Waarom is daar soveel gelowe wat almal sê dat hulle Christelik is?
ONGEVEER ’n kwart van die wêreld se bevolking maak daarop aanspraak dat hulle Christene is. Hulle bely almal dat hulle Jesus Christus volg, tog is hulle baie verdeeld. Nagenoeg 580 000 000 is glo Rooms-Katolieke. Maar sedert die Tweede Vatikaanse Konsilie word hulle verdeel in Katolieke liberale en pro-Latynse tradisionaliste. Die geraamde 74 000 000 lede van die Oosters-Ortodokse Kerk is verdeel in verskeie volkskerke, met verskillende liturgiese ritusse. En die meer as 343 000 000 Protestante is weer verdeel in talle Episkopaalse, Lutherse, Calvinistiese (Presbiteriaanse, Hervormde), Baptiste-, Methodiste- en ander kerke.
Al hierdie kerke beskou hulself as “gevestigde”, “ortodokse” en “agtenswaardige” kerke. Hierby moet die honderde sogenaamde sektes gevoeg word waarop die gevestigde Katolieke, Ortodokse en Protestantse Kerke minagtend neersien.
“Ortodoks” of “ketters”?
Wanneer die tradisionele “Christelike” kerke volgens onbevooroordeelde, geskiedkundige metodes ondersoek word, kan in werklikheid nie een van hulle daarop aanspraak maak dat hy die oorspronklike Christelike godsdiens is nie. Hulle het almal as vertakkings—sektes—begin, ja, selfs die een wat daarop aanspraak maak dat dit die oudste van almal is, naamlik die Rooms-Katolieke Kerk!
Verskeie stede kan daarop aanspraak maak dat hulle ouer sentrums van die Christelike godsdiens is as Rome. Toe die Christelike godsdiens op Pinkster van 33 G.J. gegrondves is, was daar nie ’n enkele volgeling van Christus in Rome nie. Die eerste hoofkwartier van die Christengemeente was onteenseglik Jerusalem. Op Pinkster was daar weliswaar Jode en proseliete van Rome af in Jerusalem, en sommige van hulle het ongetwyfeld Christene geword en na Rome terugekeer om die Christengemeente daar te stig. Maar dit is ook waar van baie ander plekke wat in die Bybel gemeld word. Trouens, reisigers uit Rome word eers na aan die einde van die lys gemeld, naamlik derde laaste, net voor Kretense en Arabiere.—Handelinge 2:5-11.
In daardie dae was Rome nie ’n sentrale plek vir ’n hoofkwartier om Christelike bedrywighede te organiseer nie. Dit was nie in Rome nie, maar in Antiochië, Sirië, dat Jesus se dissipels die eerste keer Christene genoem is (Handelinge 11:26). En dit was vanuit Antiochië, nie Rome nie, dat die apostel Paulus op sy drie sendingreise vertrek het (Handelinge 13:1-4; 14:26; 15:35, 36; 18:22, 23). Paulus is heel waarskynlik in Rome tereggestel. Maar hy was nie een van Jesus se 12 apostels nie, daar Judas Iskariot deur Matthias vervang is (Handelinge 1:23-26). Trouens daar is hoegenaamd geen Bybelse bewys dat enige van die 12 apostels na Rome gegaan het of daar gesterf het nie. Die laaste apostel wat gesterf het, was Johannes, waarskynlik in of naby Efese. Na hulle dood kon die afval, ongehinderd ontwikkel.—1 Johannes 2:18, 19; 2 Thessalonicense 2:3, 4.
Mettertyd het ander stede vername sentrum van die afvallige Christendom geword. Daar was onder meer Alexandrië en Carthago, in Noord-Afrika, en Bisantium (wat later Konstantinopel geword het), aan die grens tussen Asië en Europa. In die Weste het ’n ryk en invloedryke kerk in Rome, die hoofstad van die Ryk ontwikkel.
Met die opkoms van die afval wat deur die apostels voorspel is, het ’n geestelikeklas ontwikkel. Prominente manne het oor die kudde verrys en sogenaamde biskoppe geword. Hulle het om mag meegeding en die hoofde van mededingende strominge of sektes van die afvallige Christendom geword. Aanvanklik het geen enkele stad of biskop duidelik bo die ander uitgetroon nie. Maar ’n magstryd het ontstaan waarin elke sekte of afvallige vertakking van die oorspronklike Bybelse Christendom probeer het om homself as die “ortodokse” te bevestig en die ander “ketters” te maak.
Almal was aan die begin sektes
Een van die werke oor hierdie onderwerp wat heel onlangs gepubliseer is, sê: “Wat was Christelike kettery? En, wat dit betref, wat was die Kerk? . . . Die [afvallige] Christendom het in verwarring, twis en verdeeldheid begin en het so voortgegaan. ’n Oorheersende ortodokse Kerk met ’n herkenbare kerklike struktuur het slegs baie geleidelik verrys. . . . En, soos dit die geval met stryde is, was dit nie besonder stigtelik nie. . . . In die eerste en tweede eeu n.C. het die sentrale en oostelike gebiede om die Middellandse see gewemel van ’n mag der menigte godsdiensopvattings wat hulself almal met mening probeer voortplant het. . . . Daar was dus uit die staanspoor talle vorme van die Christelike godsdiens wat min met mekaar gemeen gehad het . . . Dit is onjuis om voor die laaste helfte van die derde eeu van ’n oorheersende vorm van die Christelike godsdiens te praat. Sover ons kan oordeel, het die meeste Christene aan die einde van die eerste eeu, en feitlik dwarsdeur die tweede, aan verskillende vorme van Christelike gnostisisme geglo of aan opwekkingssektes behoort wat om begaafde individue gebou was. . . . Ortodoksie was bloot een van verskeie vorme van die Christelike godsdiens gedurende die derde eeu, en het dalk eers teen Eusebius se dag [vroeg in die 4de eeu] dominant geword.”—A History of Christianity, deur Paul Johnson.
So ’n verloop van sake is deur die apostel Paulus voorspel. Hy het geskryf: “Daar sal ’n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend.”—2 Timotheüs 4:3, 4, NTP.
Sommige van hierdie afvallige leermeesters het die Christendom se kerke se sogenaamde kerkvaders geword. Hulle word gewoonlik verdeel in voor-Niceense en na-Niceense vaders, met die sogenaamde Eerste Ekumeniese Konsilie van Nicea, wat in 325 G.J. deur die heidense Romeinse keiser Konstantyn in daardie stad van Klein-Asië belê is, as keerpunt.
Pogings om Rome se voorrang vas te stel
Dit is opmerkenswaardig dat verreweg die meeste tweede- en derde-eeuse “vaders” nie in Rome woonagtig was nie, en in Grieks en nie Latyn geskryf het nie. Die Encyclopœdia Britannica bevestig dit deur te sê: “Tot omstreeks 250 was die meeste Christenleiers in die Weste nie Latynsprekend nie, maar Griekssprekend (bv. Ireneüs en Hippolitus). Die hoof- Latynse teologie het nie uit Rome gekom nie, maar uit Noord-Afrika (bv. Tertullianus en Cyprianus)”
Watter stede was die groot sentrum van die sogenaamde Christelike teologie in daardie vroeë eeue van die afval? Nie Rome nie, maar Antiochië, Alexandrië, Carthago, Cesarea, Jerusalem en verskeie stede in Klein-Asië. The Catholic Encyclopedia erken: “Hoewel Rome in die tweede eeu invloedryk en geëerd was, . . . is die breuk in sy literatuur volkome. Latynse literatuur is dus . . . prakties twee en ’n half eeue jonger [as die Griekse]. Tertullianus staan alleen, en hy het ’n ketter geword. Tot die middel van die vierde eeu was daar maar een Latynse Vader [Cyprianus van Carthago, Noord-Afrika]. . . . Van Cyprianus (oorlede in 258) tot Hilarius [oorlede omstreeks 367] . . . was daar hoegenaamd geen teologie nie.”
Hoe het die kerk in Rome dan daarin geslaag om voorrang te verkry bo die kerke in ander stede wat baie meer “kerkvaders” opgelewer het? Een faktor was ongetwyfeld die aansien wat dit geniet het omdat dit in die hoofstad van die Ryk geleë was. Dit was ’n ryk kerk wat finansiële hulp verleen het aan armer kerke in ander stede, en dit het mag aan sy biskop verleen. Hy het aanspraak begin maak op die reg om appèl aan te hoor teen beslissings van plaaslike biskoppe in aangeleenthede rakende kerktug.
Net soos die heidense Romeinse keiser Konstantyn besef het dat hy die afvallige Christendom kon gebruik om die vervallende Ryk te versterk, het die Biskop van Rome ook gesien dat heidense leerstellings sy vorm van die afvallige Christendom gewild kon maak. Die Roomse Kerk het die heidense Sondag aangeneem as die dag waarop Pase gevier moet word, terwyl die kerke in Oosterse stede dit gevier het op die dag van die week waarop 14 Nisan van die Joodse kalender geval het. En terwyl verskeie Oosterse kerke geneig was om Arius, wat die Drie-eenheidsleerstelling geloën het, te volg, het Rome gou hierdie heidense gedagte van ’n drie-enige god aangeneem.
In albei hierdie opsigte het keiser Konstantyn Rome begunstig. Hy het dit gedoen deur Sondagviering in 321 G.J. te wettig, en deur die Drie-eenheidsleerstelling in 325 G.J. by die Konsilie van Nicea voor te skryf. Hy het die afvallige Christendom met die heidense, Romeinse kultus saamgesmelt en hierdie “universele” of “katolieke” vorm van aanbidding die staatskerk gemaak.
Toe, in 382 G.J., het keiser Gratianus ’n grondwet uitgevaardig wat Damasus, die biskop van Rome, die reg gegee het om appèlsake deur ander biskoppe, selfs in die “meer afgeleë gebiede” van die Ryk, aan te hoor. Hoewel Oosterse biskoppe, en selfs sommige in die Weste, hierdie beslissing betwis het, het dit ongetwyfeld opgang aan die biskop van Rome verleen. Biskop Damasus het die ordeteken Pontifex Maximus aangeneem—’n heidense titel en amp wat keiser Gratianus mettertyd verwerp het omdat hy dit as onvanpas vir ’n Christen beskou het! Damasus het egter geen beswaar daarteen gehad nie. Volgens The Catholic Encyclopedia word Pontifex Maximus nog steeds beskou as een van die “vernaamste titels” van die pous. In Frans word die pous nog steeds le souverain pontife, die opperpriester, genoem.
Skeuring, onenigheid en hervorming
Hierdie oppergesag waarop die biskop van Rome aanspraak gemaak het, was natuurlik nie onbestrede nie. Die leiers van die afvallige Christendom in oostelike stede soos Alexandrië, Jerusalem, Antiochië en veral Konstantinopel het hierdie toe-eiening betwis. Hoewel die godsdiensleiers in hierdie stede verenig was in hulle teenstand teen Rome se oorheersing, was hulle dit oneens wat leerstellings betref. Daar was teenstrydige denkrigtings in hierdie en ander stede, wat aanleiding gegee het tot verskillende sektes wat almal beweer dat hulle Christelik is.
In ’n poging om die toenemende kloof tussen die mededingende, afvallige Christensektes met hoofkwartiere in Rome en Konstantinopel te oorbrug en om afvallige Christenleraars in ander stede as ketters te brandmerk, is, verskeie “Ekumeniese (Universele) Kerkkonsilies” deur die eeue heen belê. Die eerste een is in 325 G.J. in Nicea gehou om die Ariaanse anti-Trinitariese “kettery” te veroordeel. Ander is in Konstantinopel (vier keer), Efese, Chalcedon (reg teenoor Konstantinopel oorkant die Bosporus) en weer in Nicea gehou. Hierdie eerste sewe konsilies word deur die Rooms-Katolieke sowel as die Ortodokse kerke erken. Die leerstellings wat by hierdie konsilies geformuleer is sluit die Drie-eenheid in, geloof in Maria as die “moeder van God” en ander dogmas wat niks met Bybelse Christelikheid te doen het nie. Hierdie kerkkonsilies het ook verskeie “ketterye” veroordeel en sodoende bygedra tot die skepping van nog meer onderafdelings (sektes) van die afvallige Christendom.
Dit is interessant dat nie een van hierdie “universele” kerkkonsilies in Rome, die stad wat daarop aanspraak maak dat dit die universele hoofkwartier van die Christendom is, gehou is nie. Die eerste sogenaamde: Ekumeniese Konsilie is eers in 1123 G.J. in Rome gehou. Maar teen daardie tyd het die “groot skeuring” tussen Rome en die Oosterse kerke reeds plaasgevind, aangesien die eerste splitsing in 867 G.J. voorgekom het, en die finale skeuring in 1054. Uit ’n streng historiese standpunt is geen ware ekumeniese of universele konsilie dus ooit in Rome, gehou nie.
Die Oosterse variasie van die afvallige Christendom wat van Rome weggebreek het, het nie verenig om ’n ander biskop wat daarop aanspraak gemaak het dat hy die stedehouer, van Christus op aarde is nie. Die Kerk van Konstantinopel (ook Nuwe Rome genoem) sou graag die “Rome” van die Oosters-Ortodokse godsdiens wou geword het. Maar dit het nie daarin geslaag nie. Mettertyd is Oosterse Ortodoksie verdeel in 15 volkskerke met selfbestuur wat bloot erevoorrang aan die patriarg in Konstantinopel, hedendaagse Istanboel, skenk. Daarbenewens is daar verskeie onafhanklike, oosterse kerke wat nòg Rome nòg Konstantinopel erken. Die Oosterse “Christendom” is voorwaar ’n verdeelde huis.
Na die skeuring met die Ooste het die Roomse Kerk, wat nog steeds die hoop gekoester het om die Oosterse kerke op een lyn met hulle te bring, daarop gereken dat dit, ten minste die onbetwiste heerser in sy eie huis—die Weste—sou wees. Maar sy probleme was nie op ’n einde nie. Andersdenkendes het gou begin verskyn. Dit was onuitstaanbaar, en drastiese stappe is teen hierdie “ketters” gedoen. Die Inkwisisie is ingestel, maar die meningsverskille het voortgeduur. In die 16de eeu was daarin algemene opstand eers om godsdienstige, redes en later om politieke redes.
Hierdie opstand, genaamd die Hervorming, het aanleiding gegee tot ’n derde groep gelowe wat ook daarop aanspraak maak dat hulle Christelik is. Maar in plaas daarvan om die oorspronklike eenheid en die leerstellige waarhede van die Bybelse Christendom te, herstel, het Protestantisme ’n mag der menigte verdeelde kerke en sektes voortgebring.
Waarom so baie?
As jy tot ’n kerk of sekte behoort wat daarop aanspraak maak dat dit Christelik is, het jy ongetwyfeld gewonder waarom daar so baie gelowe is wat almal beweer dat hulle Christus en die Bybel volg. Sulke verdeeldheid walg jou miskien, veral wanneer dit lei tot godsdiensvervolging en -oorloë, soos dit deur die eeue heen gedoen het en nog steeds doen. Om hierdie en ander redes het jy moontlik opgehou om kerk toe te gaan en is jy tevrede met jou eie begrip van die Christelike godsdiens. Maar in jou hart weet jy dat die Christelike godsdiens meer as dit moet behels. Jy weet uit die Bybel dat die heel eerste Christene ’n gelukkige, verenigde geestelike gesin uitgemaak het.—Johannes 13:34, 35; Efesiërs 4:1-6.
Jehovah se Getuies maak vandag so ’n gelukkige gesin Christene uit. Hulle is nie ’n sekte nie, aangesien hulle nòg die dissipels van ’n menseleraar of -leier nòg ’n vertakking van enige enkele kerk of sekte is. Die Getuies kom uit alle stande. Hulle volg geen mens nie, maar God en Sy Seun Jesus Christus. In antwoord op jou vraag “Waarom is daar soveel gelowe wat almal sê dat hulle Christelik is?” antwoord hulle: “Omdat sulke godsdiensgroepe mense volg, nie die Bybel nie.” Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om die ware Bybelse Christendom te vind. Praat dus gerus met die persoon wat vir jou hierdie tydskrif gebring het of skryf aan die uitgewers daarvan.
[Kaart op bladsy 6]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die vernaamste sentrums van die afvallige Christendom
Rome
Carthago
Bisantium (Konstantinopel)
Nicea
Efese
Antiochië
Jerusalem
Alexandrië
[Prent op bladsy 9]
Die Christendom se Kerke—hopeloos verdeeld!