Hoe om gelukkige kinders in ’n wêreld vol beroering groot te maak
Hierdie is die eerste van twee studie-artikels. Hierdie een is vir die ouers en die kinders, terwyl die tweede een spesifiek vir jongmense is.
“As hulle maar so ’n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan.”—Deuteronomium 5:29.
1. Waarom is die onderwerp van hierdie les vir ons van soveel belang?
“MY EERSTE BABA!” Watter salige woorde van die moeder wat daardie warm bondeltjie teen haar bors vasdruk! Die Bybel praat van die teerheid van ’n sogende moeder en gebruik dit as ’n voorbeeld van die liefde wat in die Christengemeente moet bestaan. Selfs onregverdige mense het hulle kinders lief en gee vir hulle goeie dinge. Hoeveel te meer moet ons wat geregtigheid liefhet in ons kinders en in hulle opleiding vir lewe in vandag se wêreld belangstel!—1 Thessalonicense 2:7; Psalm 127:3-5; Mattheüs 7:11.
2. Wat is die beste bron van raad en voorligting oor die grootmaak van kinders? Waarom?
2 Maar die nuwe ouer besef gou dat die grootmaak van kinders ’n ernstige verantwoordelikheid is. Waar kan jy goeie raad en voorligting kry? Wend jou gerus tot die Skepper. Hy het immers gereël dat kinders gebore word (Genesis 1:28). Hy het elke kind gesien wat al ooit gebore is, asook die gevolge van die ouers se handelinge. Sy instruksies sal die beste wees. Hulle is opgeteken in die Bybel—tesame met voorbeelde van mense wat sy beginsels toegepas het, en van ander wat dit nie gedoen het nie.—Spreuke 3:5, 6.
3. (a) Wat is party van die dinge wat ons kinders nodig het? (b) Waarom moet dit ons nie ontmoedig nie?
3 Wat leer hierdie wonderlike boek ons oor die grootmaak van kinders? Dit bevat baie dinge wat hedendaagse spesialiste meen hulle self ontdek het. Dit toon onder meer kinders se behoefte aan liefde en sekuriteit. Hulle moet van God en sy Woord geleer word. Hulle het goeie opleiding, heilsame ondervindinge, goeie voorbeelde en die regte omgang nodig. Hulle moet gehoorsaamheid en eerbied vir gesag leer. Hulle moet onderrig ontvang oor sedes en die huwelik, oor die soort man of vrou wat ’n mens graag wil hê en wil wees, en oor hoe om ’n goeie ouer te wees. Dit klink na ’n groot taak vir jou as ouer. Maar onthou, die Bybel kan wysheid gee. Dit kan “aan die eenvoudiges skranderheid . . . gee”, en aan die jong persoon “kennis en oorleg”. Kom ons kyk na ’n paar van die dinge wat dit vir ons oor die grootmaak van kinders sê.—Spreuke 1:4.
Bybelse voorbeelde
4. (a) Wat het die kinders van Godvresende ouers geleer? (b) Deur wie en hoe is hulle dit geleer?
4 Die Bybel toon dat die kinders van Godvresende ouers in sekuriteit grootgemaak is deur gesinne wat besorg was oor hulle swakhede en hulle behoefte aan beskerming (Genesis 33:14; 43:8). Kinders is geleer hoe om ’n bestaan te maak—Dawid was ’n herder en Jesus ’n timmerman (1 Samuel 16:11; Markus 6:3). Hulle het ook iets baie belangrikers geleer—die wonderlike weë van die groot God JEHOVAH. Hierdie opleiding is nie in katkisasieklasse of in Sondagskole gegee nie, maar deur die mense met die grootste belangstelling in die kinders—hulle eie ouers. Jehovah het van die Israeliete verwag om sy weë aan hulle kinders en hulle kleinkinders bekend te maak (Deuteronomium 4:9, 10). Ouers moes hulle kinders te alle tye geleer het—tuis of wanneer hulle uit was, wanneer hulle gaan lê het en wanneer hulle opgestaan het. Hulle moes deur woord en deur voorbeeld leer en sodoende wonderlike waarhede aan daaropvolgende geslagte oordra.—Deuteronomium 11:18-21.
5. Wat sê ’n beroemde Bybelwoordeboek oor kinderopleiding?
5 Die beroemde Franse Dictionnaire de la Bible sê dat die kind ’n paar passasies uit die Bybelse wet geleer is sodra hy kon praat. “Sy moeder het ’n vers opgesê; wanneer hy dit geken het, het sy vir hom ’n ander een geleer. Later is die geskrewe teks van die verse wat hulle reeds uit die hoof kon opsê in die kinders se hande geplaas. So het hulle met lees kennis gemaak, en wanneer hulle groter geword het, kon hulle hulle godsdiensonderrig voortsit deur die wet van die Here te lees en te bepeins.”a Hierdie naslaanwerk sê voorts: “Dit was in die sekuriteit van die gesin en op die knieë van sy vader en moeder dat die kind sy eerste en nuttigste morele lesse ontvang het.”—DI. II, Kolom 1596.
6. (a) Watter opwindende ondervindinge het Israelitiese kinders geniet? (b) Het julle kinders soortgelyke ondervindinge gehad, en indien wel, hoe het hulle daarby baat gevind?
6 God het geweet dat kinders op nuwe ervarings reageer en dat dit ’n leermiddel kan wees. Die “kinders” is dus op opwindende reise na Jerusalem geneem om te hoor hoe God se wet gelees word (Deuteronomium 31:12, 13). Julle kinders kan soortgelyke seëninge geniet deur die gereelde kring- en streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies by te woon waar hulle baat kan vind by die onderrigting, as vrywilligers kan dien en goeie, nuwe vriende kan maak. Julle kan sulke gebeure glanspunte in hulle lewens maak net soos die reise na Jerusalem spesiale gebeurtenisse vir die Israelitiese kinders was.
7. Waarom is dit so belangrik om die regte voorbeeld te stel?
7 God het geweet hoe belangrik ’n goeie voorbeeld is. Kinders boots na wat hulle sien. Hulle kan ’n taal leer—iets wat baie moeilik is—deur na te boots wat hulle hoor. God het gesê: “As [die volk] maar so ’n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan.” Die Bybel sê: “’n Goeie mens laat sy kindskinders erwe” (Deuteronomium 5:29; Spreuke 13:22). Baie hang dus van julle af. As ouers moet ons ons bes doen om die regte voorbeeld te stel, want ons wil beslis nie hê dat ons kinders ’n verkeerde voorbeeld moet volg nie.
Slegte omgang
8. Watter vrae moet ons onsself oor ons kinders se omgang vra?
8 God vestig ook ons aandag op die gevare van slegte omgang. Sy Woord sê: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korinthiërs 15:33, NW). Dit is dus belangrik om te weet met wie julle kinders assosieer. Weet julle werklik wie hulle vriende is? Laat julle hulle hul vriende huis toe, tot in die huis. bring sodat julle hulle kan leer ken? Of laat julle die kinders sommer buite speel om hulle uit die pad te kry? Weet julle watter soort taal julle kinders hoor, en wat hulle maats se gesindheid teenoor leuens, diefstal en dwelmmiddels is?
9. Watter positiewe stappe kan julle doen om julle kinders te help om beter vriende te vind?
9 Gestel dat daardie omgang veel te wense oorlaat. Waar kan julle kinders dan beter maats vind? In die gemeente van Jehovah se Getuies—waar vuil taal, leuens, diefstal en dwelmmisbruik nie geduld word nie. Wens julle dat ander in die gemeente meer met julle kinders moet assosieer? Toon dan gerus belangstelling in hulle. Het julle die inisiatief geneem? Nooi gerus ander jongmense na julle huis, of vra hulle om saam met julle aan die Christelike getuieniswerk deel te neem of ander heilsame bedrywighede te geniet.
10. Hoe kan julle julle kinders help om beter metgeselle vir ander te word?
10 As julle dit op die proef gestel het en die probleem van omgang duur voort, sal dit miskien goed wees om julleself af te vra: Waarom? Het julle maar onlangs begin om Bybelbeginsels toe te pas? Soms het jongmense wat na die Koninkryksaal gebring word nog nie sekere probleme opgelos om self goeie metgeselle te word nie. Een jong persoon het van ’n ander gesê: “By die Koninkryksaal gedra sy haar, maar jy sal nie glo wat sy by die skool doen nie!” Hierdie meisie se losbandige gesindheid by die skool het meegebring dat ander nie met haar geassosieer wou word nie. Hoe kan julle julle kinders help om hulle eie gemoed in sulke sake te vernuwe? Julle onderrig, julle Bybelstudie as ’n gesin, julle deelname aan die Christelike getuieniswerk as ’n gesin, julle voorbeeld in woord, gedrag en eerlikheid, en julle pogings om die kind se hart met regte beginsels te bereik, kan baie help. Wanneer nodig, kan die gemeente se ouere manne ook ingeroep word om liefdevolle hulp te verleen.—Jakobus 5:13-15.
Gesinsprobleme
11. Waarom moet julle nie moed opgee as daar slegte voorbeelde in julle eie gesin is nie?
11 Maar gestel daar is ernstige probleme reg in julle gesin. Gestel ’n ongelowige huweliksmaat lewe reëlreg in stryd met heilsame Bybelbeginsels. Moenie moed opgee nie. Jou goeie invloed en die hulp van God se gees kan wondere verrig. Daar is kinders wat bo oënskynlik onoorkoomlike probleme uitgestyg en voorbeeldige jongmense geword het. Mense is deur God gemaak, en selfs kindertjies kan verbasende krag aan die dag lê wanneer hulle deur ’n vriend, deur ’n bedagsame ouer persoon of deur net een gelowige ouer in ’n oorheersend ongelowige gesin in die regte rigting gelei word.
12. Hoe is die voorbeelde van Lot en Timotheüs in hierdie opsig bemoedigend?
12 Beskou die voorbeeld van Lot. Sy gesin het in goddelose Sodom gewoon, en sy vrou wou klaarblyklik daar bly. Maar Lot en sy dogters het gevlug en die stad se vernietiging oorleef (Genesis 19:15-17, 23-26). Jong Timotheüs het ’n ongelowige vader gehad, maar sy moeder en grootmoeder het hom die Skrifte geleer en het gesien hoedat hy ’n getroue volgeling van Jesus Christus en ’n lojale metgesel van die apostel Paulus word (2 Timotheüs 1:5; 3:14, 15). Selfs al het jy nie ’n gelowige maat nie, kan God jou help om ’n innige liefde vir die waarheid en geregtigheid in die harte van jou kinders in te skerp.
Kennis en opleiding
13. (a) Waarom moet jong Christene opleiding ernstig opneem? (b) Hoe toon Salomo se voorbeeld die belangrikheid van korrekte spraak?
13 Spoor julle julle kinders aan om op skool sowel as in die gemeente te leer? Is dit vir julle gesin belangrik om dinge te leer? Dit was vir die Israeliete. Hulle gemeenskap was ’n geletterde. Hulle kinders kon die Skrifte lees. Julle kinders sal nie net lees nie, maar ook met ander oor God se Woord praat. Gebruik hulle korrekte grammatika? Het julle foute wat julle moontlik jare lank gemaak het, reggestel sodat julle kinders julle korrek hoor praat? Salomo het woorde om God te loof versigtig gekies. Ons lees gevolglik: “Die Prediker het gesoek om welgevallige woorde te vind en wat reg geskrywe is—woorde van waarheid.”—Prediker 12:10.
14. Hoe kan ons ons kinders leer om regte besluite te neem?
14 Ons wil seer seker hê dat ons kinders ryp volwassenes moet word en regte besluite in ooreenstemming met God se Woord moet neem. Dit sal dus goed wees om hulle van vroeg af regte beginsels te leer—nie net bevele wat gehoorsaam moet word nie, maar ook die redes daarvoor. Dan sal die kinders leer hoe om op hul eie regte besluite te neem.
15. (a) Watter belangrike ondersteuning het ons kinders van ons kant nodig? (b) Waarvoor moet ons oppas?
15 Ons kinders het met ’n verdorwe wêreld te doen. Dit is belangrik dat hulle ’n sin van krag en oortuiging in ons sien, en hulle moet weet dat ons hulle sal steun as hulle reg het, net soos Sara Isak teen Ismael verdedig het (Genesis 21:9, 10). Ons moet ook onthou dat as ons regte dinge verwag, die kanse groter is dat ons dit sal kry. “Weet Pappie waarom julle nie probleme met ons het nie?” het ’n jong Getuie vir haar vader gevra. “Dit is omdat julle nie probeer om ons te betrap waar ons iets verkeerds doen nie—julle verwag van ons om die regte ding te doen, en ons wil niks anders doen nie.” Hoe dikwels beskuldig ouers hulle kinders van iets, net om dan uit te vind dat hulle dit glad nie gedoen het nie! As ’n mens kinders van leuens beskuldig en die beskuldiging nie waar is nie, kan hulle dink dat jy verwag dat hulle sal lieg, met die gevolg dat hulle dit dalk die volgende keer doen.
16. (a) Watter wenke word aangaande Christenvergaderinge gegee? (b) Wat toon dat hierdie vergaderinge baie waardevol vir kinders is? (c) Weet jy van voorbeelde wat die waarde daarvan vir jongmense toelig?
16 Baie persone het gevind dat dit verstandig is om hulle kinders van kleins af vergaderinge toe te neem waar God se Woord bespreek word—en nie in ’n aparte vertrek met hulle te sit of hulle agter toe te neem nie (behalwe vir ’n paar oomblikke, en dan met goeie rede), maar om hulle te leer om stil te sit, om eerbied vir die vergaderinge te toon en om baat te vind by die goeie dinge wat bespreek word. Vandag onthou ouer persone wat in die geloof vasstaan die ywer van hulle ouers wat gereeld lang afstande met hulle afgelê het, moontlik in ’n ou rammelkas, om sulke vergaderinge by te woon. ’n Gemeentelike ouere man onthou ingewikkelde profesieë wat hy sy ouers hoor bespreek het terwyl hulle die Wagtoring-studie voorberei het toe hy nog ’n kindjie was wat op die vloer gespeel het. Min het hulle gedink dat hy luister—wat staan nog dat hy meer as ’n halfeeu later die verduideliking sal onthou!
17. Watter Bybelse voorbeelde kan jy meld waar kinders vergaderinge bygewoon het, en watter vrae kan ons onsself hieroor afvra?
17 In Esra se dag het almal wat met verstand kon luister van dagbreek tot die middag gestaan om te hoor hoe die Skrifte gelees word (Nehemia 8:3, 4). Gestel julle het toe gelewe. Sou julle kinders daar gewees het, of sou julle gedink het dat die materiaal te ingewikkeld en die lesing te lank is en hulle weggestuur het om te gaan speel? Josef en Maria “was gewoond om elke jaar met die paasfees na Jerusalem te gaan”. Dit is waarom hulle daar was toe Jesus 12 jaar oud was (Lukas 2:41-49). Sou julle daardie afstand te voet of op die rug van ’n esel afgelê het om daardie byeenkoms by te woon? Toe skares, waaronder daar “kinders” was, gekom het om na Jesus te luister en hulle geen kos gehad het om te eet nie, het Jesus hulle op wonderdadige wyse gevoed (Mattheüs 14:21; 15:38). Sou julle kinders daar gewees het, of sou julle tuisgebly het om vir hulle ’n oënskynlik nodige maaltyd te gee?
18. Op watter ander manier kan ons waardering vir Christenvergaderinge toon?
18 Weet julle kinders dat julle Bybelstudievergaderinge ernstig opneem? Sien hulle dat julle hierdie vergaderinge belangrik genoeg beskou om dit nie alleen by te woon nie, maar om daaraan deel te neem deur kommentaar te lewer wanneer die geleentheid hom voordoen? Het julle byvoorbeeld hierdie les saam met julle kinders voorberei, en gaan julle albei, sowel as hulle, ten minste een kommentaar lewer in die vergadering waar dit bespreek word?
’n Hoë doelwit
19. Watter positiewe gesindheid moet ons oor die grootmaak van ons geliefde kinders hê?
19 Doen enigiemand al hierdie dinge volmaak? Natuurlik nie! Die dinge wat hier bespreek is, is dinge wat ons ons ten doel moet stel, nie doelwitte wat reeds bereik is nie. In hierdie wêreld sal daar altyd probleme wees, maar die Bybel gee vir ons maniere om hulle die hoof te bied, en as ons probeer om dinge op God se manier te doen, sal hy ons help. Toe daar vir een Christenvader gevra is waarom sy kinders oënskynlik sterk in die geloof is, het hy gesê: “Ek weet werklik nie. Ons het niks buitengewoons gedoen nie. Ons het net probeer om die raad toe te pas wat ons uit die Bybel en van die organisasie gekry het.”
20. (a) Wat is party van die dinge wat julle kan doen om vandag gelukkige kinders groot te maak? (b) Hoe spoor die temateks aan die begin van hierdie les sowel as Spreuke 20:7 ons in hierdie verband aan?
20 En as jy tot die kern deurdring, is dit presies wat nodig is om vandag gelukkige kinders groot te maak. Stel die regte voorbeeld. Leer dit aan julle kinders. Verbly julle oor die goeie dinge wat hulle doen, en probeer hulle help om die ander reg te stel. Deel hulle vreugde en hulle lewe. Bewys liefde. Doen dinge op God se manier, en hy sal julle pogings seën. Onthou Salomo se prikkelende, geïnspireerde woorde: “Wie in sy regskapenheid wandel as ’n regverdige—gelukkig is sy kinders ná hom.”—Spreuke 20:7.
[Voetnoot]
a Net soos vandag kon party mense in Bybeltye lees en party kon nie, maar die vermoë om te lees was moontlik baie algemener as wat baie mense dink. (Vergelyk Jesaja 29:11, 12.) Trouens, The Encyclopedia of the Jewish Religion sê: “Geletterdheid was skynbaar iets algemeens in antieke Israel.”
God se bevele moes op die deurposte geskryf en op die hande gebind word—dade wat min waarde sou hê vir mense wat nie kon lees nie (Deuteronomium 6:8, 9; 27:8). Die koning moes sy eie afskrif van die wet skrywe en daagliks daarin lees (Deuteronomium 17:15, 18, 19). ’n Seun van Sukkot het die name van die vorste van sy dorp opgeskrywe.—Rigters 8:14.
Dit was nie net die geleerde klas wat kon lees en skryf nie. In sy kommentaar oor die boek Rigters het James D. Martin geskryf dat “party van ons vroegste alfabetiese geskrifte deur slawe in die myne van Sinai op grotmure uitgekrap is”. Amos was ’n nederige skaapboer. Miga was ’n plattelandse profeet van die dorpie Moreset (Amos 1:1; Miga 1:1). Tog het albei Bybelboeke geskryf.
Die apokriewe boek Eerste Makkabeërs, wat waarskynlik omstreeks die laaste deel van die tweede eeu v.G.J. geskryf is, toon dat mense afskrifte van die Wet in hulle huise gehad het (1 Makkabeërs 1:55-57). Die Joodse geskiedskrywer Josefus het sy eerste-eeuse beskouing gelug dat die Wet voorskryf dat kinders “geleer moet word om te lees, en die wette sowel as die dade van hulle voorvaders moet leer”.—Against Apion. II bl. 375 (25).
OUERS EN KINDERS, HOE SAL JULLE HIERDIE VRAE BEANTWOORD?
◻ Waar moet ouers raad soek om kinders groot te maak, en waarom?
◻ Watter Bybelvoorbeelde het ons van behoorlike kinderopleiding?
◻ Op watter praktiese maniere kan ouers ’n ogie oor hulle kinders se omgang hou?
◻ Hoe kan die toepassing van Bybelbeginsels probleme in verdeelde huisgesinne oplos?
◻ Watter stappe moet ouers doen met die oog op die behoorlike opleiding van hulle kinders?
◻ Kan ouers en kinders verwag om alles volmaak te doen? Hoe kan hulle nietemin welslae behaal?
[Prent op bladsy 13]
’n Knaap het vir sy moeder gevra: “Kyk net hoe baie moeite is dit om ’n kind groot te maak. Wens Mammie nie dat ek nooit gebore is nie?” Baie jare later onthou hy nog met groot teerheid haar antwoord: “Enigiets wat die moeite werd is, verg tyd en inspanning.”
[Prent op bladsy 14]
Hoe dikwels stel julle as ouers die voorbeeld deur nie alleen vergaderinge waar God se Woord bespreek word by te woon nie, maar ook daaraan deel te neem?