Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 11/15 bl. 23-27
  • Ouere manne, neem julle herdersverantwoordelikhede ernstig op

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ouere manne, neem julle herdersverantwoordelikhede ernstig op
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Herders kry leiding
  • Gevare vir die skape
  • Hoe die skape op ander maniere gehelp word
  • Herderswerk is ’n ernstige saak
  • Herders, volg die grootste Herders na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Liefdevolle herderswerk onder Jehovah se kosbare skape
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Hulle hou met medelye oor die skape toesig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 11/15 bl. 23-27

Ouere manne, neem julle herdersverantwoordelikhede ernstig op

“Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is.”​—1 PETRUS 5:2.

1. Waarom is dit so gepas dat skape gebruik word om mense wat God se guns geniet af te beeld?

HOE gepas is dit tog dat skape gebruik word om mense af te beeld wat Jehovah God se guns geniet! Skape is mak diere wat op die stem van hulle herder reageer en hom geredelik volg. God se “skape” laat hulle eweneens deur die Goeie Herder, Jesus Christus, lei. Hulle ken hom, reageer op sy stem en aanvaar sy leiding met blydskap (Johannes 10:11-16). Sonder ’n goeie herder word letterlike skape natuurlik gou bang en hulpeloos. Dit is dus geen wonder dat Jesus Christus jammer gevoel het vir mense wat “moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie”.​—Mattheüs 9:36.

2. Hoe het Jehovah die “skape” beskou wat onder die liefdelose “herders van Israel” gely het?

2 Jehovah God stel intens belang in die geestelike welsyn van regskape mense wat Skriftuurlik “skape” genoem word. Deur die profeet Esegiël het God byvoorbeeld weë uitgespreek oor “die herders van Israel”, die verantwoordelike manne wat hulself gevoed het terwyl hulle die skape verwaarloos het. Maar Jehovah sou nie toelaat dat die “skape” aanhou ly nie, want hy het gesê: “Die wat verlore is, sal Ek soek, en wat weggedryf is, sal Ek terugbring, en wat gewond is, sal Ek verbind, en die siekes sal Ek versterk.”​—Esegiël 34:2-16.

3. Hoe het Jesus Christus besorgdheid oor die skape getoon?

3 Die Goeie Herder, Jesus Christus, is net so besorg oor die skape. Voordat Jesus opgevaar het hemel toe, het hy dus die begeerte uitgespreek dat die skape behoorlik versorg moet word. Hy het vir die apostel Petrus gesê: ‘Laat my lammers wei, pas my skape op, laat my skape wei’ (Johannes 21: 15-17). En om te verseker dat die skape voortdurend liefdevolle aandag ontvang, het Jesus sommige as “herders” gegee “tot opbouing van die liggaam van Christus”.​—Efesiërs 4:11, 12.

4. Wat het die apostel Paulus ouere manne wat deur die gees aangestel is, aangespoor om te doen?

4 Aangesien God sowel as Christus so innig lief is vir en besorg is oor die skape, is dit ’n baie verantwoordelike toewysing om ’n onderherder van God se skape te wees. Daarom het die apostel Paulus die “ouderlinge” of ouere manne van Efese wat deur die gees aangestel is, aangespoor om “as herders die gemeente van God te versorg” deur die nodige aandag daaraan te skenk (Handelinge 20:17, 28). Hoe kan aangestelde ouere manne dan behoorlik na hierdie verantwoordelikheid omsien?

Herders kry leiding

5. Watter raad het Petrus aan mede-opsieners gegee?

5 Die apostel Petrus, van wie daar verwag is om Jesus se skape te voed, het vir mede-opsieners gesê: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde” (1 Petrus 5:1-3). Kom ons kyk hoe ouere manne, wat deur die heilige gees aangestel is, hierdie raad op bevredigende wyse kan naleef.

6. Met watter gesindheid moet ouere manne “die kudde van God” dien?

6 Petrus het ander ouere manne aangespoor: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik.” Diegene wat die voorreg het om geestelike herders te wees, moet dit nie teësinnig doen omdat hulle meen hulle verplig is om vir die skape te sorg nie. Hulle moet nie gedwonge voel, asof dit sleurwerk is of dat ander hulle aanpor om die kudde as herders te versorg nie. Ouere manne moet eerder met ’n gewillige gees dien. (Vergelyk Psalm 110:3.) Wanneer ’n persoon bereid is om aan ander goed te doen, doen hy dit gewoonlik heelhartig, span hy hom in en doen hy moeite om hulle belange te bevorder. ’n Gewillige ouere man gee vryelik van sy tyd en krag. Hy weet dat skape soms kan afdwaal, en hy wil hulle help en sodoende God se besorgdheid oor die skape navolg. Jehovah se besorgdheid oor Israeliete wat afgedwaal het, was immers so groot dat hy gesê het: “Vir ’n nasie wat My nie aangeroep het nie, het Ek gesê: Hier is Ek! Hier is Ek!”​—Jesaja 65:1, NAV.

7, 8. (a) Wat beteken dit om herderswerk nie om vuil gewin te doen nie? (b) Wat behels gewillige diens?

7 Petrus het gesê dat die herderswerk “nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid” gedoen moet word. Die aangestelde ouere manne wil nie vir die skape ’n las wees nie. Dit was die apostel Paulus se gesindheid, want hy het aan Christene in Thessalonika gesê: “Julle onthou tog, broeders, ons arbeid en inspanning; want terwyl ons nag en dag gewerk het om niemand van julle te beswaar nie, het ons die evangelie van God aan julle verkondig.” Hy het hulle ook herinner: “Ons het ons nie onordelik onder julle gedra nie; ook het ons nie brood by iemand kosteloos geëet nie; maar ons het met arbeid en inspanning nag en dag gewerk om nie iemand van julle tot las te wees nie.”​—1 Thessalonicense 2:9; 2 Thessalonicense 3:7, 8.

8 Getroue herders van God se kudde begeer vandag eweneens nie hebsugtig wat die skape het of streef nie vuil gewin ten koste van hulle na nie (Lukas 12:13-15; Handelinge 20:33-35). Paulus het getoon dat diegene wat aan die vereistes vir opsieners voldoen ‘geen vuilgewinsoekers moet wees nie’ (Titus 1:7). Hulle moet eerder bereidwillig dien met geesdriftige belangstelling in hulle werk terwyl hulle probeer om die belange van die skape wat aan hulle sorg toevertrou is te bevorder (Filippense 2:4). Sodoende openbaar hierdie herders onselfsugtige besorgdheid oor die skape soortgelyk aan die besorgdheid wat deur Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, getoon word.

9. Waarom moet ’n Christenherder ‘nie oor die erfdeel van God heers nie’?

9 Petrus het ook gesê dat ouere manne as herders oor Jehovah se volk moet toesig hou “nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde”. ’n Liefdevolle herder sorg dat hy nie sy gesag misbruik deur hom meerderwaardig te hou en oor die skape te heers nie. ’n Trotse gees is onchristelik en moet vermy word deur almal wat Jehovah wil behaag. Spreuke 21:4 sê: “Hoogheid van oë en trotsheid van hart​—die glans van die goddelose is sonde.” En Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar so moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees” (Mattheüs 20:25-27). Ouere manne moet inderdaad onthou dat die lede van die kudde God se skape is en nie ongevoelig behandel moet word nie.

10. (a) Wat het sommige herders van die mense in Esegiël se dag gedoen? (b) Hoe is lojale opsieners goeie voorbeelde vir die kudde?

10 Vir die selfsugtige herders van Esegiël se dag het Jehovah gesê: “Julle versterk die swakkes nie en maak die siekes nie gesond nie en die wat gewond is, verbind julle nie en wat weggedryf is, bring julle nie terug nie en wat verlore is, soek julle nie; maar met strengheid heers julle oor hulle en met hardheid.” God het verder gesê dat die ongevoelige herders ‘al die swakkes weggedruk het totdat hulle uitgejaag is’ (Esegiël 34:4, 20, 21). Maar dit is nie vandag die geval met die liefdevolle herders van “die kudde van God” nie. Hulle loop nie te koop met hulle gesag nie en sorg dat hulle geeneen van die skape laat struikel nie. (Vergelyk Markus 9:42.) Sulke ouere manne bied eerder liefdevolle hulp en bemoediging. Daarbenewens vertrou hulle biddend op Jehovah en werk hulle hard om goeie voorbeelde te wees “in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid” (1 Timotheüs 4:12). Die skape is gevolglik vergenoeg en hulle voel veilig, want hulle weet dat hulle deur liefdevolle, Godvresende herders versorg word.

Gevare vir die skape

11. Waarom moet hedendaagse herders God se kudde so goed versorg dat die skape veilig kan voel?

11 Skape moet vandag veilig voel, gerusgestel deur die goeie aandag wat die ouere manne skenk aan die beskerming van die kudde (Jesaja 32:1, 2). Dit is veral die geval daar Christene met baie gevare te kampe het in hierdie “swaar tye” wat “die laaste dae” kenmerk (2 Timotheüs 3:1-5). Die psalmis Dawid het ook met gevare te kampe gehad, maar hy kon sê: “[Jehovah] is my herder . . . Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my” (Psalm 23:1-4). Hedendaagse herders van God se kudde moet so goed vir die skape sorg dat hierdie skape, net soos Dawid, kan voel dat hulle baie na aan Jehovah is. Hulle moet ook veilig voel as deel van God se organisasie.

12. Teen watter hedendaagse neiging moet die skape beskerm word, en hoe kan ouere manne in hierdie opsig van hulp wees?

12 Een gevaar waarteen die lede van God se kudde beskerming nodig het, is die hedendaagse neiging tot beginsellose, onsedelike gedrag. Grotendeels te wyte aan huidige vorme van vermaak, hetsy deur televisie of op ander maniere, het baie mense ’n lewenswyse aangeneem wat lynreg in stryd is met die standaarde wat in God se Woord uiteengesit word. Die ‘alles is aanneemlik’-gesindheid van hierdie wêreld, met sy growwe seksuele wangedrag, moet vandag teëgewerk word met gesonde Skriftuurlike raad wat in die gemeente voorsien word. Die herders van die kudde moet dus goed weet wat die Bybel oor sedes leer. Hulle moet die skape daarbenewens bewus hou van hulle verantwoordelikheid om rein te bly vir Jehovah se diens.​—Titus 2:13, 14.

13. (a) Teen watter gevaar gee die brief van Judas goeie raad? (b) Watter standpunt moet ouere manne teenoor afvalliges inneem?

13 Afvalliges hou ook gevare in. Hou in gedagte dat daar 19 eeue gelede sekere “goddelose mense” wat valse leraars was in die gemeente ingesluip het. Hulle was gevaarlike “klippe wat onder die water verberg is”, valse herders wat hulself gevoed het, sinnelike mense wat skeuring gemaak het en nie geestelik was nie. Die brief van Judas bevat goeie raad wat ouere manne, en alle gelowiges, in staat stel “om kragtig te stry vir die geloof” (Judas 3, 4, 12, 19, vgl. NW). Ouere manne moet ongetwyfeld ’n ferm standpunt inneem teenoor enigiemand wat tweedrag wil wek, want Paulus het geskryf: “Hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle” (Romeine 16:17). Herders het dus ’n verantwoordelikheid om die kudde teen hierdie of ander ‘wolwe in skaapsklere’ te beskerm.​—Mattheüs 7:15.

Hoe die skape op ander maniere gehelp word

14, 15. Hoe kan ouere manne medegelowiges help wat mekaar onvriendelik behandel?

14 Herders wat toesig hou oor “die kudde van God” moet die skape soms help met verskeie probleme wat in die gemeente ontstaan. Somtyds kan skaap selfs begin om met skaap te veg. Weens nietige voorvalle begin sommige om ander onvriendelik te behandel. Hierdie individue kan mekaar selfs laster en eindelik ophou om om te gaan met hulle voormalige metgeselle in Jehovah se diens, tot hulle eie groot geestelike nadeel.​—Spreuke 18:1.

15 Geestelike herders moet wawyd wakker wees om sulke medegelowiges te help. Dit is dalk vir die ouere manne nodig om daarop te wys hoe verkeerd dit is om mekaar te laster en hoe alle lojale Christene hulle daarop moet toelê om die eenheid van die gemeente te bewaar (Levitikus 19:16-18; Psalm 133:1-3; 1 Korinthiërs 1:10). Ouere manne kan moontlik help deur die aandag op Paulus se waarskuwing te vestig: “As julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie.”​—Galasiërs 5:13-15; Jakobus 3:13-18.

16. Wat moet ouere manne doen as hulle enige ongesonde neigings in die gemeente waarneem?

16 Ouere manne, onthou dat die Duiwel rondloop “soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8). Alle ware Christene het ’n stryd, nie teen vlees en bloed nie, maar teen bose geeste (Efesiërs 6:10-13). Getroue herders wil beslis nie hê dat die skape deur Satan uitoorlê moet word nie. As sommige skape begin om Christenvergaderinge te versuim, moet besorgde ouere manne dus probeer vasstel wat die rede daarvoor is en toereikende geestelike hulp aanbied. Herders moet die voorkoms van die kudde ken en wakker wees vir enige ongesonde tendense in die gemeente (Spreuke 27:23). As hulle ’n neiging waarneem om die veldbediening te verwaarloos, om persoonlike studie te ignoreer of om op te gaan in ontspanning of materialistiese strewes, moet hierdie verantwoordelike manne probeer om die situasie reg te stel. In navolging van Jehovah en die Goeie Herder, Jesus Christus, bied ouere manne wat vir “die kudde van God” sorg gepas persoonlike hulp aan of gee hulle soms nodige raad by vergaderinge (Galasiërs 6:1). Op hierdie en ander maniere toon liefdevolle ouere manne dat hulle hulle herdersverantwoordelikhede ernstig opneem.​—Handelinge 20:28.

Herderswerk is ’n ernstige saak

17. Wat is nodig om ’n mens as ’n ouere man te bekwaam?

17 Dit is ’n veeleisende werk vir ’n ouere man om as herder oor “die kudde van God” toesig te hou. Die hoë standaarde waaraan ’n man moet voldoen om so ’n voorreg te geniet, word duidelik in 1 Timotheüs 3:1-7, Titus 1:5-9 en 1 Petrus 5:1-4 uiteengesit. Dit is nie sommer enige broer wat in hierdie hoedanigheid kan dien nie, want slegs geestelike manne kan behoorlik na hierdie verantwoordelikheid omsien (1 Korinthiërs 2:6-16). Baie manne wat nie nou as ouere manne dien nie, kan hulle vir hierdie voorreg bekwaam, maar hulle moet eers ‘die opsienersamp nastreef’. Hulle moet ywerige studente van God se Woord wees sodat hulle diepe insig daarin sal hê. Hulle moet inderdaad toon dat hulle aanbevelenswaardig is omdat hulle voldoen aan die Skriftuurlike vereistes vir aanstelling as ouere manne, geskikte herders van “die kudde van God”.

18. Hoe het Paulus oor die gemeentes gevoel, en voel ander ook so?

18 Onder Jehovah God dien die Goeie Herder, Jesus Christus, die hoof van die Christengemeente (Johannes 10:11; 1 Korinthiërs 11:3; Efesiërs 5:22, 23). En hoe moet dit Jesus tog nie behaag om onderherders van die kudde te hê wat die skape behoorlik lei en beskerm nie! Hierdie geestelike manne voldoen aan die hoë Skriftuurlike vereistes vir Christen- ouere manne. Hulle het boonop dieselfde diepe besorgdheid oor die skape as wat geopenbaar is deur die apostel Paulus, wat geskryf het: “Behalwe dit alles [ontberinge en lyding] my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes. Wie is swak en ek is nie swak nie? Aan wie word ’n struikelblok in die weg gelê en ek is nie aan die brand nie?” (2 Korinthiërs 11:23-29). Paulus het baie gereis en daagliks “sorg vir al die gemeentes” ondervind, net soos dit vandag met reisende opsieners die geval is. Aangestelde ouere manne in afsonderlike gemeentes ondervind eweneens sorg vir die skape in die kudde wat aan hulle sorg as geestelike herders toevertrou is.

19. Wat sal die gevolg wees as Hebreërs 13:17 toegepas word en ouere manne voortgaan om hulle herdersverantwoordelikhede ernstig op te neem?

19 Om as herders oor “die kudde van God” toesig te hou, is harde werk, maar dit is baie lonend. Herders van die kudde, koester dus julle kosbare voorreg. Sorg goed vir God se skape. En mag alle skape ten volle saamwerk met die onderherders wat deur die heilige gees aangestel is. “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig”, het Paulus vermaan, “want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee” (Hebreërs 13:17). Wanneer almal wat heelhartig aan Jehovah toegewy is eendragtig saamwerk, sal groot geestelike seëninge en voordele steeds voortvloei uit die getroue diens van Christen- ouere manne wat hulle herdersverantwoordelikhede ernstig opneem.

Kan jy verduidelik?

◻ Waarom moet geestelike herders gewilliglik dien?

◻ Waarom moet ouere manne nie vuilgewinsoekers wees nie?

◻ Waarom sou dit verkeerd wees van ouere manne om oor God se kudde te heers?

◻ Waarom moet opsieners voorbeelde vir die kudde wees?

◻ Wat is sommige gevare waarteen ouere manne “die kudde van God” moet beskerm?

[Prent op bladsy 25]

Net soos besorgde herders van die ou tyd hou hedendaagse ouere manne liefdevol “as herders toesig oor die kudde van God”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel