Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 12/1 bl. 3-4
  • Waarom soveel nuwe sektes?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom soveel nuwe sektes?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kerk of sekte?
  • Wat is ’n sekte?
  • Kerklike veragting van sektes
  • Waarom soveel nuwe sektes?
  • “Een Here, een geloof, een doop”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • “Hulle sal heimlik verderflike sektes invoer”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Is Jehovah se Getuies ’n Amerikaanse sekte?
    Algemene vrae oor Jehovah se Getuies
  • Waarom is daar soveel gelowe wat almal sê dat hulle Christelik is?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 12/1 bl. 3-4

Waarom soveel nuwe sektes?

TIEN groot gelowe, maar 10 000 sektes! Dit is die jongste beraamde getal godsdiensgroepe waarin die mensdom verdeel is. Luidens berig is nagenoeg 6 000 van hulle in Afrika, 1 200 in die Verenigde State 421 in Japan en 247 in Frankryk.

Sommige van hierdie sektes is ou, gevestigde godsdiensgroepe en beskou hulself as volwaardige kerke. Sekere ou gelowe is in sektes verdeel wat weer in subsektes onderverdeel is. In Japan bestaan die Sjintogeloof uit 153 sektes en subsektes, en Boeddhisme is in 171 sektes en subsektes verdeel. Dis interessant dat baie Japannese aan meer as een sekte behoort.

In Suid-Afrika het die Departement van Statistiek ’n lys met meer as 4 000 godsdiensgroepe daarop, waarvan sowat 500 onder die Blankes en die res onder die swart mense voorkom. Party van hierdie afgeskeie sektes maak daarop aanspraak dat hulle Christelik is.

Kerk of sekte?

Die woord “kerk” het nie in alle lande dieselfde betekenis nie. In oorheersend Katolieke lande beteken “die Kerk” die Rooms-Katolieke Kerk. In Frankryk word die woord Eglise (Kerk) selde deur die byvoeglike naamwoord: catholique en feitlik nooit deur romaine omskryf nie. Vir ’n Fransman kan die woord Eglise (met ’n hoofletter E) net een ding beteken: die Rooms-Katolieke Kerk. En in lande waar een van die Oosters-Ortodokse Kerke die oorhand het, beteken die woord “kerk” die Ortodokse kerk.

Maar in oorheersend Protestantse lande is dit gewoonlik nodig om duidelik te stel aan watter kerk ’n mens behoort. Selfs in hierdie lande kan ’n persoon gewoonlik nie sê dat hy aan ’n kerk behoort tensy hy ’n lidmaat van een van die groter, ouer, gevestigde Protestantse kerke is nie. Anders beskou ander hom as ’n lid van ’n sekte. In die Verenigde State weer word selfs klein gelowe wat afgesplits het dikwels met die naam “kerk” vereer. Maar in die meeste ander lande sal hulle daarmee vir lief moet neem om as ’n sekte beskou te word.

Wat is ’n sekte?

’n Sekte is al gedefinieer as “’n nuutgestigte, betreklik klein, eksklusiewe godsdiensliggaam; veral een wat van ’n meer gevestigde groep afgesplits het”. Volgens, ’n ander definisie is ’n sekte “’n andersdenkende godsdiensliggaam; veral een wat ketteragtig is in die oë van ander lidmate in dieselfde gemeenskap”.

Party beweer dat die woord “sekte” afgelei is van die Latynse werkwoord secare (om te sny) en definieer ’n sekte as ’n groep wat van ’n gevestigde kerk afgesplits het. Ander spoor die woord “sekte” terug na die Latynse werkwoord sequi (om te volg) en pas dit gevolglik toe op ’n groep wat ’n bepaalde menseleier of leraar volg.

Kerklike veragting van sektes

Hetsy ’n sekte ’n splintergroep is wat van ’n groter kerkgroep afgesplits het of ’n groep dissipels is wat ’n man of vrou volg, een ding is seker: die ou, gevestigde kerke sien op die sektes neer. Waar die Franse Grande Encyclopédie hierdie veragting verduidelik, sê dit dat die woord “sekte” en die gebruik daarvan “vol sterk gevoelens en selfs heftigheid” is en voeg by: “Die gemeenskap; waarvan die groepie afgeskei het, maak gewoonlik aanspraak op egtheid en meen dat hulle alleen die volheid van leerstelling en genadewerking besit, en praat met ’n soort minagtende meewarigheid van die sektariërs. Hierdie neerbuigende, gesindheid gaan dikwels gepaard, met heelwat aggressiwiteit, veral omdat die sekte ’n wrede herinnering is aan alles wat die kerk was, maar nie langer is nie—’n hartlike, lewendige, dinamiese, verowerende broederskap.’’

Waarom soveel nuwe sektes?

Die sektes wat deesdae die meeste publisiteit in die media kry—dikwels vanweë hulle finansiële bedrywighede en indoktrinasiemetodes—het almal die afgelope 20 of 30 jaar in aansyn gekom. Dit laat, vrae ontstaan oor waarom, sulke godsdiensgroepe in ons dag so vermenigvuldig het. In sy Supplément vir 1981 het die gemelde Franse ensiklopedie gesê: “Waarom behaal sulke sektes soveel welslae? Eerstens, die krisisatmosfeer wat nou in die Westerse beskawing heers (waar alle instellings soos die gesin, skole, die leër, die kerke, ens. bevraagteken word), bied ’n geskikte teelaarde. . . . Ten slotte, sektes is bowenal ’n teken van die tyd, simptomaties van die onrustigheid van jongmense wat dors na iets anders as ons opsigtige ‘verbruikersgemeenskap’.”

R. Quebedeaux, ’n deskundige op die gebied van sektes, skryf in dieselfde trant: “Die permissiewe gemeenskap het ’n hunkering na strengheid en dissipline en gesag geskep. Hulle [die jongmense] is verveeld met die materialistiese gemeenskap en dit het gelei tot ’n soeke na nuwe sin in die lewe.”

Sonder om dit reguit te sê, toon albei hierdie verduidelikings dat die ou, gevestigde gelowe nie die miljoene mense, jonk en oud, wat hulle tot sulke nuwe sektes gewend het, bevredig het nie. Die opbloei van nuwe sektes die afgelope paar dekades is verdere bewys van die “benoudheid van nasies” wat Jesus Christus voorspel het as deel van “die teken” wat sou aandui dat hierdie stelsel sy einde nader en dat “die koninkryk van God naby is”.—Mattheüs 24:3; Lukas 21:10, 11, 25-31.

Maar hierdie nuwe sektes wat soveel lede werf, leer nie dat God se Koninkryk die mensdom se enigste hoop is nie. Hulle leer kom eerder ooreen met ’n lewensfilosofie, wat dikwels gebaseer is op ’n Oosterse geloof of op die leerstellings van ’n ghoeroe (geestelike leier). Elke ghoeroe met ’n aansienlike gevolg stig ’n nuwe sekte. Dit is nie verbasend vir Oosterse gelowe waar die ghoeroe-beginsel tans aanvaar word nie.

Wat wel verbasend is, is dat honderde, indien nie duisende nie, van die sowat 10 000 kerke en sektes wat luidens berig dwarsoor die wêreld bestaan, daarop aanspraak maak dat hulle Christelik is. Waarom is dit so verbasend? Omdat die lede van baie van hierdie sektes ’n menseleier volg, terwyl Jesus Christus gesê het: “Een is julle Leier die Christus” (Mattheüs 23:10, NTP). Nog iets wat verbasend is, is die feit dat sogenaamde Christene in soveel kerke, denominasies en sektes verdeel is, terwyl Christus tot sy Vader gebid het dat sy volgelinge “almal een mag wees”.—Johannes 17:20, 21.

Waarom is daar dan soveel kerke en sektes wat daarop aanspraak maak dat hulle Christelik is? En hoe het hierdie godsdiensverwarring ontstaan?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel