Vrees ’n Teken van die einde?
LEWE ons in die skemer van ’n eeu van onsekerheid en angs waar “mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom”? Net ’n kort hersiening van wêreldgebeure en die redes vir vrees sedert 1914 sal die geheue verfris en ons help om te sien of ons die voorspelde “einde” nader.—Lukas 21:9, 25, 26.
Vrees en oorlog
Monumente tot eer van die slagoffers van die Eerste Wêreldoorlog in Frankryk bevat die woorde “la Grande Guerre”. Ja, dit wat ons nou die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) noem, is oorspronklik die Groot Oorlog genoem. Die sterftesyfer daarvan en die verwoesting wat dit aangerig het, was so groot en verskriklik dat mense dit hoopvol die oorlog genoem het wat ’n einde aan oorloë gaan maak. Daar is gemeen dat die beskaafde mens na so ’n verskriklike Ies stellig nie ‘meer sou leer om oorlog te voer nie’ (Jesaja 2:4). Slegs 18 jaar later is daardie illusie verpletter met die uitbreek van die verskriklike Spaanse Burgeroorlog (1936-1939) waarin meer as ’n halfmiljoen Spanjaarde gesneuwel het. Duitsers en Italianers het aan daardie stryd deelgeneem, en dit was ’n oefening vir wat tragies genoeg die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) genoem moes word. Daardie wêreldramp het geëindig met die groot slagtings by Hirosjima en Nagasaki.
Met daardie atoombomontploffings bokant Japan het ’n nuwe bron van vrees en angs op die wêreldtoneel verskyn—die vrees vir atoomoorlog. Hoe waar was die woorde van professor Albert Einstein in Desember 1945 tog: “Daar is vir die wêreld beloof dat dit van vrees bevry sou word, maar vrees het in werklikheid verskriklik toegeneem sedert die einde van die oorlog”! Toe het hy bygevoeg: “Ons na-oorlogse wêreld het nie ’n rooskleurige toekoms nie.”
Daardie toenemende vrees word vandag weerspieël deur die miljoene mense wat oor die hele wêreld teen kernwapens betoog. Selfs die geestelikes raak by die geskil betrokke. Ja, kernwapens het wêreldpolitiek en militêre strategie verander. Geskiedskrywer E. P. Thompson het in sy onlangse boek Beyond the Cold War gesê: “Hierdie wapens het ’n invloed op die politiek, ideologieë en strategie; hulle word as onheilspellend beskou, en hulle is bedoel om onheilspellend te wees; hulle wek vrees en hulle vergroot en frustreer tegelykertyd gevoelens van aggressie.”—Ons kursiveer.
Hierdie vrees vir kernoorlog is universeel. ’n Onlangse Russiese boekie het gesê: “Die Sowjet-Unie hou vol dat kernoorlog ’n universele ramp sal wees, en dat dit heel waarskynlik die einde van die beskawing sal beteken. Dit kan tot die vernietiging van die hele mensdom lei.” Die twee vernaamste ideologiese blokke het nou ’n brose skaakmat bereik wat gebaseer is op sogenaamde Gewisse Wedersydse Vernietiging. Dit is geen wonder dat die mensdom vol ‘vrees en verwagting is van die dinge wat oor die wêreld kom’ nie—net soos Jesus voorspel het.
Vrees en misdadigheid
Daar is ’n ander soort vrees vir iets wesenlikers. Wat is dit? Vrees vir misdadigheid in jou eie buurt. Daar was ’n tyd toe ’n inbreker of rower slegs waardevolle artikels geneem het. Nou neem hulle ook lewens. Hulle vrees nie die wet nie, en misdadigheid is vir hulle baie winsgewend. In die groot stede en ryk voorstede koester die mense groot vrees. Die aantal mense wat New York se moltreine gebruik is die laagste sedert 1917. Waarom? Een van die vernaamste redes is die vrees dat hulle beroof of vermoor sal word. ’n Berig uit Brittanje lui: “Die broodnodige gemeenskapsgees word vernietig deur vrees vir misdadigheid wat baie mense tuis hou.” Selfs in stede soos Barcelona, Spanje, wat voorheen veilig was, het die verkope van versterkte deure toegeneem, en baie huise het nou ten minste twee of drie slotte en grendels aan hulle deure. In die Verenigde State leer baie vroue om pistole vir selfverdediging te gebruik. Een ondersoek toon dat 52 persent van Amerikaanse gesinne vuurwapens besit! Dieselfde verslag waarsku: “Vrees vir misdadigheid is stadig besig om die Amerikaanse gemeenskap te verlam.”
Geïnspireerde Bybelskrywers het geweet dat sulke uiterste toestande in die tyd van die einde sou bestaan. Die apostel Paulus het gevolglik gewaarsku: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadspreker, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie” (2 Timotheüs 3:1-3). Hoeveel misdade is tog die gevolg van wat die apostel hier opnoem! En hoeveel vrees word tog aangejaag deur die immer toenemende kriminele bevolking!
Vrees en werkloosheid
Nog ’n faktor wat in die 20ste eeu vrees en angs veroorsaak, is die onbestendigheid van die wêreldekonomie wat aanleiding gee tot relatiewe voorspoed sowel as depressies wat miljoene werkloos gelaat het. Selfs diegene met ’n betrekking voel dikwels onveilig. ‘Wie gaan volgende afgedank word?’ is die kwellende vraag. Omdat so baie mense op skuld lewe, veroorsaak hierdie wesenlike bedreiging daaglikse bekommernis. Daar is meer as 30 miljoen werkloses in net die Westerse nasies. Een kommentator het selfs die somber waarskuwing gerig dat baie van die werkloses dalk nooit weer sal werk nie!
Internasionale bankiers hou hulle asem op terwyl hulle kyk hoedat die een land na die ander bankrot speel. The Guardian het berig: “In die afgelope drie jaar moes om en by 25 lande banke en regerings om uitstel vra om hulle skulde te vereffen, en die meeste van hulle het meer as een keer teruggekom.” Die ekonomiese situasie is dus nog ’n faktor by die vervulling van Jesus se woorde dat ‘mense se harte sal beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom’.
Vrees en die buitenste ruimte
Die mens se vrese en angs is nie net die produk van sy aardse probleme nie. Sedert 1914 het onheilspellende en vernietigende kragte gedurende twee wêreldoorloë en talle ander groot botsings uit die lug neergereën. Maar nou kom die bedreiging van veel hoër as net die lug bo ons—dit skuil in die buitenste ruimte. Die Spaanse dagblad El Pais het onlangs die opskrif bevat: “Die ruimte word omskep in ’n teater van krygsverrigtinge.” Die artikel het gesê: “Die Verenigde State sowel as die Sowjet-Unie gee dus nog ’n tree in die ruimtewedloop, waarvan die militêre aspekte in onlangse maande op skouspelagtige wyse beklemtoon is. Daar kan gesê word dat die eeu van die offensiewe bewapening van die ruimte begin het.”
Die bedreiging uit die buitenste ruimte word bevestig deur ’n verklaring deur luitenant-generaal Richard C. Henry, adjunk-bevelvoerder van die V.S.A. se Ruimtebeheer, wat gesê het: “Die ruimte is nie ’n sending nie, dit is ’n plek. Dit is ’n operasionele gebied. Dit is nou tyd dat ons dit as ’n operasionele gebied bejeën.” En generaal Robert T. Marsh, bevelvoerder van die Lugmagbeheer, het bevestig: “Die pendeltuig sal die manier waarop ons onderhandel, verander. Ons sal daarop staat maak vir die lansering van feitlik al ons nasionale veiligheidsloonvragte [lees hier, krygstoerusting].” Hierdie opmerkings toon dat die ruimte nie meer as ’n onskadelike lugleegte beskou kan word nie. Die sekretaris-generaal van die VVO het gewaarsku: “Ons moet die toenemende bewapening van die buitenste ruimte kragtig teenstaan. Ons het tyd—maar baie min.” Slegs die tyd sal leer watter verdere tekens in die ryk van die “son en maan en sterre” gaan verskyn om vrees om verwagting te veroorsaak.—Lukas 21:25.
Anders as vorige geslagte?
Party is geneig om die Bybel se waarskuwings te onderskat en sê dat vroeëre geslagte soortgelyke krisisse beleef het en dat die huidige vrees en angs nie ’n teken van die einde is soos deur Jesus voorspel is nie. Vorige geslagte het weliswaar onheil beleef. Die 14de eeu was die tyd van die Swart Dood toe mense dwarsoor Europa in vrees gelewe het vir pes, hongersnode en oorloë. Maar vergelyk dit ’n bietjie met die omvang van probleme in ons eeu.
Wetenskaplike René Dubos het onlangs geskryf: “Die duisend duiwels van die huidige maatskaplike, tegnologiese en omgewingskrisisse ontstel my net soveel soos vir ander. . . . Ek besef ook dat verskeie aspekte van die teenswoordige wêreldprobleme hulle kwantitatief en kwalitatief verskillend maak van dié van die verlede. Byvoorbeeld: . . . Vandag se probleme is nie meer geïsoleerd en ’n tot klein bevolkingsgroepe beperk nie.” (Ons kursiveer.) Hy het ook die skadelike gevolge op ’n wêreldskaal van agentia soos radioaktiwiteit, suurreën en plaagdoders opgenoem. Nog ’n faktor is die groter onderlinge afhanklikheid van die nasies sodat almal geraak word deur ’n krisis soos die een wat in 1973 veroorsaak is deur die verhoging van die olieprys. Dit was nie die geval in vorige geslagte nie.
Daarom is dit eenvoudig nie waar dat vorige geslagte ewe veel vrees en angs ervaar het en dat hulle dit ervaar het weens die redes wat Jesus in Lukas hoofstuk 21 gemeld het nie. Geen geslag voor dié van 1914 het ooit ’n wêreldoorlog beleef nie, wat nog te sê twee. Geen vorige geslag het ooit te kampe gehad met die kranksinnigheid van “gewisse wedersydse vernietiging” deur middel van kernwapens nie. Geen vorige geslag het ooit die aardbol met sulke wydverspreide besmetting en besoedeling verderf nie.—Openbaring 11:18.
En nog ’n belangrike faktor—geen vorige geslag het ooit so ’n omvattende verkondiging van ‘hierdie goeie nuus van die Koninkryk in die hele wêreld tot ’n getuienis’ gesien nie (Mattheüs 24:14). Jehovah se Getuies doen dit nou in meer as 200 lande, in elke nasie waar God dit moontlik gemaak het. Dit is een rede waarom jy nou hierdie tydskrif lees. God se boodskap van hoop en oordeel word op tyd verkondig. Dit is ’n gewisse teken dat die einde binnekort moet kom. En dan? Jesus antwoord: “Julle [moet] . . . weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur.”—Lukas 21:29-33.
As jy meer inligting oor hierdie interessante onderwerp verlang, staan dit jou vry om aan die uitgewers van hierdie tydskrif te skryf of met die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies by hulle Koninkryksaal in aanraking te kom. Jou vrae sal sonder enige verpligting beantwoord word.
[Prent op bladsy 5]
Volgens een ondersoek besit 52 persent van Amerikaanse gesinne vuurwapens
[Prent op bladsy 7]
‘Die ruimte is nie ’n sending nie—dit is ’n operasionele gebied’