Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 6/1 bl. 10-13
  • Onderskraag deur ‘krag bo die normale’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Onderskraag deur ‘krag bo die normale’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroeë skoolopleiding in Libanon
  • Na die Verenigde State
  • Hulp van Jehovah af
  • Saadjies van waarheid gesaai
  • Kon ek daardie offer bring?
  • Ek leer meer waarhede
  • Onderskraag deur ‘krag bo die normale’
  • Ek verkondig die waarheid
  • Ek is gehelp toe ek tot God genader het
    Ontwaak!—1993
  • Die uitdaging en vreugde om agt kinders in Jehovah se weë groot te maak
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • My brandende begeerte om God te dien
    Ontwaak!—1992
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 6/1 bl. 10-13

Onderskraag deur ‘krag bo die normale’

Soos vertel deur Sadie Lewis Haddad

HOE het jy dit reggekry?” vra mense my soms. Wat reggekry? Om nege kinders groot te maak, die laaste sewe op my eie. En van die agt wat nog lewe, is sewe al lank toegewyde, lojale knegte van Jehovah God.

Wanneer ek terugkyk, weet ek dat dit nie in my eie krag was dat ek my kinders in God se waarheid grootgemaak het nie. Dit sou onmoontlik wees. Dit was gewis met Jehovah se hulp. Soos 2 Korinthiërs 4:7 (NW) toon, kan diegene wat God waarlik wil dien en sy wil wil doen “krag bo die normale” hê wat van God afkom deur sy heilige gees.

Maar hoekom moes ek die meeste van my kinders op my eie grootmaak? Hoe het ek Jehovah en sy voornemens leer ken? Laat ek ’n bietjie van my agtergrond vir jou skets.

Vroeë skoolopleiding in Libanon

Ek is meer as 90 jaar gelede in 1892 in Libanon gebore. My vader was ’n Grieks-Ortodokse priester, net soos sy vader voor hom. My vader se hartewens was dat ten minste een van sy seuns ’n priester moes word en in sy voetstappe moes volg. Maar nie een van hulle wou hierdie beroep kies nie.

My vader was baie ongelukkig hieroor. Maar as dit die wil is van Jehovah “wat die dode opwek”, sal my vader terug kom uit die dood in die opstanding wanneer God Sy paradysagtige “nuwe aarde” grondves (2 Korinthiërs 1:9; 2 Petrus 3:13). Dan sal ek vir my vader kan vertel dat hoewel geeneen van sy seuns ’n bedienaar van God geword het nie, sy dogter Sadie, en die meeste van haar kinders en kleinkinders bedienaars van Jehovah geword het!

Ek het nooit eintlik my moeder leer ken nie, want sy het gesterf toe ek drie jaar oud was. Op haar versoek het my vader my egter na ’n kosskool gestuur waar ek my onderrig van Duitse Lutherse nonne in Arabies en Duits ontvang het. Ek is geleer om Jesus lief te hê, maar ek is baie min oor God en sy voornemens geleer.

My begeerte was nietemin om ’n non te word en hemel toe te gaan. Maar ek het nooit ’n non geword nie, want nadat ek skool verlaat het, moes ek huis toe gaan om my vader voor sy dood te versorg. Toe hy gesterf het, was dit my broers se verantwoordelikheid om vir my te sorg, soos dit destyds die gebruik in Libanon was. Hulle het gemeen dat dit die beste was dat ek trou, en het ’n man vir my gekies. Ek het geen sê in die saak gehad nie. Ek is dus op die ouderdom van slegs 17 in 1909 getroud.

Na die Verenigde State

In 1910 het ek en my man Libanon verlaat en na die Verenigde State geïmmigreer. Ons het eindelik op ’n rysplaas in Texas gaan woon. Met verloop van jare het ons nege kinders gehad.

Maar alles was nie wel met die huwelik nie. Trouens, in 1935 het my man my verlaat toe ons negende kind drie jaar oud was. Hoewel my oudste dogter en seun reeds getroud was, was ek nog besorg oor hulle probleme. En nou moes ek op my eie vir die ander sewe sorg.

Die volgende jaar het ons alles wat ons kon, behalwe ’n stuk van die grond, verkoop en ’n huis in Beaumont, Texas, gehuur. Verskeie van my kinders het toe begin werk en gehelp om die gesin se onkoste te dek. Dit was vir my werklik ’n groot hulp.

Hulp van Jehovah af

Die grootste hulp het egter van God af gekom. Reeds in 1917, toe ons nog op die plaas gewoon het, het ek Jehovah en sy voornemens leer ken en my na hom begin wend om hulp.

Sedert my kinderdae het ek eerbied vir God gehad, en nou wou ek meer omtrent hom te wete kom. Die Groot Oorlog, soos dit destyds genoem is, wat in 1914 uitgebreek het, het my gevoel van dringendheid verskerp. My suster in Beiroet, Libanon, het aan my geskryf oor die verskriklike toestande in daardie deel van die wêreld gedurende die oorlog. Baie van my familielede het van die honger omgekom.

My suster het gesê dat sy verplig was om haar huis en besittings te verkoop net om brood in die hande te kry, en daarbenewens het sy baie siek geword. Sy het my gevra om vir haar geld te stuur om kos te koop. Ek het dadelik die geld gestuur. Maar toe is ek per brief verwittig dat my suster gesterf het die dag dat die geld daar aangekom het. Ek het nog steeds daardie droewige brief.

Hierdie ondervindinge het my gehelp om persoonlik die vervulling van Mattheüs 24:7 te sien, en dit het dit vir my makliker gemaak om die waarheid aan te neem toe ek dit gehoor het.

Saadjies van waarheid gesaai

Die saadjies van waarheid is in 1917 in my hart gesaai. In daardie jaar het ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies na my deur gekom. Hy het my genooi om op die Arabiese Wagtoring in te teken. Ek het daardie eerste nommer van voor tot agter gelees. Sedertdien het ek elke nommer saam met die Bybel, die bron van my geloof en vertroue in Jehovah, gelees.

Mettertyd het ek geleer om Engels goed genoeg te lees om op die Engelse tydskrifte in te teken. Die hoofrede waarom ek dit gedoen het, was omdat ek wou hê dat my kinders ook die tydskrifte moes lees.

Ek het geen teenkanting van my man gekry nie, maar hy het my kwalik geneem omdat ek so baie gelees het. Wanneer ek dus saans kon lees nadat al die take afgehandel en die kinders in die bed was, het ek die deur van die vertrek waar ek gelees het, gesluit en die krake wat lig kon deurlaat, toegestop. So kon ek voortgaan met my leeswerk.

Kon ek daardie offer bring?

Die jare het verbygegaan. Ek het voortgegaan om te lees en van God te leer. In 1935, nadat my man my verlaat het, is ek genooi om ’n toespraak deur Jehovah se Getuies in ’n skool naby ons plaas by te woon. Die toespraak het informasie bevat oor hoe Abraham sy seun. Isak, probeer offer het.

Een ding wat my altyd as ’n Lutheraan gekwel het, was waarom God Abraham gevra het om sy enigste seun te offer. Nadat ek ’n moeder van nege kinders geword het, het dit my selfs meer gekwel. Ek het gedink dat ek dit nooit sou kon doen nie!

Maar nadat ek gehoor het hoe dit tydens die lesing verduidelik word, het ek begryp wat ware geloof werklik beteken en hoe dit Abraham in staat gestel het om dit te doen. Hy was seker dat die God wat die dode opwek ook sy kind kon opwek (Hebreërs 11:17-19). Ek het besef dat dit die soort geloof was wat ek nodig sou hê om die probleme van die toekoms die hoof te bied. Maar hoe kon ek my kinders reg grootmaak en hulle die soort geloof gee wat Abraham gehad het? My voortdurende bede tot God was dat ek dit sou kon doen.

Ek leer meer waarhede

Net ’n paar weke voordat ons in 1936 na die stad verhuis het, het Jehovah se Getuies my weer besoek en ’n plaat van die Wagtoringgenootskap se president, J. F. Rutherford, vir my gespeel. Dit was oor die waarde van juiste kennis. Dit het daarop gewys dat juiste kennis noodsaaklik is, aangesien Jesus gesê het dat kennis van God en Christus tot die ewige lewe sou lei (Johannes 17:3). Die Getuies het my ook genooi om na hulle vergaderinge te kom. Nadat ons na die stad verhuis het, het ek en een van my dogters uitgevind waar die vergaderinge gehou word en dit bygewoon.

Ons eerste vergadering was so aangenaam dat ek die Getuies na afloop daarvan gevra het of hulle ’n Sondagskool het wat my kinders kon bywoon. Ek wou hê dat hulle die wonderlike dinge moes leer wat ek geleer het. Die Getuies het natuurlik vir my gesê dat hulle nie Sondagskole het nie, maar dat hulle elke week na my huis sou kom om ons die Bybel te leer. Ek het gevra: “Wat kos dit?” En hulle het geantwoord: “Niks. Dit is gratis.” Dit was vir my verbasend!

Voordat die Getuies vir daardie eerste studie gekom het, het ek tot Jehovah gebid. Ek het hom gesmeek om my met my kinders te help, en dat hulle die Bybel saam met ons sou bestudeer. Tot my blydskap het hulle almal die studie bygewoon, selfs my oudste dogter en haar kinders.

Week na week was dit vir ons aangrypend om nuwe waarhede te leer oor God se koninkryk en die heerskappy daarvan oor ’n toekomende paradysaarde. Ons het ook geleer hoe belangrik God se naam, Jehovah, is (Psalm 83:18, NW). Dit was iets wat ek nooit in die Lutherse skool in Libanon gehoor het nie.

Onderskraag deur ‘krag bo die normale’

Ek het ook geleer dat Jehovah God ’n God is wat sy knegte onderskraag wanneer hulle op hom vertrou. Toe my hart daardie waarheid ten volle begryp het, kan ek eerlikwaar sê dat ek my nie langer bekommer het oor hoe dinge sou verloop nie. Ek het my volle vertroue op Jehovah gestel, en natuurlik my deel bygedra, met die wete dat hy ‘krag bo die normale’ sou voorsien.

Mettertyd het hierdie vertroue vrug afgewerp. Nadat ek ’n jaar lank ’n tuis-Bybelstudie gehad het, is ek in 1937 gedoop. Mettertyd is al sewe my dogters ook gedoop. Hoe het ek Jehovah tog vir daardie seën gedank!

Toe was daar ’n swaar toets. Dit het vereis dat ek ten volle op Jehovah steun vir krag. Dit het in verband gestaan met my jongste seun. Hoewel hy die Bybel ’n ruk lank bestudeer het, het hy nooit sy standpunt vir die waarheid ingeneem nie. Hy het dit egter gerespekteer en ons in ons strewe daarna gesteun. Toe het hy siek geword en is hy in 1968 oorlede.

My seun se dood was die grootste smart in my lewe. Ek het hom baie lief gehad, net soos ek al my ander kinders liefhet. Ek kan waarlik sê dat as Jehovah my nie gehelp het nie, ek nie daardie smart sou kon dra nie. Die wete dat ek hom in die aardse opstanding weer sou sien, was ook vir my ’n groot troos.

Ek verkondig die waarheid

Sedert ek die waarheid leer ken het, het ek gemoedsrus wat ek nooit tevore gehad het nie. Ek het ook besef dat ek nie langer ’n non wou wees en hemel toe wou gaan nie, maar dat ek in daardie aardse paradys onder die heerskappy van God se koninkryk wou lewe. Dit was so ’n wonderlike hoop dat ek ’n opregte begeerte gehad het om dit aan ander te verkondig. En deur die jare heen het ek dit gedoen, en in die proses het ek talle wonderlike ondervindinge gehad.

Selfs op hierdie ouderdom—nou amper 91—wil ek nog steeds vir ander van die Koninkryksevangelie vertel. Ek kom weliswaar nie meer so maklik waar ek wil wees nie, maar my dogters is baie behulpsaam. Hulle neem my met ’n motor en laat my met die Koninkryksboodskap na een huis gaan, en dan laat hulle my weer in die motor klim om ’n bietjie te rus terwyl hulle met die predikingswerk voortgaan.

Trouens, ek en een van my dogters hou elke week ’n Bybelstudie saam met vier bejaarde vroue. Dit help my om die wonderlike waarhede oor Jehovah en sy voornemens vars in my gedagte te hou.

Ek is nou al meer as 45 jaar lank ’n gedoopte dienares van God. Het ek moeg geword omdat die Nuwe Orde nog nie hier is nie? Wel, ek word liggaamlik moeg. Maar hoe verblydend was dit tog om gedurende hierdie tyd te sien hoe Jehovah se sigbare organisasie van net tienduisende in 1937, toe ek gedoop is, toegeneem het tot meer as 2 400 000 in 1982!

Daardie lowers van Jehovah sluit sewe van my agt oorlewende kinders en feitlik al my kleinkinders en agterkleinkinders in. Ek het ook ’n dogter, Rose Peloyan, wat saam met haar man al meer as 25 jaar lank by die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier in Brooklyn dien. Ek het selfs ’n kleindogter en haar man wat nou daar dien!

Al hierdie jare het daar nie die geringste twyfel by my bestaan dat my pogings om my gesin groot te maak om God te dien hopeloos sou misluk het as ek dit in my eie krag moes doen nie. Maar Jehovah het belowe dat hy sy knegte nie in die steek sou laat nie. Hy sou hulle eerder help om sy wil te doen deur hulle ‘krag bo die normale’ te gee deur middel van sy heilige gees. Ek ondervind daardie hulp al talle dekades lank. Nou sien ek daarna uit om my liggaamskrag in die Paradys te herwin en Jehovah tot in alle ewigheid te dien.—Psalm 94:17-19.

[Lokteks op bladsy 11]

My man het my in 1935 verlaat toe ons negende kind drie jaar oud was

[Lokteks op bladsy 12]

Sedert 1917 het ek elke nommer van “Die Wagtoring” gelees

[Lokteks op bladsy 13]

As Jehovah my nie gehelp het nie, sou ek nie daardie smart kon dra nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel