“Een Here, een geloof, een doop”
“[Daar is] een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal . . . is”.—EFESIËRS 4:4-6.
1, 2. (a) Wat het Jehovah by monde van Jesus baie duidelik omtrent Homself gestel? (b) Was daar dus plek vir uiteenlopende godsdiensmenings in Israel?
“JEHOVAH, onse God, is een Jehovah. Julle mag nie agter ander gode aanloop, enige gode van die volke wat rondom julle is nie, (want Jehovah jou God wat in jou midde is, is ’n God wat uitsluitlike toewyding eis).” Moses het geen twyfel gelaat in die gedagtes van die Israeliete wat vergader was op die vlaktes van Moab, kort voordat hulle die Beloofde Land moes binnegaan nie. Hy het dit duidelik gestel dat hulle God, Jehovah, een God is, en dat Jehovah uitsluitlike toewyding vereis. ln ’n vorige redevoering het Moses gesê. “Jehovah is die ware God in die hemele daarbo en op die aarde hieronder. Daar is geen ander nie. En jy moet, sy voorskrifte en sy gebooie, wat ek jou vandag gebied, onderhou, sodat dit met jou . . . goed mag gaan.”—Deuteronomium 6:4; 14, 15, NW; 4:39, 40, NW.
2 Daardie woorde laat geen plek vir uiteenlopende godsdiensmenings nie! Israel het een God gehad. En Jehovah het die een aanneemlike manier waarop hy aanbid mag word duidelik uiteengesit.
Joodse sektes verrys
3. Wat het uiteindelik gebeur omdat die meeste Jode nie getrou aan Jehovah gebly het nie?
3 Maar in plaas daarvan om die reine aanbidding van die een ware God, Jehovah, te beoefen, het die meeste Israeliete afvalliges geword wat afgode aanbid (Jeremia 17:13; 19:5). Daarom het dit nie ‘met hulle goed gegaan’ nie. In 607 v.G.J. is Jerusalem deur die Babiloniërs vernietig en is baie Jode na Babilonië weggevoer. ’n Getroue oorblyfsel het 70 jaar later na Jerusalem teruggekeer en begin om ’n tweede tempel vir Jehovah se aanbidding te bou. Maar met verloop van tyd het die meeste Jode afvallig geword en uiteindelik in verskeie sektes verdeel.
4, 5. (a) Beskryf sommige van die Joodse sektes wat na die Babiloniese gevangenskap ontstaan het. (b) Het sulke verdelende sektes die Jode tot voordeel gestrek? Verduidelik.
4 In die vierde of die derde eeu v.G.J. het die sekte van die Hasidim (“vromes’’) ontwikkel. Hulle was oorywerig om die Joodse Wet te hou en word oor die algemeen beskou as die voorlopers van twee ander sektes wat in die tweede eeu v.G.J. ontstaan het—die Essene en die Fariseërs. Die Essene sowel as die Fariseërs het die Griekse leerstelling oor die onsterflikheid van die siel aangeneem. Die Sadduseërs het van hulle verskil deur nie aan ’n hiernamaals te glo nie. Die Bybel praat van die tweedrag wat in die dae van die apostels tussen die Sadduseërs en die Fariseërs bestaan het (Handelinge 23:7-10). The Concise Jewish Encyclopedia sê: “Spanning tussen die twee het selfs tot bloedbaaie en burgeroorlog gelei.”
5 Die Selote was nog ’n Joodse sekte wat in die eerste eeu G.J. bestaan het. Hulle was militante nasionaliste wat veel gedoen het om die suksesvolle Joodse opstand teen die Romeine in 66 G.J. aan te stook. Daarna het hulle probeer om ander gewapende sektes in Jerusalem te oorheers en het sodoende burgeroorlog en veel lyding veroorsaak. Sulke gewapende stryd tussen mededingende Joodse sektes het reg tot met en selfs gedurende die finale Romeinse beleëring en vernietiging van Jerusalem 70 G.J. voortgeduur. Dit is duidelik dat sektariese verdeeldheid en ontrouheid aan verenigde, reine aanbidding van die een God, Jehovah, die Jode glad nie tot voordeel gestrek het nie.
Die vroeë Christene nie ’n sekte nie
6. Waarom het die vroeë Christene Joodse sektes vermy?
6 Dit is onnodig om te sê dat die vroeë Christene Joodse sektariese tweedrag vermy het. Hulle het geweet dat die Fariseërs en die Sadduseërs van Jesus se bitterste vyande was. Christus se volgelinge kon nòg die Essene se geloof in die onsterflikheid van die siel nòg hulle voorliefde vir ’n asketiese kloosterlewe deel. En as neutrale persone het hulle beslis niks met die nasionalistiese Selote gemeen gehad nie (Johannes 17:16; 18:36). Die Christene het eerder die verenigde, reine aanbidding van die een ware God beoefen in ooreenstemming met Jesus se woorde aan ’n nie-Joodse vrou: “Daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid.”—Johannes 4:23.
7. Wat het Jesus en Paulus gesê, en wat gee hulle woorde te kenne aangaande ware Christelike aanbidding?
7 Waar die apostel Paulus namens ware Christene gepraat het, het hy gesê: “Tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom” (1 Korinthiërs 8:6). Die ware Christelike godsdiens beteken die verenigde aanbidding van die een God, die Vader, Jehovah, deur die een Here, Jesus Christus. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Een is julle Leier: die Christus.”—Mattheüs 23:10, NTP.
8. Waarom kon die vroeë Christene nie tereg ’n sekte genoem word nie?
8 Die lede van die ou, gevestigde Joodse sektes het die vroeë Christene weliswaar minagtend ’n sekte (Grieks: hai’re·sis, wat beteken “’n groep manne wat hulself van ander afskei en hulle eie leerstellings aanhang”) genoem (Handelinge 24:5; 28:22). Maar in sy verdediging voor goewerneur Felix het die apostel Paulus hierdie verkeerde benaming verwerp en gesê: “Dit erken ek voor u dat ek volgens die Weg wat hulle [sy godsdiensvyande] ’n sekte noem, so die God van my Vaders dien” (Handelinge 24:14). Christene kon geensins ’n sekte genoem word nie, want hulle het Jesus Christus gevolg, nie ’n mens nie. Daarbenewens was hulle beslis nie ’n vertakking van een van die sektes van Judaïsme wat in die eerste eeu bestaan het nie.
Geen sektariese skeuringe nie
9, 10. (a) Waarom was die Christendom nie veronderstel om in afsonderlike kerke en sektes te verbrokkel nie? (b) Watter teorieë oor die oorsprong van die Christelike godsdiens is heeltemal vals?
9 Die vroeë Christendom was nie ’n sekte nie. Dit was ook nie veronderstel om in afsonderlike sektes te verbrokkel nie. Toe Christus tot sy Vader gebid het, het hy gevra dat sy dissipels “almal een mag wees” (Johannes 17:21). Sy dissipels moes ‘liefde onder mekaar hê’ (Johannes 13:35). Dit het enige verdelende skepping van sektes uitgeskakel.
10 Daardie feit loënstraf die teorieë van talle geskiedkundiges en teoloë oor verskillende soorte Christelikheid. Hulle praat van “Joodse Christelikheid” (wat glo deur Jakobus. Petrus en Johannes verdedig is) in teenstelling met “nie-Joodse Christelikheid” (wat glo deur Paulus verdedig is). Hulle verwys na “Johanneïese [Johannes se] teologie” en “Pauliniese [Paulus se] teologie”, en beweer dat die Christelike godsdiens nooit oor die hele wêreld sou versprei het indien Paulus dit nie heeltemal verander het nie. Sulke teorieë word aangevoer deur manne wat òf geen geloof in die Christelike godsdiens het nie òf die feit dat die Christendom in honderde kerke en sektes verdeel is, as normaal aanvaar.
11. (a) Watter tekste toon dat die gedagte om die Christelike godsdiens na die nie-Jode uit te dra nie by Paulus ontstaan het nie? (b) Het Paulus verdelende sektes goedgekeur? (c) Watter voorval lig die eenheid van Paulus en sy medewerkers toe?
11 Die feite is heeltemal anders. Voordat Paulus ooit ’n Christen geword het, het Jesus Christus Sy dissipels die opdrag gegee om Sy getuies in al die nasies te wees (Mattheüs 28:19, 20; Handelinge 1:8). Paulus self het enige neiging om mense te volg beveg en gesê dat “daar geen skeuringe onder julle moet wees nie” (1 Korinthiërs 1:10-15; 3:3-5). Dit is dus heeltemal tevergeefs om aan te voer dat Paulus ’n ander begrip van die Christelike godsdiens gehad het as wat Jakobus, Petrus en Johannes gehad het. Hulle het die werk om die goeie nuus te verkondig eendragtig verrig. By een geleentheid, waarskynlik ten tye van die vergadering oor die besnydenis wat in 49 G.J. in Jerusalem gehou is, het al vier ten volle saamgewerk oor die verdeling van die predikingsveld.—Galasiërs 2:7-9.
Waarskuwings teen verdeeldheid
12. Was daar enige langdurige vyandskap tussen Paulus en Petrus?
12 Omdat die vroeë Christene onvolmaakte mense was, is dit vanselfsprekend dat hulle—selfs sommige met swaar gemeentelike verantwoordelikheid—hulle meningsverskille gehad het. ln Antiochië, Sirië, het Paulus Petrus tereggewys oor ’n sekere punt (Galasiërs 2:11-14). Maar het Petrus ’n afsonderlike sekte gaan stig asof hy dit nie met sogenaamde Pauliniese Christelikheid eens was nie? Glad nie, want jare later, omstreeks 64 G.J., het hy met ’n liefdevolle uitdrukking na Paulus verwys.—2 Petrus 3:15, 16.
13, 14. (a) As wat het Paulus “tweedrag” en “partyskap” of “sektes” geklassifiseer? (b) Wat moet volgens Paulus gedoen word met mense wat sektes verwek?
13 Onder goddelike inspirasie het Paulus “tweedrag” en “partyskap” of “sektes” onder “die werke van die vlees” aangegee. Hy het geskryf: “Die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap [sektes, NW] . . . waarvan ek julle vooraf sê . . . dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.”—Galasiërs 5:19-21.
14 Aangesien diegene wat “tweedrag” en “partyskap” of “sektes” veroorsaak “die koninkryk van God nie sal beërwe nie”, kan hulle nie in die ware Christengemeente geduld word nie. Paulus het dus aan Titus geskryf: “Vermy dwase strydvrae en geslagsregisters en twis en stryery oor die wet, want dit is nutteloos en doelloos. Aan ’n man wat partyskap [’n sekte, NW] verwek, moet jy jou onttrek ná die eerste en tweede vermaning, wetende dat so iemand op ’n verkeerde pad is en sonde doen en selfveroordeeld staan.”—Titus 3:9-11.
Eenheid van geloof
15, 16. (a) Waarom is daar geen plek vir verskillende denkrigtings in die Christengemeente nie, en wat sê Paulus hieroor? (b) Beteken dit dat ’n Christen nie sy denkvermoëns moet gebruik nie? (c) Wat sê Petrus, Judas en Paulus oor die gevaar van twyfelgedagtes en die moontlikheid om van die waarheid af weggelei te word?
15 Uit al die voorgaande blyk dit dat die ware Christendom nie in denominasies en sektes verdeel kan word nie. Daar kan selfs nie eens tegelykertyd verskillende tendense of denkrigtings in die Christengemeente bestaan nie. Paulus het aan die Korinthiërs geskryf: “Ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.”—1 Korinthiërs 1:10
16 Dit beteken nie dat die ware Christengetuie van Jehovah nie sy denkvermoëns kan gebruik nie. Die apostel Petrus het Christene aangespoor om hulle “helder denkvermoëns” te gebruik om “spotters” te weerlê wat “in die laaste dae” op die toneel sou verskyn en die “teenwoordigheid” van Christus sou loën (2 Petrus 3:1-4, NW). In sy brief praat Judas van “sommige wat twyfel” (Judas 22). Maar nòg Petrus nòg Judas sê dat ’n Christen ’n spotter of ’n twyfelaar kan bly. Petrus sê vir ons om ‘op ons hoede te wees’ vir “onvaste mense” wat ‘die Skrifte verdraai’ (2 Petrus 3:16, 17) En Judas sê dat die twyfelaars in gevaar verkeer en ‘uit die vuur geruk moet word’ (Judas 23). Diegene wat van die waarheid af weggelei is, moet “in sagmoedigheid” gehelp word in die hoop dat “hulle weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel”.—2 Timotheüs 2:23-26.
17. Hoe sal die ware Christen sy denkvermoëns gebruik, en waarna sal hy ernstig strewe?
17 Die ware Christen gebruik sy “helder denkvermoëns” op ’n nederige wyse. Paulus skryf: “Ek vermaan julle . . . om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede. Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal” wat oor, almal en deur almal en in julle almal is,”—Efesiërs 4:1-6.
Hoe eenheid verkry en bewaar word
18. Wat word bedoel met die uitdrukkings (a) “een God”? (b) “een Here”? (c) “een Gees”? (d) Wat is die ware Christendom se enigste skriftelike rigsnoer?
18 Paulus het gepraat van “een God . . . wat oor almal . . . is”. Of, soos Moses dit gestel het: “Jehovah, onse God, is een Jehovah” (Deuteronomium 6:4, NW). Daardie fundamentele waarheid het nooit verander nie. Dit is ’n sleutelfaktor by Christelike eenheid. Daar is een God en een aanneemlike manier om hom te aanbid, naamlik “in gees en waarheid” (Johannes 4:23, 24). Die “een Here” is Jesus Christus, “die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente” (Kolossense 1:18). “Een Gees” sien op die verenigende, werkende krag van Jehovah. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle” (Johannes 14:26, 27). Die dinge waaraan hulle “herinner” sou word, is in die Christelike Griekse Skrifte neergeskryf. Dit, tesame met die Hebreeuse Skrifte, maak die Bybel, die ware Christendom se enigste skriftelike rigsnoer, uit.
19. Wat is die “een liggaam”, en wie is aangestel om dieselfde geestelike voedsel aan al die lede daarvan te gee?
19 “Een liggaam” is die Christengemeente, waarvan Jesus die “Hoof” is (Efesiërs 1:22, 23). Die individuele, gesalfde lede van hierdie verenigde gemeente sou almal dieselfde geestelike voedsel ontvang. Te dien einde het hulle “heer” ’n samegestelde ‘getroue bestuurder’-klas, die liggaam gesalfde Christene op aarde sedert Pinkster van 33 G.J., aangestel. Omdat die “heer” gevind het dat die oorblywende lede van hierdie liggaam getrou en verstandig ‘voedselrantsoene’ voorsien het toe hy in 1919 gekom het om ondersoek in te stel, het hy hulle ‘oor al sy besittings aangestel’ (Lukas 12:42-44). Die feite toon dat hierdie “bestuurder” sedert 1919 getrou na hierdie “besittinge” omgesien het.
20. (a) Watter teenstelling word in Jesaja 65:11, 13 tussen God se volk en godsdiensafvalliges getref? (b) Wat het baie tot die eenheid van Jehovah se volk bygedra?
20 Daar is nie gevind dat die geestelikes van die talryke kerke en sektes van die Christendom behoorlike geestelike ‘rantsoene’ aan Christus se “diensvolk” gegee het nie. Hierdie geestelikes en hulle kuddes is gevolglik geestelik “honger” (Jesaja 65:11, 13). Die ‘getroue bestuurder’ het andersyds aangetou om ’n oorvloed ‘voedselrantsoene op tyd’ aan individuele, gesalfde Christene te gee, en, sedert 1935, aan ’n toenemende aantal “ander skape” (Openbaring 7:9, 10; Johannes 10:16). Ongeag taal of geografiese ligging volg al hierdie Getuies van Jehovah dieselfde wêreldwye studieprogram gebaseer op God se Woord. Dit het baie daartoe bygedra om eenheid onder hulle in die hand te werk en dit te bewaar.
Die wonderlike eenheid van Jehovah se volk
21. Hoe word eenheid vandag onder Jehovah se Getuies bewaar, en hoe vergelyk dit met die organisatoriese reëling in die dae van die apostels?
21 Die eenheid van nagenoeg 45 000 gemeentes van Jehovah se Getuies in meer as 200 lande word ook bewaar deur hulle Skriftuurlike organisatoriese metodes. “Die apostels en ouderlinge [ouere manne] in Jerusalem” het ’n bestuursliggaam vir die eerste-eeuse Christengemeente uitgemaak (Handelinge 15:2). Hulle en hulle verteenwoordigers het “opsieners” en “diakens” of “bedieningsknegte” in die gemeentes aangestel en ander besluite in verband met die toesig oor die gemeentes geneem (Filippense 1:1, vgl. NW; Titus 1:5; Handelinge 14:23; 16:4). ’n Groep gesalfde Christen- ouere manne maak vandag eweneens die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies uit. En net soos die besluite van die eerste-eeuse Bestuursliggaam aan die gemeentes oorgedra is, ontvang die gemeentes van Jehovah se Getuies vandag instruksies van die Bestuursliggaam en besoeke van reisende opsieners (Handelinge 15:22, 23, 30). Net soos destyds word ‘die gemeentes nog steeds versterk in die geloof en vermeerder hulle elke dag in getal’.—Handelinge 16:5.
22. Wat waardeer Jehovah se Getuies veral, en wat sal hulle eendragtig voortgaan om te doen?
22 Jehovah se Getuies is verlos uit die sektariese afdelings van die Christendom. Onder die leiding van hulle “een Here”, Jesus Christus, en sy “bestuurder”, gaan hulle eendragtig voort met die verkondiging van “hierdie evangelie van die koninkryk” (Mattheüs 24:14). Hulle sal voortgaan om “ernstig [te] strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede”. Dit is inderdaad so dat hulle “in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie”.—Efesiërs 4:3; Filippynse 1:27.
Onthou jy hierdie gedagtes?
◻ Watter soort aanbidding het aanvanklik in eertydse Israel bestaan?
◻ Wat het vanaf die vierde eeu v.G.J onder afvallige Jode plaasgevind?
◻ Watter tekste toon dat die ware Christendom nooit veronderstel was om in sektes te verbrokkel nie?
◻Hoe toon die Bybel dat daar geen plek vir verskillende denkrigtings in die Christengemeente is nie?
◻ Watter faktore dra by tot eenheid van begrip en werk onder Jehovah se Getuies?
[Prent op bladsy 19]
Jehovah se Getuienis is verenig in hulle wêreldwye aanbidding