Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 2/8 bl. 7-9
  • Hoe om die enigste ware God te identifiseer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om die enigste ware God te identifiseer
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Identifiserende naam
  • Jehovah of Jahweh?
  • Maak dit werklik saak?
  • Die ware God se eienskappe
  • Die ware God word geopenbaar
  • Jehovah
    Redenering uit die Skrif
  • Wie is Jehovah?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Waarom moet ons God se naam gebruik as die uitspraak daarvan onseker is?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • A4 God se naam in die Hebreeuse Geskrifte
    Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 2/8 bl. 7-9

Hoe om die enigste ware God te identifiseer

AMPER so lank as wat mense al bestaan, het hulle baie gode gehad. Daar was al so baie dat dit moeilik is om presies te sê hoeveel gode en godinne regoor die aarde aanbid is—maar daar is miljoene.

Noudat ons vasgestel het dat daar wel ’n God is, wil ons weet: Watter een van al die gode wat, nou en in die verlede, regoor die aarde aanbid is, is die ware God? Die Bybel sê duidelik in Johannes 17:3 dat daar net een ware God is wat as sodanig geïdentifiseer kan word: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”

’n Identifiserende naam

Dit is redelik dat enige god met ’n persoonlikheid ’n persoonlike naam moet hê om hom van ander gode te onderskei wat hulle eie name het. Dit sal verkieslik ’n naam wees wat deur die god self gekies is, en nie ’n naam wat deur sy aanbidders uitgedink is nie.

In hierdie verband kom ’n baie eienaardige situasie aan die lig. Terwyl die meeste gevestigde godsdienste hulle gode persoonlike name gee, het die Joodse en hoofstroomkerke van die Christendom nie die god wat hulle aanbid met ’n kenmerkende persoonlike naam geïdentifiseer nie. Hulle het eerder gebruik gemaak van titels soos Here, God, die Almagtige en Vader.

Die skrywer David Clines het in die publikasie Theology die volgende gesê: “Iewers tussen die vyfde en die tweede eeu v.C. het ’n tragedie God getref: hy het sy naam verloor. Om meer presies te wees, die Jode het opgehou om God se persoonlike naam Jahweh te gebruik en het met verskillende omskrywings na Jahweh begin verwys: God, die Here, die Naam, die Heilige, die Teenwoordigheid en selfs die Plek. Selfs op plekke waar Jahweh in die Bybelteks geskryf was, het lesers die naam as Adonai uitgespreek. Met die finale val van die tempel het selfs die buitengewone liturgiese gebeurtenisse wanneer die naam gebruik is, opgehou, en selfs die kennis van die uitspraak van die naam het verlore gegaan.” Maar niemand kan met sekerheid sê presies wanneer ortodokse Jode opgehou het om God se naam hardop uit te spreek nie en dit met die Hebreeuse woorde vir God en Soewereine Heer vervang het nie.

Dit lyk dus of die heel eerste vereiste om “die enigste ware God” te identifiseer, is om hom by name te leer ken. So ’n soektog is glad nie moeilik nie, want die naam van die almagtige God, die Skepper, word duidelik en eenvoudig in Psalm 83:18 gestel: “Dat mense kan weet dat u, wie se naam alleen JEHOVAH is, die allerhoogste oor die hele aarde is.”—King James Version.

Jehovah of Jahweh?

Hoewel die naam Jehovah in die King James Version en ander Bybelvertalings verskyn, verkies party om die naam Jahweh in plaas van Jehovah te gebruik. Watter naam is korrek?

Die oudste Bybelmanuskripte is in Hebreeus geskryf. In die Hebreeuse Geskrifte verskyn die Goddelike naam byna 7 000 keer en word dit met vier medeklinkers gespel—JHWH of JHVH. Hierdie woorde met vier medeklinkers wat algemeen as die Tetragrammaton, of Tetragram, bekend staan, is afkomstig van twee Griekse woorde wat “vier letters” beteken. Nou ontstaan die kwessie van juiste uitspraak aangesien ou Hebreeuse woorde uit medeklinkers bestaan het met geen klinkers om die leser te lei nie. Of die uitspraak van die Tetragrammaton Jahweh of Jehovah word, hang dus af van watter klinkers die leser by die vier medeklinkers voeg. Vandag verkies baie Hebreeuse geleerdes Jahweh as die regte uitspraak.

Maar konsekwentheid laat Jehovah na ’n beter vorm lyk. Hoe so? Die uitspraak Jehovah word al eeue lank in Engels aanvaar. Diegene wat beswaar maak teen die gebruik van hierdie uitspraak moet ook beswaar maak teen die gebruik van die aanvaarde uitspraak van Jeremia en selfs Jesus. Jeremia sal verander moet word na Jir·mejahʹ of Jir·mejaʹhoe, die oorspronklike Hebreeuse uitsprake, en Jesus sal Je·sjoeʹaʽ (Hebreeus) of I·e·sousʹ (Grieks) word. Gevolglik voel baie Bybelstudente, met inbegrip van Jehovah se Getuies, dat konsekwentheid die gebruik van die reeds welbekende Engelse “Jehovah” en sy ekwivalente in ander tale na ’n beter vorm laat lyk.

Maak dit werklik saak?

Party voer dalk aan dat dit nie werklik saak maak of ’n mens die almagtige God met ’n persoonlike naam aanspreek of nie, en hulle is tevrede daarmee om van God te praat en hom aan te spreek as Vader of bloot as God. Maar albei hierdie terme is titels en nie name nie, en dit is ook nie persoonlik of onderskeidend nie. In Bybeltye is die woord vir God (ʼElo·himʹ, Hebreeus) gebruik om enige god te beskryf—selfs die heidense Filistynse god met die naam Dagon (Rigters 16:23, 24). As ’n Hebreër dus vir ’n Filistyn gesê het dat hy as Hebreër “God” aanbid het, sou dit nie die ware God wat hy aanbid het, geïdentifiseer het nie.

’n Kommentaar in The Imperial Bible-Dictionary van 1874 is interessant: “[Jehovah] is oral ’n eienaam en verwys na die persoonlike God en na hom alleen; terwyl Elohim meer die aard van ’n soortnaam het, wat gewoonlik, maar nie noodwendig of deurgaans nie, na die Allerhoogste verwys. . . . Die Hebreër sal dalk sê die Elohim, die ware God, in teenstelling met alle valse gode; maar hy sê nooit die Jehovah nie, want Jehovah is alleen die naam van die ware God. Hy sê keer op keer my God . . . ; maar nooit my Jehovah nie, want wanneer hy my God sê, bedoel hy Jehovah. Hy praat van die God van Israel, maar nooit van die Jehovah van Israel nie, want daar is nie ’n ander Jehovah nie. Hy praat van die lewende God, maar nooit van die lewende Jehovah nie, want hy kan Jehovah nie anders as lewend voorstel nie.”

Die ware God se eienskappe

Om bloot te weet wat iemand se naam is, beteken natuurlik nie dat ons hom of haar goed ken nie. Die meeste van ons ken die name van bekende politici. Selfs vername manne en vroue in ander lande het dalk name wat aan ons goed bekend is. Maar om bloot te weet wat hulle name is—selfs om dit reg uit te spreek—beteken nie op sigself dat ons hierdie mense persoonlik ken of weet watter soort mense hulle is nie. Ons moet eweneens die enigste ware God se eienskappe leer ken en waardeer as ons hom wil ken.

Hoewel dit so is dat mense nooit die ware God sal kan sien nie, het hy goedgunstiglik baie besonderhede van sy persoonlikheid vir ons in die Bybel laat opteken (Exodus 33:20; Johannes 1:18). Sekere Hebreeuse profete is geïnspireerde visioene van die almagtige God se hemelse hof gegee. Wat hulle beskryf, beeld nie net groot waardigheid en ontsagwekkende majesteit en mag uit nie, maar ook kalmte, orde, skoonheid en aangenaamheid.—Exodus 24:9-11; Jesaja 6:1; Esegiël 1:26-28; Daniël 7:9; Openbaring 4:1-3.

Jehovah God het sommige van sy aantreklike en innemende eienskappe aan Moses beskryf, soos opgeteken is in Exodus 34:6, 7: “[Jehovah, Jehovah, NW] barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe.” Stem jy nie saam dat ons nader aan God kom en dat ons beweeg word om meer van hom as persoon te wil weet wanneer ons van hierdie eienskappe leer nie?

Hoewel geen mens Jehovah God ooit in sy luisterryke heerlikheid kan sien nie, is daar opgeteken dat Jesus Christus, toe hy ’n mens op die aarde was, in werklikheid weerspieël het watter soort persoon Jehovah God, sy hemelse Vader, is. By een geleentheid het Jesus gesê: “Die Seun kan nie ’n enkele ding op eie inisiatief doen nie, maar net wat hy die Vader sien doen. Want alles wat daardie Een doen, dít doen die Seun ook net so.”—Johannes 5:19.

Ons kan dus hieruit aflei dat Jesus se goedhartigheid, medelye, sagmoedigheid en hartlikheid sowel as sy groot liefde vir regverdigheid en haat vir goddeloosheid alles eienskappe is wat Jesus in sy Vader, Jehovah God, waargeneem het terwyl Jesus saam met hom in die hemelse hof was voordat hy ’n mens op die aarde geword het. Wanneer ons waarlik met insig weet wat die volle betekenis van die naam Jehovah is, het ons dus beslis alle rede om daardie heilige naam lief te hê en te loof, om dit te prys en te verheerlik en om daarop te vertrou.

Om die enigste ware God op hierdie manier te leer ken, is in werklikheid ’n nimmereindigende proses, soos duidelik getoon word deur die woorde van Johannes 17:3: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.” Ja, om kennis van die enigste ware God, Jehovah, en van sy Seun, Jesus Christus, in te neem, is ’n proses wat nooit moet ophou nie.

Die ware God word geopenbaar

Die ware God kan derhalwe maklik van die talle valse gode onderskei word. Hy is die almagtige Skepper van die heelal, met inbegrip van die planeet Aarde en die mense wat daarop is. Hy het ’n unieke persoonlike naam—Jehovah of Jahweh. Hy is nie deel van ’n geheimsinnige drie-enige god, of Drie-eenheid, nie. Hy is ’n God van liefde, en hy dra die beste belange van sy menseskepping op die hart. Maar hy is ook ’n God van geregtigheid, en hy sal nie vir ewig diegene duld wat aanhou om die aarde te verderf en oorloë en geweld aanstook nie.

Jehovah het sy vasbeslotenheid geopenbaar om die aarde nie net van goddeloosheid en lyding te bevry nie, maar ook om dit ’n paradys te maak waar opregtes van hart vir ewig in geluk kan lewe (Psalm 37:10, 11, 29, 34). Die almagtige God het nou sy Seun, Jesus, as die hemelse Koning van God se Koninkryk gekroon, en binnekort sal Jesus daardie nuwe wêreld van regverdigheid bring en weer Paradystoestande op ons aarde herstel.—Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10.

Ons hoop dat dit nou vir jou makliker sal wees om die vraag: Bestaan God werklik? te beantwoord en om die ware God te identifiseer.

[Prent op bladsy 9]

Jesus Christus het Jehovah as die enigste ware God geïdentifiseer

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel