Die apostel Petrus spreek tot jou
DIT is nie vandag maklik om ’n Christen te wees nie. ’n Mens het met baie druk te kampe. In party lande probeer die Staat ons dwing om dinge te doen wat teen ’n Christelike gewete indruis. Baie Christinne se mans is ongelowiges. Jongmense word gelok deur die glans en “wysheid” van die wêreld. En nadat hulle dekades lank gewag het, wonder party dalk: ‘Gaan Armageddon ooit kom?’
As jy met sulke probleme te kampe het—en watter Christen het nie?—spreek die apostel Petrus se twee briewe in die Bybel regstreeks tot jou. Petrus het waarskynlik net meer as 30 jaar na Jesus se dood aan gemeentes van sy dag geskryf. Maar die probleme waarmee Christene te kampe het, het deur die eeue heen nie veel verander nie. Die raad wat Petrus gegee het, is nou net so gepas soos destyds. En hy was deeglik bekwaam om sulke raad te gee.
’n Bekwame herder
Deur die Evangelieverslae en die boek Handelinge te lees, kom ons baie te wete omtrent die visser van Galilea wat die apostel Petrus geword het. Hy was eg menslik. Daar het nooit enige twyfel bestaan oor sy lojaliteit aan Jesus nie, maar hy was impulsief en het soms foute begaan. Ons herken dalk iets van onsself in Petrus en in party van sy ongelukkige ervarings.
Dink byvoorbeeld aan Petrus se reaksie toe hy Jesus op die water sien loop het. Opgewonde wou hy ook graag op water loop. Maar toe hy besef waar hy was, het hy bang geword en moes hy gered word. Dink ook aan die keer toe Petrus onverskrokke volgehou het dat hy nooit sou struikel nie. Maar ’n paar uur later het hy Jesus drie keer verloën.—Mattheüs 14:23-34; 26:33, 34, 69-75.
Maar die skrywer van hierdie twee kanonieke briewe het verander sedert die dag toe Jesus hom die streng woorde toegevoeg het: “Gaan weg agter My, Satan!” (Mattheüs 16:23). Dit is die apostel wat die opdrag van Jesus ontvang het: “Laat my skape wei” (Johannes 21:17). In Petrus se briewe kom ons ’n man teë wat deur meer as 30 jaar se ‘herderswerk’ getemper is.
Wanneer ons sy vermaning lees: ‘Julle moet mekaar vurig liefhê uit ’n rein hart’, onthou ons dat dit die apostel was wat vir Jesus gevra het: ‘Hoe dikwels moet ek my broer vergewe? Tot sewe maal toe?’ Teen hierdie tyd weet Petrus dat daar geen perke is aan die liefde wat Christene vir mekaar moet hê nie (1 Petrus 1:22; Mattheüs 18:21). En wanneer hy sy mede-Christene aanspoor om ‘nugter te bly om te kan bid’, sien ons dat hy ’n deeglike les geleer het sedert daardie verskriklike nag in Getsemane toe Jesus die apostels verlaat het terwyl hulle besig was om te bid en teruggekeer het om hulle aan die slaap te vind.—1 Petrus 4:7; Lukas 22:39-46.
Ja, die visser van Galilea het ’n bekwame herder geword. En omdat hy deur die Heilige Gees geïnspireer is, is sy herderswerk in ons dag net so waardevol as wat dit in syne was. Beskou van sy raad.
Waardeer die geloof
In die eerste eeu was die Judees-Romeinse wêreld luisterryk en sterk. Dit was belangrik vir Christene om nie deur die wêreld se glans verlei te word of deur die druk daarvan gedwing te word om tou op te gooi nie. Petrus begin dus deur sy lesers aan te spoor om ‘die lendene van hulle verstand te omgord en nugter te wees’ (1 Petrus 1:13). Hoe? Deur ’n diepe waardering te hê vir die voorregte wat hulle geniet het.
Petrus het hulle daaraan herinner dat die profete van die ou tyd en selfs die engele intens belanggestel het in die dinge wat God aan Christene geopenbaar het. Hy het getoon hoe geseënd hulle was: hulle is met die bloed van Jesus Christus gekoop, hulle is uit onverganklike saad deur God se ewige Woord gebore en saamgevoeg tot “’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry” (1 Petrus 2:9). Hulle moes onthou wie hulle was: vreemdelinge in ’n goddelose wêreld—persone wat Jehovah God se groot barmhartigheid geniet het.
Vandag is daardie antieke wêreld net ’n herinnering. Maar ons lewe steeds in ’n goddelose wêreld wat ons met sy versoekings verlok of ons aandag met sy druk aflei. Petrus se raad is steeds goed. Ons moet nooit die dinge wat ons het uit die oog verloor nie. Ons moet ‘sterk verlang na die onvervalste melk van die woord, sodat ons daardeur kan opgroei’ om te voorkom dat ons deur die sinisme en sekularisme van vandag se wêreld oorweldig word.—1 Petrus 2:2.
Blydskap ondanks probleme
Die feit dat ons in ’n goddelose wêreld lewe, skep dikwels probleme, net soos in Petrus se dag. Drie situasies wat hy meld, is (1) ’n Christen se verantwoordelikheid teenoor die Staat, (2) ’n Christen-dienskneg se verhouding tot sy heer en (3) ’n Christin se pogings om haar ongelowige man onderdanig te help.
Destyds was dit sake van lewe en dood. Heersers het dikwels die gesag gehad om nie-Romeinse burgers te martel en tereg te stel. Diensknegte kon weinig doen indien hulle eienaars hulle wreed behandel het. Vrouens was die eiendom van hulle mans, en hulle het min wetlike regte gehad.
Christene het vandag nog steeds probleme in hulle handelinge met die “keiser” of hulle werkgewers, al kom die situasie nie presies ooreen met die heer-diensknegverhouding nie. En baie Christinne met ongelowige mans het met groot probleme te kampe. Die apostel Petrus se raad is dus van onskatbare waarde. Wat sê hy?
Kortom, hy raai ons aan om drie dinge te onthou. Eerstens, ons moet die regte beskouing van onderworpenheid hê—almal moet onderdanig wees aan die regering, werknemers moet hulle werkgewers gehoorsaam en vrouens moet hulle mans respekteer en gehoorsaam. Tweedens, ons handelwyse moet vir ongelowiges toon dat die Christelike godsdiens die beste lewenswyse is (1 Petrus 3:1; 4:15). Laastelik, ons moet ’n goeie gewete voor Jehovah God behou en altyd bereid wees om die rede vir ons optrede sagmoedig te verduidelik.—1 Petrus 3:15, 16.
Sal dit al ons probleme oplos? Petrus het geweet dat dit nie die geval sou wees nie. Daar breek tye aan wanneer die wêreld eise stel waaraan ’n Christen nie kan voldoen nie. Ons moet gevolglik ter wille van die geregtigheid ly. Maar Petrus sê: “Dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly.”—1 Petrus 2:19.
Trouens, die regte beskouing van lyding ter wille van geregtigheid is dat dit ’n rede tot blydskap is. Petrus het dit uit persoonlike ondervinding geweet. Baie jare tevore is hy ter wille van sy geloof geslaan. Daarna het hy en sy medelyers weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly” (Handelinge 5:41). Hy het dus nou aan Christene wat vervolg is, geskryf: “Namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees.”—1 Petrus 4:12, 13.
Petrus het vir die broers gesê dat hulle in werklikheid deur Jehovah opgelei word. Hy het gesê: “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God.” Hy het vir hulle gesê dat hulle mekaar moet liefhê, en dat die ouere manne met die regte beweegredes as herders toesig oor die kudde moet hou. En hy het belowe dat “die God van alle genade” hulle binnekort sou “volmaak, bevestig, versterk en grondves!”—1 Petrus 5:1-3, 6, 10.
Is hierdie raad nie nou net so tydig soos destyds nie? Is dit nie asof Petrus regstreeks met jou praat nie? Stel jou voor hoe dit die Christene in Petrus se dag versterk het. Maar die bejaarde apostel moes kort daarna ’n tweede brief skryf om sy broers teen ’n boosaardige bedreiging te waarsku.
’n Boosaardige bedreiging
In sy tweede brief sê Petrus dat die nodigheid om sy mede-Christene te waarsku dringender was omdat hy nie veel langer sou lewe nie. Hy noem die eienskappe op wat Christene moet aankweek om sterk te bly en hy praat van kragte wat in die gemeente sou kop uitsteek om hulle te verswak.—2 Petrus 1:5-8, 14, 16.
Hy waarsku dat “daar onder julle valse leraars sal wees” (2 Petrus 2:1, 2). Hierdie valse leraars sou losbandigheid in die hand werk en bedrewe wees in die gebruik van “verdigte woorde”. Maar hulle sou een belangrike punt uit die oog verloor: “Die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos en die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word” (2 Petrus 2:3, 9). Hulle sou dalk ’n ruk lank floreer, maar hulle oordeel was seker.
Ander sou spottend sê: “Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.” Hulle sou ook gerieflikheidshalwe vergeet dat Jehovah tyd nie soos ons meet nie. En hy is geduldig. Maar net so seker as wat die einde in Noag se dag gekom het, sal die einde van hierdie stelsel kom.—2 Petrus 3:4-10.
Laastelik, in Petrus se dag het party in die gemeente ‘die Skrifte verdraai’. Maar dit sou tot hul eie verderf lei.—2 Petrus 3:16.
Met die oog op hierdie bedreigings wou Petrus die broers se ‘vermoë om helder te dink opwek’ (2 Petrus 3:1, NW). Hulle moes nie die geskiedkundige bewyse vergeet dat Jehovah die goddelose kan vernietig en die regverdiges kan red nie, en hulle moes ‘die koms van die dag van Jehovah verhaas’ (2 Petrus 3:12). Daardie dag is ’n werklikheid. Dit kom. Dit moes al hulle dade en planne beïnvloed het.—2 Petrus 1:19-21.
Omdat ons so na aan daardie dag lewe, is Petrus se aansporing selfs nog dringender: “Beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede” (2 Petrus 3:14). Daardie woorde geld waarlik vir ons. Die apostel Petrus spreek tot elkeen wat sy hoop gestel het op Jehovah se beloofde “nuwe hemele en ’n nuwe aarde”. Sy finale aansporing weerklink gevolglik deur die eeue heen met al die krag van sy apostoliese gesag: “Julle [moet] op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie. Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.”—2 Petrus 3:13, 17, 18.