God se Woord is lewend
Wat is jou doel in die lewe?
WAT wil jy in die lewe bereik? ’n Goeie geleerdheid? ’n Goeie posisie in die wêreld? Geld? Roem? Sekuriteit? Dit is algemene doelwitte. Maar sal die verwesenliking van daardie doelwitte jou waarlik help om uit die lewe te kry wat jy graag wil hê?
Om ons te help om sulke vrae te beantwoord, kan ons kyk na Moses se lewe, wat met hierdie prente toegelig word. Hy is grootgemaak as “die seun van Farao [die wêreldheerser] se dogter”. As ’n lid van Farao se koninklike gesin het Moses dus die volle geleentheid gehad om “die genot van die sonde te hê”. Hy het ook geredelik toegang gehad tot “die skatte van Egipte”.—Hebreërs 11:24-26.
Die Bybel sê daarbenewens: “Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars” (Handelinge 7:22). As gevolg van sy gunstige posisie, het Moses dus alles gehad wat die meeste jongmense vandag nastreef. Maar het hierdie dinge vir hom ware tevredenheid en geluk gebring?
Nie werklik nie. Hoewel Moses op materiële gebied alles gehad het, het hy geweet dat hierdie dinge geen blywende waarde het nie. Besef jy hierdie belangrike feit? Dit is net soos Jesus Christus self gesê het: “Wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy [lewe] skade ly?” (Mattheüs 16:26). Alles wat ons het, is nutteloos as ons ons lewe verloor, nie waar nie?
Die Bybel sê gevolglik van Moses: “Hy het uitgesien na die beloning.” Ja, Moses het uitgesien na wat God aanbied. Hy het besef dat God se gawe van ewige lewe kosbaarder is as enigiets anders. Moses het dus “volgehou soos een wat die Onsienlike sien” (Hebreërs 11:26, 27). Jehovah was vir Moses wesenlik, net so ook Sy beloftes van die ewige lewe.
Is dit ook so in jou geval? Is God se beloftes van ewige lewe in ’n aardse Paradys vir jou wesenlik wanneer jy daarvan lees? Sien jy jouself in daardie Paradys as iemand wat die seëninge geniet wat God vir sy volk in die vooruitsig stel? (Psalm 37:9-11, 29; 46:9, 10; 72:7, 8, 16; Jesaja 9:5, 6; 11:6-9; 36:5, 6; Lukas 23:43, NW; Openbaring 21:3, 4). Dan sal jy soos Moses wees en sal jou hoofdoelwit in die lewe wees om Jehovah God te dien en sy goedkeuring weg te dra.
[Prent op bladsy 14]
Wat was Moses se doel in die lewe?
[Prent op bladsy 15]
Is dit jou doel in die lewe om die dinge te geniet wat God vir sy knegte aanbied?