Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 6/1 bl. 4-6
  • Die raaisel van die verlore naam opgelos

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die raaisel van die verlore naam opgelos
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is die naam in antieke tye gebruik?
  • Het Joodse tradisie ’n invloed op jou Bybel gehad?
  • Wat is die beweegrede?
  • Die goddelike naam in latere tye
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Jehovah
    Redenering uit die Skrif
  • Die uitdaging om God by name te ken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Hoe om die enigste ware God te identifiseer
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 6/1 bl. 4-6

Die raaisel van die verlore naam opgelos

TOE die Israelitiese leier Moses nagenoeg 3 500 jaar gelede begin het om die mensdom se geskiedenis op skrif te stel, het hy natuurlik sy moedertaal, Hebreeus, gebruik. Daardie geskiedenis beslaan die eerste vyf boeke van die 39 wat die Hebreeuse Skrifte, ook algemeen bekend as die Ou Testament, uitmaak. Daardie Skrifte bevat God se kenmerkende naam byna 7 000 keer. En wat is daardie naam?

Die Naam is so heilig dat die Skepper ’n gebod aan Israel gegee het oor die gebruik daarvan. Dit lui: “Jy mag nie die naam van Jahweh [Hebreeus: יהוה] jou God misbruik nie” (Exodus 20:7, The Jerusalem Bible], “Jy mag nie die naam van Jehovah jou God oneerbiedig gebruik nie” (The Living Bible). Herken jy daardie naam “Jahweh” of “Jehovah”? Of klink dit vir jou onbekend?

Kyk weer na daardie gebod. Het God verbied dat sy naam gebruik of geuiter word? Nee. Hy het klaarblyklik die misbruik daarvan verbied.

Slaan gerus daardie teks—Exodus 20:7—in jou eksemplaar van die Bybel na. Dit sal jou dalk verbaas. In die meeste vertalings lui dit min of meer soos volg: “Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie” (Afrikaanse Bybel, 1933; Authorized Version, 1611; Jewish Publication Society, 1917; Revised Standard Version, 1952). “Julle mag nie die Here julle God se naam onverskillig gebruik nie.”—Die Lewende Bybel, 1982.

Het jy iets eienaardigs opgemerk? Ja, in baie vertalings van die Bybel is die Goddelike Naam weggelaat! Die allerbelangrikste naam in die heelal is uit miljoene eksemplare van die Christendom en Judaïsme se gewildste vertalings weggelaat. Hoe eienaardig tog!

Kan dit te wyte wees aan ’n misverstand? Of is dit ’n doelbewuste poging om die Soewereine Heer Jehovah te verlaag? Indien laasgenoemde die geval is, is dit ’n bedrog van die allerernstigste aard, een wat ’n mens se verhouding met sy Skepper raak.

Is die naam in antieke tye gebruik?

God se naam word sedert die begin van die mens se geskiedenis gebruik. Hoe weet ons dit? Omdat die Bybel se geskiedverslag ons meedeel: “En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het ’n man verkry met die hulp van die Here.” In The NIV Interlinear Hebrew-English Old Testament verskyn dit soos volg:

אֶת־ קַיִן וַתּאֹמֶר קָנִיתִי

I-brought-forth and-she-said Cain ***

אִישׁ אֶת־ יְהוָה ‏׃ וַתֹּסֶף

and-she-continued (2) Yahweh with man

Hier staan God se kenmerkende naam duidelik uit as “Yahweh”.—Genesis 4:1.

Wat toon dit? Dat die aarde se heel eerste mensebewoners hulle Skepper se persoonlike naam geken het. Hierdie naam is deurgaans met die een ware God geassosieer tydens die opskrifstelling van die Hebreeuse Skrifte—’n tydperk van meer as ’n duisend jaar. Aangesien dit die geval is, is die vraag: Hoe en wanneer is daar begin om die naam “Jehovah” of “Jahweh” te verberg?

Het Joodse tradisie ’n invloed op jou Bybel gehad?

Dit is moeilik om te sê presies wanneer daar begin is om God se naam te vermy. Maar daar is getuienis dat ’n bygeloof voor die jaar 70 G.J. onder die tradisievaste Jode ontstaan het wat meegebring het dat hulle nie meer God se persoonlike naam wou uitspreek nie. Nadat die Goddelike Naam eeue lank gebruik is, het die Joodse godsdiensowerheid klaarblyklik besluit dat dit te heilig is om uitgespreek te word en dat ’n algehele verbod op die gebruik van die naam die enigste manier was om te voorkom dat dit misbruik word. Dit is net so onlogies as wat dit sou wees om die huwelik te verbied om owerspel te voorkom!

Het daardie Joodse tradisie die Christendom se Bybelvertalers beïnvloed? Het hulle God se naam verheerlik, of het hulle die Joodse dwaling laat voortbestaan en sy naam verswyg? Is jou Bybel gebrekkig op hierdie gebied? ’n Kykie na ’n paar hedendaagse vertalings sal daardie vrae beantwoord.

Die redakteur van An American Translation (1923 deur Smith-Goodspeed) het geskryf: “In hierdie vertaling het ons die ortodokse Joodse tradisie gevolg en die naam ‘Jahweh’ deur ‘die Here’ vervang.” (Ons kursiveer.) Die voorwoord tot The New International Version (1978) sê: “Wat die goddelike naam YHWH betref, . . . het die vertalers die gebruik gevolg van die meeste Engelse weergawes om daardie naam as ‘HERE’ weer te gee.”

Die Revised Standard Version (1952) het die goeie voorbeeld van sy voorganger, die American Standard Version (1901), wat Jehovah deurgaans gebruik het, verwerp en verduidelik: “Die huidige hersiening keer terug na die prosedure van die Koning Jakobus-vertaling [1611], wat die presedent volg wat geskep is deur die antieke Griekse en Latynse vertalers en die gevestigde gebruik wanneer die Hebreeuse Skrifte in die sinagoge gelees is.”—Ons kursiveer.

Joodse tradisie het ongetwyfeld bygedra tot die wêreldwye onkunde oor die allerbelangrikste naam in die heelal. En die meeste van die Christendom se vertalers het hulle dit laat geval. Maar waarom? Waarom wil hulle nie hê dat jy die naam Jehovah of Jahweh in jou Bybel moet vind nie?

Wat is die beweegrede?

David Clines, ’n lektor in die departement Bybelstudie aan Engeland se Sheffield-Universiteit gee onbedoeld vir ons ’n leidraad oor die vertalers se beweegredes. In die tydskrif Theology het hy geskryf: “Een gevolg van die afwesigheid van Jahweh in die Christelike bewussyn is die neiging om op die persoon van Christus as die uitsluitlike openbaring van Godheid te konsentreer . . . In liedere soos . . . ‘Wat ’n vriend het ons in Jesus’ . . . vind ons in die praktyk iets wat in die teorie heftig ontken sal word, naamlik ’n unitarisme van die tweede persoon van die Drie-eenheid.” Professor Clines maak dan die gevolgtrekking: “In die praktyk was dit dus die gebruik van trinitariese teologie om ’n sentrale plek aan die persoon en werk van Christus te gee. Die rolle van Vader [Jehovah] en Gees, hetsy in die teologie of in die liturgie, is gereeld ondergeskik gemaak aan dié van die Seun.

Wat is die eindresultaat hiervan? Vir die Jode het die Soewereine Heer Jehovah verkeerdelik ’n naamlose abstraksie—“die Godheid”—geword. Vir baie Protestante is hy saamgesmelt met Christus en beklee hy die tweede plek in hulle drie-enige Godheid. In Katolieke godsdiensgebruik is Jehovah nie alleen deur Jesus Christus verdring nie, maar ook deur Jesus se moeder, Maria. Waarom? Omdat Maria, vanweë die Drie-eenheidsbegrip, ook as die “Moeder van God” beskou word. Dit het Jehovah die liefde van die deursnee-Katoliek ontneem.

Wie is Jehovah vir jou? Gaan jy hom intiem leer ken? Jou besluit gaan ’n groot uitwerking op jou toekoms hê, want Jehovah het gesê: “Ek sal my grote Naam heilig wat onder die nasies ontheilig is, . . . en die nasies sal weet dat Ek [Jehovah] is, spreek die Here [Jehovah], as Ek My in julle voor hul oë as die Heilige laat ken.”—Esegiel 36:23, vgl. NW.

Gelukkig vir die mensdom het Jehovah in hierdie 20ste eeu sy getuies verwek wat sy naam en voorneme onverskrokke verkondig. As jy graag die ware en lewende God, Jehovah, wil leer ken, moet jy met Jehovah se Getuies in julle omgewing of met die uitgewers van hierdie tydskrif in verbinding tree. Hulle sal jou kosteloos, sonder enige verpligting en met genoeë help om die hemelse Vader, Jehovah, te leer ken.—Jesaja 43:10, NW; Mattheüs 6:9.

[Lokteks op bladsy 5]

God se unieke naam verskyn byna 7 000 keer in die Hebreeuse teks van die Bybel. Is dit in jou Bybel?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel