Die genot van musiek—Wat is die sleutel?
IN DIE antieke wêreld is growwe onsedelikheid en afgodediens beoefen. Die apostel Paulus het dit gevolglik nodig gevind om baie streng raad oor Christelike gedrag te gee. Hy het aan die gemeente in Efese geskryf: “Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie—mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart.”—Efesiërs 4:17, 18.
Is dit nie ook ’n goeie beskrywing van die stand van sake vandag nie? Dit sluit musiek in. Baie van die hedendaagse musiek weerspieël ’n styl wat ‘van die godvrugtige lewe vervreemd is’. Die woorde verraai dikwels ’n ‘verharde hart’, sonder vriendelikheid of medelye.
Maar Paulus het sy raad ’n stap verder gevoer deur te sê: “Omdat hulle begrip van wat reg en verkeerd is, afgestomp is, het hulle hul oorgegee aan ongebondenheid en jaag hulle gretig ’n loopbaan van allerhande onwelvoeglikhede na.”—Efesiërs 4:19, The Jerusalem Bible.
Hierdie ‘gretige najaging van ’n loopbaan van onwelvoeglikhede’ word in baie van die hedendaagse musiek weerspieël. Die woorde en die musiek is daarop gemik om ’n geslag te behaag wat behep is met seks, geweld, dwelms en plesier. Hoe moet Christene sulke verdorwenheid beskou? Let op Paulus se woorde: “Dit is nouliks die weg wat julle van Christus geleer het, tensy julle nie goed geluister het toe julle geleer is wat die waarheid in Jesus is nie.”—Efesiërs 4:20, 21, JB.
’n “Geestelike revolusie” is nodig
Hoe kan ons hierdie raad toepas in die geval van musiek wat die gees van die wêreld weerspieël? Ons sal, as ons “die sin van Christus” het, dit wil sê as ons sy gesindheid het, nie na musiek wil luister wat “aards, sinlik, duiwels” is nie.—1 Korinthiërs 2:16; Jakobus 3:15, NAV.
Maar jy vra dalk: ‘Hoe kan ek my musieksmaak verander?’ Weer eens help Paulus, want hy sê: “Julle moet julle ou leefwyse laat vaar; julle moet julle ou persoon aflê, wat verdorwe raak omdat julle bedrieglike begeertes navolg. Julle verstand moet deur ’n geestelike revolusie vernuwe word.”—Efesiërs 4:22, 23, JB.
Daar is die antwoord, ’n vernuwing van die verstand deur ’n geestelike revolusie. Dit behels veel meer as ons musieksmaak. Dit vereis ’n heropvoeding, ’n verheffing van standaarde en waardes. Dit beteken ’n verandering in ons denkwyse, ’n ander stel maatstawwe. En dit beteken dat ons dinge uit die oogpunt van God en Christus beskou. Soos Paulus dit so duidelik gestel het: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”—1 Korinthiërs 10:31.
Baie van die hedendaagse musiek strek God nie tot eer nie. Inteendeel, dit verag daardie waardes wat Christene voorstaan en waarvoor talle bereid was om in tronke en konsentrasiekampe te sterf. Waarom moet ons dit dan as ’n opoffering beskou as ons ons musieksmaak moet verander sodat ons nie ‘die wêreld of die dinge wat in die wêreld is, liefhet nie’?—1 Johannes 2:15-17.
Goeie musiek—Wat is die sleutel?
Waardeur kan ons verdorwe musiek vervang as ons dit uit eerbied vir skriftuurlike beginsels verwerp? Ondersoek gerus ander soorte musiek. Ons geniet dit dalk veel meer en vind dit dalk meer opbouend as die musiek wat ons in die verlede verkies het. ’n Voormalige rock-musikant het byvoorbeeld die volgende gesê oor die veranderinge wat hy aangebring het:
“Ek moes my inspan om my smaak vir die gemaklike rock-klank te verander na ’n smaak vir ’n aanvaarbare gewilde soort musiek en dieper klassieke musiek. Maar toe ek besef het dat dit meer diepte het en dat ek my nie meer met die gees van die meeste hedendaagse musiek kon vereenselwig nie, het dit makliker geword en my meer bevrediging verskaf om daarna te luister. Dit was skielik heilsaam. Ek het besef wat ek gemis het omdat ek vroeër bevooroordeeld was teenoor ander soorte musiek.”
Daar is ’n groot verskeidenheid van klassieke musiek, asook ‘folk’-musiek en sommige hedendaagse musiek, wat ’n goeie melodie en skoon woorde het, en nie ’n filosofie verkondig wat strydig met Bybelbeginsels is nie. Die sleutel is om musiek te vind en te geniet wat nie ons denke verkeerdelik sal beïnvloed nie, musiek wat ‘regverdig, eerbaar is, waaroor daar gunstig gepraat word, wat deugsaam en prysenswaardig is’.—Filippense 4:8, vgl. NW.
Musiek se rol in ’n Christen se lewe
Sommige geniet musiek deur te sing of deur te leer om ’n instrument te bespeel. Ons kan baie genot put uit solo- en groepopvoerings saam met familie en vriende. Maar soos in alle dinge is balans nodig. Ontspanning of ’n tydverdryf moet nooit ’n Christen se lewe oorheers nie. As dit sou gebeur, sal selfs heilsame musiek, omdat jy te veel daarna luister, ’n ongesonde uitwerking op jou hê. Dan sal die Christen die gevaar loop om eerder ‘’n liefhebber van genot as ’n liefhebber van God’ te word.—2 Timotheüs 3:4.
Musiek is ook ’n integrerende deel van ons aanbidding van Jehovah. In eertydse Israel het Asaf en sy broers gesing: “Loof die HERE, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend! Sing, psalmsing tot sy eer, spreek van al sy wonders.” Ja, musiek kan God loof en hom behaag.—1 Kronieke 16:8, 9.
Die Koninkryksliedere wat Jehovah se Getuies by hulle Koninkryksale gebruik, is gebaseer op Bybeltekste, psalms, gebede en leringe. Kan ons nie ook diep genot put uit hierdie geestelike musiek nie? En moet ons nie ons vreugde toon deur hierdie liedere met gevoel en geesdrif te sing nie? Kan ons nie selfs by ander geleenthede buiten Christelike vergaderinge ons lewe verlig met die pragtige verwerkings van hierdie liedere wat Koninkryksmelodieë genoem word nie?
Al die musikante in hierdie orkesuitvoerings is Getuies van Jehovah. Sommige is professionele musikante wat in simfonieorkeste speel. Ander, waaronder die voormalige rock-musikant wat hierbo aangehaal is, is talentvolle jongmense wat talle soorte ordentlike musiek geniet. Hulle dink nie dat hulle iets mis omdat hulle musiek verwerp wat aardse, duiwelse gesindhede weerspieël nie. Hulle goeie voorbeeld toon dat ons ook heilsame genot uit sekulêre sowel as geestelike musiek kan put as ons toelaat dat ons keuse deur Bybelbeginsels gerig word.—Efesiërs 5:18-20.
[Venster op bladsy 28]
“Rock-musiek het slegs een aantrekkingskrag, ’n barbaarse aantrekkingskrag, tot geslagsdrang—nie liefde nie, nie eros nie, maar onontwikkelde en onbeheerste geslagsdrang. . . . Jongmense weet dat rock die ritme van geslagsomgang het.”—The Closing of the American Mind, deur Allan Bloom.