Hedendaagse musiektendense—Kan dit jou beïnvloed?
WAT nou van hedendaagse musiek—“rock”, punk, funk, “rhythm and blues”, “country and western” en al die ander uiteenlopende tendense wat vandag vermeerder? Kan hulle, met of sonder woorde, jou denkwyse beïnvloed of jou geestelikheid ondermyn?
Bill Mullane, ’n voormalige “rock”-musikant van New Jersey, V.S.A, het dit soos volg verduidelik: “Toe ek die bas-ghitaar in ’n ‘rock’-groep gespeel het, was die hele uitwerking fisies. Die aanhoudende wilde slag en die aggressiewe styl het eenvoudig tot jou deurgedring. As ’n musikant het ek daarin opgegaan. Wanneer ek dan gesien het hoedat die gehoor reageer en deur dieselfde primitiewe drange meegesleep word, wou ek hulle nog meer beïnvloed. Dit is daardie soort klank. Dit voer jou mee. Ek was destyds natuurlik dikwels onder die invloed van dwelmmiddels, net soos baie in die gehoor ook was. Die geluksgevoel neem dus toe. Dit is asof jy alle bedwang oorboord gooi. Jy kan heeltemal dol raak en van jou inhibisies vergeet.
“Ek meen dit is waarom die soorte musiek wat deesdae gemaak word so gewild is onder die jongmense. Hulle kan hulle daarmee en met die boodskap daarvan vereenselwig. As ek nou terugdink, kan ek sien dat dit hulle gevoelens oor die wêreld en hedendaagse lewe weerspieël. Die mensdom word immers deur ’n kernoorlog bedreig. Wie weet hoe lank ons sal lewe? Hulle verkry dus die gesindheid: ‘Lewe terwyl jy kan. Haal uit die lewe wat jy kan.’”
Daardie kommentaar oor vereenselwiging bring ons by die kern van die saak. (Vergelyk 1 Korinthiërs 15:32.) Sal ’n ware Christen hom wil vereenselwig met die meeste tendense in moderne musiek? Die Toronto Star, ’n Kanadese koerant, het onlangs berig: “Seks en sadisme smelt saam in die Tubes [’n “rock”-groep in San Francisco] se konsert.” Die skrywer het ook gesê: “Dit wat vir die Tubes maatskaplike satire is, is vir enigiemand anders bloot sado-masochisme, . . . godslastering en perversie.” Wat kan die Christelike godsdiens daarmee gemeen hê?
Die New York Post het ’n artikel bevat met die titel “Die sataniese wêreld van die Rolling Stones”. Dit het ’n hele bladsy beslaan en was ’n oorsig van daardie groep se betrokkenheid by dwelms. Die Rolling Stones se gesindheid teenoor dwelms, seks en Satan blyk baie duidelik uit hulle musiek. Kan jy sulke gesindhede onderskryf en jou nogtans met Christus vereenselwig?—2 Korinthiërs 6:14, 15.
Musiek en spiritisme
Ongelukkig is dit nie die enigste gevare van baie van vandag se musiek wat die gewetensgetroue Christen in aanmerking moet neem nie. Die apostel Paulus het Christene aangespoor: “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is . . . teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efesiërs 6:11, 12). Ons moet nooit hierdie waarskuwing ligtelik opneem nie. Demoninvloed is aan die orde van die dag, en watter beter manier is daar om mense, veral die jonger geslag, te mislei as deur musiek?
Dit blyk nou dat talle hedendaagse groepe diep by spiritisme en okkulte gebruike betrokke is. Ander probeer om Oosterse godsdiens en filosofie deur hulle musiek te bevorder. Byvoorbeeld:
Robert Palmer, ’n jazz-resensent van The New York Times, het onder die opskrif “Towery deurdring ’n jazz-album” kommentaar gelewer oor die Swart jazz-groep genaamd The Art Ensemble of Chicago en gesê: “The Art Ensemble of Chicago se leuse is: ‘Pragtige Swart musiek—antiek in die toekoms’ . . . Maar die musiek is swart in meer as een opsig. Daar is . . . die swartheid van Negertoordery in die middel van die nag. Dit is nou nie juis ’n boosaardige swartheid nie, maar dit is nie die soort plaat wat ’n mens selfs by die wildste partytjie sal speel nie. . . . Dit is ’n fantasmagoriese tog tot in die hartjie van die duisternis.” Wil jy, as ’n dissipel van Christus, daardie soort musiek in jou versameling hê?
Sal dit, in die lig van wat Paulus vir die Christene in Efese oor bose geeste gesê het, vir ’n hedendaagse Christen redelik wees om plate wat demonisme en spiritisme verheerlik in sy persoonlike versameling te hê? Gestel hy weet dat party groepe die okkulte ywerig bestudeer en okkulte gebruike beoefen. Sal dit veilig wees om aan te neem dat daardie invloed nie in die woorde, die slag of selfs die plaatomslag sal inkruip nie?
Een groep speel byvoorbeeld ’n stuk met die titel “Mr. Crowley”. Wie is mnr. Crowley? ’n Twintigste-eeuse Satanaanbidder en voorstander van moderne heksery! In baie gevalle behoort een blik op die plateomslag genoeg te wees vir ’n Christengetuie van Jehovah om te besluit of hy die plaat moet koop of nie, veral as daar voorstellings van toorkuns en demonisme of simbole van die heidendom en die okkulte is.
Voormalige nagklubkunstenaar Gordon Grant, wat eens sy bestaan gemaak het deur jazz en toe “rock”-musiek in Los Angeles, V.S.A., te speel, het gesê: “Al die groepe waaraan ek verbonde was, was in die een of ander mate met spiritisme gemoeid. Wanneer jy iemand vir die eerste keer ontmoet het, het jy ’n gesprek aangeknoop met: ‘Wat is jou beeld?’ Hulle het astrologie ernstig opgeneem en jou sterrebeeld was belangrik.” Wil jy iets met astrologie en ander demongebruike te doen hê?—Deuteronomium 18:10-13.
Musiek en onsedelikheid
In sy brief aan die Efesiërs het die apostel Paulus ander reguit raad gegee wat vandag nog net soveel geld en op die gebied van musiek van toepassing is. Hy het hulle vermaan: “Hoerery en allerhande onreinheid of hebsug (onder meer seksuele hebsug] moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam; ook nie . . . lawwe praatjies . . . nie.”—Efesiërs 5:3-5.
Ouers en jongmense: Het julle die woorde van party van die plate wat te koop aangebied word—of wat moontlik reeds in julle huis is—nagegaan? Julle dink moontlik dat die musiek mooi is, of dalk hou julle van die slag. Julle steur julle aanvanklik nie aan die woorde nie en eerlank neurie julle die melodie. Hierdie soort musiek word selfs by party skaatsbane gespeel. Sal dit gepas wees vir Jehovah se Getuies om daar op die maat van die musiek rond te skaats? ‘Maar watter gevaar hou dit dan in?’ vra jy miskien.
In hulle musiek beeld popgroepe hoerery en dwelms as ’n lewenswyse uit. Ja, hulle musiek weerspieël hulle lewenswyse. “I wanna see what you’re like in bed” en “She’s hot, she’s sexy” is woorde op een onlangse plaat. Een beroemde sanger lug sy mening reg op die plaatomslag en sê: “Ek kan nie sien wat verkeerd is met seks tussen twee persone wat albei daartoe instem nie. . . . Ek glo nie aan oordrewe moralistiese filosofieë nie.” Watter ooreenstemming kan daar moontlik bestaan tussen ware Christene en die gesindhede wat sulke woorde en filosofieë openbaar? Moet Christusse volgelinge hulle met hierdie ‘vervreemde denke’ vereenselwig?—Efesiërs 4:18; vergelyk Genesis 39:7-12.
Musiek en die ouer geslag
Die ouer geslag kan maklik dink dat al hierdie dinge slegs op die jonger geslag en hulle musiek van toepassing is. Maar wat van die treffers van twintig en dertig jaar gelede wat nostalgiese persone steeds geniet? “Big Spender” het ’n prostituut uitgebeeld wat probeer het om ’n kliënt te oorreed. “Fever” was ’n deursigtige beskrywing van intense geslagsdrif. “Never on Sunday” was ook ’n prostituut se lied. Hoeveel het destyds sulke melodieë geniet sonder om aan die oorsprong daarvan te dink?
Daar is nog baie voorbeelde wat toon hoe subtiel Satan se liste is om ons deur middel van musiek verdorwe gedagtes en filosofieë te laat koester wat ons normaalweg dadelik sou verwerp. Wat toon dit? Dat ons almal, jonk en oud, ernstig ondersoek moet instel na die soort musiek wat ons geniet. Ons kon ons onwetend met hierdie wêreld se “stroom van losbandigheid” vereenselwig het.—1 Petrus 4:4, NTP.
Dit is stof tot nadenke vir elke Christen—hetsy ’n ouere man in ’n gemeente, ’n ouer, ’n jong persoon of ’n kind. Gebrek aan ruimte verhinder ons om all die beskikbare getuienis in verband met die verderflike uitwerking van sekere soorte “ernstige” en moderne musiek voor te lê. Maar elke gewetensgetroue Christen kan gerus sy musieksmaak ondersoek en sy plateversameling nagaan en dan in ooreenstemming met gesonde Skriftuurlike redenering optree.
Wat kan ’n Christen doen?
Toe Paulus in Efese gepreek het, was sy bediening so geslaagd dat baie beoefenaars van die okkulte die Christelike godsdiens aangeneem het en stappe gedoen het om hulle geestelikheid in die toekoms te beveilig. Die verslag sê: “Verskeie van die wat met towery omgegaan het, het die [spiritistiese] boeke bymekaargebring en voor almal verbrand; en hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftigduisend silwerstukke was. So het die woord van die Here met krag gegroei en sterk geword.”—Handelinge 19:18-20.
Sal Jehovah se Woord in jou geval met krag groei en sterk word? Sal jy, indien nodig, stappe doen sodat jy as ’n waardige lid van Jehovah se “heiliges” gereken kan word? (Efesiërs 5:3). Toe hierdie geskil onlangs duidelik gestel is aan ’n groot groep voltydse knegte van Jehovah, is verskeie vullisblikke vol plate bymekaargemaak en vernietig bloot weens hulle onsedelike inhoud, demoniese strekking of aanbeveling van hierdie wêreld se verdorwe lewenswyse. Die belangrike saak was nie hulle geldelike waarde nie, maar hulle moontlik nadelige uitwerking op geestelike waardes.
Party meen dat ons meer spesifiek moet wees oor sekere moderne groepe of soorte musiek. Maar die apostel Paulus het gesê: “Vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” (Hebreërs 5:14). Deur sy Bybelse gewete te gebruik behoort dit nie vir die ryp Christen moeilik te wees om te onderskei watter soorte musiek aanneemlik is nie. Jehovah se Getuies het nie ’n Talmoediese lys verbooie of ’n “lys” verbode musiekstukke nodig om hulle te lei nie. Laat elkeen sy onderskeidingsvermoë gebruik in sy strewe om sy hemelse Vader in alle dinge te behaag, onder meer sy keuse van musiek.—Efesiërs 5:18-20; Filippense 1:9-11.
[Prent op bladsy 9]
Staan jou plate spiritisme, dwelms of onsedelikheid voor?