Ons kan “bly wees in al ons dae”
“Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae.”—Psalm 90:14.
1. Hoe toon Jehovah dat hy wil hê dat sy volk gelukkig moet wees?
JEHOVAH GOD wil hê dat sy volk gelukkig moet wees. Hy weet dat hartgrondige vreugde noodsaaklik is vir ’n vergenoegde, gesonde bestaan (Spreuke 17:22). As ’n God van goedertierenheid bied Jehovah gevolglik voorligting wat blydskap sal bevorder indien dit in die lewe toegepas word.
2. Waarom kan ware Christene met vertroue om vreugde bid?
2 Omdat Jehovah se Getuies, as ware Christene, te kampe het met die druk van ’n lewe in ’n goddelose stelsel, kan hulle om blydskap bid. Dit is ’n vrug van God se heilige gees, en hy skenk daardie gees aan sy getroue, toegewyde volk wat daarom vra (Lukas 11:13; Galasiërs 5:22). Hulle kan ook uiting gee aan gevoelens soos dié wat biddend deur God se profeet Moses geuiter is: “Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae” (Psalm 90:14). Diegene wat op Jehovah vertrou, kan daarvan seker wees dat hy sulke opregte versoeke sal toestaan.—1 Johannes 5:13-15.
3. Watter twee basiese dinge moet ons doen om “bly [te] wees in al ons dae”?
3 Maar benewens gebed moet ons twee basiese faktore onthou as ons wil “bly wees in al ons dae”. Dit is beklemtoon toe God se volk van die ou tyd meegedeel is dat vloeke hulle sou tref indien hulle nie “geluister het na die stem van die HERE . . . om sy gebooie . . . te hou nie”, en as hulle Jehovah “nie met vreugde en vrolikheid van hart . . . gedien het nie” (Deuteronomium 28:45-47). As ons gevolglik ons hele lewe lank gelukkig wil wees, moet ons (1) Jehovah gehoorsaam en (2) hom vreugdevol dien.
4. (a) Wat voorsien Jehovah sodat sy volk hom met ’n vrolike hart kan dien? (b) Watter wyse gesegdes kan ons bespreek, en wat sal dit meebring?
4 Jehovah gee die aansporing sowel as die hulp wat sy volk nodig het om hom met ’n vrolike hart te dien. Daarbenewens voorsien hy goedgunstiglik betroubare riglyne wat vreugde bevorder. Kyk byvoorbeeld hoe wyse gesegdes in sekere dele van die Bybelboek Spreuke innige vreugde kan voortbring. As sulke raad in die lewe toegepas word, kan dit ons inderdaad laat “bly wees in al ons dae”.
Vreugde in die gesin
5. (a) Wat verwag Jehovah van ouers? (b) Watter uitwerking kan kinders in ’n gesin hê as hulle gehoorsaam is?
5 Om gesinsgeluk te verkry en te bewaar, moet ons God gehoorsaam en vatbaar wees vir raad in sy Woord. Jehovah verwag byvoorbeeld dat ouers hulle bes moet doen wanneer hulle hulle kinders oplei. Die vader moet die leiding hierin gee, maar die moeder moet daadwerklik daarmee help (Spreuke 22:6; 31:1). En wat van die kinders? Wel, ’n kind “wat met die vader spot en die gehoorsaamheid vir die moeder verag”, sal beslis nie gelukkig wees nie en sal vir sy of haar ouers verdriet veroorsaak, nie vreugde nie (Spreuke 30:17; 17:21). Verstandige seuns en dogters wat die dissipline van godvresende ouers gehoorsaam aanneem en Skriftuurlike beginsels naleef, maak andersyds hulle gesin bly en strek dit tot eer.—Spreuke 10:1; 15:20; 23:15, 16.
6, 7. (a) Watter raad word in Spreuke 23:22-25 gegee, en wat is die resultate indien dit gevolg word? (b) Wat beteken die raad om ‘waarheid te koop en dit nie te verkoop nie’?
6 Godvresende ouers wat hulle kinders grootmaak op ’n wyse wat hulle beweeg om ’n regverdige weg te bewandel, het rede tot groot vreugde. Die Skrif sê vir ons die volgende in hierdie verband: “Luister na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie. Koop waarheid en verkoop dit nie, ook wysheid en tug en verstand. Die vader van ’n regverdige juig baie; en as iemand ’n wyse verwek het, dan is hy bly oor hom. Laat jou vader en jou moeder bly wees, en laat sy juig wat jou gebaar het.”—Spreuke 23:22-25.
7 ’n Verstandige kind sal ag slaan op sy Christenvader se geestelike onderrig en sal nie sy godvresende moeder se woorde in die wind slaan nie, al het sy ook oud geword. ’n Verantwoordelike volwassene kan immers nog altyd iets by sy of haar bejaarde ouers leer. Die raad om ‘waarheid te koop en dit nie te verkoop nie’, beteken duidelik dat ’n mens aan ware beginsels as ’n gids in die lewe moet vashou. ’n Regskape kind sal nie die waarheid ter wille van genietinge, rykdom of roem prysgee nie. En ’n gesin waar alle lede Jehovah aanhang, sal gewis blywende vreugde geniet.—Deuteronomium 10:20, 21.
Hoe om vreugdevol te bly ondanks oortreders
8, 9. Hoe kan godvrugtige wysheid ons teen oortreders beskerm, soos Spreuke 2:10-14 toon?
8 Gehoorsaamheid aan Jehovah se raad help ons om ons vreugde onder verskeie omstandighede te bewaar. Godvrugtige wysheid kan ons byvoorbeeld beskerm teen oortreders. Die Skrif sê: “Wysheid sal in jou hart kom, en kennis vir jou siel lieflik wees; oorleg sal oor jou wag hou, verstand sal jou bewaak, om jou te red van die weg van die slegte, van die mens wat valse dinge spreek; van die wat die paaie van opregtheid verlaat om op weë van duisternis te wandel; die wat hulle verheug in kwaaddoen, wat juig oor die valse streke van die slegte.”—Spreuke 2:10-14.
9 Jehovah se goedkeuring rus op diegene wat ware wysheid waardeer en hulle harte daardeur laat beïnvloed. Hulle is verstandig en vermy omgang met enigeen wat “valse dinge spreek”, dit wil sê, dinge wat in stryd is met dit wat waar en reg is. Goeie denkvermoë en ware insig sal jou beskerm teen diegene wat godvrugtige wysheid verwerp, behae skep in bose dade en probeer om ander te verderf.—Vergelyk Spreuke 4:16.
10. Hoe verstrik ’n slegte mens se oortreding hom?
10 Die oortreder ‘verheug hom in kwaaddoen’, maar wie het ware vreugde? ’n Ander spreuk antwoord: “In die oortreding van ’n slegte mens is ’n strik, maar die regverdige sal jubel en bly wees” (Spreuke 29:6). Ja, ’n slegte man se oortreding verstrik hom. Een sonde lei tot die volgende, en weë kan hom onverwags oorval. Hy beraam moontlik planne om ’n ander tot ’n val te bring, slegs om te vind dat sy planne boemerang. In eertydse Israel het ’n valse getuie miskien probeer om ’n onskuldige persoon se dood te bewerkstellig deur valslik teen hom te getuig. Maar die knoeier sou self gedood word indien sy bose plan ontdek is.—Deuteronomium 19:16-21.
11. Waarom kan die regskape persoon “jubel”?
11 Hoeveel beter tog is die lot van die regverdige! Hy beraam nie bose planne teen sy naaste nie en bedryf nie sonde nie. Hy word dus nie deur oortreding verstrik nie en gaan nie gebuk onder die probleme wat met oortreding gepaard gaan of die straf wat ’n persoon opgelê word as daar ontdek word dat hy ’n knoeiende oortreder is nie. Die regskape persoon sal dus “jubel en bly wees”. Hy word byvoorbeeld nie gekwel deur ’’n skuldige gewete nie. Hy geniet bowendien God se guns, “want die verkeerde is vir die HERE ’n gruwel, maar sy verborgenheid is met die opregtes”.—Spreuke 3:32.
Moet jy jou verheug wanneer ’n vyand teëspoed kry?
12. Hoe moet ’n Christen reageer as ’n vyand teëspoed kry? Waarom?
12 Maar hoe moet ’n Christen reageer indien ’n vyand teëspoed kry? “As jou vyand val”, sê ’n ander spreuk, “verheug jou nie; en as hy struikel, laat jou hart nie juig nie.” Waarom nie? “Dat die HERE dit nie sien en dit miskien verkeerd is in sy oë en Hy sy toorn van hom afwend nie” (Spreuke 24:17, 18). Dit verbied sogenaamde leedvermaak wanneer ’n vyand deur ’n ramp getref word. Aangesien dit verkeerd sou wees om te wens dat ’n vyand deur onheil getref word bloot om persoonlike genot daaruit te put, sal ’n persoon wat hom oor so iets verheug aan Jehovah rekenskap moet gee vir sy sonde. Wat dit betref, God kan die hart lees en weet gevolglik as ons ons in ’n ander persoon se ellende verkneukel. Alhoewel ander mense nie daardie verkeerde gees kan sien nie, kan Jehovah dit duidelik sien, en hy sê: “My kom die wraak toe en die vergelding” (Deuteronomium 32:35; Hebreërs 10:30). God sal gevolglik die persoon wat hom in ’n ander se verknorsing verkneukel op die een of ander manier straf.—Vergelyk Spreuke 17:5.
13. Wat beteken Spreuke 11:10?
13 Ons word andersyds meegedeel: “Oor die voorspoed van die regverdiges jubel ’n stad, en as die goddelose omkom, is daar gejubel” (Spreuke 11:10). Hoe moet ons dit verstaan? Wel, regverdige mense is oor die algemeen bemind en hulle maak hulle naaste bly. Maar niemand is lief vir “goddelose” persone nie. ’n Wreedaard is self daarvoor verantwoordelik dat ander hom verstoot (Spreuke 11:17). Wanneer die goddelose sterf, word hulle bowendien nie deur die mense oor die algemeen beween nie, en daar sal beslis geen droefheid wees wanneer Jehovah hierdie oortreders vernietig nie. Daar sal eerder vreugde heers omdat hulle van die toneel verwyder is. Gedra ons ons op ’n wyse wat tot ander se vreugde bydra of hulle laat “jubel”?
Die vrolike hart is ’n seën
14. Hoe stel gehoorsaamheid aan Jehovah ons in staat om “bly [te] wees in al ons dae”, soos ons tot dusver bespreek het?
14 Gehoorsaamheid aan Jehovah stel ons in staat om “bly [te] wees in al ons dae”. Soos reeds gemeld, is die verhouding tussen ouer en kind ’n gelukkige as goddelike raad in die lewe toegepas word. As ons God se leiding aanvaar, beskerm dit ons teen die slegte invloed van oortreders en maak dit ons bly. As ons Jehovah se instruksies uitvoer, verhoed dit bowendien dat ons ’n verkeerde gesindheid verkry teenoor enige onheil wat die goddelose tref, met die gevolg dat ons ons vreugde kan bewaar. Ja, as ons Jehovah God gehoorsaam, sal ons ’n vrolike hart hê. Dit is op sigself ’n seën.
15. Wat moet ons doen in plaas daarvan om toe te laat dat “bekommernis” ons hart ‘neerdruk’, en waarom?
15 Wyse koning Salomo het gesê: “’n Vrolike hart maak die aangesig bly, maar by verdriet van die hart is die gees neerslagtig” (Spreuke 15:13). Vreugde en droefheid word inderdaad deur ’n persoon se gelaat weerspieël. Daar is natuurlik talle bekommernisse in die lewe en dit kan ons baie bedroef maak. “Bekommernis in die hart van ’n mens druk dit neer”, sê ’n ander spreuk, “maar ’n vriendelike woord vrolik dit op” (Spreuke 12:25). Hoe verstandig is dit tog om na aan Jehovah te kom deur te peins oor daardie skatkamer van goeie dinge, sy geïnspireerde Woord, in plaas daarvan om toe te laat dat “bekommernis” ons harte ‘neerdruk’! Dit kan sekerlik weer ’n bedroefde maar regverdige hart bly maak.
16. (a) Hoe maak ’n goeie tyding “die gebeente vet”? (b) Hoe moet ons voordurende gelag beskou, al is ‘’n vrolike hart goeie medisyne’?
16 Salomo het ook gesê: “Stralende oë verbly die hart; ’n goeie tyding maak die gebeente vet” (Spreuke 15:30). Goeie nuus “maak die gebeente vet”, dit wil sê, vul hulle met murg. Die hele liggaam word aldus versterk, en ’n vreugdevolle hart word weerspieël deur oë wat helder blink. Hoewel neerslagtigheid of ’n “verslae gees” ’n slegte uitwerking op die liggaam het, is ‘’n vrolike hart goeie medisyne’. (Spreuke 17:22; vergelyk The Amplified Bible.) Dit is egter te begrype dat ’n hart hom nie voortdurend moet oorgee aan sinlose gelag nie, want Salomo het “van die lag . . . gesê: Dit is onsinnig! en van die vreugde: Wat verskaf dit?” (Prediker 2:2). Maar ’n persoon vind beslis baat by ’n hart wat hom verbly as hy God se wil doen.
17, 18. (a) Waarom kan ’n lojale vriend vergelyk word met ‘olie en reukwerk wat die hart verbly’? (b) Hoe is Jesus Christus ’n hemelse Vriend wat reguit praat? (c) Watter persoonlike vraag word gestel?
17 ’n Ander spreuk vestig die aandag op nog iets wat vreugde verskaf: “Olie en reukwerk verbly die hart, net so die aangenaamheid van ’n vriend vanweë welgemeende raad” (Spreuke 27:9). Net soos olie strelend is en reukwerk genot verskaf vanweë die soet geur daarvan, verbly ’n lojale vriend wat raad gee met die doel om behulpsaam te wees, die ontvanger se hart. Sulke vriendskap is aangenaam, want diegene wat openlik gesels, kan mekaar help om te verbeter, om nodige veranderinge aan te bring en hulself te versterk op terreine van die lewe waarop hulle swak is. ’n Goeie Vriend wat logies dink en reguit praat, kan inderdaad ’n bron van vreugde wees.
18 Die verheerlikte Jesus Christus is ’n hemelse Vriend wat reguit praat en wat boodskappe aan die sewe gemeentes in Openbaring, hoofstukke twee en drie, gestuur het. Hulle is geprys wanneer gepas, maar hulle is ook vermaan. Die gemeente in Efese het byvoorbeeld nie langer die vurige, Christelike liefde vir Jehovah gehad wat dit aanvanklik gehad het nie. Maar Jesus het probeer om weer daardie liefde aan te wakker (Openbaring 2:1-7). Enige Christen in Efese wat die raad van hierdie hemelse Vriend biddend oorweeg het en korrektiewe stappe gedoen het, kon voortgaan om Jehovah met ’n vrolike hart te dien. Sien jy persoonlik waar jy verbeteringe moet aanbring om jou liefde vir Jehovah deur verbeterde diens aan hom te bewys?
Verbly jou in “die heilige werk”
19. Waarom moet elke persoon wat aan Jehovah toegewy is gereeld die “evangelie” aan ander verkondig?
19 Nog ’n vraag: Neem jy van ganser harte, gereeld en vreugdevol “aan die heilige werk van die goeie nuus van God” deel? (Romeine 15:16, NW). Geen ander hedendaagse werk op aarde is belangriker nie. Dit is immers ’n vername rede vir die bestaan van die Christengemeente! (Mattheüs 24:14; 28:19, 20). Elke persoon wat aan Jehovah toegewy is, moet gevolglik die “evangelie” gereeld aan ander verkondig. En bedrywige Koninkryksverkondigers het dikwels sulke lonende ondervindinge en seëninge in Jehovah se diens dat hulle beweeg word om te “jubel”.—Psalm 90:14; Maleagi 3:10.
20. Hoe het ywerige gemeenteverkondigers met gewigtige Skriftuurlike verantwoordelikhede dikwels hulle vreugde in Jehovah se diens vergroot?
20 Ywerige gemeenteverkondigers met gewigtige Skriftuurlike verantwoordelikhede vergroot dikwels hulle vreugde deur die gehalte van hulle diens aan Jehovah te verbeter. Daarbenewens het party Christengesinne ware tevredenheid gesmaak deur te dien waar die behoefte aan Koninkryksverkondigers groot is. Ander geniet voltydse predikingswerk gedurende sekere maande van die jaar, terwyl nog ander pal in die voltydse bediening kan staan. Sulke opregte, heelhartige pogings behaag Jehovah baie.—Markus 12:29, 30.
21. Watter rede tot blydskap het gegradueerdes van die Wagtoring-Bybelskool Gilead?
21 Talle Christenmanne en -vroue het uit die Wagtoring-Bybelskool Gilead gegradueer, en hulle is bly dat hulle hulle krag kan gebruik om Jehovah in verskeie dele van die aarde te dien. Hulle is verheug oor die feit dat hulle voltydse bedienaars kan wees wat baie persone kan help om van Jehovah God en sy wonderlike voornemens te leer. Na meer as twee dekades van sendingwerk in tropiese Wes-Afrika het een van daardie sendelinge byvoorbeeld geskryf: “Meen ek dat dit tyd is om op te hou en die jonger geslag te laat oorneem? Nee, wanneer ek die seëninge en die groei van Jehovah se organisasie sien, voel ek soos Kaleb gevoel het nadat hy meer as vyf-en-veertig jaar lank gedurende die trek deur die woestyn en tot in die Beloofde Land bewaar is. Hy het gesê: ‘Ek is vandag nog so sterk soos die dag toe Moses my uitgestuur het; soos my krag toe was, so is my krag nou nog’ (Josua 14:11). Ondanks die ongerief en ontberings was die afgelope jare wonderlike opleiding en voorbereiding vir die toekoms.”
22. Wat is Betheldiens, en hoe het een bevoorregte vrou haar gedagtes uitgedruk?
22 Nog ’n vreugdevolle voorreg vir diegene wat aan die vereistes voldoen, is Betheldiens. Dit behels werk wat regstreeks verband hou met die publisering van Bybellektuur en die bevordering van Koninkryksbelange. Diegene wat hierdie voorreg geniet, dien òf as lede van die Wagtoringgenootskap se Bethelpersoneel in die staat New York, òf as lede van sulke gesinne by takkantore dwarsoor die wêreld. Een vrou, wat in Januarie 1924 in Switserland in die voltydse diens getree het en nou as ’n lid van die Bethelgesin in die Bondsrepubliek van Duitsland dien, het geskryf: “Ek wil Jehovah bedank vir al sy goedheid teenoor my, aangesien hy my toegelaat het om ’n gelukkige en ryk lewe te lei vol wonderlike geleenthede in sy diens.” Ja, sy verheug haar in Jehovah se diens.
23. Hoe kan jy uit die Skrif bewys dat diegene wat God se diens eerste in hulle lewens stel rede het om hulle te verheug?
23 Diegene wat God se diens eerste in hulle lewens gestel het, het voorwaar altyd rede gehad om hulle te verheug. Hulle lewens was weliswaar nie heeltemal vry van die probleme eie aan mense nie. Maar Jehovah het hulle gedurende hulle beproewings onderskraag (1 Korinthiërs 10:13; 2 Korinthiërs 4:8, 9). Hulle het goed gevaar omdat ‘die blydskap in Jehovah hulle beskutting is’ (Nehemia 8:11). Dink hieraan: Moses ‘het verkies om sleg behandel te word saam met die volk van God’ en is met wonderlike voorregte geseën (Hebreërs 11:23-29). Die Moabiet Rut het haar volk en haar gode verlaat en verkies om Jehovah te dien, en is beloon deur ’n voormoeder van Jesus Christus te word (Rut 1:14-17; 4:13-17; Mattheüs 1:1, 5). Weens hulle besorgdheid oor ware aanbidding en hulle gereelde teenwoordigheid by die tempel het vroom, bejaarde Simeon sowel as getroue, bejaarde Anna die vreugde gehad om die baba Jesus daar te sien.—Lukas 2:25-38.
24. Op grond waarvan kan ons “bly wees in al ons dae”?
24 Ons kan dus daarvan seker wees dat ons wonderlike voorregte en seëninge sal ontvang as ons Jehovah se aanbidding en diens eerste in ons lewe stel (Mattheüs 6:33). En selfs al ondervind ons ontberinge terwyl ons dit doen, weet ons dat Jehovah ‘alles ten goede laat meewerk vir diegene wat God liefhet’ (Romeine 8:28). Mag ons dus vasbeslote wees om ons hemelse Vader te gehoorsaam en hom met ’n vrolike hart te dien. As ons Jehovah met ons hele hart liefhet, het ons gewis goeie redes om ‘te jubel en bly te wees in al ons dae’.—Psalm 90:14.
Kan jy onthou?
◻ Watter twee basiese faktore moet ons onthou as ons wil “bly wees in al ons dae”?
◻ Wat moet ouers en kinders doen om vreugde in die gesin te verseker?
◻ Hoe kan Christene hulle vreugde bewaar ondanks die optrede van oortreders?
◻ Hoe is ’n vrolike hart ’n seën?
◻ Wat is party van die vreugdevolle voorregte in Jehovah se diens, en wat moet ons dus vasbeslote wees om te doen?
[Prent op bladsy 15]
Vir blywende gesinsgeluk moet ouers en kinders die raad in God se Woord volg
[Prent op bladsy 17]
Ongelukkigheid kan deur vreugde vervang word as ons Jehovah se wil getrou doen
[Prent op bladsy 18]
Jehovah se getroue dienaars van die verlede en hede het nog altyd rede gehad om ‘bly te wees in al hul dae’