Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 11/15 bl. 28-31
  • My lewe van veranderinge ter wille van Jehovah

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My lewe van veranderinge ter wille van Jehovah
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bybelstudiehulp verbied
  • Ek het geweet ek moet preek
  • Veranderinge in my gesigspunt
  • Bybellektuur weer verbied!
  • Godsdienstrots en -vooroordeel
  • Groot persoonlike veranderinge
  • Die goeie nuus word in die openbaar en van huis tot huis verkonding
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Onderskraag deur ‘krag bo die normale’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 11/15 bl. 28-31

My lewe van veranderinge ter wille van Jehovah

Soos vertel deur Smith Bell

“DIE pad van die regverdiges is soos die lig van die moreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.”​—Spreuke 4:18.

Hierdie teks dui op verandering en vooruitgang, en wanneer ek terugdink aan die honderd jaar van my lewe, kan ek sien hoe Jehovah inderdaad die pad van die waarheid voortdurend verlig het. Dit het bereidwilligheid geverg van diegene wat hom probeer dien om sodanige verandering en vooruitgang te aanvaar.

Bybelstudiehulp verbied

Die eerste groot verandering in my lewensweg het gedurende die Eerste Wêreldoorlog plaasgevind. Ek kan nou nog die gedrukte woorde in die plaaslike koerante van plattelandse Saskatchewan, Kanada, in 1918 sien: “VERBIED: ‘THE FINISHED MYSTERY’, DEUR C. T. RUSSELL.” Dit sou my waarskynlik nie so beïndruk het as dit nie dieselfde skrywer was wie se Bybelpreke my vader gelees het toe ek naby White Water, Manitoba, grootgeword het nie. Ek het in die besonder onthou hoe hy dit eens was met mnr. Russell se preke wat uit die Bybel bewys het dat daar geen helse vuur is nie.

Nou het almal skynbaar oor hierdie boek gepraat, en dit het my nuuskierigheid grootliks geprikkel. Waarom word ’n uitleg van die Bybel, van alle dinge, van die algemene publiek weggehou? Het die artikel andersyds nie gesê dat dit glo opruiende en anti-oorlogse verklarings bevat nie? In ieder geval, ek moes eenvoudig daardie boek hê! Maar ongeag hoe hard ek gesoek het, daar was nie een te vinde nie. Ek is eerder ’n ander een in dieselfde reeks met die titel The Divine Plan of the Ages gegee. Toe ek dit klaar gelees en met my Bybel vergelyk het, was ek in ekstase. Dit is die waarheid!

My belangstelling in godsdiens was vantevore baie oppervlakkig, hoewel ek daarin geslaag het om die Bybel een keer te lees. Trouens, my moeder het dit tussen my besittings ingesteek toe ek Manitoba op die ouderdom van 22 verlaat en weswaarts na Saskatchewan verhuis het om op my eie te begin boer. Toe my leesstof gedurende daardie eerste winter in 1905 begin min word het, het ek die Bybel en die waarheid daarin ernstig begin ondersoek. Ek het tot die slotsom gekom dat niks in die wêreld sou verbeter totdat Satan gebind en in die afgrond gewerp is soos wat Openbaring 20:1-3 sê nie.

Ek het geweet ek moet preek

Die daaropvolgende paar jaar het verbygesnel, aangesien ek getrou en ’n gesin begin grootmaak het. Maar nou, nadat ek die Divine Plan gelees het, kon ek nie stilsit en wag vir hierdie dinge om te gebeur en hoop dat ek al die voordele sou geniet nie. Ek moes ander vertel van die wonderlike dinge wat Jehovah beloof het.

Ek het gereken dat my bure die logiese plek sou wees om te begin en dat hulle sekerlik net so bly soos ek sou wees om die goeie nuus te hoor. Ek het ’n Bybelstudie in my huis gereël en my vriende van die naburige plase genooi om by my aan te sluit. Maar in plaas van die verwagte reaksie het dit baie duidelik geword dat hulle gedink het dat ek van my verstand af geraak het! Hulle het voorgestel dat ek die gemeenskap beter sou kon dien as ek die posisie van Superintendent van die plaaslike, interkerklike Sondagskool sou aanvaar. Ek het ingestem om die volgende Sondag te gaan en dan my besluit te neem.

By my aankoms is ek ingelig dat die bespreking vir die dag sou handel oor die onderwerp: “Wie is godsdienstiger​—Manne of vroue?” Sonder om te wag vir die preek het ek koers gekies deur toe en nooit teruggekeer nie. Hoe kon ek tevrede wees met sulke onsin terwyl my oë geopen is vir waarlik sinvolle waarhede wat my bevry het van die vrees vir ewige foltering en wat verduidelik het dat die dode in ’n toestand van slaap verkeer, om nie te praat van die wonderlike hoop om vir ewig te lewe nie? Die Bybel se leer van ’n opstanding was ’n groot vertroosting vir my en my vrou, aangesien twee van ons dogtertjies gesterf het. Ons bitterheid het verdwyn toe ons besef dat God hulle nie geneem het om die hemel met nog engele te bevolk nie.​—Prediker 9:5, 10; Jesaja 25:8; Johannes 5:29; Openbaring 21:3-5.

Omstreeks hierdie tyd het ek in aanraking gekom met ander belangstellende Bybelstudente in die Wilkie-gebied, wat die naaste dorp was, en ’n gemeente van ’n stuk of twaalf mense is gevorm. Ek is feitlik onmiddellik aangewys om Sondae ons weeklikse bespreking van Die Wagtoring te lei. Ek het hierdie verantwoordelikheid ontvang voordat ek selfs gedoop was!

Veranderinge in my gesigspunt

Ek is in 1922 gedoop. My vrou is kort hierna gedoop en nog ’n verandering was nodig. Ek het uit die munisipale raad bedank. Ek het besef dat my lojaliteit nie verdeeld kon wees nie. Ek kon nie met die mense in die omliggende gebied gaan praat oor hoe God se Koninkryk ons van die onregverdigheid in die wêreld gaan bevry terwyl ek steeds mensepogings probeer bevorder nie. Veral aangesien die Bybel duidelik sê dat dit tot mislukking gedoem is.​—Openbaring 19:11-18.

Aangesien vervoer destyds baie stadiger was, het ons ons predikingswerk ietwat anders as vandag gedoen. Ons het ’n sekere skooldistrik gekies en het almal wat daaraan behoort het tuis besoek. Ons het die hele dag gebruik om hulle te nooi om die Sondag na die skool te kom en na ’n Bybeltoespraak te luister. Ek onthou een Sondag toe ek en ’n broer van plaas tot plaas gegaan het om mense te nooi om daardie aand na die skool te kom en om hulle ook ses Bybelhulpe teen $3 te wys. By een deur waar ons aangeklop het, het ’n vrou oopgemaak en dit baie duidelik gestel dat sy nooit al daardie boeke sou kon lees nie. Die broer het geantwoord: “Dame, jy gaan nie net al hierdie boeke moet lees nie, maar jy sal alles daarin moet leer as jy wil lewe!” Ons is nou baie taktvoller met mense, maar ons opregtheid was ten minste duidelik sigbaar deur ons onverfynde aanbieding.

Gedurende die volgende paar jaar het verskeie in ons gemeente ongemaklik begin voel oor ons regte plek in Jehovah se rëeling. Hoe bly was ons tog toe die lig in 1935 helderder geword het en daar vir ons getoon is wie die “groot menigte” van Openbaring 7:9-17 uitmaak. Hulle was nie ’n ondergeskikte hemelse klas nie en sou dus nie van die embleme, die wyn en ongesuurde brood, by die jaarlikse Herdenking van Christus se dood gebruik nie. Dit was so ’n verligting om met vertroue te kon uitsien na die ewige lewe op ’n paradysaarde, as deel van “die sagmoediges” wat Jesus gesê het die aarde sou beërwe, sy “ander skape”.​—Mattheüs 5:5; Johannes 10:16; Jesaja 65:17-25.

Bybellektuur weer verbied!

In 1940, gedurende die Tweede Wêreldoorlog, het godsdiensteenstanders, deur middel van politieke kanale, weer eens hulle kans gesien om ons werk te laat verbied. Dit is alles sonder waarskuwing gedoen. Ek en my gesin het in Manitoba gekuier toe dit gebeur het. Toe ons terugkeer huis toe en die perde begin voer, was daar nie net hawer in die blik nie! Die broers het blykbaar genoeg tyd gehad om die gemeente se lektuur uit ons vergaderplek te verwyder en dit in ons voerblik weg te steek sodat dit nie gekonfiskeer kon word nie. Die owerheid het daardie gebou gesluit en op ons bankrekening beslag gelê. Ons moes dus geheime reëlings tref om vergaderinge elke week in ’n ander huis te hou.

In 1941 het ek, my vrou en my dogter na Brits-Columbië gekom en ons seun op die plaas agtergelaat. Ons het beplan om die winter by die kus deur te bring. Aangesien ons werk steeds verbied was, het ons noukeurig soveel lektuur moontlik in ons bakkie gepak. Met ons aankoms in White Rock het ek onmiddellik werk as ’n skrynwerker gekry en, aangesien daar geen gemeente was nie, het ek terloops begin navraag doen oor ander met dieselfde geloof in die gebied. Gesprekke het min of meer soos volg verloop: Ek het gesê: “Wat dink jy van die verbod op Jehovah se Getuies?” Hulle het dalk geantwoord: “Ek weet nie veel daarvan nie, maar ek dink so-en-so wat daar woon, is hulle simpatiek gesind.” Ek het dan met daardie persoon in aanraking gekom en ons was weldra ’n groepie van ses of sewe wat ’n weeklikse Wagtoring-studie begin hou het.

Aangesien White Rock op die Amerikaanse grens geleë is en die verbod nie in die Verenigde State van krag was nie, het verskillende persone oor die grens geloop en met die jongste eksemplare van Die Wagtoring teruggekom. Sonder ’n motor was die kanse beter dat jy nie deursoek sou word nie, en ons kon derhalwe tred hou met die jongste geestelike voedsel. Hoewel ons werk en lektuur verbied was, kon diegene wat werklik daarvoor verantwoordelik was, naamlik die geestelikes, nie die Bybel ook verbied nie. Ons het derhalwe mense met slegs God se Woord tuis besoek.

By een geleentheid het ons ’n blitsdekking van White Rock beplan. Dit was destyds ’n dorp met nagenoeg 1 500 inwoners. Ons het al die boekies bymekaargemaak wat broers versteek en begrawe het en hulle gevoeg by wat ek van Saskatchewan af gebring het. Ons het omtrent drie in sellofaan toegedraai met ’n rekkie daarom en dit een nag na middernag op mense se trappies gelaat.

Die volgende oggend het ek soos gewoonlik werk toe gegaan en dit het geklink of alle gesprekke om ons vorige nag se bedrywigheid gedraai het. Almal was skynbaar daarvan oortuig dat daar baie van daardie “Getuies” moes wees, aangesien hulle almal boekies ontvang het, ongeag in watter deel van die dorp hulle gewoon het.

Godsdienstrots en -vooroordeel

Kort na die verbod in 1943 opgehef is, is ’n gemeente amptelik in White Rock gestig, en ek en my gesin het besluit om daar aan te bly. Ons het ’n gebou gehuur om as vergaderplek te gebruik, maar teenstanders het knaend soveel geraas gemaak dat dit onmoontlik was om te konsentreer. Ons het tromme, blikpanne en motortoeters vanuit die straat gehoor, asook ’n geraas en gestamp van langsaan. Dit het ons ietwat onwelkom laat voel.

Ons het na ’n ander gehuurde gebou buite die dorp getrek waar daar stilte was, en teen hierdie tyd het ons gemeente tot sowat 50 verkondigers gegroei. Kort daarna kon ons ’n nuwe Koninkryksaal in die dorp bou, maar na omstreeks sewe jaar het ons meer plek nodig gehad. Gelukkig kon ons die saal vir ’n goeie som verkoop en daarmee ’n perseel in die middel van die dorp koop. Sodoende kon ons ons nuwe Koninkryksaal bou sonder om geld te leen.

Groot persoonlike veranderinge

In die vyftigerjare kon ek uiteindelik met Jehovah se hulp nog ’n groot verandering in my lewe aanbring. Dit was om met die rookgewoonte te breek. Ek was jare lank ’n soort “deeltydse” roker en het nooit toegelaat dat dit op my diens aan Jehovah inbreuk maak nie, maar ek het dit ook nooit heeltemal opgegee nie. Dit het my gewete van tyd tot tyd gepla, maar aangesien die vorige inligting oor die erns van hierdie ongesonde gebruik baie taktvol gestel is, het ek voortgegaan daarmee.

Dit was eers toe die Wagtoringpublikasies gesê het dat ‘niemand op die verhoog toegelaat sou word as hy rook nie’, dat ek die tekste in 2 Korinthiërs 7:1, Romeine 12:1, 2 en Spreuke 3:5 weer gelees het. Ek het geweet dat ek my rookgewoonte moes opgee. Toe ek Jehovah eindelik met die regte gesindheid in gebed genader het, het hy ‘hulp op die regte tyd’ gegee en ek kon eens en vir altyd ophou rook. My begeerte na nog ’n sigaret het boonop nooit teruggekeer nie.​—Hebreërs 4:16.

Jehovah het voortgegaan om die pogings van ons groep as dissipelmakers te seën, en teen 1967 het ons gemeente in White Rock tot sowat 100 verkondigers gegroei. Teen hierdie tyd het dit duidelik geword dat my gesigsvermoë my nie meer sou toelaat om ’n motor te bestuur nie en daarom het ons dogter, skoonseun en kleinkinders ons aangespoor om na Whidbey Island, Washington, te verhuis om naby hulle te wees. Ons was hartseer om al ons vriende te verlaat, maar almal in ons nuwe gemeente het ons baie welkom laat voel en ons het gou weer vriende gemaak. My vrou is sedert 1973 nie meer daar nie; ons het ’n wonderlike huwelik van amper 67 jaar geniet, en ek sien uit na die dag wanneer sy weer vol lewe en blakend gesond sal wees.

Intussen het ek soveel om Jehovah voor dankbaar te wees, onder meer die voorreg wat hy my gegun het om te sien hoe ‘die kleinste ’n geslag word en die geringste ’n magtige nasie’. Ondanks my hoë leeftyd put ek ook groot vreugde daaruit om my broers as ’n ouere man in die plaaslike gemeente te dien. En ek gaan steeds saam met my familie van huis tot huis om nog mense te vind wat belang stel in iets beters as wat hierdie siek stelsel kan aanbied. Jehovah het ongetwyfeld sy werk “op die regte tyd” bespoedig, net soos hy beloof het, en hy het my inderdaad geseën omdat ek sy liefdevolle leiding gevolg het.​—Jesaja 60:22.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel