Musiek—Kan dit gevaar inhou?
‘HOE kan musiek moontlik gevaar inhou?’ vra jy dalk. ‘Musiek is immers slegs klanke.’ Dit is waar, maar klanke kan ons diep beïnvloed. Wie reageer nie op ’n gil in die middel van die nag nie? En wat van aansteeklike gelag? Wanneer een lid van ’n gehoor hardop lag, begin die hele skare dikwels uitbundig lag.
Musiek het krag
Omskep nou daardie klanke in musiek. Afhangende van die soort lied of musiek sal voete eerlank klop, liggame swaai, vingers klap en stemme neurie. ’n Hele gehoor kan beïnvloed word! Waardeur? Deur die klank van musiek.
Ter toeligting: Dawid, wat vroeër gemeld is, het op een stadium as ’n musikant in koning Saul se hof gedien. Die jong man kon goed harp speel. En sy musiek het gehelp om geteisterde Saul te kalmeer.—1 Samuel 16:18-23.
Musiek wek die gevoelens op. ’n Skare sal opstaan wanneer ’n jazz-groep ’n bekende liedjie begin speel. Liefhebbers van klassieke musiek kan aangegryp word terwyl hulle na Tsjaikowski se 1812-Ouverture luister. Met gevegte wat woed, kanonne wat bulder en klokke wat die oorwinning aankondig, voel dit amper vir hulle asof hulle self daar is. Ja, musiek het krag.
Politici en heersers gebruik al eeue lank daardie krag om mense se harte te beïnvloed. Hoe? Deur middel van volks-liedere en patriotiese liedere. Hoe het Hitler en die Nazi-party tog die lied Deutschland, Deutschland über alles (Duitsland, Duitsland bo alles) gebruik om die massas op ’n weg van dood en vernietiging te lei! Hierdie lied was nogal gebaseer op klassieke musiek wat deur Haydn gekomponeer is. Hierteenoor het die Britte vurig gesing: “God Save the King.” Hitler is ook baie bekoor deur die musiek van Wagner.
Die oorredingskrag van musiek was ook in Bybeltye te sien. Die verhaal in Exodus deel ons mee dat die Israeliete ongeduldig geraak het terwyl Moses op die berg Horeb was om die tafels met die Wet daarop van Jehovah te ontvang en dat hulle Moses se broer Aäron beveel het om vir hulle ’n ander god—’n gegote beeld van ’n kalf—te maak. Toe het hulle in ’n godsdiensfees offers vir hierdie afgod gebring. En daarna? “Daarop het die volk gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om te speel.”—Exodus 32:1-6.
Toe Moses en Josua van die berg afgekom het, het hulle ’n rumoer in die laer van die Israeliete gehoor. Josua het gemeen dat dit ’n oorlogsgeraas was. Maar Moses het die geluid reg vertolk. Dit was ’n gesingery, maar nie oor ’n groot oorwinning of ’n neerlaag nie. Dit was “die geluid van beurtgesang”. Moses kon uit die buitengewone geluid aflei dat die musiek ’n sinistere verband gehad het. Wat was dit? Die mense het gesing en om die goue kalf gedans. Hulle het meegedoen aan bandelose afgodediens waartydens daar gesing en gedans is. Musiek het ’n vername rol in hulle valse, onsedelike aanbidding gespeel.—Exodus 32:7-25.
Daardie gebeurtenis bevat ’n paar lesse vir hedendaagse Christene. Een is dat musiek jou kan beïnvloed. Die hedendaagse wêreld is baie op musiek gerig. Maar moet skel musiek en ander pop-musiek met seksuele botone wat losbandigheid in die hand werk, by gesellighede van Jehovah se Getuies gespeel word? Beslis nie! Daar was egter in die laaste jare, selfs met die goedkeuring van party ouere manne en ouers, ’n neiging om laks te wees in hierdie opsig. Van hierdie musiek het onsedelikheid, opstandigheid, dwelmmiddels en selfs spiritisme verheerlik.
Beteken dit dat musiek op sigself noodwendig ’n negatiewe invloed het? Glad nie. Soos reeds gemeld is, is musiek in die heilige aanbidding van Jehovah gebruik. En in sy gelykenis van die verlore seun het Jesus gesê dat die vader die seun se terugkeer met “musiek en beurtsange” gevier het.—Lukas 15:25.
Kan musiek ’n filosofie oordra?
In ons dag word musiek in die daaglikse lewe baie meer aan ons opgedring. Gedurende die afgelope paar dekades het ’n yslike wêreldnywerheid opgeskiet wat elke jaar honderdmiljoene plate en kassette lewer. Hoewel mense ’n honderd jaar gelede slegs nou en dan aan musiek blootgestel is wanneer hulle uitvoerings bygewoon het of daaraan deelgeneem het, is die aanhoor van musiek vandag ’n daaglikse ervaring. Die vraag is dus pertinent—Kan musiek ’n filosofie oordra? Kan musiek ’n persoon se denke of lewenswyse beïnvloed?
Advertensies oor die radio en televisie bied ’n opvallende leidraad. Talle handelsadvertensies word vergesel van musiek. Met behulp van musiek word die produk se naam dus by verstande ingeskerp—selfs dié van kinders en babas.
In antieke Israel is musiek op ’n soortgelyke wyse gebruik, maar met ’n baie edeler doel. Die psalms is met musiekbegeleiding gesing, en dit het die mense ongetwyfeld gehelp om die woorde te onthou. Die Bybelverhaal deel ons byvoorbeeld mee dat Levitiese sangers met die inwyding van Salomo se tempel byeengebring is, asook diegene “met simbale en harpe en siters . . . en saam met hulle omtrent honderd-en-twintig priesters wat op die trompette blaas; en . . . die trompetblasers en die sangers [het] almal saam eenstemmig begin om die HERE te prys en te loof’.—2 Kronieke 5:12, 13.
Hulle het waarskynlik Psalm 136 by daardie geleentheid gesing en gespeel, en die musiek sou hulle beslis gehelp het om die woorde te onthou. Dit lig die gedagte toe—dat musiek ’n boodskap kan oordra. Dit kan ook die medium wees om ’n produk of ’n filosofie te bevorder, of om ’n lewenswyse aan te beveel, hetsy die musiek woorde by het of nie. Dit is vandag die geval of ons nou van klassieke of moderne soorte musiek praat.
In die biografie van Ludwig van Beethoven, “wat algemeen beskou word as die grootste komponis wat ooit gelewe het”, sê die Encyclopœdia Britannica: “Hy het duideliker as enige van sy voorgangers toegelig hoeveel krag musiek het om ’n lewensfilosofie sonder die hulp van woorde oor te dra.” Sy alombekende Pastorale Simfonie is ’n voorbeeld hiervan. Dit getuig duidelik van Beethoven se liefde vir die natuur. Ja, musiek kan ons beweeg en ons emosies beïnvloed.
Nog ’n voorbeeld hiervan is die werke van die Oostenrykse komponis Gustav Mahler, wat nou in die mode is onder liefhebbers van klassieke musiek. Een musikoloog praat van hierdie komponis se “obsessie met die dood” en beskryf “die onophoudelike soeke om sin in die lewe te ontdek wat so duidelik uit Mahler se lewe en musiek sou spreek”. Waar een skrywer van sy Simfonie nr. 1 praat, beskryf hy die inhoud daarvan soos volg: “Die lewensvreugde word deur ’n obsessie met die dood vertroebel.” Hy sê voorts: “Simfonie nr. 2 begin met die obsessie met die dood . . . en bereik ’n hoogtepunt in ’n belydenis van die Christelike geloof in onsterflikheid. . . . Die godsdienselement in hierdie werke is baie betekenisvol.” Die vraag ontstaan nou: Kan Mahler se godsdiensverwarring, obsessies en neurose die luisteraar beïnvloed?
Nog ’n voorbeeld is Strawinski se Lenteritus. Hierdie balletmusiek beskryf ’n heidense ritus waartydens ’n jong maagd haar dood dans om die god van die lente te paai. Een resensent het geskryf dat hierdie ritus “hier uitgedruk word met musiek waarvan die ritmiese krag die opvallendste kenmerk is—die hipnotiese, meeslepende krag van ritmiese patrone”. Die uitwerking is skrikwekkend en moontlik verontrustend. Trouens, “dit is gekomponeer om Europese oortuigings in verband met musiektradisie omver te werp”.
Selfs klassieke musiek moet jou jouself dus laat afvra: Sal oormatige blootstelling aan ’n sekere soort musiek my terneergedruk maak of my oorprikkel? Sal die komponis se filosofie deurskemer en moontlik my denke negatief beïnvloed? As die komponis se musiek nie geloof in die Skepper en Sy groot werke ondermyn nie, kan sy invloed natuurlik neutraal of selfs baie goed wees. En dit is ook moontlik om na musiek te luister sonder om ooit te weet wat die komponis in gedagte gehad het. Dan sal die betekenis, indien enige, heeltemal van die luisteraar se verbeelding afhang.
Kan hierdie maatstawe op moderne musiek toegepas word? Is moderne musiek opbouend of verderflik? Kan dit gevaar vir Christelike sedelikheid en geestelikheid inhou? Ons volgende artikel sal op hierdie en ander geskille ingaan.
[Prent op bladsy 5]
Musiek kan vir sinistêre doeleindes gebruik word
[Prent op bladsy 6]
Is al hulle musiek opbouend?
MAHLER
WAGNER
STRAWINSKI