Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 1/15 bl. 10-15
  • Kan mensepogings onheil afwend?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan mensepogings onheil afwend?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Lewensbelangrike dinge wat nie gedoen is nie
  • Armoede bly ’n probleem
  • Die tegnologie en oorlog
  • Waarom mensepogings misluk
  • Sataniese invloed
  • Watter hoop?
  • Kan die mens blywende vrede en veiligheid bring?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Geloof en jou toekoms
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Waar is die waarheid wat ons kan vrymaak?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Kan hierdie wêreld ooit eenheid bewerkstellig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 1/15 bl. 10-15

Kan mensepogings onheil afwend?

„[Dit behoort] nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.”​—JEREMIA 10:23.

1, 2. Wat is sommige van die mensdom se prestasies in hierdie twintigste eeu?

IN ONS twintigste eeu het die mens verbasende dinge gedoen. Groot vooruitgang is op die gebied van die onderwys, die wetenskap en die tegnologie gemaak. Vandag geniet baie die voordele hiervan in hulle daaglikse lewe. In talle lande is daar moderne geriewe soos elektriese ligte, lopende water en nuttige toestelle in die huis. Die mediese wetenskap help boonop om sekere siektes, soos pokke, wat eens plae was te beheer.

2 Kommunikasie en vervoer het ook grootliks vooruitgegaan. Met telefone, motors, treine en vliegtuie kan ons nou vinniger kommunikeer of reis as wat ons voorouers ooit gedroom het. Vandag kan gebeure wat aan die ander kant van die wêreld plaasvind onmiddellik deur middel van ruimtesatelliete na ons oorgesend word.

Lewensbelangrike dinge wat nie gedoen is nie

3, 4. Watter lewensbelangrike dinge het mense nie gedoen nie, soos tereg in die Bybel voorspel is?

3 Die bedreiging van ’n kernramp hang egter voortdurend oor die mensdom, en daar is lewensbelangrike dinge wat mense nie kon doen nie. Het die vooruitgang in die onderwys byvoorbeeld gepaard gegaan met soortgelyke vooruitgang in die opvoeding van mense om eerliker, waarheidliewender en deugsamer te wees? In die Verenigde State beloop belastingverliese weens bedrog meer as 100 miljard dollar per jaar. In ’n ander land is daar in een groot stad alleen in sewe jaar glo 17 000 polisiebeamptes weens omkoping ontslaan. Sulke oneerlikheid herinner ons aan die Bybelprofesie in 2 Timotheüs hoofstuk 3, wat voorspel dat mense in hierdie „laaste dae” ,liefhebbers van hulself, geldgieriges, onheilig, sonder liefde vir die goeie’ sou wees.

4 Dan is daar geslagsonsedelikheid. Owerspel en hoerery is deesdae so algemeen dat dit in baie plekke buitengewoon is om te sien dat sedelike gesinne in rolprente, televisieprogramme, verhoogstukke of romans uitgebeeld word. En onsedelikheid dra daartoe by dat ongeveer 55 miljoen vroue wêreldwyd elke jaar aborsies ondergaan! Dit is die vernietiging van ’n bevolking groter as dié van Argentinië of Kanada of Frankryk of Pole, of 145 ander nasies​—elke jaar! Terwyl een vertakking van die mediese wetenskap dus vooruitgang verwelkom wat die lewens van sommige kinders red, vermoor ’n ander vertakking miljoene ongeborenes. Soos die Bybel voorspel het, is baie mense in hierdie „laaste dae” „bandeloos” en „sonder natuurlike liefde”.​—2 Timotheüs 3:3.

5. Meld party van die gesondheidsgevolge van vandag se woekerende onsedelikheid.

5 Geslagsonsedelikheid veroorsaak ’n epidemie van seksueel oordraagbare siektes. Baie soorte is nou teen geneesmiddels bestand. Die wydverspreide siekte bekend as genitale herpes is tot dusver ongeneeslik. En daar is ’n skerp toename in die aantal babas wat die siekte het omdat hulle moeders daarmee besmet is. Ongeveer die helfte van hierdie babas sterf, en van die wat bly leef, is die helfte fisies of geestelik geskaad. Daar is ook nog geen middel gevind teen VIGS (Verworwe Immuungebreksindroom) nie, die dodelike siekte wat dokters dronkslaan. VIGS het sy verskyning in minstens 33 lande gemaak „en is nou ’n wêreldwye gesondheidsgevaar”, sê Associated Press. Dit teister veral homoseksuele, wat ons onwillekeurig aan Romeine 1:27 laat dink.

6. Het die mediese wetenskap die verspreiding van siekte deur die wêreld gestuit?

6 Die mediese wetenskap kon nie die gety van talle ander siektes stuit nie. In Afrika alleen het miljoene malaria, slaapsiekte, melaatsheid en ander siektes. In ontwikkelde lande is kanker, hartkwaal, suikersiekte, lewerskrompeling en emosionele kwale aan die toeneem. Party hiervan word veroorsaak, of vererger, deur die sorge of neweprodukte van die moderne nywerheidsgemeenskap. Ander spruit uit mense se losbandige lewenswyse.

7. Is daar ’n goeie kans dat mediese vooruitgang ons onbepaald goeie gesondheid kan laat geniet?

7 Maar gestel meer siektes word onder beheer gebring. Sal die mediese wetenskap ons dan onbepaald goeie gesondheid kan laat geniet? Nee, sê baie wetenskaplikes. Hulle reken dat, hoewel die gemiddelde lewensduur miskien met ’n paar jaar verleng kan word, ander siektes meer lewens sal eis. ’n Wetenskaplike het tot die volgende slotsom gekom: „Die kanse is skraal dat ons in die nabye toekoms die gemiddelde lewensduur veel sal kan verleng of veroudering sal kan uitstel.” Die Bybel het tereg lank gelede in Psalm 90:10 gesê: „Die dae van ons jare​—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby.”

Armoede bly ’n probleem

8. Hoe het die Bybel akkuraat voorspel dat die tegnologie nie die probleem van armoede sou oplos nie?

8 Die tegnologie het weliswaar die lewe vir sommige mense geriefliker gemaak. Maar baie ander het nie genoeg geld om die produkte van die tegnologie te koop nie. Die publikasie World Military and Social Expenditures 1983 het berig: „2 000 000 000 mense lewe van ’n inkomste van minder as [R900] per jaar.” Dit het voorts gesê: „Minstens een uit vyf persone verkeer in volslae armoede, ’n toestand van sulke algehele ontbering dat dit ’n stille menseslagting is.” Vervolgens het dit gemeld dat „11 000 000 babas [elke jaar] voor hulle eerste verjaardag sterf” as gevolg van ondervoeding of siekte.​—Openbaring 6:5-8.

9. Watter tragiese toestand bestaan in baie lande?

9 In party lande, sê The Detroit News, „vind baie vroue dat hulle te veel kinders het en geen manier om vir hulle te sorg nie. . . . Sulke moeders laat alte dikwels ’n onwelkome kind sommer . . . op die straat.” Daar is miljoene sulke kinders. Op ander plekke word ouers weggegooi. ’n Asiatiese joernalis skryf: „Duisende bejaardes word uit hulle huise geskop omdat hulle kinders hulle nie meer kan voed nie. Daar is geen welsynsorganisasies om hulle te help nie. Die kinders van hierdie bejaardes sit hulle baiemaal op ’n trein en laai hulle iewers af of laat hulle by die stasies agter.” Die skrywer voeg by: „Wat ’n skokkende verandering in ’n kultuur wat soveel eerbied vir bejaardes gehad het.” Ons geslag sien dus die vervulling van Spreuke 30:11, wat sê: „Daar is ’n geslag wat sy vader vervloek en sy moeder nie seën nie.”

10. Hoe veilig is die wêreld se geldstelsel, en aan watter profesie van Jesus herinner dit ons?

10 Menseregerings kan nie die probleem van wêreldwye armoede oplos nie. Ontwikkelingslande het ’n swaar las van stygende skuld wat hulle nie kan betaal nie. Selfs ontwikkelde lande het ontsaglike skulde. As gevolg hiervan het tientalle banke in die Verenigde State verlede jaar bankrot gespeel. Toe een van die grootste banke bedreig is, was dit slegs deur staatshulp ten bedrae van miljarde dollars dat ’n ramp afgeweer is. Daar is gevrees dat as so ’n groot bank bankrot sou speel, „die gevolge na ander banke sou uitkring en dit die hele geldstelsel in gevaar sou stel”, het The New York Times berig. Dit word dus al hoe moeiliker om onheil af te wend. Trouens, die kommentaar van Engeland se Guardian neem elke jaar groter betekenis aan: „Die wêreld is op die randjie van ’n menslike katastrofe en ’n politieke ramp . . . Hele vastelande het hulle toekomsverwagtinge sien verdwyn.”​—Lukas 21:25, 26.

Die tegnologie en oorlog

11. Watter addisionele probleem wat regerings nie kan oplos nie, is deur die tegnologie vererger?

11 Iets anders wat baie vererger is deur die tegnologie en wat regerings nie kan stopsit nie, is oorlog. Dit was die tegnologie wat die Eerste Wêreldoorlog so ’n slagting gemaak het, met die massagebruik van masjiengewere, duikbote, oorlogsvliegtuie, tenks en vlamwerpers. Britse skrywer Richard Rees het gesê: „Die oorlog van 1914-1918 het twee feite aan die lig gebring: Ten eerste, dat tegnologiese ontwikkeling ’n punt bereik het waar dit slegs in’n verenigde wêreld kan voortgaan sonder om rampspoedige gevolge te hê en, ten tweede, dat die bestaande politieke en maatskaplike organisasies in die wêreld sulke vereniging onmoontlik gemaak het.” Die Tweede Wêreldoorlog het sy punt gestaaf toe nuwer wapens sowat 55 miljoen mense gedood het.

12. Voor watter bedreigings staan die mensdom vandag?

12 Oorlogswapens is vandag baie afgrysliker, en regerings is allesbehalwe verenig. Skrywer Herman Wouk het in verband met kernwapens gesê: „Die vernuf, arbeid en rykdom wat bestee word aan hierdie . . . kranksinnigheid, verbyster werklik die verstand. As die nasies nie meer geleer het om oorlog te maak nie, sal niks vir die mensdom onmoontlik wees nie.” Sterrekundige Carl Sagan het oor kernoorlog gesê: „Daar bestaan min twyfel dat ons wêreldbeskawing vernietig sou word.” En terwyl hierdie bedreiging van ’n wêreldwye ramp oor die mensdom hang, is daar baie ander wapenstryde wat tallose lewens eis. Die Sentrum vir Verdedigingsinligting in die Verenigde State het berig dat daar in 1984 nie minder nie as 42 oorloë en opstande gelyktydig aan die gang was! Regerings kan nie eens die vloedgolf van misdadigheid en geweld in hulle eie lande stuit nie, wat nog te sê wêreldwye vrede bring.

13. Stem wêreldwye geweld in ons tyd met Bybelprofesie ooreen?

13 Dit alles stem ooreen met die profesie in Openbaring 6:4 oor die rit van een van die ,vier ruiters van die Apokalips’ sedert 1914: „En ’n ander perd, ’n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ’n groot swaard is aan hom gegee.”

Waarom mensepogings misluk

14, 15. Wat is ’n vername rede waarom mense nie vandag hulle doelstellings kan verwesenlik nie?

14 Waarom is daar rede om te dink dat onheil nie deur mensepogings afgewend sal word nie? Waarom kan mense nie hulle doelstellings verwesenlik nie? Die Bybel wys op een vername rede: „Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het” (Romeine 5:12, NAV). Ons eerste ouers, Adam en Eva, is volmaak geskape na liggaam en verstand. Maar daardie volmaaktheid het afgehang van hulle gehoorsaamheid aan God se heilsame wette. Daardie wette het hulle groot wilsvryheid toegelaat. Maar Genesis hoofstuk 3 toon dat ons eerste ouers hulle wilsvryheid te ver gevoer het. Hulle wou onafhanklik wees van God en sy wette en wou self besluit wat reg en verkeerd is, ’n bevoegdheid wat God alleen toekom. Nadat hulle daardie keuse gedoen het, was hulle op hulle eie. Die Bybel sê: „Die HERE is met julle as julle met Hom is, . . . maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat” (2 Kronieke 15:2). Adam en Eva was nou van God afgesny en het begin agteruitgaan. Siekte, droefheid en uiteindelik die dood het hulle oorval.​—Genesis 2:16, 17.

15 Nadat ons eerste ouers onvolmaak geword het, het die erflikheidswet daarvoor gesorg dat al hulle nakomelinge onvolmaaktheid erf. Die psalmis het erken: „In ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang” (Psalm 51:7). Daar is hoegenaamd geen manier waarop die mediese wetenskap die gevolge van oorgeërfde onvolmaaktheid te bowe kan kom nie. As ons na ’n mediese deurbraak soek om siekte en die dood uit die weg te ruim, soek ons na iets wat mense nooit sal kan doen nie.

16. Hoe het onvolmaaktheid die mensdom se geestestoestand geraak?

16 Oorgeërfde onvolmaaktheid raak ook ons geestestoestand. Ons word almal gebore met die neiging om verkeerd te doen. Dit beteken natuurlik nie dat mense geen beheer oor hulle dade het nie. Hulle het, mits hulle korrektiewe stappe doen. Spreuke 3:6 bevestig dit deur te sê: „Ken [Jehovah] in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.” Wanneer mense egter teregwysing ignoreer, beland hulle in groot moeilikheid. En hoe verder individue en nasies van God se wette afdwaal, hoe verderfiiker handel hulle en hoe meer gee hulle toe aan die ingebore neiging om selfsugtig te wees. ’n Hoofartikel in The New York Times het in hierdie verband gesê: „’n Mens kan vandag kwalik na die opskrifte kyk sonder om te wonder waarop die wêreld afstuur. . . . Kyk wat gebeur wanneer mense, instellinge en nasies hulle selfsugtige belange bo alle ander dinge stel. . . . Die duidelike feit in alle lande is dat selfsugtigheid nie werk nie.”

Sataniese invloed

17, 18. Watter ander belangrike faktor help om te verklaar waarom mense nie hulle doelstellings kan verwesenlik nie?

17 Nog ’n belangrike faktor wat help om te verklaar waarom mense nie hulle doelstellings kan verwesenlik en onheil kan afwend nie, is die invloed wat in 2 Korinthiërs 4:4 gemeld word, waar ons lees van „die god van hierdie wêreld”. Sommige wat nie die Bybel goed ken nie, kan dink dat die god waarvan hier gepraat word die almagtige God is. Maar dieselfde vers voeg by dat hierdie god ,die sinne van die ongelowiges verblind het’. Die liefdevolle Skepper sal dit tog sekerlik nie doen nie. Die god wat hier bedoel word, is dieselfde een as wat in 1 Johannes 5:19 gemeld word, waar ons lees: „Die hele wêreld [lê] in die mag van die Bose.”

18 Die god wat hierdie wêreld beheer, word in Openbaring 12:9 geïdentifiseer as „die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei”. Die naam Satan beteken „Versetpleger”, of „Teenstander”. Die naam „Duiwel” beteken „Valse Beskuldiger”, of „Lasteraar”. Dit is gepaste benaminge, want die opstand van Adam en Eva is deur hierdie rebel in die geesteryk aangestig. Dit was hy wat as ’t ware vir Eva gesê het: ,Jy het nie God se wette nodig nie. Jy kan self besluit wat reg en wat verkeerd is.’ Maar deur God die rug toe te keer, het Satan verstandelik verdorwe geraak. Dit blyk uit sy werke, want kyk maar net na die wêreld onder sy beheer! Die haatlike, bose geskiedenis van die mensdom bevestig dat daar ’n haatlike, bose invloed daaragter sit.

Watter hoop?

19. Wat het sommige waarnemers aan die hand gedoen as oplossings vir hierdie wêreld se probleme?

19 Sommige waarnemers van hierdie chaotiese wêreld het interessante waarnemings gedoen oor die oplossing vir die mensdom se probleme. The Gazette van Montreal het gesê: „Omtrent 150 groepe nasionale politici trek in verskillende rigtings en stuur die planeet aarde na chaos. En tog is die meeste van die wêreld se groot probleme van wêreldwye omvang omdat die vervoer- en kommunikasietegnologie die aarde tot ’n wêreldgemeenskap of -dorp laat krimp het.” Toe het die koerant aanbeveel: „Die een of ander vorm van wêreldregering sal nodig wees.” Sosioloog Erich Fromm het gesê dat hierdie wêreld se probleme uit die weg geruim kan word „slegs as die hele [maatskaplike en politieke] stelsel soos dit gedurende die afgelope 6 000 jaar van die geskiedenis bestaan het, vervang word deur een wat fundamenteel anders is”.​—Ons kursiveer.

20. (a) Waarom sal verlangde doelwitte nooit deur mensepogings bereik word nie? (b) In wie moet ons ons vertroue vir die toekoms stel?

20 Sulke waarnemers besef dit nie, maar die hele maatskaplike en politieke stelsel gaan „vervang word deur een wat fundamenteel anders is”! Daar sal binnekort net een wêreldregering vir die hele mensdom wees. Maar dit sal nie deur mensepogings geskied nie. Mense alleen is nie by magte om onheil af te wend nie. Hulle kan beslis nie hierdie teenswoordige stelsel deur ’n beter stelsel vervang nie, soos die geskiedenis bewys het. Hulle kan nie van oorgeërfde onvolmaaktheid, siekte en die dood ontslae raak nie. En hulle kan nie van Satan en sy demone ontslae raak nie. Die verloop van wêreldgebeure bekragtig eerder die geïnspireerde woorde: „[Dit behoort] nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Daarom vermaan God se Woord: „Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie” (Psalm 146:3). In wie moet jy dan jou vertroue stel? Spreuke 3:5 spoor ons aan: „Vertrou op [Jehovah] met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.” Waarom moet ons sulke vertroue op Jehovah hê? Omdat hy kan doen wat die mens nie kan doen nie, soos die volgende artikel toon.

Vrae ter hersiening

◻ Watter lewensbelangrike dinge kon mense nie doen nie?

◻ Hoe het die tegnologie die gevolge van oorlog vererger?

◻ Waarom misluk mensepogings so dikwels?

◻ Wat is die verstandige weg, in die lig van die mens se mislukkings?

[Prent op bladsy 11]

Die mediese wetenskap het nie die gety van siekte en die dood gestuit nie

[Prent op bladsy 12]

Menseregerings kan nie wêreldwye armoede uit die weg ruim nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel