Hoe om jou kinders groot te maak sodat hulle Jehovah liefhet
“My seun, as jou hart wys word, dan sal my hart hom ook verheug.”—Spreuke 23:15.
1. Watter spesiale vreugde kan ouers smaak, en wat moet jy as ouer daaromtrent doen?
WATTER vreugde verskaf dit tog nie om te sien hoe kindertjies grootword en ryp knegte van God word nie! Dit gebeur trapsgewyse: hulle word nuuskierig, neem kennis in, verkry vermoë, neem hulle standpunt vir Christelike waarheid in, verkry rypheid, wy hulle aan God toe en word sy getroue knegte. Hoe kan jy, as jy ’n ouer is, jou kinders langs hierdie goeie weg help? Dit verg klaarblyklik inspanning. Die apostel Paulus het gevra hoe persone “in Hom [kan] glo van wie hulle nie gehoor het nie”. En hoe kan hulle hoor tensy iemand hulle leer?—Romeine 10:14.
2. Hoe kan ons ons kinders help om Jehovah God te waardeer?
2 Jong kindertjies is vol verwondering. Hulle verwonder hulle oor ’n skoenlapper, ’n voël, ’n blom, ’n grashalm, die lug en ’n ster. Watter wonderlike geleenthede bied dit ons tog om te praat oor die Skepper en ons redes om hom dankbaar te wees! Die psalmis het geskryf: “Dit is goed om die HERE te loof [dank, NW]” (Psalm 92:1). Jy kan hom dank vir natuurlike wonders, vir materiële lewensbenodigdhede en vir die waarheid van sy Woord. Jou kinders sal jou dankbaarheid waarneem en dit nooit vergeet nie.—Psalm 8:4, 5; 19:2; Romeine 1:20; Deuteronomium 8:10; Spreuke 22:6.
3. Wat is een goeie manier om ons kinders te leer? Verstrek voorbeelde.
3 Kindertjies hou van stories. God het dit geweet. Hy het baie ware verhale in die Bybel laat opteken—verhale wat selfs kleuters van God se weë kan leer. Dit toon byvoorbeeld dat ons geloof moet hê soos Abraham gehad het, Hom moet vertrou soos Josua en Kaleb Hom vertrou het, Hom moet gehoorsaam terwyl ons jonk is soos Samuel en Timotheüs Hom gehoorsaam het, en standvastig moet wees in ons geloof soos jong Sadrag, Mesag en Abednego was.*
4. Watter voorbeelde het ons vandag sowel as in Bybeltye van kinders wat God se weë leer ken het?
4 Kinders leer vinnig. Hulle leer advertensie-slagspreuke en baie dinge wat jy soms wens hulle nie gehoor het nie. Hoeveel belangriker is dit tog om hulle te help om van God en sy weë te leer! Baie persone het al opmerkings gemaak oor hoe kinders goeie kommentare tydens Christenvergaderinge kan lewer, en hoe hulle op ’n jeugdige leeftyd aan die Teokratiese Bedieningskool kan deelneem. Sulke jongmense is lewende voorbeelde van die waarde van die Bybel se instruksies oor kinderopleiding. Israelitiese ouers moes hulle kinders voortdurend leer, en selfs die “kleintjies” moes kom luister wanneer God se wet gelees word. Hulle kinders moes luister en “leer om Jehovah julle God te vrees”.—Deuteronomium 31:12, 13. NW; 6:5-9.
5, 6. Hoe kan jy jou kinders help om God se weë te leer ken?
5 Jy het moontlik ’n goeie kennis van God se Woord, maar dit beteken nie dat jou kinders dit ook het nie. Hulle erf nie jou kennis nie. Dit is jou plig as ouer om hulle die wonderlike dinge van God te leer en om dit interessant te maak sodat hulle graag wil leer.
6 Verstaan jou kinders die leerstellings van die Bybel? Het hulle die beginsels daarvan vir die daaglikse lewe geleer? Het jy ’n gereelde gesins-Bybelstudie saam met hulle? Het jy, indien hulle nog klein is, Luister na die Groot Onderwyser, met sy ses-en-veertig onderwerpe wat geskryf is sodat hulle dit kan verstaan, saam met hulle gestudeer? Het jy, indien jy dit gedoen het en jou kinders nou groot word, Jou jeug—Hoe om dit ten beste te benut, wat puik informasie bevat om jongmense te help om die lewe onder die oë te sien, saam met hulle gestudeer? Die Bybel sê dat jong Timotheüs sulke dinge “van kleins af” geleer is. Jakob se besorgdheid oor “die gang van die kinders” op pad na Seïr toon hoe belangrik dit is om jou pas by hulle vermoë aan te pas. Julle studie saam moet op ’n vlak wees wat hulle kan verstaan en moet nie te lank wees as hulle nog baie klein is nie.—2 Timotheüs 3:15; Genesis 33:14.
Die krag van die waarheid
7, 8. (a) Waarom is kennis van die waarheid so belangrik? (b) Hoe kan ouers hulle kinders help om Christenvergaderinge te waardeer?
7 God se waarheid is ’n sterk krag. Dit kan volwasse manne se denke en persoonlikheid verander. Die Bybel sê dat ons, “wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê . . . En . . . vernuwe moet word in die gees van [ons] gemoed” (Efesiërs 4:22-24; Kolossense 3:9, 10). Daar dit so kragtig is, kan Christelike waarheid ’n groot beskerming vir jou kinders wees. Jong persone spreek herhaaldelik waardering uit vir die gereelde pogings van hulle ouers om hulle na vergaderinge te neem waar God se Woord bespreek word, hetsy hulle oorspronklik wou gaan of nie. ’n Tienderjarige het gesê: “Ek wou aanvanklik nie gaan nie. Ek het nie veel verstaan nie. Toe het ek baie opgewonde geraak omdat ek besef het: Ek leer sowaar die Bybel ken!”
8 Baie ouers berei saam met hulle kinders voor sodat die kinders sal verstaan. Ander spoor hulle kinders aan om ’n paar gedagtes wat tydens die vergadering gemeld is te onthou en bespreek dit dan op pad huis toe. Ons kan ons voorstel dat sulke lewendige gesprekke plaasgevind het wanneer Israelitiese gesinne van hulle aanbidding by Jerusalem teruggekeer het.—Deuteronomium 31:10-13; Lukas 2:41, 42.
Godvrugtige diens
9, 10. Wat kan jy doen om jou kinders te help om Christelike diens te waardeer en te geniet?
9 Wat die openbare predikingswerk betref, kan jou kinders godvrugtige diens dalk soos Jeremia beskou: “Ag, Here HERE, voorwaar, ek kan nie praat nie, want ek is jonk.” Dit is dus belangrik om hulle trapsgewyse op te lei. Na gelang van hulle ouderdom en vordering kan hulle die deurklokkie lui, ’n uitnodiging aanbied, ’n Bybelteks lees, Bybelgebaseerde publikasies by huise in hulle buurt aanbied, en moontlik selfs Bybelstudies hou.—Jeremia 1:6, 7.
10 Jou gesindheid sal ’n groot uitwerking op jou kinders hê. ’n Jong Getuie sê: “My ma geniet werklik die diens. Elke keer as sy terugkom, het sy iets interessants om te vertel.” Wanneer jongmense ekstra take moet verrig sodat hulle moeder ’n maand lank ’n pionier (voltydse prediker) kan wees, voel dit vir hulle asof hulle deel het aan haar bedrywigheid en sien hulle daarna uit om self sulke voorregte te geniet. ’n Een-en-twintigjarige sê: “My ouers het nie ’n geheim daarvan gemaak dat hulle die pionierdiens as die beste lewenswyse beskou het nie.” ’n Ander jong persoon het verduidelik: “Ek kan nie eens ’n tyd onthou toe die pionierdiens nie as ’n doelwit vir ons gestel is nie.” Jongmense kan hulle verheug en aangename ondervindings geniet wanneer hulle Jehovah dien, want hy is “die gelukkige God”, en Christus Jesus is “die gelukkige en enigste Maghebber”.—1 Timotheüs 1:11, NW; 6:15, NW.
Waardering
11-13. Wat is party van die voordele wat jou geloof vir jou kinders inhou ten opsigte van (a) vrees vir die toekoms? (b) vrees vir die dood?
11 Dit is belangrik om te sorg dat jou kinders die dinge waardeer wat hulle het wat ander mense moontlik nie het nie.
12 Een ding wat hulle het, is sekuriteit. Vandag se jongmense oor die algemeen bespreek die wêreld se probleme by die skool en sien dit op televisie. Hulle praat oor besoedeling, kernoorlog en die moontlike vernietiging van die wêreld. Jong Getuies het andersyds vertroue en ’n gevoel van sekuriteit. Hulle weet dat God betyds sal ingryp en dat hy ‘die verderwers van die aarde gaan verderf’.—Openbaring 11:18.
13 Baie van hulle vriende vrees die dood. ’n Dertienjarige het gesê: “Om net groot te word met die dood in die vooruitsig klink nie reg nie.” Jou kinders weet dat die Bybel sê: “Die dooies weet glad niks nie” en dat dit met die dode se “planne gedaan” is, sodat hulle nie gefolter word nie. Hulle weet ook dat die Skrif lewe beloof—dat baie mense in hulle grafte sal “uitgaan”, omdat daar ’n “opstanding in die laaste dag” sal wees. Jou kinders kan hierdie vertroostende verklarings in die Bybel lees in Prediker 9:5, 10; Psalm 146:4; Johannes 5:28, 29 en Johannes 11:11-25.
14. Waarom moet dit vir jou kinders belangrik wees om die waarheid te hê?
14 Besef jou kinders bowendien die belangrikheid van die waarheid wat hulle het? ’n Jong Getuie het gesê: “Die ding wat my na die waarheid getrek het, is die feit dat dit presies is wat dit is—die waarheid. Alles moes altyd vir my verduidelik word. Ek het altyd gevra: Waarom? Die Bybel is so duidelik soos daglig, jy kan werklik daaraan vashou.” Jesus het gesê: “Die waarheid sal julle vrymaak.” Dit het duisende bevry, nie alleen van godsdienstige slawerny nie, maar ook van dwelms, onsedelikheid, die gevaar van veneriese siekte, bygelowe, valse leerstellings en die bekommernisse en moeilikhede wat eie aan hierdie goddelose wêreld is.—Johannes 8:32.
15. Hoe behoort ouers sowel as kinders aangespoor te word deur die waarhede in (a) 1 Johannes 4:9, 10? (b) 2 Petrus 3:13?
15 Het jy vir jou kinders die belangrikheid van God se liefde en barmhartigheid geleer? Besef hulle wat dit vir hom beteken het om sy Seun as ’n losprys na die aarde te stuur? (1 Johannes 4:9, 10; Romeine 8:38, 39). Koester hulle die vooruitsig op ewige lewe op die aardse paradys? (2 Petrus 3:13). Jou waardering vir sulke seëninge sal jou kinders aanspoor om groter waardering daarvoor te verkry. Die Skrif sê dat ouers God moet vrees en sy gebooie moet onderhou “dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan”.—Deuteronomium 5:29.
16. Wat moet kinders gehelp word om te besef aangaande die waarde van God se Woord in hulle gesin?
16 Besef jou kinders wat kennis van God se Woord vir julle gesin gedoen het? Jou kinders het waarskynlik skoolmaats was as gevolg van egskeiding twee of drie moeders of vaders het. Besef jou kinders, indien julle ’n hegte gesin het waarin die ouers ’n lewenslange verbintenis met mekaar aangegaan het, dat dit in ooreenstemming met Bybelbeginsels is? (Hebreërs 13:4). Besef hulle dat Bybelbeginsels hulle help om ’n gevoel van sekuriteit te hê, kameraadskap te geniet, te voel dat hulle êrens hoort, vir hulle ’n doel en rigting gee, asook die gevoel dat hulle iets bereik en waardevol is—dinge wat baie jongmense nooit ervaar het nie?
17, 18. Hoe kan kinders sien dat God se Woord vir hulle nuttig is (a) in gesinne wat godsdienstig verdeeld is? (b) in huise met net een ouer?
17 Maar jy dink miskien: ‘Ons gesin is verdeeld—my man (of vrou) pas nie sulke beginsels toe nie.’ Dit verhinder jou nie om dit toe te pas nie. Die Bybel sê dat ongelowige mans “deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word”. As jou ongelowige huweliksmaat beïndruk kan word deur jou goeie voorbeeld, dink dan net watter uitwerking jou getroue toepassing van godvrugtige beginsels op jou kinders kan hê!—1 Petrus 3:1, 2.
18 Of jy is dalk ’n enkelouer wat jou kinders alleen moet grootmaak. Erken dan hierdie probleem aan jou kinders. Ondersteun mekaar. Laat hulle die verskil sien tussen hulle lewe en dié van ander gesinne met net een ouer waarvan hulle weet. Watter seën het hulle tog om te woon in ’n huis waar daar geen dronkenskap, alkoholisme, hoerery én ander werke van die vlees is nie!—1 Korinthiërs 6:9, 10; Galasiërs 5:19-21.
Heilsame bedrywighede
19, 20. (a) Hoe kan ouers voorsien in hulle kinders se behoefte aan kommunikasie en omgang? (b) Met watter gevolge?
19 Kinders het ’n behoefte aan spel. Een van die gelukkige toestande wat die Bybel assosieer met die herstelling van Jerusalem se tempel was “seuntjies en dogtertjies wat op die pleine daarvan speel” (Sagaria 8:5). Kinders het ook ’n behoefte aan jou tyd. Slegs deur tyd saam met hulle deur te bring, hulle te laat praat en werklik te luister na wat hulle sê, kan jy kommunikasie geniet, hulle probleme leer ken en van hulp wees. Hoewel Christenkinders nie sekere feeste met ’n heidense oorsprong vier nie, reël hulle ouers dikwels aangename tye vir hulle—uitstappies, gesellighede of ander heilsame gesinspret. Gedurende die jaar kry hulle van tyd tot tyd geskenke. Party gesinne het ’n viering wanneer die grootouers hulle besoek. Ouers staan heilsame omgang met ander jong Christene voor. Indien die gesin afgesonderd is, kan jongmense penvriende hê wat hulle by Christelike byeenkomste ontmoet.
20 Een vader vra dikwels vir sy kinders: “Dink julle dat julle iets misloop weens julle geloof?” Die antwoord: “Beslis nie!” Een jong persoon, wat sy lewe vergelyk het met dié van sy skoolmaats, het gesê: “Al wat ek misgeloop het, is ’n klomp moeilikheid.”
Hulp van buite
21. Hoe kan ander help, met die wete dat die opleiding van kinders die ouers se verantwoordelikheid is?
21 Dit is ons verantwoordelikheid om ons kinders te leer. Die Bybel toon dat die vader die leiding moet gee, en dat die moeder moet help. Dit sê: “My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie” (Spreuke 1:8; Efesiërs 6:4). Maar dit beteken nie dat ander nie kan help nie. Die gemeente is ’n gesin, en ryp ouere manne vertel herhaaldelik van die spesiale hulp wat iemand in die gemeente aan hulle verleen het toe hulle jonk was. Ywerige Getuies het tere herinneringe aan persone wat hulle lank gelede saamgeneem het in die Christelike diens. Jong persone waardeer dit opreg wanneer ouer persone sulke belangstelling in hulle toon en hulle help om op die regte weg te bly.—Spreuke 13:20.
Jou eie voorbeeld
22. Hoe belangrik is jou voorbeeld?
22 Dit is belangrik dat jou kinders sien dat jy op God vertrou vir leiding en dat jy sy Woord ’n deel van jou gemaak het—dat jy dit werklik glo en dit in jou lewe toepas (Psalm 143:10). Hulle sien jou gesindheid. As die vergaderinge vir jou ’n las is, as jy aanmerkings maak oor die ouere manne, lede van die gemeente kritiseer en teen Jehovah se diens opsien, sal jou kinders waarskynlik jou slegte voorbeeld volg. Maar as jy hierdie teokratiese reëlings as wonderlike seëninge van Jehovah af beskou, sal jou kinders dit waarskynlik ook so beskou. Die grootmaak van kinders bestaan nie hoofsaaklik uit ’n paar groot dinge nie, maar uit talle klein dingetjies. As jy die klein dingetjies elke dag reg doen, sal jy waarskynlik enige grotes wat opduik, kan hanteer.—Lukas 16:10; Mattheüs 25:21.
23. Hoe kan jou verwagtings jou kinders beïnvloed?
23 Dit is baie belangrik dat jou kinders weet watter spesiale plek hulle in jou hart beklee. Hulle moet weet dat jy hulle waarlik liefhet, en dat jy teleurgesteld sou wees indien hulle nie godvrugtige beginsels naleef nie. Salomo het geskryf: “My seun, as jou hart wys word, dan sal my hart hom ook verheug.” En: “Die vader van ’n regverdige juig baie” (Spreuke 23:15, 24). Maar gestel nou dat jou kinders, namate hulle ouer word en moontlik ’n drang na onafhanklikheid ervaar, iets doen wat jy reeds met hulle bespreek het en wat hulle gevolglik weet in God se oë verkeerd is. Moenie oorhaastig moed opgee of ophou om hulle te probeer help nie. Onthou dat hulle ook onvolmaak is en ’n baie moeilike oorgangstyd beleef. Ondanks jou teleurstelling moet jy voortgaan om op ’n simpatieke, dog ferm en duidelike wyse te toon dat dit waarlik vir hulle die beste sal wees as hulle volgens God se beginsels lewe.—Jakobus 3:2.
24. Op watter beloning kan ouers hoop as hulle hulle kinders volgens godvrugtige beginsels grootgemaak het?
24 Dit is bemoedigend wanneer ons kinders voorbeeldige jong manne en vroue word, hulle eie verantwoordelikhede aanvaar en die dinge wat ons hulle probeer leer het, in die lewe toepas. Net soos Paulus jong Timotheüs vermaan het, sê ons aan ons kinders: “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (2 Timotheüs 2:15). Dan sal ons van ons vleeslike kinders, wat ook ons geestelike kinders geword het, kan sê: “Ek het geen groter blydskap as dit nie, dat ek hoor dat my kinders in die waarheid wandel.”—3 Johannes 4.
[Voetnoot]
* Hierdie en talle ander verhale word ln My boek met Bybelverhale vertel in ’n taal wat jong kinders maklik verstaan. Dit is verkrygbaar by die uitgewers van hierdie tydskrif of by enige van Jehovah se Getuies.
Onthou jy hierdie gedagtes?
◻ Waarom moet ons ons kinders getrou van God en sy waarheid leer?
◻ Hoe kan jy Christenvergaderinge vir jou kinders interessant maak?
◻ Hoe sal ons as liefdevolle ouers ons kinders trapsgewyse in godvrugtige diens lei?
◻ Van watter seëninge wil ons seker maak dat hulle bewus is?
[Venster op bladsy 23]
Kinders het teregwysing, leiding en perke nodig. Die Bybel sê dat “die sotheid vassit in die hart van die seun” (Spreuke 22:15). Maar wanneer ouers genoeg belangstelling toon om perke te stel en te sorg dat hulle kinders dit begryp en daarbinne bly, voel kinders veilig—hulle ouers sal hulle nie dinge laat doen wat hulle tot nadeel kan strek nie.
[Prente op bladsye 24, 25]
Namate ’n jong persoon ouer word . . . kan sy ouers hom help om geestelik te vorder