DIE ondervindinge van Jehovah se volk in hierdie “laaste dae” het beslis Jesus se volgende woorde waar bewys: “Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens. Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want hulle vaders het net so aan die profete gedoen” (Lukas 6:22, 23; 2 Timotheüs 3:1). Ja, God se knegte kan allerhande vervolging getrou verduur, en dit met vreugde doen.

2. (a) Ontvang diegene wat meer vervolging verduur ’n groter beloning? (b) Wat is party van die goeie gevolge van getrouheid ten tye van vervolging?

2 Dit is nie omdat ons vervolging geniet nie, want vervolging is onaangenaam en gewoonlik pynlik. Dit is nie die vervolging self nie, maar die uitslag daarvan wat ons rede tot vreugde gee (Jakobus 1:2, 3). Christene wil nie vervolg word nie. Hulle probeer nie om martelare te wees omdat hulle dink dat hulle verdiensteliker in die oë van hulle hemelse Vader sal wees as hulle meer vervolging verduur nie. Diegene wat meer vervolging verduur, ontvang nie ’n groter beloning nie, en hulle is ook nie noodwendig getrouer as diegene wat minder vervolging verduur nie. Maar let op die kettingreaksie wat plaasvind wanneer ’n Christen verdrukking getrou verduur: “Ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie.”—Romeine 5:3-5.

3. (a) Hoe bring verdrukking lydsaamheid voort, soos getoon in Romeine 5:3? (b) Hoe bring dit mee dat ons geloof versterk word? (Hebreërs 10:38, 39)

3 Wanneer ons lees van die vervolging wat ons mede-Christene op ander plekke verduur, wonder ons dalk: “Sal ek dit kan verduur?” Maar wanneer ons skielik teenstand of beproewings ondervind, en ons ons tot God wend vir hulp in plaas daarvan om daarvoor te swig of op te hou om God te dien, vind ons dat hy ons gebede verhoor en ondervind ons hoedat verdrukking lydsaamheid of volharding voortbring. Dan wonder ons nie meer of ons dit sou kon verduur nie; ons weet ons kan, in Jehovah se krag. Die eerste beproewing was moontlik nie so erg nie, maar ons geloof is nietemin beproef, en dit is gevolglik sterker. Die volgende beproewing is miskien moeiliker, maar ons geloof is soveel sterker omdat ons nie van die eerste een af teruggedeins het nie. In Jehovah se krag kan ons inderdaad in enige toets van ons geloof slaag, want ons weet dat hy nie sal toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie; hy sal ons ook nie ‘verlaat’ nie.—1 Korinthiërs 10:13; 2 Korinthiërs 4:8-10.

4. Watter goeie redes het ons om vreugdevol te wees nadat ons versoeking of vervolging getrou verduur het?

4 Volharding tydens verdrukking is waarlik ’n rede tot blydskap. Ons kan bly wees dat ons nie voor versoeking geswig het nie maar gedoen het wat reg is. Ons weet dat dit is wat God goedkeur, en daarom het ons getroue volharding ons nader aan hom gebring, en dit is ’n verdere rede tot blydskap, soos Jakobus 1:12 so duidelik sê.

Vervolging in talle vorme

5. Wat is vandag die situasie in baie lande waar dit kom by die vervolging en teistering van ons broers? Waarom is dit die geval? (Amos 7:10-17)

5 Die werk van Jehovah se Getuies is vandag in meer as 40 lande aan bande gelê, en in baie van hierdie plekke moes God se volk ernstige beproewings en vervolging verduur net omdat hulle vasbeslote is om hulle God, Jehovah, getrou te dien. In baie gevalle is verbooie uitgevaardig op aandrang van geestelikes wat ons afsydigheid in politieke aangeleenthede verkeerd voorgestel het sodat ons predikingswerk stopgesit kan word. Ingeligte amptenare weet dat Jehovah se Getuies geensins ondermynend of gevaarlik vir die Staat is nie. Verligte regeringsamptenare weet dat die Getuies pligsgetroue, wetsgehoorsame burgers is wat hulle bes doen om die landswette te handhaaf en te gehoorsaam. Maar in die geval van Jehovah se Getuies kom hulle trou aan God eerste. Hulle bemoei hulle gevolglik nie met die politiek van enige land nie. Wanneer landswette met God se wette bots, is hulle net soos die apostels ‘aan God meer gehoorsaam as aan die mense’.—Handelinge 5:29.

6. (a) Verstrek voorbeelde van vervolging wat Jehovah se Getuies moes verduur, (b) Weet jy van soortgelyke situasies wat op die oomblik bestaan?

6 Wettelose gepeupel, soms onder aanvoering van geestelikes of politieke dwepers, het Jehovah se volk al op baie plekke mishandel. Baie van ons geestelike broers is al gedwing om hulle huise en besittings te verlaat en uit alle mag te vlug, soos in onlangse jare in Malawi en Ethiopië gebeur het. Party is by die werk afgedank of van hulle werkplekke af weggejaag, terwyl ander se ondernemings gesluit is net omdat hulle Jehovah se Getuies is (Openbaring 13:16, 17). Hulle Christelike vergaderinge vir Bybelstudie is ontwrig en die vergaderdes uiteengejaag; hulle huise is deursoek en Bybels en Bybellektuur gekonfiskeer. Intimidasie en dreigemente is gebruik om hulle te probeer bangmaak, en baie is in hegtenis geneem en in die tronk opgesluit, terwyl party selfs om die lewe gebring is. Die vervolging was veral hewig gedurende die wêreldoorloë, maar dit duur op die oomblik in baie lande voort.

7. Watter situasies moet baie van God se volk verduur selfs in lande waar die owerheid hulle nie vervolg nie?

7 En dwarsoor die aarde moet duisende van ons broers en susters daagliks teenstand en vervolging van hulle gesinne en familielede verduur omdat hulle Jehovah as dissipels van Jesus Christus wil dien. Jesus het immers voorspel: “’n Mens se huisgenote sal sy vyande wees.”—Mattheüs 10:35, 36.

Die doel van vervolging

8. Word Jehovah se Getuies vervolg omdat hulle kwaaddoeners of wetsoortreders is?

8 Wat wil die vervolgers van God se volk bereik? Vervolg hulle sy getuies omdat hulle kwaaddoeners of misdadigers is? Nee. Jehovah se Getuies word oral erken as wetsgehoorsame mense van goeie inbors. Hulle is goeie werkers, innemend, vriendelik, goedhartig en redelik en tree nie soos godsdiensdwepers op nie. Trouens, hulle is uitstekende bure (Titus 2:6-10; Galasiërs 6:9, 10). Hulle verkondig ’n vreedsame boodskap en vertroos diegene wat ly en treur. Hulle verkondig die “evangelie” dat God se koninkryk binnekort van verdrukkers ontslae sal raak en ’n regverdige nuwe orde sal bring.—Mattheüs 6:10; Psalm 37:10, 11.

9. Watter werk van ons wil teenstanders stopsit, en waarom?

9 Maar die verkondiging van hierdie “evangelie” ontmasker die godsdiensleiers van die Christendom as leiers met geen boodskap van hoop vir die mense nie. Hulle probeer dus om diegene wat dit verkondig die swye op te lê! En hoewel party politieke leiers ook bereid is om Jehovah se volk toe te laat om te glo wat hulle wil, maak hulle beswaar teen hulle predikingswerk. Net soos die Joodse godsdiensleiers wat te doene gekry het met die ywerige bedrywigheid van die vroeë Christene, sê hulle as ’t ware: “Laat ons hulle dreig om nie meer in [Jesus se] Naam met enige mens te spreek nie” (Handelinge 4:17, 18). Ja, dit is ons predikingswerk wat hulle wil stopsit.—Kyk ook Handelinge 5:28, 40.

10. (a) Wat wil Satan bereik benewens om ons predikingswerk stop te sit? (b) Hoe word dit getoon deur die soort verbod wat dikwels op ons bedrywigheid geplaas word?

10 Onthou ook dat Satan die Duiwel eintlik agter al die vervolging sit (1 Petrus 5:8). Hy wil nie alleen ons predikingswerk stopsit nie, maar hy wil ook ons geloof aftakel en ons aan God ontrou maak sodat ons die ewige lewe verbeur. Nog ’n doelwit van die vervolging is dus om ons te verhinder om geestelike voedsel in te neem en omgang met ons broers by ons vergaderinge te hê. Wanneer ons bedrywigheid verbied word, is dit gewoonlik ons predikingswerk en ons vergaderinge wat verbied word. Ons word dikwels meegedeel: “Julle kan Jehovah se Getuies wees, maar julle mag nie preek of enige vergaderinge hou nie.” Maar as ons nie preek of vergaderinge hou nie, sal ons nie getuies van Jehovah God of Christus Jesus wees nie, want ’n getuie wat niks sê nie is nie werklik ’n getuie nie (Jesaja 43:10, 12; Handelinge 1:8). En wat sal met ons geloof gebeur as ons nie meer gehoorsaam is aan God se bevel om te vergader nie?—Hebreërs 10:24, 25.

Hoe om vervolging te verdra

11. Wat was die reaksie van getroue Christene op die vervolging waaraan hulle onderwerp is?

11 Hoe het God se knegte in ons dag gereageer op die vervolging waaraan hulle onderwerp is? Net soos die vroeë Christene het hulle nie bang geword nie maar het hulle moedig voortgegaan met die predikingswerk ondanks verbooie en dreigemente. Net soos Paulus het hulle rede om hulle te “verbly”. Hulle standvastigheid aan Jehovah se kant van die geskil bewys dat die Duiwel ’n leuenaar is. Watter voorreg tog om ’n aandeel te hê in die verheerliking van Jehovah se naam!—Filippense 2:17, 18; 2 Thessalonicense 1:4.

12. Het ons rede om bang te wees vir die dinge waarmee vervolgers ons dreig?

12 Daar bestaan werklik geen rede om bang te wees vir diegene wat ons vervolg nie. Paulus het aan die Filippense geskryf: “Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. . . . [Terwyl julle] julle in geen opsig deur die teenstanders laat afskrik nie. Dit [die feit dat julle nie vir hulle bang is nie] is vir hulle ’n teken van hulle ondergang en van julle redding, en dit kom van God.”—Filippense 1:27, 28, NTP.

13, 14. (a) Wat het opponerende amptenare in een land onlangs gedoen om Jehovah se Getuies te probeer bangmaak? (b) Wat toon hierdie voorvalle in werklikheid?

13 In een land in Europa waar die werk van Jehovah se Getuies nie wetlike erkenning geniet nie, is ’n broer onlangs in hegtenis geneem omdat hy ’n kort, vertroostende Bybeltoespraak tydens ’n begrafnis gehou het. Die broer wat die gebed gedoen het, is ook in hegtenis geneem. Die plaaslike amptenare het gesê dat slegs persone wat deur die Staat gemagtig is by begrafnisse mag praat, en dat gebed verbode is “omdat gebed gebruik kan word om te onderrig”. Nog ’n broer in dieselfde gebied is in hegtenis geneem omdat hy die Bybel vir sy gesin gelees het. Geen klag is teen hierdie broers ingebring nie. Hulle is ’n rukkie aangehou en toe vrygelaat. Die doel was duidelik om hulle bang te maak en te laat ophou.

14 Maar wie is eintlik die banges? As die plaaslike amptenare bedreig voel deur ’n man wat die Bybel vir sy gesin lees of deur ’n broer wat by ’n begrafnis ’n toespraak hou of ’n gebed doen, moet hulle werklik baie bang wees vir die Bybel se boodskap en vir die wat dit verkondig! Waarom moet ons dan vir hulle bang wees? Soos Paulus getoon het, is ons eenheid en moed “’n teken van hulle ondergang en van julle redding”.—Filippense 1:28, NTP.

15. Hoe kan ons reaksie op dreigemente in werklikheid ’n uitwerking hê op die duur van die vervolging?

15 In party plekke word verkondigers van die “evangelie” elke paar weke na die polisiekantoor ontbied waar hulle dan gekapittel word, en hulle word dikwels met swaar straf gedreig as hulle nie ophou om oor God se koninkryk te praat nie. Maar wanneer die broers en susters die dreigemente ignoreer en onverskrokke met die werk voortgaan, gee die amptenare gewoonlik die saak gewonne en laat hulle hulle met rus. Maar as hulle enige teken van verslapping by die Koninkryksverkondigers bespeur, sal hulle voortgaan met hulle pogings om hulle te intimideer.

Volharding ondanks verbooie

16, 17. (a) Watter pogings is aangewend om geestelike voedsel by broers te kry in plekke waar die werk verbied is asook by diegene in tronke? (b) Waarom is dit belangrik?

16 Getuies in lande waar die werk verbied en die verspreiding van hulle lektuur aan bande gelê is, besef hoe belangrik dit is om gereeld geestelike voedsel te kry. Aangesien Die Wagtoring en ander publikasies van Jehovah se Getuies in sekere lande nie wettig gedruk en gepos kan word nie, word ander reëlings getref om toe te sien dat die geestelike voedsel almal bereik. Gedurende die vervolging onder Hitler is studie-artikels in Duitsland met ’n mimeograaf gekopieer, oorgetik en in party gevalle selfs met die hand oorgeskryf. Dit moet vandag nog op baie plekke gedoen word. Indien daar nie genoeg afskrifte gemaak kan word sodat elkeen sy eie het nie, word dit rondgestuur sodat elkeen ’n kans sal hê om die materiaal te lees. Die belangrike ding is om gereeld geestelike voedsel in te neem.—Mattheüs 4:4.

17 Die ondervinding het geleer dat Jehovah sake altyd so bestier dat die geestelike voedsel, selfs onder baie moeilike omstandighede, by die broers uitkom. Verskeie metodes is al gebruik om dit in tronke en konsentrasiekampe in te smokkel. En hoe het dit tog diegene wat daar opgesluit was, versterk!

18. Waarom is dit belangrik om geestelike voedsel gereeld saam met ander te bespreek, en hoe kan dit selfs onder moeilike omstandighede gedoen word?

18 Indien dit enigsins moontlik is, neem getroue knegte van God gereeld saam geestelike voedsel in—selfs al is die vergaderinge verbied, selfs al is hulle in die tronk. Die bespreking van ’n Bybelteks elke dag, saam met ander indien moontlik, vestig die aandag op geestelike sake. Selfs ’n kort bespreking elke dag is geestelik baie versterkend.—Psalm 1:2; Handelinge 17:11.

Die belangrikheid van vergaderinge

19. (a) Watter onverwagte ondervinding het baie van ons broers in Liberië gehad? (b) Wat het die getroues gehelp om te volhard volgens die verslag in die 1977 Yearbook?

19 In Maart 1963 is nagenoeg 400 persone wat ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Gbarnga, Liberië, bygewoon het gevange geneem en vier dae lank sonder kos in ’n militêre kamp aangehou. Om die Getuies te dwing om hule geloof prys te gee en die Liberiese vlag te salueer, is hulle mishandel en hulle besittings geroof. Hoewel die meerderheid in hierdie geval geswig en ’n kompromis aangegaan het, het ’n aansienlike groep hulle onkreukbaarheid behou. Let op die kommentaar wat op bladsy 176 van die 1977 Yearbook of Jehovah’s Witnesses gemaak is: “Hulle was van alle stande, ongeletterd en hoogs geleerd. Die lede van die groep wat lojaal gebly het, was getroue vergaderingbywoners.”

20. Hoe wend party kragtige pogings aan om nie ‘hulle onderlinge byeenkoms te versuim nie’, en ondanks watter gevare?

20 God se geïnspireerde Woord vermaan ons om nie ons onderlinge byeenkoms te versuim nie (Hebreërs 10:24, 25). Die belangrikheid hiervan neem nie tydens vervolging af nie. Vergaderinge moet miskien in klein groepies in privaat huise gehou word; plekke en tye moet dalk gereeld verander word en is moontlik nie altyd gerieflik nie, daar party vergaderinge laat in die nag gehou word. Maar ondanks die gevare laat ons getroue broers en susters geen steen onaangeroer om elke vergadering by te woon nie. En broers is bereid om hulle huise vir sulke vergaderinge aan te bied, selfs al kan hulle hulle vryheid verloor as dit ontdek sou word.

21. (a) Watter geleenthede is daar om in sulke omstandighede ten volle by die geestelike voedsel baat te vind? (b) Watter tekste toon hoe belangrik dit is om gereeld sulke vergaderinge by te woon en daaraan deel te neem?

21 Vergaderinge in kleiner groepies bring moontlik mee dat nie almal by die beste onderrigters in die gemeente baat kan vind nie, maar elkeen het meer geleenthede om deel te neem en kan dus groter voordeel uit die vergaderinge trek. Soms kan groter groepe vergader wanneer daar pieknieks of uitstappies gereël word of, nou en dan, op private uitnodiging. Die gereelde bywoning van al die vergaderinge is ’n belangrike faktor om ‘end-uit te volhard in die vertroue waarmee hulle begin het’, ten einde hulle onkreukbaarheid te behou en die vervulling van die beloftes te ontvang as hulle ‘nie moeg word nie’.—Hebreërs 3:14, NTP; 10:36; Galasiërs 6:9.

Die predikingswerk tydens verbooie

22. (a) Waarom kan God se volk nie vandag ophou spreek oor die dinge wat hulle gesien en gehoor het nie? (b) Hoe word dit op party plekke gedoen?

22 Net soos in die geval van die apostels kan Jehovah se volk vandag ‘nie ophou om te spreek oor wat hulle gesien en gehoor het nie’ (Handelinge 4:20). Jesus het gesê: “Die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word” en geen menslike of demonwerktuig kan verhinder dat dit gebeur nie (Markus 13:10). Op party plekke is dit moontlik om as ’n privaat persoon wat net die Bybel gebruik van huis tot huis te gaan al is die werk van Jehovah se Getuies daar verbied.

23, 24. (a) Hoe word die predikingswerk gedoen op plekke waar dit nie raadsaam is om van huis tot huis te gaan nie? (b) Kan jy enige ondervindinge vertel wat getuig van die goeie resultate wat op hierdie wyse behaal is?

23 Waar dit nie raadsaam is om van huis tot huis te gaan nie, kan die “evangelie” op ander maniere verkondig word. Afsonderlike besoeke kan moontlik in verskillende dele van die gebied gedoen word sodat geen geboue opeenvolgend gedek word nie. Maar ons hoef nie te wag totdat mense agter deure is nie. In baie lande behaal ons broers wonderlike welslae deur met mense te praat net waar hulle hulle aantref—op straat, in begraafplase en parke, of wanneer hulle reis. Party het gebiede waar daar geen Getuies is nie selfs as toeriste besoek en gesprekke met mense aangeknoop waar dit moontlik was. Solank ons asem het en daar mense is met wie ons kan praat, is daar eenvoudig geen manier waarop die vyand ons kan verhinder om op hierdie verskillende maniere met mense te praat nie.

24 Met oefening het Jehovah se volk geleer om vriendelike gesprekke oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe aan te knoop en die bespreking dan op gepaste wyse na die Bybel te rig. In een land het ’n Getuie ’n jong paartjie in ’n park genader toe hulle water by ’n stroompie gedrink het. Die Getuie het vir hulle gevra of hulle nie graag sou wou weet waar hulle beter water kon kry nie. Toe het hy vir hulle begin vertel van die lewegewende water in die komende Paradys, en die bespreking het drie uur geduur. Dit het gelei tot ’n Bybelstudie, en na drie maande het die egpaar velddiens begin doen. ’n Jaar later is albei gedoop en die man het mettertyd as ’n bedieningskneg in die gemeente gedien.—Vergelyk Johannes 4:7-15.

25. Wat moet ons probeer vermy, veral waar ons predikingswerk verbied is?

25 In hierdie werk is dit verstandig om regstreekse konfrontasie met teenstanders te vermy. Ons moet ook versigtig wees dat ons nie inligting aan die vyand verstrek wanneer hulle probeer om ons met vriendelikheid en vleiery oor te haal nie. Ons wil Jesus se raad in gedagte hou: “Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe” (Mattheüs 10:16). Paulus het ook vermaan: “As dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.”—Romeine 12:18.

Die goeie resultate van volgehoue onkreukbaarheid

26. Watter goeie resultate word behaal wanneer persone hulle onkreukbaarheid ondanks hewige vervolging bewaar?

26 Watter wonderlike getuienis is tog deur die eeue heen gegee deur almal wat hulle onkreukbaarheid ondanks hewige vervolging bewaar het! Al die pogings van die Duiwel en sy trawante om te verhoed dat ’n getuienis gelewer word, het slegs uitgeloop op ’n groter getuienis tot die eer van Jehovah se naam. En watter wonderlike aandeel het die derduisende, ja, die miljoene daarin gehad wat hulle onkreukbaarheid ondanks vervolging bewaar het (en nog steeds bewaar), en sodoende getoon het dat die Duiwel ’n leuenaar is en hulle onwrikbare geloof in Jehovah God en hulle liefde vir hom bewys het!

27. Watter persoonlike voordele hou dit vir ons in as ons beproewings en vervolging getrou verduur?

27 Wanneer ons getrou volhard, het ons ’n goeie gewete, want ons weet dat ons gedoen het wat reg is en dat ons Jehovah se goedkeuring wegdra. Dit versterk ons hoop, wat weer ons vreugde vergroot. Ons geloof is op die proef gestel, en omdat ons nie teruggedeins het of gevlug het om vervolging te ontduik nie, het Jehovah ons gehelp om te volhard. Ons geloof is gevolglik nou sterker as ooit. Hierdie ‘beproefdheid van ons geloof’ maak dit vir ons makliker om toekomstige beproewings die hoof te bied.—1 Petrus 1:6, 7.

28. (a) Watter redes tot vreugde het die gemelde Finse suster nou? (b) Watter hoop kan sy steeds koester?

28 Die suster wat aan die begin van die vorige artikel gemeld is, het gevind dat dit die geval is. Sy woon weer in haar tuisdorp waar sy nou al geruime tyd ’n gewone pionier (’n voltydse Koninkryksverkondiger) is. Alhoewel haar drie jong kinders nie aan haar sorg toevertrou is nie, word sy toegelaat om hulle drie keer per maand te sien, en sy was in staat om die “evangelie” met hulle te deel, met bemoedigende gevolge. En wie weet wat die uitslag sal wees? Daar was talle, talle gevalle waar gewelddadige teenstanders en vervolgers so beïndruk is deur die getroue standpunt wat ons broers en susters ingeneem het, dat hulle beweeg is om self die Bybel te ondersoek, met die gevolg dat party mettertyd aanbidders van Jehovah geword het.

29. Watter verdere aanmoediging het ons almal om getrou te bly en vreugdevol te wees ondanks vervolging?

29 Jakobus het geskryf: “Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete wat in die Naam van die Here gespreek het. Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra” (Jakobus 5:10, 11). En met die bykomende goeie voorbeelde van Christene van die eerste eeu en dié van vandag, word ons almal grootliks aangemoedig om vreugdevol te wees ondanks vervolging.

[Prent op bladsy 16]

Jesus het gesê: “’n Mens se huis genote sal sy vyande wees”

[Prent op bladsy 18]

Selfs tydens ’n verbod hou Jehovah se Getuies nie op om te preek nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel