Betroubare leiding vir vandag se jongmense
“Hoor, my seun, en neem my woord aan. . . . In die weg van die wysheid onderrig ek jou.”—Spreuke 4:10, 11.
1, 2. (a) Watter vrae word aan jongmense gestel? (b) Waar kan betroubare antwoorde gevind word?
IS JY as ’n jongpersoon bekommerd oor jou toekoms? Lyk die wêreld soms skrikwekkend? Sou jy graag wou weet hoe om lewensprobleme die hoof te bied en waar om betroubare leiding en gesonde raad te kry?
2 Jy kan sulke hulp vind in ’n ou boek wat aanbied om “aan die jongeling kennis en oorleg” te gee. Watter boek is dit? Dit is die boek SPREUKE, in die Bybel. As jy ’n jong persoon is, moet jy daardie Bybelboek lees, want dit kan jou help om gelukkig en suksesvol te wees. As jy ’n volwassene is, veral ’n ouer, kan daardie boek jou help om te sien hoe jy jou kinders of jong vriende op die beste manier kan help. Die eerste nege hoofstukke van Spreuke bevat raad soos dié van ’n liefdevolle vader aan sy seun. Hy sê: “Hoor, my seun, en neem my woorde; aan . . . In die weg van die wysheid onderrig ek jou.”—Spreuke 1:1-4; 4:10, 11.
3. Watter waardevolle inligting vir jongmense bevat die boek Spreuke?
3 Nie almal verlang natuurlik sulke hulp nie. Party mense verkies om dinge op hulle manier te doen. Hulle wil nie raad hê nie—nie eens van God af nie. Maar Spreuke sê: “Laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder” (Spreuke 1:5). Hierdie boek wys hoe ’n mens ’n gelukkiger lewe kan lei. Dit behandel morele wette. Dit toon die goeie gevolge van ’n regte lewe. Dit kan jou help om verstandige besluite te neem. Dit toon dat wysheid en kennis genot kan verskaf, en dat jy jou lewe kan red deur onrusstokers te vermy. Die boek Spreuke bevat bekwame voorligting, vir julle jongmense sowel as vir ouer persone.
Wysheid en kennis
4, 5. (a) Hoe beskikbaar is wysheid? (b) Waarom sal baie mense nie luister nie? (c) Wat meen jy is die verstandige weg? Waarom?
4 God, wat alle dinge geskape het, is ook die bron van wysheid. Hy wil hê dat mense sy wyse weg moet ken. Hy laat dit “daarbuite” verkondig sodat almal kan hoor. Maar die meeste mense wil nie luister nie. Baie hou nie van die bron waaruit dit kom nie. Spreuke sê: “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE.” En: “Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug.”—Spreuke 1:20; 9:10; 1:7.
5 Baie mense wil God nie gehoorsaam nie. Hulle hou van dinge soos dit is, terwyl “die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is” (Spreuke 8:13). As hulle Jehovah vrees, sal dit hulle daarvan weerhou om dinge te doen wat hom mishaag. Die verstandige weg is om sy weë en beginsels te leer ken en hom voor alle ander te gehoorsaam. Dit sal verhoed dat jy dinge doen wat jou tot skande strek, jou benadeel, hartseer veroorsaak of jou selfs jou lewe kan kos.
6. Wat moet jy doen om wysheid te verwerf?
6 Hoewel wysheid aan almal beskikbaar is, moet jy iets doen om dit te verwerf. Jy moet dit begeer, daarvoor werk en dit koester. Dit verg tyd en inspanning. Jy kan jou gerus afvra: ‘Wat doen ek werklik met my lewe? Wat is my doelwitte? Bestee ek baie van my tyd aan nuttelose dinge, of gebruik ek die tyd wat ek gedurende my jeug tot my beskikking het om na kennis en wysheid te grawe?’ Wysheid is meer werd as juwele, en “al die kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie” (Spreuke 8:1, 5, 6, 11). Grawe jy daarna soos na silwer of verborge skatte? Spreuke sê: “As jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind (want die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand . . . )” Wend jy so ’n groot poging aan om dinge uit God se Woord te leer?—Spreuke 2:4-6.
7. (a) Wat kan jy doen om studie en die leerproses makliker te maak? (b) Waarom is dit die moeite werd?
7 Jy dink moontlik: “Maar ek hou nie daarvan om te studeer nie—leeswerk is so vervelig!’ Maar hoe meer jy lees, des te makliker word dit om te lees. Hoe meer jy leer, des te makliker word dit om te leer. Jy verbind nuwe inligting met dinge wat jy reeds weet, en jy verstaan dit beter. Namate jy die poging aanwend, seën God jou. Namate jou kennis en insig toeneem, sal jy dit baie aangenaam vind om te leer, en die dinge wat jy uit God se Woord leer, sal jou in die teenswoordige wêreld beskerm. Dit is nie sommer net mooi woorde of wense nie. Dit is ’n feit, die waarheid, soos Spreuke sê: “Wysheid sal in jou hart kom, en kennis vir jou siel lieflik wees; oorleg sal oor jou wag hou, verstand sal jou bewaak, om jou te red van die weg van die slegte, van die mens wat valse dinge spreek; van die wat die paaie van opregtheid verlaat om op weë van duisternis te wandel.”—Spreuke 2:10-13.
Misdadigheid betaal nie
8, 9. Watter probleme, wat algemeen in vandag se stede voorkom, bespreek Spreuke, en watter belangrike raad gee dit in hierdie verband?
8 Hierdie boek (Spreuke) handel oor die probleme en versoekings waarmee jongmense nie alleen in Bybeltye te kampe gehad het nie, maar vandag ook. In hedendaagse stede is daar misdadigheid, geweld, jeugbendes en mense wat jongmense as prooi begeer. Watter waarskuwings rig hierdie ou boek wat sal help om jou teen sulke probleme te beskerm?
9 Dit waarsku ons om nie met die verkeerde soort mense deurmekaar te raak nie. Dit sê: “My seun, as die sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie; as hulle sê: Gaan saam met ons . . . allerhande kosbare goed sal ons vind, ons huise sal ons vol maak met buit; jy sal jou lot onder ons werp, ons sal almal een beurs hê—my seun, gaan nie met hulle saam op die weg nie, hou jou voet terug van hulle pad; want hulle voete hardloop na die kwaad en haas hulle om bloed te vergiet.”—Spreuke 1:10-16.
10. Wat sê Spreuke oor die weg van die goddelose, en waarom is dit belangrik?
10 As jy met misdadigers in aanraking kom, moet jy vlug. Salomo het geskryf: “Wees nie afgunstig op die kwaaddoeners nie, en begeer nie om met hulle saam te wees nie. Want hulle hart bedink verwoesting, en hulle lippe spreek moeite” (Spreuke 24:1, 2). Onthou: Misdadigheid betaal nie. Al vang die mens jou ook nie, sien God wat jy doen. Hoe dwaas om jou ewige lewe te verloor weens ’n bietjie snode buit! Spreuke vermaan jongmense sowel as ouer persone: “Kom nie op die pad van die goddelose en betree die weg van die slegtes nie. Vermy dit, gaan nie daarop nie, wyk daarvan af en gaan verby; . . . hou jou voet ver van boosheid.”—Spreuke 4:14, 15, 27.
Stel Jehovah eerste
11. Watter seëninge sal jy ontvang as jy in onkreukbaarheid wandel en dinge op Jehovah se manier doen?
11 Daar is ’n skerp teenstelling tussen die goddelose weg en die wyse weg. Spreuke sê dat Jehovah ’n “skild” is vir diegene wat in onkreukbaarheid wandel en dat hy “die weg van sy lojale dienaars bewaak” (Spreuke 2:7, 8, NW). Hy hou die vooruitsig op die ewige lewe voor aan diegene wat doen wat reg is. “Die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly” (Spreuke 2:21). As jy Jehovah eerste stel, sal jy ryklik geseën word. “Vereer die HERE uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste; dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos.”—Spreuke 3:9, 10.
12. Watter voorbeelde het ons van jongmense wat Jehovah eerste stel, en watter beloninge geniet hulle?
12 Dit is wat baie jongmense vandag inderdaad doen. Hulle stel Jehovah eerste in hulle lewe. Hulle wy hulle jeug aan die voltydse diens deur as pionierbedienaars te werk of in Bethelhuise te dien waar hulle Bybels en boeke druk wat ander help om van God te leer. Vra vir hulle of Jehovah hulle geseën het. Hulle sal uit die hart vir jou sê dat hy dit oorvloedig gedoen het en dat hulle geestelik baie ryker is as hulle jong portuurs wat hulle dit ten doel gestel het om materieel ryk te word.—Spreuke 10:9; 15:16.
Morele versoekings
13, 14. (a) Watter ander begeerte gebruik Satan? (b) Is dit vandag ’n ernstige probleem in julle gemeenskap?
13 Adverteerders gebruik seks om hulle produkte te verkoop. Satan gebruik ongeoorloofde seks om God se knegte te versoek. Duisende Israeliete, wat baie jare in die woestyn deurgebring en eindelik naby die Beloofde Land aangekom het, het hulle byvoorbeeld skuldig gemaak aan hoerery en hulle lewens verloor.—Numeri 25:1-9.
14 Mense wat nie wil hê dat jongmense teen hierdie gevaar gewaarsku moet word nie, sluit hulle oë vir die toestande in vandag se wêreld. Smerige tydskrifte, liederlike rolprente, sekswinkels, pornografie en prostitusie word op straat aangetref. Die eerste paar hoofstukke van Spreuke bevat sterk waarskuwings teen sulke versoekings om onsedelik te wees.
15. Watter waarskuwing rig Spreuke in verband met onsedelikheid?
15 Dit vertel van ’n onsedelike vrou wat onervare jong manne verlei. Ons lees: “Die lippe van die vreemde vrou drup heuningstroop, en haar verhemelte is gladder as olie, maar op die end is sy bitter soos wilde-als, soos ’n swaard aan weerskante skerp. Haar voete daal na die dood toe af . . . Hou jou weg ver van haar af, en kom nie naby die deur van haar huis nie, sodat jy nie jou bloei aan ander gee en jou jare aan een wat onbarmhartig is nie.”—Spreuke 5:3-14; 2:16-19; 6:27-29, 32.
16. Wat kan gebeur met ’n persoon wat nie dadelik van onsedelike voorstelle af wegvlug nie?
16 Dit vertel ook van ’n ‘onervare’, “verstandelose jongman” wat na listige en suggestiewe voorstelle luister en skaamteloos alle beheer verloor. “Deur die gladheid van haar lippe het sy hom verlok. Hy loop skielik agter haar aan soos ’n bees wat na die slagpaal gaan . . . sonder om te weet dat dit ten koste van sy lewe is,” Hy is nie die enigste een wat uit Jehovah se guns en na die dood gelei word nie, want “talryk [is] almal wat deur haar vermoor is.”—Spreuke 7:6-27.
17. Hoe ernstig is hoerery in Jehovah se oë?
17 Hoewel hierdie waarskuwings tot jong manne gerig word, geld dit ewe veel vir jong vroue. Ongeag wat mense van die gevolge van hoerery dink, Jehovah se beskouing is duidelik. Dit is ’n weg wat na die dood lei. Dit kan jou uit die aardse paradys hou wat God gaan herstel. “Weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete . . . sal die koninkryk van God beërwe nie.”—1 Korinthiërs 6:9, 10; Efesiërs 5:5.
18. (a) Is die Bybel se raad in verband met geslagsonsedelikheld ’n las? Waarom sê jy so? (b) Watter goeie raad gee Spreuke in hierdie verband?
18 Niemand moet dink dat die toepassing van die Bybel se verstandige raad oor seksuele moraliteit ’n las is nie. Dit beteken minder egskeidings, minder gebroke huise, minder jeugmisdadigers, minder prostitusie, minder uitbarstings van jaloesie, gelukkiger gesinne en vreugdevoller lewens. Spreuke beveel hierdie verstandige weg in pragtige, digterlike taal aan. Dit sê dat jy nie op straat na genot moet soek nie, ook nie by ’n onsedelike persoon of verskeie persone nie, sodat jy nie aldus jou fonteine buitekant verstrooi nie. Dit beveel aan dat jy jou saam met jou huweliksmaat moet verheug indien jy getroud is, eerder as om onsedelike verhoudings met ander te hê. Enige swakkeling kan aan die seksdrang toegee, maar ’n ware Christen moet hom van geslagsomgang weerhou totdat hy getroud is, en dan mag jy dit net met jou huweliksmaat geniet.—Spreuke 5:15-23.
Werk en hoogmoed
19. Watter raad gee Spreuke oor werk?
19 Spreuke help ons ook op ander maniere. Dit beveel iets aan waaroor baie jongmense nie geesdriftig word nie—om ’n harde werker te word. Dit geld by die skool, by ’n sekulêre werk, of in die voltydse Christendiens. “Gaan na die mier”, raai dit aan. “Kyk na sy weë en word wys!” Soos ’n besige mier sal die Christen ’n eerlike dag se werk lewer sonder dat ’n baas hom moet dophou.—Spreuke 6:6-11; Efesiërs 6:5; Titus 2:9, 10; Hebreërs 6:10-12.
20. (a) Wat haat Jehovah? (b) Hoe sal jy hierdie raad in jou lewe toepas?
20 Dit is ook belangrik om nie hoogmoedig of ’n onrusstoker te wees nie. “Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel ’n gruwel: trotse oë, ’n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, ’n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop, een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.”—Spreuke 6:16-19.
Jou gesin
21. Watter raad gee Spreuke aan jou oor jou ouers, en waarom is dit belangrik?
21 Moenie die hulp wat jy van jou gesin ontvang, oor die hoof sien nie. Spreuke sê: “Bewaar, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; . . . mag dit jou lei as jy wandel, oor jou wag hou as jy slaap en jou toespreek as jy wakker word” (Spreuke 6:20-22). Dit is veral die geval as jou ouers knegte van God is. Maar al is hulle nie gelowiges nie, het hulle baie dinge gesien wat jy nog nie gesien het nie, en hulle leiding kan jou uit baie moeilikheid hou.
22. (a) Hoe belangrik is dit dat jy jou ouers gedurende adolessensie in jou vertroue neem? (b) Wat kan jy uit Hebreërs 12:11 en Spreuke 4:10-13 leer?
22 Jy moet stellig nie toelaat dat adolessensie—die tydperk tussen kind-wees en volwassenheid—jou van jou ouers laat vervreem nie, iets wat in die geval van so baie jongmense gebeur. Jy dink moontlik dat jou ouers outyds of “nie byderwets” is nie. Maar hulle kan jou help om jou ewewig gedurende hierdie oorgangstyd te bewaar. Gesels met hulle. Probeer hulle oorreed om na jou probleme te luister. Hulle wil jou nie op die lewensweg span of strem nie, maar hulle wil help om jou lewe makliker te maak. Dit is waar dat jongmense dinge op hulle manier wil doen en dikwels ’n weersin het in raad; maar as hulle nederig is, sal dit dit makliker maak om die raad te aanvaar. Die nederige persoon weet dat hy foute begaan, en hy waardeer ander se pogings om te help. Spreuke sê: “Bestraf ’n wyse [wys hom tereg], en hy sal jou liefhê.”—Spreuke 9:8, 9; Hebreërs 12:22; Spreuke 4:10-13.
23. Wat is die hoofpunte van hierdie les wat jou betref?
23 Godvrugtige wysheid is dus vandag aan jong persone beskikbaar. Selfs al is jy onervare, kan jy leer en verstaan. Die wysheid roep tot jou. Dit spreek “voortreflike dinge” en “al die kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie” (Spreuke 8:6, 11). Om kennis te verkry en wysheid te verwerf, moet jy studeer en grawe, soos jy sal doen vir ’n besondere skat. “Hy wat [wysheid] vind, het die lewe gevind en verkry ’n welbehae van die HERE.”—Spreuke 8:35.
Nadat jy hierdie artikel gelees het, wil jy dalk ook Spreuke, hoofstukke 1 tot 9, waarop dit gebaseer is, lees.
Onthou jy hierdie gedagtes?
□ Watter hulp bied die boek Spreuke aan vandag se jongmense?
□ Waarom wys so baie persone hulp van die hand?
□ Watter uitwerking moet die beskikbaarheid van wysheid op jou lewe hê?
□ Teen watter versoeking, wat algemeen in hededendaagse stede voorkom, waarsku Spreuke?
□ Waarom is die Bybel se raad aangaande geslagsedelikheid geen las nie?
□ Watter hulp kan jongmense van hulle gesinne ontvang?
[Venster op bladsy 18]
KENNIS, WYSHEID EN INSIG
Die boek Spreuke gebruik dikwels hierdie drie woorde. Hoe verskil hulle van mekaar?
KENNIS is bekendheid met feite, wat jy leer ken het deur studie, waarneming en persoonlike ondervinding. Die wyse “lê kennis weg” en het n voorraad waaruit hy kan put.—Spreuke 10:14.
WYSHEID verbind, kennis met goeie oordeel. Dit is die vermoë om kennis suksesvol te gebruik, om probleme op te los en gevare te vermy. Dit impliseer bree kennis en diepe insig wat oordeel gesond en helder maak. As jy kennis gehad het maar nie geweet het hoe om dit te gebruik nie, sou jy nie wysheid hê nie. “Wysheid is die vernaamste”, want daarsonder sal kennis weinig waarde hê.—Spreuke 4:7, NW.
INSIG Jy begryp nou wat die verskil tussen kennis en wysheid is—jy kan tussen hulle onderskei. Jy kan iets doen omdat God dit beveel het, maar as jy verstaan wat die rede daarvoor is, watter goeie doel dit dien en watter voordele dit inhou, sal jy nog meer vasbeslote wees. Spreuke bevat praktiese inligting om jou te help om nie alleen te verstaan watter weg reg of verkeerd is nie, maar ook waarom dit die geval is.