Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 1/1 bl. 27-31
  • Van ateïsme tot ’n doelgerigte lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Van ateïsme tot ’n doelgerigte lewe
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My lewe kry ’n ander rigting
  • Jehovah se werk geniet voorkeur
  • Voltyds in die predikingswerk
  • Ons dien waar die behoefte groot is
  • Ek gebruik my ingenieurskennis tot lof van Jehovah
  • Wêreldlike aansien teenoor lofprysing tot Jehovah
  • My lang, moeilike stryd om ware geloof te vind
    Ontwaak!—1995
  • “Soek eers die koninkryk”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Ek is gehelp toe ek tot God genader het
    Ontwaak!—1993
  • Die gesin wat my waarlik liefgehad het
    Ontwaak!—1995
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 1/1 bl. 27-31

Van ateïsme tot ’n doelgerigte lewe

Soos vertel deur Fred N. Severud

ALHOEWEL ek in ’n baie godsdienstige gesin in Noorweë grootgeword het, het ek ’n ateïs geword. Waarom? ’n Voorval in my kinderdae sal help om dit te verklaar.

In 1909, toe ek omtrent tien jaar oud was, is my sustertjie by geboorte oorlede. My ouma het wanhopig na ’n predikant gesoek om die baba te doop sodat sy nie hel toe sou gaan en vir ewig sou brand nie. Toe geen predikant beskikbaar was nie, het sy die vuil water waarin sy die baba kort tevore gebad het, gegryp en oor haar koppie gesprinkel, ’n gebed gedoen en “haar hemel toe gestuur”.

“Waarom kon ons nie almal so maklik hemel toe gaan nie?” het ek gewonder. Saadjies van twyfel is gesaai wat mettertyd daartoe gelei het dat ek al my geloof in God verloor het. Ek kon eenvoudig nie begryp watter soort God mense vir ewig in ’n brandende hel sou folter nie.

Ek kon ook nie die gedagte aanvaar dat die lewe op aarde ons net vir die hemel voorberei nie. Watter doel het die lewe? Is dit net om sewentig of tagtig jaar te lewe en dan te sterf? Dit was vrae waarop ek nie antwoorde kon kry nie. Toe die tyd vir my aangebreek het om aangeneem te word, het ek geweier om aangeneem te word in ’n Kerk wat so ’n oënskynlik onredelike God aanbid het. Ek het kerk toe gegaan net om my ouers tevrede te stel, maar ek het op my tande gekners wanneer ek na die predikant geluister het en van hom vir myself gesê: “Jou huigelaar!” Almal wat aangeneem is, het ’n nuwe pak klere gekry. Maar ek is nie aangeneem nie en het nie ’n nuwe pak klere gekry nie!

My lewe kry ’n ander rigting

Aan die skool waar ek gestudeer het, was ek om die een of ander rede die onderwyser se gunsteling-student. Eendag het die onderwyser vir my gevra om ’n voordrag oor evolusie voor die klas te hou, wat ek ook gedoen het. As ’n ateïs het ek aan evolusie geglo. Maar na die lesing het ek vir die onderwyser gesê dat ek een ding nie kon begryp nie.

“Wat het hulle gedoen voordat die oog ontwikkel het?” het ek gevra. Die onderwyser het geantwoord dat die oog aanvanklik sagte kolle in die skedel was; miljoene jare het verstryk en eindelik het die oog ontwikkel. “U bedoel hulle het sommer net blindelings rond gestruikel?” Ek wou graag weet. Ek het nie bedoel om te stry nie.

Maar die onderwyser het so kwaad en verleë geword dat hy ’n lae punt aan my toegeken het. En dit het my hele lewe verander. Jy sien, daardie lae punt het my gediskwalifiseer as die leier van die kadette by die beroemde krygsakademie waaraan ek gestudeer het. As dit nie gebeur het nie, het ek dalk ’n militêre loopbaan gekies. Ek het egter vir ingenieur begin leer.

Ek het my as ’n siviele en bou-ingenieur bekwaam en met ’n meisie getrou wat ek aan die universiteit ontmoet het. In 1923 het ons ons geboorteland, Noorweë, verlaat en na die Verenigde State geëmigreer, waar ek gehoop het om my ambisie te vervul om “die grootste ingenieur in die wêreld te word”.

Maar toe het ’n onverwagse wending my lewe heeltemal verander. Voordat ons Noorweë verlaat het, het ons familielede ons gewaarsku om nie met my oom Chris in die Verenigde State oor godsdiens te praat nie. Waarom nie? Omdat hy effens “getik” was wat godsdiens betref, was ons meegedeel. Hy was ’n “Bybelstudent”, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is.

Wel, wie wag ons toe met ons aankoms by die dok in? Niemand anders nie as oom Chris! Ja, hy het met ons oor sy “eienaardige geloof” gesels, maar ons het ons oor sy antwoorde verwonder ‘’n God van liefde folter beslis nie siele in die hel nie’, het hy verduidelik. ‘Die aarde het ’n ewige toekoms in God se voorneme. En die mens is ewige lewe in volmaakte gesondheid reg hier op ’n paradysaarde beloof.’—Prediker 9:5, 10; Psalm 146:3, 4; 104:5; Lukas 23:43, vgl. NW; Openbaring 21:3, 4.

Ek moet erken dat ek tot hierdie soort God aangetrokke gevoel het, maar ek was nog ietwat skepties. My vrou het egter dadelik alles aangeneem. Ek wou verder ondersoek instel om te sien of daar enige foute was. Wanneer my King James-Bybel oënskynlik verskil het met wat my oom gesê het, het ek navorsing gedoen deur Strong se Exhaustive Concordance te gebruik. Alles het gestaaf wat die Bybelstudente gesê het.

In Noorweë moes ons die Bybel as deel van ons leerplan op skool bestudeer. Ek het dus die “stukkies” gehad, soos in die geval van ’n legkaart, maar ek het nie die “prent” gehad nie. Maar hoe meer ek saam met my oom gestudeer het, des te meer het ek gesien dat elke stukkie sy plek het, sonder enige stukkies wat oorbly. In 1935 het ek eindelik ook die dinge aangeneem wat ek geleer het, en kort daarna is ek gedoop.

Ek het begin sien dat my lewe ’n nuwe rigting het. Ek moes meer tyd daaraan wy om God te behaag, terwyl ek steeds my groeiende gesin moes onderhou. Alhoewel ek nog steeds graag ’n goeie ingenieur wou wees, het ek nou geweet dat my lewe bevredigender sou wees as ek Jehovah God dien. Maar ek moes ook my onderneming gevestig kry. Hoe meer ek die Bybel bestudeer het, des te duideliker het ek gesien dat ek die perde agter die wa ingespan het. Ek moes Jehovah eers dien, en dan sou alle ander dinge (die lewensbenodigdhede) bygevoeg word (Mattheüs 6:33). Dit is toe ook wat gebeur het.

Jehovah se werk geniet voorkeur

Teen die tyd van die Depressie in 1929 was my onderneming goed gevestig. Maar toe kon ek nie my personeel betaal nie en was ek verplig om hulle almal af te dank. Later, toe die ekonomie begin herstel, het ek aansoek gedoen om ’n betrekking wat vir my oorgenoeg werk sou gee om weer aan die gang te kom. Maar ’n hele aantal ander ingenieurs het ook om dieselfde betrekking aansoek gedoen.

Dit was ’n behuisingsprojek, en verskeie regeringsriglyne is aangedui. Een was dat daar plat betondakke met ’n borswering moes wees. Ek het geweet dat indien voorsorgmaatreëls nie getref word nie, die borswering by die hoeke sou kraak (iets, terloops, wat gebeur het by nege-en-dertig ander projekte waarvan ek geweet het) weens die temperatuurverskil tussen die geïsoleerde betondak, wat in die winter verhit is, en die borswering, wat in die koue gestaan het. Die argitek het die punt ingesien en aanbeveel dat ek die werk kry. Weinig het ek besef dat my vasbeslotenheid om voorkeur aan Jehovah se werk te gee kort daarna op die proef gestel sou word.

Jehovah se Getuies het destyds hewige vervolging verduur weens hulle neutrale politieke standpunt en omdat hulle God se Woord in die openbaar verkondig het. Arrestasies was aan die orde van die dag, veral in New Jersey, waar ek gewoon het.

Op ’n sekere Woensdag het ek ’n afspraak in Washington, D.C., gehad om die nuwe kontrak te formuleer. Maar die Vrydag voor die afspraak is ’n brief van die Wagtoringgenootskap by ons vergadering in die Koninkryksaal gelees waarin al die omliggende gemeentes versoek is om die onwettige arrestasies van ons broers teë te werk.

Ons is genooi om daardie Sondag (net drie dae voor my afspraak!) vreedsame besoeke te doen by die huise van die inwoners van ’n paar dorpe in New Jersey om die opvattings van Jehovah se Getuies te verduidelik, indien baie die sogenaamde afdelingskampanjes sou ondersteun, kon ’n goeie getuienis gelewer word. Maar ons moes verwag om 120 dae tronk toe te gaan. As ek tronk toe gegaan het, sou ek beslis nie die werk kon kry wat ek so broodnodig gehad het nie. Nadat ek om Jehovah se leiding gebid het, het ek aangebied om te gaan. Jehovah se werk het voorkeur geniet!

Terwyl ons in ons toegewese gebied gewerk het, is ons genader deur ’n polisieman wat kortaf gevra het: “Wat doen julle hier?” Ek het dadelik ’n eienaardige gevoel gekry. “Die werk is neusie verby!” het ek gedink. “Maar Jehovah sal vir my sorg.” ’n Suster in die motor het dadelik vir die polisieman gevra hoe om by die naaste diensstasie te kom, aangesien sy die ruskamer wou gebruik.

“Julle is so pas by een verby”, het hy skerp geantwoord.

“Ek het dit toe nie nodig gehad nie”, het sy geantwoord.

Ons is dus daar weg na die diensstasie toe. Toe ons terugkeer, seker dat ons nou in hegtenis geneem gaan word, was die polisieman eienaardig genoeg nie daar nie. Ons is nie in hegtenis geneem nie. Ek het gevolglik toe tog die werk gekry!

Voltyds in die predikingswerk

Dit was my hartewens om meer tyd aan die predikings- en onderrigtingswerk te wy. Daarom het ek, toe ek my voormalige werknemers na die Depressie weer in diens neem, vir hulle gevra om vennote te word. Waarom? Wel, sodoende sou ek slegs drie dae by die kantoor moes wees en sou ek vier dae kon wy aan die werk om te preek en vir ander die Bybel te leer.

“Jy sal die hele tyd preek”, het hulle gesê. “Ons sal jou nooit sien nie.” Ek het hulle verseker dat ek na die kantoor sou kom soos ek belowe het. Hulle het dus ingestem—hulle het die werk nodig gehad! Later het ek nog vennote gekry sodat dit net nodig was om twee dae kantoor toe te gaan.

Ek het die pionierdiens (voltydse predikingswerk) as doel aan my kinders voorgehou, en al vier van hulle het ’n aandeel daarin gehad. Twee van my dogters het ook etlike jare lank by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies gedien. Toe my jongste kind vyftien was, het ek ’n pionier geword.

Ons dien waar die behoefte groot is

Omstreeks die tyd toe ek pionierdiens begin doen het, het ek vir die Wagtoringgenootskap gevra waar die behoefte aan Koninkryksverkondigers groter was. Ek en my gesin is gevra om in Stroudsburg, Pennsilvanië, te dien. Dit was na genoeg aan my werk sodat ek twee dae per week in New York kon deurbring en die res van die week pionierdiens kon doen. Daar was slegs agt Getuies in East Stroudsburg toe ons daarheen verhuis het. Ons het die voorreg gehad om baie te help om Christene te word, sodat daar twintig jaar later ’n florerende gemeente was.

Omdat die sterk groep nie langer ons hulp nodig gehad het nie, het ons gemeen dat die tyd aangebreek het om na nuwe gebiede te gaan waar hulp nodig was. Die Genootskap het ’n gebied naby New York voorgestel—Hackettstown, New Jersey. ’n Nuwe gemeente is kort daarna gestig, en toe selfs ’n tweede.

Terwyl ek mense daar besoek het, het een man, nadat ek my voorgestel het, gevra: “Waar sal ons sit? Binnekant of buitekant?” Jy kan jou voorstel hoe verbaas ek moes gelyk het. Wat gebeur het, was dat hy ’n rukkie tevore, in Kalifornië, ure lank met ’n Getuie gepraat het. Dit was die eerste keer dat hy van Jehovah se Getuies gehoor het. Die Getuie, wat bly was oor die man se belangstelling, het vir hom gesê: “Wanneer jy by die huis kom, kan jy gerus luister wanneer ’n Getuie jou weer besoek.”

“Ek dog sy het jou gestuur”, het die man verduidelik. Maar ek was heel toevallig daar in die gewone predikingswerk van huis tot huis. Hierdie man is nou ’n ouere man, en sy vrou en twee dogters is in die voltydse pionierdiens.

Ek gebruik my ingenieurskennis tot lof van Jehovah

Teen die einde van die dertigerjare het J. F. Rutherford, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, my versoek om ’n gebou te ontwerp as ’n skuilplek vir die Bethelgesin indien hewige vervolging sou noodsaak dat hulle daarheen verhuis. Min het ons geweet waarvoor daardie gebou in Ithaca, New York, later gebruik sou word—Gilead, ’n skool om sendelinge op te lei vir bedieningswerk in die buiteland.

Om in die immertoenemende aanvraag na Bybellektuur te voorsien, was dit voortdurend nodig om die Wagtoringgenootskap se drukgeriewe uit te brei. In 1950 is ’n aanbousel aan die Bethelhuis dus in gebruik geneem, asook ’n nuwe fabriek om Bybels en Bybellektuur te druk. Ek het die voorreg gehad om albei hierdie geboue te ontwerp. Maar uitbreiding het nie net by die Genootskap se fasiliteite in Brooklyn plaasgevind nie. Daar is eerder besluit om ander eiendom van die Genootskap naby die plaas verder noord in die staat New York te gebruik. En weer eens was dit my voorreg om aan die planne te werk.

Nadat ek bykans twintig jaar lank ’n pionier was, het my vrou se gesondheid in 1972 so versleg dat sy dit moeilik gevind het om te loop en te praat. Ek moes dus uit die pionierdiens tree. My doel in die lewe is nietemin dieselfde—om Jehovah God vir ewig te dien. Ek probeer om elke dag aan die predikingswerk deel te neem. Op die ouderdom van twee-en-tagtig geniet ek nog redelik goeie gesondheid.

Wêreldlike aansien teenoor lofprysing tot Jehovah

My loopbaan het nie skade gely omdat ek Jehovah se belange eerste gestel het, soos my vennote gevrees het nie. Trouens, as ’n ingenieur het ek die voorreg gehad om te help met die ontwerp van talle bekende strukture, soos die Boog, “Poort tot die Weste”, in St. Louis, Missouri; Toronto se stadshuis; Madison Square Garden en ’n aantal ander, in die Verenigde State sowel as ander dele van die wêreld. Maar in plaas daarvan om roem as ’n ingenieur na te streef, het ek besef dat ware heerlikheid, geestelik van aard is (Filippense 3:7, 8). Enige vermoëns wat ons het, is te danke aan die feit dat ons grootse Skepper ons na sy beeld gemaak het.—Genesis 1:26, 27.

Hoe sinloos en leeg sou my lewe tog gewees het as ek ’n ateïs gebly het! Psalm 14:1 sê mos: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie.” Hoe bly is ek tog dat ek ’n doelwit gevind het wat waarlik die moeite werd is, wat tevredenheid verskaf en tot die ewige lewe lei! En ek het die vooruitsig om die Skepper, aan wie se bestaan ek eens getwyfel het, van aangesig tot aangesig te sien nadat ek my aardse loopbaan getrou voltooi het.

[Lokteks op bladsy 28]

‘Die God van liefde folter nie siele in die hel nie’, het hy verduidelik. Ek moet erken dat ek tot hierdie soort God aangetrokke gevoel het

[Lokteks op bladsy 29]

My loopbaan het nie daaronder gely omdat ek Jehovah se belange eerste gestel het soos my vennote gevrees het

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel