Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 1/15 bl. 10-15
  • Die vreugde van Jehovah is ons vesting

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die vreugde van Jehovah is ons vesting
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Net maar vreugdevol”
  • Ons verhouding met God deur Christus
  • Godsdiensvryheid en -verligting
  • Die Koninkrykshoop en die ewige lewe
  • ’n Geseënde broederskap
  • ’n Sinvolle lewe
  • ’n Onfeilbare vesting
  • Dien Jehovah met ’n vrolike hart
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Dien Jehovah met vreugde van hart
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Godgegewe vryheid bring vreugde mee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Vreugde — ’n Eienskap wat ons van God kry
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 1/15 bl. 10-15

Die vreugde van Jehovah is ons vesting

“Hierdie dag is heilig vir ons Here, en moenie bedroef wees nie, want die vreugde van Jehovah is julle vesting.”—NEHEMIA 8:10, NW.

1, 2. (a) Wat is ’n vesting? (b) Hoe het Dawid getoon dat hy by Jehovah geskuil het?

JEHOVAH is ’n weergalose vesting. En wat is ’n vesting? Dit is ’n versterkte plek, ’n plek van veiligheid of oorlewing. Dawid van eertydse Israel het God as sy vesting beskou. Beskou byvoorbeeld die lied wat Dawid aan die Allerhoogste gerig het “op die dag toe die HERE hom gered het uit die hand van al sy vyande en uit die hand van Saul”, die koning van Israel.—Psalm 18:1.

2 Dawid het daardie aangrypende lied begin met die woorde: “Ek het U hartlik lief, HERE, my sterkte. Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting” (Psalm 18:2, 3). Die opregte Dawid, wat ten onregte deur koning Saul voëlvry verklaar en vervolg is, het by Jehovah geskuil, net soos iemand na ’n versterkte plek sal hardloop om die een of ander ramp te oorleef.

3. Waarom het die Jode van Esra se dag “groot vreugde” ervaar?

3 Die vreugde wat Jehovah gee, is ’n onfeilbare vesting vir diegene wat as handhawers van onkreukbaarheid in sy weg wandel (Spreuke 2:6-8, vgl. NW; 10:29). Om godgegewe vreugde te hê, moet mense natuurlik God se wil doen. Kyk in hierdie verband na wat in 468 v.G.J. in Jerusalem gebeur het. Die kopiïs Esra en ander het insig verskaf deur ’n sinvolle voorlesing van die Wet. Daarna is die volk aangespoor: “Gaan, eet die vetspyse en drink die soetighede, en stuur dele aan hom vir wie niks berei is nie; want hierdie dag is heilig vir ons Here, en moenie bedroef wees nie, want die vreugde van Jehovah is julle vesting.” Dit het “groot vreugde” meegebring toe die Jode die kennis wat hulle opgedoen het, toegepas het en ’n vreugdevolle Huttefees gehou het (Nehemia 8:1-12, NW). Diegene wat ‘die vreugde van Jehovah as hulle vesting’ gehad het, het krag vir sy aanbidding en diens verkry. Aangesien die vreugde van Jehovah hulle vesting was, moet ons verwag dat God se volk vandag ook vreugdevol sal wees. Wat is sommige van hulle hedendaagse redes tot vreugde dan?

“Net maar vreugdevol”

4. Wat is een uitsonderlike rede tot vreugde vir Jehovah se volk?

4 Een uitsonderlike rede tot vreugde is die voorsiening wat Jehovah maak dat daar bymekaargekom moet word. Die kring- en streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies verskaf hulle vandag vreugde, net soos die jaarlikse feeste wat deur die Israeliete gehou is hulle harte met vreugde vervul het. Daar is vir die volk van Israel gesê: “Sewe dae lank moet jy vir die HERE jou God [die hutte]fees hou op die plek wat die HERE sal uitkies; want die HERE jou God sal jou seën in al jou inkomste en in al die werk van jou hande; en jy moet net maar vrolik [vreugdevol, NW] wees” (Deuteronomium 16:13-15). Ja, God wou hê dat hulle ‘net maar vreugdevol moet wees’. Dieselfde geld vir Christene, want die apostel Paulus het medegelowiges aangespoor: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!”—Filippense 4:4.

5. (a) Wat is vreugde, en hoe verkry Christene dit? (b) Hoe kan ons ondanks beproewinge vreugde hê?

5 Aangesien Jehovah wil hê dat ons vreugdevol moet wees, gee hy ons vreugde as een van die vrugte van sy heilige gees (Galasiërs 5:22, 23, NW). En wat is vreugde? Dit is die genoeglike gevoel wat ’n mens ervaar wanneer jy iets goeds verwag of verkry. Vreugde is ’n toestand van ware geluk, selfs jubeling. Hierdie vrug van God se heilige gees gee ons krag tydens beproewinge. “Vir die vreugde wat hom [Jesus] voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het, en aan die regterhand van die troon van God gaan sit” (Hebreërs 12:2, NW). Die dissipel Jakobus het geskryf: “Ag dit louter vreugde, my broers, wanneer julle verskillende beproewinge teëkom, aangesien julle weet dat hierdie beproefde hoedanigheid van julle geloof volharding bewerk” (NW). Maar gestel ons weet nie wat ons omtrent ’n sekere beproewing moet doen nie? Dan kan ons met vertroue om wysheid bid sodat ons dit die hoof kan bied. As ons in ooreenstemming met hemelse wysheid optree, stel dit ons in staat om probleme op te los of om volgehoue beproewinge die hoof te bied sonder om die vreugde van Jehovah te verloor.—Jakobus 1:2-8.

6. Watter verband bestaan daar tussen vreugde en ware aanbidding?

6 Die vreugde wat Jehovah gee, versterk ons om ware aanbidding te bevorder. Dit is wat in die dae van Nehemia en Esra gebeur het. Die Jode van daardie tyd, wat die vreugde van Jehovah as hulle vesting gehad het, is versterk om die belange van ware aanbidding te bevorder. En namate hulle die aanbidding van Jehovah bevorder het, het hulle vreugde toegeneem. Dieselfde gebeur vandag. As aanbidders van Jehovah het ons rede tot groot vreugde. Kom ons beskou nou nog ’n paar van ons talle redes tot vreugde.

Ons verhouding met God deur Christus

7. Watter rede het Christene tot vreugde ten opsigte van Jehovah?

7 Ons hegte verhouding met Jehovah maak ons die gelukkigste volk op aarde. Voordat ons Christene geword het, het ons deel van die onregverdige mensegemeenskap uitgemaak wat “verstandelik in duisternis is en vervreemd is van die lewe wat tot God behoort” (Efesiërs 4:18, NW). Hoe bly is ons tog dat ons nie meer van Jehovah vervreemd is nie! Dit verg natuurlik inspanning om sy guns te bly geniet. Ons moet “in die geloof bly, gegrond op die fondament en standvastig en sonder om afgebring te word van die hoop van dié goeie nuus” (Kolossense 1:21-23, NW). Ons kan ons verheug dat Jehovah ons na sy Seun getrek het in ooreenstemming met Jesus se eie woorde: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Johannes 6:44). As ons ons kosbare verhouding met God deur Christus werklik waardeer, sal ons waak teen enigiets wat dit kan vernietig.

8. Hoe het Jesus tot ons vreugdevolle toestand bygedra?

8 Vergifnis van sondes deur geloof in Jesus se losprysoffer is ’n groot rede tot vreugde omdat dít ons verhouding met God moontlik maak. Deur sy moedswillige sondige handelswyse het ons voorvader Adam die dood oor die hele mensdom gebring. Maar die apostel Paulus het verduidelik: “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Paulus het ook geskryf: “Net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe. Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word” (Romeine 5:8, 18, 19). Hoe vreugdevol kan ons tog wees dat dit Jehovah God behaag om dié nakomelinge van Adam vry te koop wat hierdie liefdevolle voorsiening benut!

Godsdiensvryheid en -verligting

9. Waarom is ons vanuit ’n godsdiensstandpunt vreugdevol?

9 Vryheid van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, is nog ’n rede tot vreugde. Dit is Goddelike waarheid wat ons vrygemaak het (Johannes 8:32). En vryheid van hierdie godsdienshoer beteken dat ons nie gemeenskap met haar sondes het, haar plae ontvang en saam met haar vernietig sal word nie (Openbaring 18:1-8). Dit is glad nie ’n jammerte om aan al daardie dinge te ontkom nie!

10. Watter verligting geniet ons as Jehovah se volk?

10 As ons God se Woord verstaan en dit in ons lewe toepas, het ons groot rede om ons te verbly. Omdat ons vry van die invloed van valse godsdiens is, geniet ons immer toenemende geestelike insig wat ons hemelse Vader deur “die getroue en verstandige dienskneg” voorsien (Mattheüs 24:45-47). Van al die mense wat op die aarde woon, is dit net dié wat uitsluitlik aan Jehovah toegewy is wat sy heilige gees en die geseënde begrip van sy Woord en wil het. Dit is soos Paulus gesê het: “God het dit [die dinge wat hy berei het vir diegene wat hom liefhet] aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” (1 Korinthiërs 2:9, 10). Ons kan dankbaar asook vreugdevol wees dat ons die progressiewe begrip geniet waarvan Spreuke 4:18 praat: “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.”

Die Koninkrykshoop en die ewige lewe

11. Hoe is die vreugdevolle Koninkrykshoop aan ander bekend gemaak?

11 Ons Koninkrykshoop maak ons ook vreugdevol (Mattheüs 6:9, 10). As Jehovah se Getuies verkondig ons al lank God se Koninkryk as die enigste hoop vir die hele mensdom. Beskou byvoorbeeld die jaar 1931 toe ons die naam Jehovah se Getuies aangeneem het deur ’n resolusie wat vreugdevol by 51 byeenkomste deur die hele wêreld goedgekeur is (Jesaja 43:10-12, NW). Daardie resolusie en ’n betekenisvolle toespraak deur J. F. Rutherford (wat destyds die president van die Wagtoringgenootskap was) het in die boekie Die Koninkryk, die hoop van die wêreld verskyn. Dit het nog ’n resolusie bevat wat by daardie byeenkoms aangeneem is waarin die Christendom van afvalligheid en minagting vir Jehovah se raad beskuldig is. Dit het ook bekend gemaak: “Die hoop van die wêreld is Gods koninkryk, en daar is geen ander hoop nie.” Jehovah se Getuies het binne ’n paar maande meer as vyfmiljoen eksemplare van hierdie boekie in alle wêrelddele versprei. Sedertdien het ons dikwels bevestig dat die Koninkryk die mensdom se enigste hoop is.

12. Watter vreugdevolle lewensvooruitsigte word diegene voorgehou wat Jehovah dien?

12 Ons verbly ons ook in die vooruitsig op die ewige lewe onder Koninkryksheerskappy. Die “Klein kuddetjie” gesalfde Christene het ’n vreugdevolle hemelse hoop. “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus”, het die apostel Petrus geskryf, “wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons” (Lukas 12:32; 1 Petrus 1:3, 4). Vandag sien die meeste Getuies van Jehovah uit na die ewige lewe in die Paradys in die Koninkryk se domein (Lukas 23:43, NW; Johannes 17:3). Geen ander volk op aarde het enigiets wat met ons vreugdevolle vooruitsigte vergelyk kan word nie. Hoe moet ons dit tog nie koester nie!

’n Geseënde broederskap

13. Hoe moet ons ons internasionale broederskap beskou?

13 Om deel uit te maak van die enigste internasionale broederskap wat deur God goedgekeur word, is ook ’n bron van groot vreugde. Ons is gelukkig omdat ons die begeerlikste metgeselle op aarde het. Jehovah God self het na ons dag verwys en gesê: “Ek sal al die nasies skud‚ en die begeerlike dinge van al die nasies moet inkom; en ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul” (Haggai 2:7, NW). Alle Christene is weliswaar onvolmaak. Maar Jehovah het sulke mense deur Jesus Christus na hom toe getrek (Johannes 14:6). Aangesien Jehovah mense wat in sy oë begeerlik is na hom toe trek, sal ons vreugde oorvloedig wees as ons broederlike liefde aan hulle betoon, hulle hoogag, met hulle saamwerk in godvrugtige bedrywighede, hulle in hulle beproewinge bystaan en ten behoewe van hulle bid.

14. Watter bemoediging kan ons uit 1 Petrus 5:5-11 put?

14 Al hierdie dinge sal tot ons vreugde bydra. Dit is inderdaad die vreugde van Jehovah wat die vesting van ons geestelike broederskap deur die hele wêreld is. Ja, ons almal het met vervolging en ander ontberinge te kampe. Maar dit behoort ons nader aan mekaar te bring en ons ’n gevoel van eenheid te gee as lede van die een, ware organisasie van God op aarde. Soos Petrus gesê het, moet ons ons onder die kragtige hand van God verneder en al ons bekommernis op hom werp omdat ons weet dat hy vir ons sorg. Ons moet waaksaam wees omdat die Duiwel ons wil verslind, maar ons is nie op onsself aangewese nie, want Petrus voeg by: “Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.” En hierdie vreugdevolle, internasionale broederskap sal nooit ineenstort nie, want ons het die versekering dat God, ‘nadat ons ’n kort tyd gely het, ons sal volmaak, bevestig, versterk en grondves’ (1 Petrus 5:5-11). Dink net daaraan. Ons vreugdevolle broederskap sal vir ewig duur!

’n Sinvolle lewe

15. Waarom kan daar gesê word dat Jehovah se Getuies ’n sinvolle lewe lei?

15 Omdat ons ’n sinvolle lewe lei, ervaar ons vreugde in hierdie wêreld vol beroeringe. Die bediening wat aan ons toevertrou is, maak ons en ander gelukkig (Romeine 10:10). Dit is beslis ’n vreugdevolle voorreg om medewerkers van God te wees. Paulus het in hierdie verband gesê: “Wie is Paulus . . . en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig geword het? En dit soos die Here aan elkeen gegee het. Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei. So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei. Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een, maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang. Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.”—1 Korinthiërs 3:5-9.

16, 17. Watter voorbeelde kan aangehaal word om te bewys dat Jehovah se volk vreugdevolle, sinvolle lewens het?

16 Daar kan baie voorbeelde aangehaal word om te toon dat getroue diens aan Jehovah tot ’n sinvolle lewe lei wat ons met vreugde vervul. Tipiese woorde is: “Toe ek [die dag van die toewyding] in die vol Koninkryksaal rondkyk, kon ek agt lede van my gesin daar sien—ek en my vrou, en drie van ons kinders en hulle huweliksmaats. . . . Ek en my vrou het werklik ’n gelukkige, sinvolle lewe in die diens van God gehad.”

17 Dit is ook bemoedigend om te besef dat ’n mens op enige ouderdom ’n vreugdevolle en werklik sinvolle lewe in Jehovah se diens kan begin. Byvoorbeeld, ’n vrou wat Bybelwaarhede in ’n verpleeginrigting geleer het, is op die ouderdom van 102 as een van Jehovah se Getuies gedoop. Die laaste deel van haar lewe was dus vreugdevol en sinvol deurdat sy die ware ‘God gevrees en sy gebooie gehou het’.—Prediker 12:13.

’n Onfeilbare vesting

18. Wat kan gedoen word om neerslagtigheid te oorkom en ons vreugde te vermeerder?

18 Die vreugde van Jehovah is ’n onfeilbare vesting vir die getroues. Tog beteken hierdie vreugde nie dat ons nooit donker ure sal beleef soos dié wat Jesus beweeg het om in Getsemane te sê nie: “My siel is diep bedroef tot die dood toe” (Markus 14:32-34). Gestel ons voel neerslagtig omdat ons aan selfsugtige strewes toegegee het. Laat ons dan ons lewenswyse verander. As ons vreugde verflou het omdat ons onselfsugtig ’n swaar las van skriftuurlike verantwoordelikheid dra, kan ons miskien aanpassings maak wat die druk sal verlig en ons vreugdevolle gesindheid sal herstel. Daarbenewens sal Jehovah ons met vreugde seën as ons daarna strewe om hom te behaag deur die sondige vlees, die goddelose wêreld en die Duiwel kragtig te weerstaan.—Galasiërs 5:24; 6:14, NW; Jakobus 4:7.

19. Hoe behoort ons enige voorregte wat ons in God se organisasie het te beskou?

19 Om die redes wat ons bespreek het, en om baie ander redes, het ons groot vreugde. Of ons nou gemeentelike verkondigers of in die een of ander vorm van die voltydse diens is, ons kan almal oorvloedig in die werk van die Here wees, en dit sal beslis tot ons vreugde bydra (1 Korinthiërs 15:58). Ongeag watter voorregte ons in Jehovah se organisasie het, ons moet dankbaar wees daarvoor en vreugdevol aanhou om heilige diens aan ons liefdevolle, gelukkige God te lewer.—1 Timotheüs 1:11, NW.

20. Wat is ons grootste voorreg, en waarvan kan ons seker wees?

20 Ons het veral rede om ons te verbly in ons voorreg om Jehovah se groot naam as sy Getuies te dra. Ja, ons is onvolmaak en kom voor baie beproewinge te staan, maar ons moet ons wonderlike seëninge as Jehovah se Getuies in gedagte hou. En onthou, ons dierbare hemelse Vader sal ons nooit in die steek laat nie. Ons kan daarvan seker wees dat ons altyd geseënd sal wees as die vreugde van Jehovah ons vesting is.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Wat is “die vreugde van Jehovah”?

◻ Hoe verkry Christene ware vreugde?

◻ Wat is sommige van die redes waarom Jehovah se Getuies vreugdevol is?

◻ Waarom is die vreugde van Jehovah ’n onfeilbare vesting?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel