Waar is die waarheid wat ons kan vrymaak?
“En Jesus sê . . . julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”—JOHANNES 8:31, 32.
1. Wat is sommige van die vryhede wat mense in hierdie wêreld begeer?
VRYHEID! Daardie woord gryp mense se verstande en harte al eeue lank aan! Oorloë is gevoer om vryheid te verkry. Miljoene persone het daarvoor gesterf. Baie is dieselfde mening toegedaan as die Amerikaanse staatsman Patrick Henry wat meer as 200 jaar gelede gesê het: “Gee my vryheid of gee my die dood.” Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het president Franklin D. Roosevelt aangedring op “vier vryhede”: vryheid van spraak, vryheid van aanbidding, bevryding van gebrek en bevryding van vrees.
2, 3. Wat moet ware vryheid insluit?
2 Maar ware vryheid, in ’n breër sin, sal meer moet insluit. Kan enige van daardie vryhede ons byvoorbeeld bevry van menslike onvolmaaktheid? Kan dit ons bevry van siekte? Ongeag hoe gesond ’n persoon ook al is, hy moet die wrede feit onder die oë sien dat mense vroeër of later oud word en sterf. Wat kan ’n mens in die graf geniet? Die Bybel antwoord: “Die dooies weet glad niks nie.” Dit is waarom dit ook sê: “’n Lewendige hond is beter as ’n dooie leeu.”—Prediker 9:4, 5.
3 Voordat ons in die volste sin van die woord vry kan wees, moet ons ontslae raak van die slawerny aan onvolmaaktheid, siekte en die dood. En tesame daarmee moet ons verlos word van armoede, verdrukking, misdadigheid en oorlog; verskriklike dinge waarvan die geskiedenis vol is. Maar wie kan vir ons sulke vryhede gee? Kan enige dokter waarborg dat hy kanker, hartkwaal en alle ander siektes kan genees? Kan enige wetenskaplike verhoed dat ons oud word en doodgaan, of ons lewend maak nadat ons gesterf het? Kan enige politieke leier vrede op aarde en ewige bevryding van oorlog waarborg? Is daar enige burgemeester of polisiehoof in enige stad van die wêreld wat misdadigheid heeltemal kan uitroei? Watter ekonomiese stelsel kan mense bevry van armoede, werkloosheid of inflasie, en vir almal permanente, ware voorspoed bewerkstellig?
4. Waarop moet ware vryheid berus?
4 As daar enige hoop bestaan dat die talle slegte toestande wat die mensdom nou verswelg, uitgewis kan word, moet die antwoord op die waarheid berus. Ware vryheid kan nie op bedrog of leuens berus nie. Wanneer enigiemand, hetsy ’n wêreldleier, ’n wetenskaplike, ’n ekonoom of ’n geestelike, ’n mening lug oor wat die langverwagte vryhede sal bring, moet ons dus die vraag stel: Praat hy die waarheid? En die mensdom het ’n baie lang tyd gehad om te sien of die menings, beloftes en pogings van mense met die waarheid strook.
Verwagtinge wat nie op die waarheid berus het nie
5. In watter mate is die hoop op bevryding van siekte verwesenlik?
5 Baie het byvoorbeeld etlike dekades gelede gedink dat mediese vordering die mensdom van siekte sou bevry. En daar was voorwaar vordering op die gebied van die geneeskunde. Maar het dit ons van siekte bevry? Nee, want kwale soos kanker en hartmoeilikheid het epidemiese afmetings aangeneem. Daar is eens ook gemeen dat nuwe wondermiddels oor veneriese siekte sou seëvier. Die gesaghebbende Britse mediese publikasie The Lancet berig egter: “Die Wêreldgesondheidsorganisasie beraam dat daar jaarliks om en by 250 miljoen nuwe gevalle van gonorree en 50 miljoen nuwe gevalle van sifilis rondom die wêreld is. Ander aansteeklike geslagsiektes kom moontlik selfs algemener voor.”—Vergelyk Spreuke 7:10, 21-23.
6. Waarom kan daar gesê word dat die wetenskap en die nywerheid teleurstellend was?
6 En wat van die groot verwagtinge wat die wetenskap en die nywerheid ’n eeu of twee gelede gewek het? Die motor is byvoorbeeld as ’n groot tree vorentoe begroet, en in party opsigte was dit die geval. Maar dit het gehelp om groot stede met verkeersopeenhopings, geraas en besoedeling te vul. Dwarsoor die wêreld sterf daar elke jaar meer as 200 000 mense in motorongelukke, en word miljoene ander beseer! Orville Wright, een van die uitvinders van die vliegtuig, het melding gemaak van die teleurstellende gevolge van die tegnologie. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het hy die volgende aan Henry Ford geskryf: “Ek en Wilbur het gedink dat die vliegtuig wêreldvrede sou verhaas. Tot dusver lyk dit asof dit die teenoorgestelde gedoen het. Ek vermoed dat toe jy massaproduksie ingevoer het—een van die groot uitvindings van alle eeue—jy glad nie gedink het dat dit gebruik sou word . . . om tenks vir wêreldvernietiging te bou nie. Dit lyk of geen nuttige ding ingevoer kan word sonder dat iemand ’n wrede gebruik daarvoor vind nie.”
7. Kan enige van hierdie wêreld se ekonomiese stelsels vir almal voorspoed meebring?
7 Het die eksperimente met verskeie ekonomiese stelsels deur die eeue heen gelei tot een wat stabiel is en vir almal voorspoed meebring? Nee, want ekonomiese onbestendigheid is nou aan die orde van die dag. Jack Weldon, ’n professor in die ekonomie aan Montreal se McGill-Universiteit, het gesê: “Enige bekwame en eerlike ekonoom sal erken dat ons glad nie weet hoe om die groot probleme op te los waarmee die meeste groot nywerheidslande nou te kampe het nie.” Die situasie in minder ontwikkelde nasies is selfs hagliker. Volgens die tydskrif Time is daar in een sodanige land “meer as 2 miljoen kinders wat deur hulle brandarm ouers verlaat is en nog 14 miljoen wat in sulke armoede lewe dat verlating amper verkieslik lyk”. In ’n ander deel van die wêreld het die Philippine Daily Express gesê: “Daar word geraam dat nagenoeg 500 miljoen Asiate as ‘brandarm’ geklassifiseer kan word, en daar word verwag dat die getal verder sal toeneem.”
8. In watter mate het demokrasie burgers se persoonlike veiligheid verseker?
8 Gedurende die Eerste Wêreldoorlog is daar gesê dat die oorlog gevoer is om “die wêreld veilig te maak vir demokrasie”. Min lande is vandag demokrasieë. Hoe veilig is die burgers buitendien in sogenaamde demokratiese lande? In die Verenigde State is een uit elke drie gesinne die slagoffer van die een of ander misdaad. Hoofregter Warren Burger van die Appèlhof het gesê: “Ons nader vandag die status van ’n magtelose gemeenskap—’n gemeenskap oor wie se vermoë om elementêre veiligheid op straat, by die skool en in die huise van ons mense te handhaaf daar twyfel bestaan.” Hy het bygevoeg: “Die afgelope 10 jaar praat baie van ons volksleiers en dié van ander lande oor internasionale terrorisme. Maar ons gewone, daaglikse terrorisme in feitlik enige groot stad van die Verenigde State oortref die ongevalle wat in enige bepaalde jaar deur al die aangemelde ‘internasionale terroriste’ veroorsaak word.”—Vergelyk Prediker 8:11.
9. Wat het in hierdie eeu gebeur met die voorspellings dat oorlog sou eindig?
9 Die Eerste Wêreldoorlog is ook beskryf as “die oorlog om ’n einde aan oorloë te maak”. Die Encyclopedia Americana sê: “Gedurende die oorlog het politici en joernaliste gepraat van die goeie dae wat voorlê, wanneer daar geen oorloë, geen krygstuig, geen botsings tussen nasies meer sou wees nie.” Sake het net mooi anders verloop. ’n Suid-Afrikaanse publikasie, The Natal Mercury, het onlangs gesê: “President Woodrow Wilson het die Eerste Wêreldoorlog beskryf as ‘die oorlog om ’n einde aan oorloë te maak’. Sy voorspelling sou baie akkurater gewees het as dit bestempel is as ‘die oorlog om ’n einde aan vrede te maak’.” Die artikel het bygevoeg: “Sedert 1914 het die wêreld waarskynlik meer geweld en beroeringe beleef as sedert die dae toe daar begin is om geskiedenis te boekstaaf.” Die wêreld se jaarlikse krygsbesteding is nou ver oor die R500-miljard. Die nasies het vandag genoeg kernwapens om meer as ’n miljoen groot stede uit te wis, verreweg meer stede as wat daar bestaan.
10. Wat is die waarheid aangaande vooruitgang op verskillende terreine?
10 Nee, die waarheid is dat al die vooruitgang op verskeie terreine die mensdom nie bevry het van uitbuiting, lyding, armoede, misdadigheid, oorlog, vrees, siekte en die dood nie. Die aansprake, beloftes en menings van hierdie wêreld se leiers berus dus nie op die waarheid nie, soos die getuienis van talle eeue duidelik toon. Dit is net soos die Bybel in 2 Petrus 2:19 sê: “Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is.”
Toets godsdiens-“waarheid”
11. Waaraan kan aansprake op godsdienswaarheid getoets word?
11 Ons moet nie net bevry word van die angswekkende toestande wat vandag so algemeen is nie, maar ons moet ook vry wees van die verstandelike slawerny waarin valse godsdiensleerstellings mense hou. Tog maak die kerke van die Christendom en van die res van hierdie wêreld daarop aanspraak dat hulle opvattings die waarheid is. Dit is maklik om dit te sê. Maar wat toon die feite? Onthou, God se Woord sê: “Die geloof sonder die werke [is] dood” (Jakobus 2:26). Daarbenewens het Jesus gesê: “Pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken.” Ja, dit is nie net aan wat hulle sê nie, maar aan hulle vrugte dat ’n mens kan sien of godsdiensstelsel waar of vals is. Aangaande die valse stelsels het Jesus gewaarsku: “Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”—Mattheüs 7:15-20.
12. Wat toon die toestand van die wêreld se gelowe?
12 As ’n godsdiens die waarheid verteenwoordig, moet dit, al dra dit dan geen ander vrug nie, ten minste sy aanhangers verenig. Jesus het gesê dat diegene wat die waarheid het “almal een” moet wees (Johannes 17:21). God se Woord sê ook: ‘Julle moet almal eenstemmig wees.’ ‘Daar moet geen skeuringe onder julle wees nie.’ ‘Julle moet verenig wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening’ (1 Korinthiërs 1:10). Dit moet die geval wees onder diegene wat God waarlik verteenwoordig, want “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” (1 Korinthiërs 14:33). Die gelowe van hierdie wêreld egter in duisende sektes en kultusse verdeel, met teenstrydige leerstellings en gebruike, nie net tussen verskillende gelowe nie, maar dikwels in dieselfde geloof. Sulke verwarring en dwaling kan nie by God ontstaan nie. Leaders’ Vision, ’n kerkblad in Australië, het erken: ‘Uit die Bybelse oogpunt is verdeeldheid sonde. Ons is ’n sigbare loëning van die werk van die Heilige Gees.’
13. (a) Waartoe het die verdeeldheid van valse godsdiens aanleiding gegee? (b) By wie het sulke valse godsdiens dan sy ontstaan?
13 Verdere bewys dat sulke gelowe nie die waarheid kan verteenwoordig en nie uit God kan wees nie, is te sien in die dinge waarop hulle onenigheid uitloop. As ’n geloof die waarheid leer, is dit seker vanselfsprekend dat sy lede mekaar ten minste nie moet doodmaak nie. Watter soort waarheid, watter soort broederskap sou dit andersins wees? En tog toon die geskiedenis dat die mense van dieselfde gelowe van hierdie wêreld mekaar gereeld in oorlogstyd afgemaai het en—sommer by die miljoene—net omdat hulle in verskillende lande gewoon het. Tydens burgeropstande en revolusies maak die lede van dieselfde geloof mekaar soms in dieselfde land dood. Die Bybel sê in 1 Johannes 3:10-12 dat dit “die kinders van die duiwel” is wat hulle ‘broers’ doodmaak. (Vergelyk Genesis 4:8.) Die kinders van God doen dit nie, maar het eerder onverbreeklike liefde vir mekaar. Jesus het duidelik gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:35.
14. Wat is die waarheid omtrent wêreldlike godsdiens, as ons oordeel volgens Jesus se maatstaf “aan hulle vrugte”?
14 Hierdie wêreld se gelowe word dus deur hulle slegte vrugte, hulle verdeeldheid, hulle vegtery, asook die woekerende onsedelikheid en geveinsdheid wat so algemeen daarin voorkom, aan die kaak gestel as gelowe wat nie die waarheid—wat nie vir God—verteenwoordig nie. Hulle is inderdaad slegte bome wat slegte vrugte dra en gereed is om “uitgekap en in die vuur gegooi” te word.
Vertrou die God van waarheid
15. Wie moet ons ten volle vertrou, en waarom?
15 Die mens se onvermoë om ware vryheid op belangrike lewensterreine te bewerkstellig, beklemtoon net wat die Bybel in Jeremia 10:23 sê, naamlik “dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie”. Nee, God het die mens nie geskape met die vermoë of reg om onafhanklik van Sy leiding sukses te behaal nie. Dit is een rede waarom God soveel duisende jare van menseheerskappy onafhanklik van hom toegelaat het, naamlik om eens en vir altyd te toon dat sulke heerskappy nie ware vrede en geluk kan bring nie. Psalm 146:3 vermaan dus wyslik: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.” Wie kan ons dan vertrou? Die Bybel antwoord: “Vertrou op [Jehovah] met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”—Prediker 3:5, 6.
16. Waarom kan ons Jehovah vertrou?
16 Waarom kan ons Jehovah so volkome vertrou? Omdat ‘Jehovah die God van waarheid is’, soos Psalm 31:5 (NW) sê. As ons waarlik die waarheid wil hê oor al die belangrike lewensgeskille en die antwoorde op vrae wat selfs wêreldleiers dronkslaan—God het hulle. Aangesien “dit onmoontlik is dat God sou lieg”, sal sy woorde bewaarheid word. “Die HERE van die leërskare het gesweer en gesê: Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand.”—Hebreërs 6:18; Jesaja 14:24.
17. Hoe het Jehovah ’n bron van waarheid vir opregte soekers na die waarheid voorsien?
17 God sou beslis sy waarhede aan opregte soekers na die waarheid bekend maak, want in Johannes 8:32 het Jesus gesê: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” In gebed tot God het hy ook gesê: “U woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Waar word God se “woord”, sy waarheid, uiteengesit? Die apostel Paulus antwoord: “Die hele Skrif is deur God ingegee” (2 Timotheüs 3:16). Die almagtige Skepper van die heelal maak dus daarop aanspraak dat hy die Outeur van die Bybel is. Hy het getroue manne deur middel van sy magtige werkende krag of heilige gees beweeg om sy gedagtes neer te skryf. Wanneer ons die Skrif lees, is dit dus asof God met ons praat.—1 Thessalonicense 2:13; 2 Petrus 1:20, 21.
18. Waarom is dit onredelik om te dink dat God nie die Outeur van die Bybel is nie?
18 Party sê egter dat God nie die outeur van die Bybel is nie. Maar mense kan die outeure van boeke wees, en God het mense geskep. Moet die verreweg voortrefliker Skepper van mense dan nie in staat wees om te doen wat oneindig minderwaardiger mense kan doen nie? Deur middel van elektroniese toerusting stuur wetenskaplikes instruksies na satelliete in die ruimte waarmee hulle hulle op koers hou. ’n Radio-omroeper praat in ’n mikrofoon, en sy boodskap word duisende kilometers daarvandaan gehoor. Televisiebeelde van gebeure is selfs van die maan af tot in ons huise gebeeldsend. Maar Jehovah het die oor, die oog, elektrisiteit en klank gemaak. Kan hy nie, deur middel van sy “dinamiese energie”, sy gedagtes na sy getroue knegte op aarde projekteer nie? Die Skepper van hierdie ontsagwekkende heelal kon gewis ’n boek skep!—Jesaja 40:26, NW.
19. Waarom het God die Bybel so laat skryf dat party dele swaar is om te verstaan?
19 ‘Maar die Bybel is swaar om te verstaan’, sê ander. Ja, dele daarvan is moeilik (2 Petrus 3:16). Waarom het God die Bybel so laat skryf? Omdat hý dan bepaal wie die waarheid kry. Die apostel Paulus het van God se waarhede gesê: “Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei” (1 Korinthiërs 3:6). En van God se wysheid en heilige geheim het Paulus ook gesê: “God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar” (1 Korinthiërs 2:10). God behou hom dus die reg voor om sy waarhede slegs aan diegene openbaar wat dit waarlik wil hê en wat bereid is om daarvolgens te lewe en hom getrou te dien: “Die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte . . . geopenbaar het nie.”—Amos 3:7; Daniël 2:28, 47.
20. Waar is die waarheid wat ons kan vrymaak?
20 Ja, daar is ’n God van waarheid. Sy waarhede word in sy geïnspireerde Woord, die Heilige Bybel, aangetref. Hy openbaar die begrip van die heilige Skrif aan sy nederige, verenigde knegte. Watter lewensbelangrike waarhede in sy Woord openbaar God aan soekers na die waarheid, veral in ons dag? Die volgende artikel sal op party van hulle ingaan.
Onthou jy hierdie gedagtes?
□ Watter vryheid het die mensdom werklik nodig?
□ Hoe het die verwagtinge van hierdie wêreld mense teleurgestel? Waarom?
□ Hoe kan ons onderskei tussen ware en valse godsdiens?
□ Watter redes het ons om Jehovah ten volle te vertrou?
□ Aan wie openbaar Jehovah sy waarhede?
[Prent op bladsy 11]
Die mensdom het ’n dringende behoefte aan bevryding van talle angswekkende toestande
[Prent op bladsy 13]
Jesus het aangaande valse godsdiens gewaarsku: “Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi”