Musiek was my hele lewe
Soos vertel deur Gordon Grant
DAAR was ’n ou regopklavier in ons voorhuis. Toe ek groot genoeg was om op die bankie te klim, het ek probeer om op die klavier te speel. Toe ek omtrent vier of vyf jaar oud was, het my ouma my na uitvoerings geneem, iets wat ek baie geniet het. En toe ek ses jaar oud was, het my ouers my klavierlesse laat neem.
Ek was dadelik lief vir die klavier en het vinnig gevorder. Dit was nie lank voordat ek tuis vir gaste en in skoolkonserte gespeel het nie. Ek het my vroeë opleiding in klassieke musiek ontvang, maar toe ek my tienderjare binnegaan, het ek in jazz begin belangstel. Ek het aanvanklik van dixieland-jazz gehou, maar later het ek in die meer kontemporêre soorte begin belangstel. Destyds, in die middelvyftigerjare, het ruk-en-pluk baie gewild geraak onder die jongmense van my ouderdom. Maar vir my was dit herhalend en te eenvoudig. Die woorde was myns insiens sinloos en die verhoogkunstenaars amateuragtig. Ek het my dus op my geliefkoosde jazz toegelê. Ek het vriende gehad wat ook daarvan gehou het om jazz te speel, en dit was nie lank voordat ons by skoolpartytjies gespeel het nie. Ons het soms die hele middag lank jazz by my ouers se huis geoefen.
Deur my hele skoolloopbaan was musiek ’n aangename tydverdryf, maar ek het dit nooit ernstig as ’n loopbaan oorweeg nie. Trouens, in 1958 het ek by die Sentrale Oklahoma-Staatskollege vir ’n graad in die wiskunde ingeskryf. Ek het dadelik in verbinding getree met die musikante by die universiteit. Hulle het vir studentedanse gespeel en ook gereeld teen vergoeding by ander plekke in die stad Oklahoma gespeel. Hulle het my genooi om by hulle aan te sluit, en dit was nie lank voordat ek gereeld naweke gespeel het nie. Met verloop van tyd het ons werk in plaaslike nagklubs aanvaar.
My Metodistiese agtergrond het my nie beskerm nie. Die gevolg was dat my morele oortuigings gou verbrokkel het toe ek universiteit toe is en ek die naglewe van my medemusikante begin lei het.
Portuurdwang en dwelms
Ek het baie lief geword vir sterk drank en dikwels tydens my universiteitsdae dronk geword. Ek het ’n ruk lank die versoeking weerstaan om dwelms te gebruik, maar eerlank het my jazz-vriende my oorreed om dagga op die proef te stel. Ek het baie daarvan gehou en ’n gewoonte aangeleer wat omtrent tien jaar sou duur. Ek het nou en dan amfetamiene gebruik om my op te beur, maar ek het nooit werklik aan opwekmiddels of ander “strawwe” dwelms verslaaf geraak nie. Ek het egter gereeld elke dag dagga gerook. Op ’n paar uitsonderings na het al die musikante wat in die nagklubs van die stad Oklahoma gespeel het en wat ek geken het, dit ook gebruik. Baie van ons het selfs ons eie gekweek.
Nadat ek in 1963 gegradueer het, het ek aangesluit by ’n reisende groep uit Dallas, almal strawwe daggarokers. Later het ek saam met ’n groep nagklubkunstenaars uit Toronto gespeel. Ons het in stede dwarsdeur die westelike Verenigde State opgetree. Ek het gevind dat die dwelmsituasie in die stad Oklahoma oral voorgekom het. Feitlik al die nagklubmusikante gebruik dwelms.
Teen 1968 was ek terug in die stad Oklahoma. Sommige van my vriende het hulle intussen in Los Angeles gevestig en my aangespoor om soontoe te kom. Omdat daardie stad baie meer werksgeleenthede vir ’n musikant gebied het, het ek besluit om te verhuis. Hoewel dit aanvanklik my plan was om slegs as ’n onafhanklike musikant te werk, het my vriende ’n “rock”-groep gestig en was dit hulle oogmerk om groot roem in die popmusiekwêreld te verwerf.
Die “rock”-musiek van die laat sestigerjare was vir my meer gesofistikeerd en baie interessanter as die vroeëre ruk-en-pluk. Die geleentheid om in die ateljees te werk en baie geld te maak, was ook aanloklik.
Musiek en spiritisme
Dit was teen die einde van die hippie-tydvak, en almal was besig om betrokke te raak in Oosterse godsdiens asook in sterrewiggelary en ander okkulte gebruike. Dwelms was soos gewoonlik oral teenwoordig. Die musiek was natuurlik in ’n groot mate ’n weerspieëling van hierdie filosofie en lewenswyse.
Ons groep was geen uitsondering nie. Ons het baie in sterrewiggelary belang gestel. Ons is eenkeer na ’n spiritis sodat ons individuele en groepfortuin gelees kon word. Ons het ook die I Ching (’n Oosterse boek oor waarseêry) geraadpleeg. Ons vriendekring het ghoeroes en hekse ingesluit. Ek het eienaardig genoeg nie gemeen dat ons, vergeleke met ander om ons, diep by spiritisme betrokke was nie. Ons het ons groep vir die grap “Mephistopheles” (’n demon in die Faust-legende) genoem. Op ons plateomslag het ons eienaardige, verwronge beelde van onsself gehad.
Wanneer ek nou aan daardie tyd terugdink, is dit maklik om te sien watter sterk invloed dwelms en spiritisme op musiek gehad het. Dit verbaas ’n mens dus nie dat demonisme, Satanisme en onsedelikheid, vandag, 10 jaar later, aan die orde van die dag in popmusiek is nie. Ek kan ook sien watter weg my lewe ingeslaan het, en ek kan my net voorstel waarop dit kon afgestuur het as sekere dinge nie in die lente van 1969 gebeur het nie.
’n Nuwe lewensbeskouing
Talle sterrewiggelaars het voorspel dat daar in April 1969 ’n groot aardbewing aan die weskus van die Verenigde State sou wees. Die meeste lede van ons groep was heel gerieflik op daardie tydstip uitstedig. Ons het besluit dat dit ’n goeie tyd was vir ’n besoek aan Oklahoma. Wel, die aardbewing het nooit plaasgevind nie, maar uit die dinge wat ons om ons waargeneem het, het ons nietemin gevoel dat daar ’n groot omwenteling voor die deur was. Ons was van plan om baie geld te maak en na die berge te verhuis voordat alles vergaan.
Kort nadat ek uit Oklahoma teruggekeer het, het twee van Jehovah se Getuies by my deur aangeklop. Hulle het vir my uit die Bybel begin wys dat ons inderdaad in die laaste dae lewe en dat die einde van die stelsel baie naby is (Mattheüs 24:3-42). Ek dink hulle was verbaas oor hoe gou ek die feit aanvaar het dat die wêreldstelsel tot ondergang gedoem is. Die boodskap dat God die hele aarde in ’n Paradys gaan verander waar die mens vir ewig kan lewe, het baie goed geklink. Maar weens my vroeëre kontak met die valse Christendom het ek my vertroue in die Bybel verloor en het ek agterdogtig gestaan teenoor enigiets wat na bewering Christelik is. Maar ek was nuuskierig, en die Getuies het klaarblyklik hulle Bybel geken. Ek het tot ’n gereelde Bybelstudie ingestem.
Aanvanklik was daar selfsugtige oorwegings. Ek kon sien watter standaarde die Bybel vereis van diegene wat ware Christene wou wees (Mattheüs 16:24; Johannes 4:23; Jakobus 4:4). Dan was daar die musiek wat tot op daardie tydstip my lewe oorheers het. Hoewel die Bybel ’n mens nie verbied om jou bestaan met musiek te maak nie, kon ek sien dat my situasie so ’n loopbaan baie moeilik sou maak. Ek het geweet wat toewyding beteken, daar ek soveel jare lank aan musiek toegewy was. Ek het ook geweet dat Jesus se volgende woorde waar was: “Niemand kan twee here dien nie.”—Mattheüs 6:24.
’n Klemverskuiwing
Ek is mettertyd daarvan oortuig dat die Bybel werklik die Woord van God is. My liefde vir Jehovah en die begeerte om hom te dien het ook groter geword. Ek wou lewe in die Nuwe Orde wat hy beloof het (Titus 1:2). Tot op daardie stadium was my hele lewe om musiek gebou, maar nou sou dit ’n tweede plek moes beklee.
Ek is in Februarie 1971 gedoop en in September van dieselfde jaar het ek voltyds as ’n pionierprediker in Hollywood, Kalifornië, begin dien. Twee ander lede van “Mephistopheles” en twee van ons intieme vriende het ook Jehovah se Getuies geword. Ek het voortgegaan om as ’n musikant te werk, maar ek moes baie versigtig wees dat die werk wat ek aanvaar het, my nie betrek het by dinge wat ek nou weet deur God veroordeel word nie. Ek het ook as ’n skoonmaker en chauffeur begin werk om my in my bediening te onderhou.
In 1973 is ek genooi om by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, te dien. Dit is waar ek sedertdien werk. Alhoewel etlike jare verloop het sedert ek in die musiekwêreld was, speel ek steeds met en vir ander die musiek wat ek geniet, by Christelike vergaderinge sowel as by gesellighede saam met my mede-Getuies. Ek ken ander Getuies wat voortgegaan het om hulle lewe met musiek te maak en wat suksesvolle musikante sowel as suksesvolle Christenbedienaars is. Maar hulle kon dit doen slegs deur musiek op sy plek te hou. Hulle toewyding aan Jehovah en sy diens geniet voorkeur. Hulle moet ook op hulle hoede wees teen die denke en weë van hulle nie-Christelike medemusikante.—1 Korinthiërs 15:33.
Ek sien nou uit na die tyd wanneer musiek gespeel en geniet sal kan word sonder die invloed van ’n verdorwe, onsedelike stelsel. Dan sal God se regverdige beginsels die aarde oordek en sal alle musiek opbouend wees, ’n bron van lof tot Jehovah.—Jesaja 11:9; 54:13; Psalm 135:3.
[Prent op bladsy 12]
Vyftien jaar gelede
[Prent op bladsy 13]
. . . en vandag