Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 4/15 bl. 5-8
  • Kan hierdie wêreld ooit eenheid bewerkstellig?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan hierdie wêreld ooit eenheid bewerkstellig?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die politiek se verlede
  • Ekonomiese wanorde
  • Maatskaplike probleme neem toe
  • Waar kan ons eenheid vind in hierdie wêreld vol tweedrag?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Die mensdom verenig—Wat dit kan beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Kan die mens blywende vrede en veiligheid bring?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Koninkrykseenheid is vandag ’n werklikheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 4/15 bl. 5-8

Kan hierdie wêreld ooit eenheid bewerkstellig?

KAN die droom van wêreldeenheid ooit deur hierdie wêreld se pogings verwesenlik word? Is dit moontlik dat een van die toonaangewende elemente in wêreldsake die mensdom na daardie doelwit kan lei?

Hierdie wêreld het duisende jare gehad om met verskillende regerings, sowel as ekonomiese en maatskaplike stelsels, te eksperimenteer. Was enigeen van hulle ooit ’n krag tot eenheid? Kan enige van hulle nou die tragies verdeelde toestand waarin die mensdom homself bevind ongedaan maak? En as hulle nie kan nie, wat kan?

Die politiek se verlede

Politieke leierskap is ’n groot krag in menseaangeleenthede. Maar die geskiedenis toon duidelik dat dit ongelukkig nie ’n krag is wat mense verenig het nie. Inteendeel, na duisende jare waarin elke moontlike politieke ideologie beproef is, is die wêreld meer verdeeld as ooit. Daar is nou meer onafhanklike nasies en uiteenlopende politieke stelsels as op enige ander tyd in die geskiedenis.

As menseregering wêreldeenheid in die hand kon werk, sou dit tog sekerlik teen hierdie tyd duidelik gewees het. Ons vind eerder dat elke eeu bevlek is deur die bloed van een oorlog na die ander—duisende oorloë. En in plaas van geleidelike vooruitgang in die rigting van eenheid in ons tyd, het ons in hierdie twintigste eeu die rampspoedigste verdeeldheid van alle tye beleef. Twee afgryslike wêreldoorloë is gevoer, en sowat 70 miljoen lewens het in die slag gebly. En asof dit nie genoeg was nie, deel die onlangse boek War in Peace ons mee dat nagenoeg 130 militêre botsings sedert die Tweede Wêreldoorlog ongeveer 35 miljoen lewens in meer as honderd lande geëis het. Stel jou dit voor! In ’n sogenaamde vredestyd!

’n Basiese rede vir hierdie betreurenswaardige toestand is die mensdom se verkleefdheid aan politieke en nasionale lojaliteite. Dit het die mensdom hopeloos verdeeld gehou sodat hulle mekaar se belange teëwerk. Dit is waarom die geskiedkundige Arnold Toynbee gesê het dat nasionalisme “in der waarheid die hoofgodsdiens is”, aangesien baie mense hulle aanbiddelike trou daaraan toesê. Toynbee het gesê dat hierdie aanbidding van soewereine state hulle onderskeie onderdane teen mekaar opstel “omdat hierdie godsdiens ’n blyk van egosentrisiteit is”. En hy het gemeen dat hierdie “egosentrisiteit die bron van alle tweedrag is”.

Politieke verdeeldheid is nou veel rampspoediger omdat die mensdom hom diep in die kerneeu bevind. Elke nasie vrees kernoorlog, veral wanneer daar aan die vermoë van moderne kernwapens gedink word. In The Fate of the Earth skryf Jonathan Schell: “Wat by Hirosjima gebeur het, is minder as ’n miljoenste van die slagting wat die wêreld se huidige kernarsenale moontlik maak.”

Schell Lel bygevoeg: “Die politiek sit gevolglik met die skreiende onsinnigheid dat dit met die een hand vir ’n toekoms bou terwyl dit met die ander hand voorberei om te vernietig. Elke keer dat ’n politikus sy stem verhef om te praat oor die skepping van ’n beter wêreld vir ons kinders en kleinkinders . . . is die gevaar van uitwissing daar wat hom verpletterend weerspreek: Maar daar is dalk nie kinders of kleinkinders nie.”

Hierdie einste situasie in ons dag is deur die profetiese woorde van Jesus Christus in Lukas 21:25, 26 voorspel: “Op die aarde [sal daar wees] benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom.” Wat ’n raak beskrywing van die mensdom se huidige verdeelde toestand!

Met sulke verskriklike vooruitsigte kan die vraag tereg gestel word: Kan die Verenigde Volke nie die mensdom verenig as geen enkele politieke stelsel dit kan doen nie? Die antwoord moet nee wees. Waarom? Omdat die VV in der waarheid net ’n weerspieëling van ons verdeelde wêreld is. Die sekretaris-generaal van die VV het erken: “Ons het gewis ver afgedwaal van die V.V.-handves af.” Hy het gesê dat die organisasie se resolusies “al hoe meer getrotseer of veronagsaam word deur die wat dink dat hulle sterk genoeg is om dit te doen”. Hy het tot die volgende gevolgtrekking gekom: “Ons is gevaarlik naby aan ’n nuwe internasionale anargie.” Op grond van sy reputasie word die geloofwaardigheid van die VV as ’n krag om die mensdom te verenig dus selfs deur sy eie ampsdraers bevraagteken.

As ons die feite eerlik onder die oë sien, moet ons erken dat die geskiedenis getoon het dat geen politieke stelsel van onvolmaakte mense die mensdom kan verenig nie, hoe opreg die leiers ook al is. God se geïnspireerde Woord vermaan gepas in Psalm 146:3: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.”

Ekonomiese wanorde

Kan ons op enige ekonomiese stelsel van hierdie wêreld vertrou as ’n verenigende krag wat sal verseker dat die ganse mensdom voordeel trek uit die aarde se vermoë om oorvloedig voort te bring? Weer antwoord die geskiedenis nee. Geeneen van die mens se ekonomiese stelsels het nog ooit ’n model voorsien vir ’n verenigde benadering sodat die hele mensdom se belange bevorder word nie. Elke ekonomiese stelsel het groot ontevredenheid uitgelok en vir miljoene ontberinge beteken.

In onlangse jare het die wêreldekonomie een krisis na die ander beleef. Die skulde van onderontwikkelde lande het geweldig gestyg, maar hulle kan steeds nie die skuld delg nie. Selfs die skulde van die meeste ontwikkelde nasies het die hoogte ingeskiet. Armoede vier hoogty. Miljoene is werkloos. Elke jaar sterf miljoene ander van die honger of van siekte wat deur wanvoeding veroorsaak is. Vir groot getalle armes dwarsoor die aarde is die waarheid van God se profetiese woord in Openbaring 6:6 bevestig: “Net een skeppie koring vir ’n dagloon” (NAV). Ja, op baie plekke is ’n dagloon kwalik genoeg vir een brood.

Ondanks die tydelike herstel na resessies of depressies, bly die ekonomiese situasies baie soos dit deur The New York Times beskryf is: “Die wêreldekonomie staar die grootste bedreiging vir sy kohesie en voorspoed in die naoorlogse tydperk in die gesig. Inflasie, resessie, hoë werkloosheid en buitengewone handels en finansiële spanninge oefen geweldige druk uit op die beginsels en instellings van internasionale ekonomiese samewerking.” En die Franse koerantredakteur André Fontaine het verklaar: “Ek sien vandag geen Regering in die wêreld wat opgewasse is teen die groot ekonomiese probleme van ons dag nie. Dit is omdat hulle in werklikheid wêreldprobleme is en geen land hulle alleen kan oplos nie.”

Dit is die kern van die saak. Die wêreld se ekonomiese probleme verg verenigde wêreldoptrede. Maar te veel verskillende, selfsugtige belange is op die spel, en daarom sal hierdie wêreld se leiers geen blywende oplossing kan aanbied nie.

Maatskaplike probleme neem toe

Maatskaplike probleme weerspieël ook die mensdom se groeiende verdeeldheid. Haat en vooroordeel, misdadigheid en geweld, terrorisme en wapenstryde—op alle vastelande—is simptome van ’n siek wêreld. Die lewe in talle groot stede het veral gevaarlik geword. Vandaar ’n gevangene in Italië se verbasende reaksie toe ’n polisieman hom probeer opbeur het deur vir hom te sê dat hy eerlank vrygelaat sou word, soos berig deur La Nazione: “Ek is nie haastig om uit te kom nie. Ons lewe in moeilike tye. Ek verkies om in die tronk te bly. Dit is te maklik om jou lewe buitekant te verloor.”

Dan is daar ook menslike swakhede wat gesinne verdeel en die gehalte van lewe in elke soort politieke stelsel ondermyn. Egskeidings is feitlik oral aan die toeneem; in party plekke eindig byna die helfte van alle nuwe huwelike op daardie manier. Ontvlugting in die vorm van oormatige drinkery raak ook die Oosterse sowel as die Westerse wêreld. Een gevolg is dat dronkbestuur elke dag nuwe slagoffers voeg by ’n wêreldslagting van sowat 300 000 lewens elke jaar.

Die plaag van dwelmverslawing veroorsaak verdriet vir miljoene. Woekerende seksuele permissiwiteit lei tot ’n geweldige oes van gevreesde veneriese siektes, waarvan party nou bestand is teen behandeling. En dit gaan gepaard met ’n vloedgolf van ongewenste swangerskappe en aborsies.

Die situasie is presies soos die Bybel vir hierdie tyd voorspel het, naamlik: “Weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.” Hierdie profesie meld toestande wat klink soos die berigte in jou koerant. Dit sê dat mense ‘liefhebbers van hulleself sal wees, geldgieriges, trotsaards, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, bandeloos, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God’.—2 Timotheüs 3:1-5.

Maatskaplike probleme word vererger deur die biljoen rand wat nou elke jaar aan wapens bestee word. Dit is ver oor die tweemiljard rand per dag! En tog sterf miljoene kinders, en baie volwassenes, elke jaar aan ondervoeding. Dit staan dus soos ’n paal bo water: Maatskaplike probleme en ongelykhede neem toe. Honderdmiljoene ontgogeldes en verdruktes verval in wanhoop. En geen maatskaplike stelsel van hierdie wêreld kan hierdie probleme oplos nie, omdat daar nie eendragtige optrede is nie.

Dit is ongetwyfeld nou reeds duidelik dat geen politieke, ekonomiese of maatskaplike stelsel van hierdie wêreld die mensdom kan verenig nie. Maar wat van hierdie wêreld se godsdienste? Kan ons op hulle staatmaak as ’n verenigende faktor? Of waarop kan ons nou eintlik staatmaak as ’n krag om hierdie hopeloos verdeelde mensdom te verenig? Die twee artikels op bladsye 21 tot 31 behandel hierdie vrae.

[Prent op bladsy 7]

Die mens het nou die vermoë om alle lewe op aarde te vernietig

[Prent op bladsy 8]

Honderdmiljoene mense ly honger

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel