Vrae van lesers
♦ Waarom het God Moses na Farao gestuur om sy toestemming te vra dat die Israeliete ‘drie dagreise ver in die woestyn intrek’, aangesien dit sy voorneme was dat hulle Egipte permanent moes verlaat?
By die brandende bos het God gesê dat hy Moses sou gebruik om die Israeliete uit Egipte te verlos en hulle te lei na ’n land wat oorloop van melk en heuning. God het vir Moses gesê dat Farao meegedeel moes word: “Die HERE, die God van die Hebreërs, het ons ontmoet; laat ons dan nou tog drie dagreise ver die woestyn intrek en aan die HERE, onse God, offer.”—Exodus 3:18.
Aangesien God so pas vir Moses gesê het dat die Israeliete na die Beloofde Land sou gaan, lyk dit miskien of hy sekere feite vir Farao verswyg het. Maar dit blyk duidelik uit die verloop van sake dat God se hantering van sake billik was en sy doel gedien het.
Die Israeliete was al meer as 200 jaar in Egipte en is as ’n nasie van slawe behandel. Maar volgens God se onveranderlike belofte aan Abraham sou Hy ’n groot nasie van Israel maak. Hulle sou vryheid geniet in die land wat God vir Abraham beskryf het, die land Kanaän (Genesis 12:1, 2, 7; 18:18; 22:17, 18). Sou Farao geredelik met God se voorneme saamwerk?
Nee, Jehovah het geweet dat Farao hardnekkig sou weier om toe te laat dat die Israeliete Egipte verlaat, selfs vir ’n kort rukkie. As God deur Moses en Aäron getoon het dat dit Sy wil was dat Israel permanent moet uittrek, kon Farao besware geopper het wat aanneemlik kon lyk, moontlik dat die land ontwrig sou word as meer as ’n miljoen persone dadelik en permanent sou vertrek. En ander sou dalk geneig gewees het om Farao se gesindheid te verskoon of met hom te simpatiseer. Maar as Israel die land Gosen net ’n paar dae lank verlaat het, sou dit geen wesenlike verlies vir die Egiptenare meegebring het nie.
Toe Farao hardnekkig geweier het om die Israeliete selfs net vir drie dae te laat trek, was dit onteenseglik duidelik dat sy hart hard was. Daar was eenvoudig geen verskoning vir sulke hardvogtigheid nie, en ook nie vir die swaarder verdrukking wat Farao daarna gelas het nie.—Exodus 5:1-9.
Selfs na ’n reeks plae het hardnekkige Farao geweier om die Israeliete uit Egipte te laat trek. Die tiende plaag was eindelik so rampspoedig vir Egipte dat Farao Moses aangesê het om die volk te neem en te gaan—met geen ooreenkoms dat dit net drie dae moes wees nie. Maar terwyl die uittog nog aan die gang was, het Farao probeer om Israel vas te keer en weer gevange te neem. Dit het misluk, want selfs Farao het in die Rooi See omgekom.—Exodus 12:31-39; 14:5-9, 21-28; Psalm 136:15.
Toe God Moses aangesê het om die redelike versoek vir drie dae se verlof tot Farao te rig, was dit gevolglik om Farao te toets. Dit het geopenbaar wat in sy hart was.
♦ Mag ’n Christen toelaat dat bloedsuiers op hom geplaas word om bloed uit te suig as deel van mediese behandeling?
Dit sal nie in stryd met God se Woord wees om toe te laat dat ’n hoeveelheid bloed volgens ’n mediese prosedure uitgetrek en weggegooi word nie. Maar om dit met behulp van bloedsuiers te doen, sal strydig wees met wat die Bybel sê. Bloedsuiers word weliswaar nie vandag algemeen gebruik nie. Maar vrae oor die gebruik daarvan ontstaan wel, veral in Europa. As ons kyk wat die Bybel oor bloed sê, kan dit ons help om sulke vorme van behandeling te takseer.
Daar is eeue lank gemeen dat baie kwale verlig kon word deur middel van bloedlating of bloeding. Middeleeuse barbier-chirurge het hierdie kuns beoefen, met die gevolg dat die paal met rooi en wit strepe vandag nog op party plekke gebruik word om ’n barbierswinkel aan te dui. Maar mediese dokters het ook bloedlating beoefen. ln 1799 het herhaalde bloedlating waarskynlik die dood van George Washington, die eerste president van die Verenigde State van Amerika, verhaas.
Selfs wanneer dit nie ’n persoon se dood veroorsaak het nie, het die gebruik om bloed te laat baie pasiënte anemies gelaat.
ln Europa was dit ’n algemene gebruik om bloed uit te trek deur ’n aantal bloedsuiers op die vel te plaas en hulle kans te gee om hulle vol te suig aan die pasiënt se bloed. Dr. L. K. Altman van Mainz, Duitsland, het geskryf: “ln 1850, toe pasiënte tot 80 bloedsuiers op ’n slag vir ’n groot verskeidenheid kwale aangewend het, is ongeveer 100 miljoen bloedsuiers in Frankryk verkoop. Nog in 1953 het Russiese dokters bloedsuiers op Stalin gebruik voordat hy gesterf het.”—New York se “Times” 17 Februarie 1981.
Dr. Altman het daarop gewys dat party dokters in Europa en die Verenigde State selfs vandag nog bloedsuiers in gespesialiseerde gevalle gebruik. Hulle word byvoorbeeld in sekere gevalle van plastiese chirurgie gebruik om van bloedklonte ontslae te raak en om oortollige bloed uit vingers te suig wat deur middel van mikrochirurgie herstel is.
Wat is Christene se standpunt ten opsigte van die verwydering van bloed, en sou dit gepas wees om dit met bloedsuiers te doen?
Na die vloed van Noag se dag het God ’n toevoeging gemaak tot die vegetariese dieet wat hy in die tuin van Eden vir mense en diere uiteengesit het. Jehovah het gesê: “Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle. Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie” (Genesis 9:3, 4; 1:30). God het die saak verder verduidelik in die Mosaïese wet. Hy het gesê dat bloed die lewe voorstel, ’n gawe van God is en heilig is. Wat moes dus gedoen word met die bloed van ’n dier wat doodgemaak is as offerande? Die bloed moes nie as messtof, dierekos of vir ’n ander doel gebruik word nie. Dit moes uitgegiet en met grond bedek word; in ’n sekere sin is dit aan Hom teruggegee.—Levitikus 17:10-14.
Christene moet toon dat hulle besef dat bloed heilig is (Handelinge 15:28, 29). Wanneer bloed uit die liggaam geneem word, moet dit gevolglik weggedoen word, iets wat ooreen sal kom met die uitgieting van die bloed op die grond deur die Israeliete.
Soms het dokters mediese redes waarom hulle aanbeveel dat bloed verwyder moet word (flebotomie). Wanneer ’n persoon byvoorbeeld aan die bloedsiekte polycythemia vera ly, het hy ’n oormaat rooibloedselle (die teenoorgestelde van anemie). Die bloed, wat dik is as gevolg van rooibloedselle, kan klonte vorm sodat die gevaar van beroerte of hartaanvalle toeneem. Daar is verskeie maniere om dit te behandel, maar soms is die verkose behandeling veneseksie, waartydens bloed uit ’n aar gelaat word. Die raad van God se Woord verbied dit nie, mits die verwyderde bloed weggegooi word. Baie Christene se gewetens het hulle eweneens toegelaat om toestemming te gee dat klein hoeveelhede bloed vir mediese toetse onttrek word, want hulle het besef dat die bloed weggegooi sou word nadat die toetse gedoen is.
Hoewel bloedsuiers in hulle huidige natuurlike staat as parasiete van bloed lewe, sal dit nie vir ’n Christen reg wees om toe te laat dat bloedsuiers sy bloed uitsuig nie (Spreuke 30:15). Selfs al word dit om mediese redes voorgestel en sal daar later van die bloedsuiers ontslae geraak word, sal die gebruik van bloedsuiers beteken dat bloed doelbewus aan hierdie skepsele gevoer word. Dit is strydig met die Bybel se aanduiding dat bloed, wat heilig is en die lewe voorstel, weggegooi moet word wanneer dit uit ’n liggaam geneem word.