Die mossie en die helvuurleerstelling
Mattheüs 10:29-31 was een oggend die teks vir bespreking by ’n samekoms van diegene wat by die hoofkwartier van die Wagtoringgenootskap werk. ln hierdie passasie het Jesus gesê: “Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder [dat] julle vader [daarvan weet] nie.”—Vgl. NW.
Die voorsitter tydens die bespreking het vir ’n studente wat die Wagtoring-sendelingskool bygewoon het, gevra: “Hoe kan ’n mens hierdie teks gebruik om met iemand oor die helvuurleerstelling te redeneer?” Hoe sou jy geantwoord het?
Sonder aarseling het die studente die antwoord verstrek. Die teks toon die hemelse Vader se innige besorgdheid oor sy skepsele, selfs die nederige mossie. Aangesien hy ’n God met soveel medelye is, sal hy dit tog seker nie goedkeur dat mense in die teenswoordige of in ’n toekomende lewe gefolter word nie. Ter stawing van haar argument het sy Esegiël 18:23 aangehaal: “Het Ek dan miskien ’n behae in die dood van die goddelose? spreek die Here HERE. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie?” “Ons aanbid ’n God van liefde en medelye”, het sy bygevoeg. “Laat ons ons bes doen om sy eienskappe te openbaar.”
Die voorsitter het gesê: “Dit toon beslis dat die sendelingstudente goed opgelei word!” En al die aanwesiges het hartlik saamgestem.