Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 9/1 bl. 24-29
  • “Goeie gesondheid” en Christelike redelikheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Goeie gesondheid” en Christelike redelikheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Selektiwiteit by die keuse van behandeling
  • Wees redelik
  • Wat van aanbevelings?
  • Raadpleeg persone wat bevoeg is
  • Vind die ewewig tussen geestelike gesondheid en fisiese gesondheid
  • Behou ’n skriftuurlike beskouing van gesondheidsorg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Handhaaf jou geloof en geestelike gesondheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • “Ons wens julle goeie gesondheid toe!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Aanvaar Jehovah se Getuies mediese behandeling?
    Algemene vrae oor Jehovah se Getuies
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 9/1 bl. 24-29

“Goeie gesondheid” en Christelike redelikheid

DIE apostel Paulus het aan Christene in eertydse Filippi geskryf: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word.” Hy het hulle, en alle Christene sedertdien, dus aangespoor om ’n gees van matigheid en intelligente ewewig aan die dag te lê.—Filippense 4:5, NW.

Ons het redelikheid nodig wat ons gesondheid betref. Ons moet byvoorbeeld onmatigheid of uiterstes in ons eetgewoontes vermy, en ons moet genoeg oefening en rus kry. Ons gesindheid teenoor vorme van behandeling moet eweneens op rede gegrond wees en ons moet oppas dat ons nie op loop sit met die een of ander gesondheidsgier nie. Redelikheid is ook nodig om die ewewig te vind tussen ons geestelike gesondheid en ons fisiese gesondheid; ons moet “die dinge waar dit op aankom” onderskei sodat ons gesondheid nie vir ons belangriker as God se koninkryk word nie.—Filippense 1:10.

Selektiwiteit by die keuse van behandeling

Wanneer ’n mens ’n besluit oor mediese of gesondheidsaangeleenthede moet neem, is dit goed om te besef dat selfs hierdie sake deur gewildheid of giere beïnvloed kan word. Jy sal dalk vorme van behandeling kan onthou wat eens gewild was maar wat nou heeltemal anders beskou word. Onthou jy nog die dae toe dokters X-strale vir aknee gebruik het, kinders se mangels om die geringste rede uitgehaal het of die nuwe sulfonamiede of penisillien vir so te sê enige infeksie voorgeskryf het? Dinge het verander. Hoewel hierdie vorme van behandeling in party gevalle gepas kan wees, het die ondervinding en navorsing onwenslike newegevolge aan die lig gebring of getoon dat dit baie selektief gebruik moet word.

Indien dokters wat opleiding ontvang het in die “wetenskaplike metode” en geleer is om versigtig te wees met nuwe geneesmiddels of vorme van behandeling deur die heersende opinie beïnvloed kan word, hoeveel makliker is dit dan nie vir die leek om ongebalanseerd te raak oor gesondheidsgiere nie. En dit is presies wat miljoene gedoen het. Hulle het dikwels ’n vorm van behandeling met beperkte genesingskrag ondergaan wat gruwelik deur onbekwame persone misbruik is. Ander “rate” wat gewild geraak het, was in werklikheid heeltemal waardeloos omdat dit bedrog was.a Dit is voorgestaan deur manne wat maar te graag siek mense van hulle geld geskei het. En iets waaroor Christene baie besorg is, is dat party van die gewilde vorme van behandeling skynbaar gebruik maak van ‘magiese kragte’ of spiritisme, wat deur die Bybel veroordeel word.—Jesaja 1:13, NW; Deuteronomium 18:10-12.

‘Maar hoe kan ek weet of ’n sekere vorm van behandeling nie ’n bedrogspul is nie?’ vra party. Dit kan moeilik wees, want party van die vorme van behandeling van die verlede wat feitlik almal nou besef nutteloos was, het name gehad wat eg wetenskaplik geklink het. En die lektuur wat daaroor gehandel het, het verduidelikings bevat wat vir party aanneemlik was. Waar kan ons dan hulp kry?b

Wees redelik

Die dissipel Jakobus het geskryf: “Die wysheid van bo is . . . redelik” (Jakobus 3:17, NW). Al is ’n Christen nie ’n gesondheidsdeskundige nie, kan sy strewe om redelik te wees hom help om die waarde van diagnostiese metodes en vorme van behandeling te bepaal.

Ons moet natuurlik besef dat talle gesondheidskwessies op verskillende maniere benader kan word; ’n bedrywige Christen kan nie ’n kenner van almal wees nie. Maar wanneer hy behandeling nodig het en ’n aanbeveling gedoen word, kan hy vra: ‘Klink die voorgestelde behandeling redelik en strook dit met my kennis van die liggaam en siekte? Of klink die dinge wat mense daaroor sê vreemd, selfs opsienbaar? Is dit oningeligte persone of mense wat daaruit munt kan slaan wat by my daarop aandring om hierdie vorm van behandeling te aanvaar? Moet ek wag totdat ek meer feite tot my beskikking het, aangesien ek my bedenkinge daaroor het?’

Hierdie vrae klink elementêr, maar die feit dat party bisar vorme van behandeling in die verlede gewild geraak het, toon hoe nodig dit is om hierdie vrae te stel. Dit kan ook deur ’n onlangse ondervinding toegelig word: ’n Kantoorwerkster met ’n gewone geleerdheid het na ’n praktisyn gegaan wat ’n buitengewoon streng dieet voorgeskryf het. Sy het later vir vriende vertel dat “bottels met gewasse wat pasiënte uitgewerp het” onder meer een met ’n “breingewas” aan haar getoon is. Redelikheid kan jou laat dink: Weet die gewone persoon hoe ’n regte gewas lyk, en hoe kan hy dus ’n regte gewas identifiseer ongeag hoe dit dan glo “uitgewerp” is? En hoe kan iemand ’n breingewas deur die dermkanaal of op enige ander manier “uitwerp” aangesien die brein heeltemal ingesluit is?

Laastelik, baie van die toetse of vorme van behandeling van die verlede wat nutteloos was, is voorgestaan met bewerings oor “wonderstowwe” ongewone “liggaamskragte” of vreemde metodes waarmee ’n praktisyn ‘lesings’ gedoen het, moontlik met behulp van ’n slinger of met ’n liggaamsdeel wat oënskynlik glad nie verwant was aan dit wat gediagnoseer moes word nie. Daar is ’n beroep gedoen op die emosies, verborgenheid of selfs op spiritistiese magte, maar nie op redelikheid nie.—Vergelyk Levitikus 19:26.

Wat van aanbevelings?

Nog iets wat ons help, is: “Die eenvoudige glo elke woord, maar die skrandere let op sy voetstappe.”—Spreuke 14:15.

Dit is goeie raad, want die meeste van ons het al gehoor van vorme van behandeling wat soos volg aanbeveel is: ‘Dokters het vir mnr. Van der Merwe gesê dat hy nog vier maande gehad het om te lewe, maar hy het—gebruik en is nou heeltemal gesond.’ Of “mnr. Van der Merwe” werklik aan die kwaal gely het of nie, jy is bewus van die feit dat talle bedrieglike rate van die verlede met aanbevelings onderskryf is. Dit beteken beslis nie dat ons krities moet wees wanneer ’n kennis ’n persoonlike ondervinding vertel nie. Maar wanneer ons belangrike besluite oor ons gesondheid neem, moet ons meer doen as net ‘elke woord van aanbevelings glo’.

Maar gestel “mnr. Van der Merwe” het ’n siekte gehad en het beter geword. Waarom het hy beter geword? ’n Groot invloed by behandeling, konvensionele mediese behandeling inkluis, is die “troosmiddel-effek”. Studies het getoon dat nagenoeg 30 tot 40 persent van pasiënte verbeter het na behandeling met waardelose pille of waterinspuitings. Science Digest (September 1981) berig: “Geloof, hoop, vertroue, almal belangrike bestanddele van die troosmiddel-effek, kan soms wonde laat genees, die liggaam se chemiese funksies laat verander, en selfs die mees meedoënlose kwale stuit.” Wanneer jy dus besluit of jy ‘elke woord moet glo’, moet jy die “troosmiddel-effek” onthou en vra: Is daar deur betroubare navorsing en omvattende toetse bewys dat die behandeling doeltreffend is?

Selfs al bestaan ’n berig uit meer as net ’n verslag van ’n geslaagde behandeling, is dit goed om te kyk of die behandeling moreel en godsdienstig aanneemlik is. The Journal of the American Medical Association het vertel van ’n agt-en-twintigjarige vrou wat ’n ernstige immunologiese kwaal gekry het wat deur talle kliniese toetse geïdentifiseer kan word. Sy het medisyne van die hand gewys en na ’n toordokter gegaan wat “die vloek op haar verwyder het”. Sy het vry van simptome teruggekeer en was skynbaar genees. Die verslag in JAMA het gevra hoe ’n toordokter in Asië ‘van ’n bose gees ontslae kon raak’ en haar kon genees. Die behandeling was klaarblyklik doeltreffend, maar Christene sal dit of ander vorme van behandeling vermy wat hulle meen met die een of ander vorm van spiritisme in verband staan.—Vergelyk Mattheüs 7:22, 23.

Raadpleeg persone wat bevoeg is

Dit is duidelik dat ons in baie gevalle deskundige raad oor vorme van behandeling en gesondsheidskwessies nodig het. Na wie kan ons ons wend? Die Skrif bevat hierdie verstandige opmerking: “Sien jy ’n man wat vaardig is in sy werk—hy kan voor konings staan.”—Spreuke 22:29.

’n Man wat ’n saak bestudeer en vaardig word, word as ’n bekwame persoon erken, selfs as ’n deskundige op sy gebied. Dit geld ook van die geneeskunde. Wanneer jy dus die aanbeveling van ’n dokter of gesondheidsraadgewer beoordeel, kan jy jouself afvra: Wat is sy getuigskrifte? Die antwoord hang nie net van sy titels of die afkortings na sy naam af nie. Baie persone het hulle titels toegeëien sodat ander moet dink dat hulle belangrik is. (Vergelyk Mattheüs 23:6, 7.) Party wat daarvan hou om “dokter” genoem te word, diagnoseer of behandel mense (gratis of teen betalingc) alhoewel hulle net ’n paar boeke gelees het en ’n paar uur lank “klas” geloop het.

Oorweeg ook die volgende: Wat is die omvang en gehalte van sy opleiding? Word hy deur goed ingeligte persone gerespekteer en as bekwaam beskou? Die dissipel Lukas het klaarblyklik gestudeer en genoeg ondervinding verkry sodat sy kwalifikasies bo verdenking was toe die apostel Paulus na hom verwys het as “die geneesheer Lukas”.—Kolossense 4:14.

Maar selfs opgeleide geneeshere het al slegte raad gegee of die verkeerde behandeling voorgeskryf. Waarom? Soms was dit omdat hulle nie werklik in hulle pasiënte belanggestel het nie. Hulle het miskien ’n eienaardige gesondheidsteorie ontwikkel. Of hulle het nie op hoogte gebly van mediese kennis nie en het gevolglik nie die nodige gespesialiseerde kennis nie. Ook hier kan die Bybel ons help.

Dit sê: “Planne misluk sonder beraadslaging, maar deur die veelheid van raadgewers kom dit tot stand” (Spreuke 15:22). Dit beklemtoon die waarde van ’n tweede of derde opinie. Party pasiënte vertrou mettertyd hulle dokter en het dus nie nog ’n opinie nodig elke keer wanneer hy iets aanbeveel nie. Maar dit is redelik om ’n tweede opinie oor ernstige sake te kry wanneer jy jou bedenkinge oor sy raad het. Maar sorg dat jy die mening inwin van iemand wat jy seker is vir jou onbevooroordeelde raad sal gee. Selfs al klop jy aan by iemand met ’n ander benadering tot die probleem, moet dit deskundige raad wees. Die “veelheid van raadgewers” sal jou sodoende help om beter gesondheid te geniet.

Vind die ewewig tussen geestelike gesondheid en fisiese gesondheid

Tydens hierdie hele bespreking van gesondheid en behandeling moet toegewyde Christene die volgende in gedagte hou: Ons fisiese gesondheid is wel belangrik, maar ons geestelike gesondheid is baie belangriker.

Jesus het ons vermaan: “Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie.” Ja, ons moet ons dus nie onnodig oor voedsel, klere of selfs mediese behandeling bekommer nie. Hoe jammer sou dit tog wees as ’n Christen so besorg oor sy fisiese gesondheid raak dat hy sy geestelike gesondheid verwaarloos! Hy kan in die strik trap van die ryk man in Jesus se gelykenis, vir wie God gesê het: “In hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis: en wat jy gereedgemaak het [jou gesondheid inkluis], wie s’n sal dit wees?” Jesus het bygevoeg: “So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.”—Lukas 12:20-22.

Ons wil weliswaar ons gesondheid oppas sodat ons ons lewens kan gebruik om God te dien. Maar berigte uit verskeie gebiede toon dat party Christene behep geraak het met hulle fisiese gesondheid. Een aanduiding hiervan is wat ’n Getuie in die Midde-Westelike Verenigde State geskryf het: “Dit lyk of so baie gans te besorg is oor hulle gesondheid. Hulle dink voortdurend daaraan [soos blyk uit hulle gesprekke.]” Die brief het verduidelik dat baie skynbaar oorbesorg hieroor geraak het nadat persone wat amateurs is maar wat meen dat hulle kan sê of iemand kanker het en wat dan diëte en aanvullende voedsel voorskryf, vir hulle gesê het dat hulle kanker het. Die Getuie het gehoor hoedat ’n besoeker uit Kalifornië sê: “Ons [met hierdie gesondheidsgewoontes] assosieer nie met diegene in ons gemeente wat verkies om onkundig te bly en dokters raadpleeg nie.”

Dit is om verskeie redes skadelik. Christenvergaderinge en -byeenkomste is nie geleenthede om verdiep te raak in gesprekke oor gesondheid of pogings om ander se kwale te diagnoseer of vorme van behandeling voor te skryf nie. Hierdie saamtrekke is vir hartlike geestelike omgang. Die ouere manne moet sorg dat die Koninkryksaal nie ’n sentrum word waar verskeie vorme van behandeling of beskouings gepropageer word nie, maar ’n plek van eenheid en ware aanbidding bly.—Vergelyk Johannes 2:16, 17.

In die teenwoordige stelsel is dit onmoontlik om volmaak gesond te wees. Dit sal eers in die nuwe stelsel moontlik wees. “Geen inwoner sal [dan] sê: Ek is siek nie.” En dit sal wees omdat hulle skuld en sonde vergewe is (Jesaja 33:24). Ons moet dus nie onnodig besorg wees oor ons huidige gesondheid asof ons nou fisiese volmaaktheid nastrewe nie. Laat ons eerder wysheid en redelikheid openbaar deur op ons geestelike gesondheid te konsentreer.

Jesus het getoon waarop ons ons aandag moet toespits: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Ons moet nie toelaat dat iets ons aandag van hierdie goddelike toewysing aflei nie; gesondsheidskwessies moet ons nie verhinder om die Koninkryk heelhartig te ondersteun nie. Die verstandige en redelike weg is om ‘die Koninkryk eers te soek’. Dit sal die “vrede van God” bring en kan aldus selfs ons huidige gesondheid verbeter. Maar nog belangriker, dit sal vir ons God se goedkeuring verkry, saam met al die wonderlike vooruitsigte wat eers verwesenlik sal word wanneer Christus se losprysoffer tot voordeel van die mensdom aangewend word.—Filippense 3:8-11; 4:6, 7; Mattheüs 6:33.

[Voetnote]

a In ’n museum in St. Louis, Missouri, word sulke mediese bedrieërye ten toon gestel. Dit sluit radionika-masjiene in, gekleurde ligte om pasiënte te “genees” terwyl hulle met hulle koppe noord lê, apparate wat dan glo “kosmiese energie” oorbring en ander wat gebruik is vir diagnose of toetse wat gebaseer is op geheimsinnige “liggaamskragte”.

b Van tyd tot tyd wil persone by die Wagtoringgenootskap weet of ’n sekere vorm van diagnose of behandeling ’n bedrogspul is of met spiritisme in verband staan. Ons is nie in die posisie om navorsing te doen en die talle vorme van “behandeling” wat dwarsoor die aarde gebruik word te beoordeel nie. Maar ons vertrou dat die raad in hierdie twee artikels lesers sal help om Bybelbeginsels toe te pas en redelikheid te openbaar wanneer hulle besluite oor gesondheidsmaatreëls moet neem.

c In baie lande is dit ’n stafbare oortreding om sonder ’n lisensie as ’n dokter te praktiseer.—Mattheüs 22:21

[Prent op bladsy 26]

DIE MIKRO-DINAMETER wat glo ‘enige bekende kwaal kan diagnoseer’

[Prent op bladsy 27]

Switserse “abbé” Mermet het ’n slinger gebruik om siektes te diagnoseer en vermiste persone op te spoor

[Venster op bladsy 28]

Wil jy 100 jaar oud word?

Tydens ’n ondersoek deur die Komitee vir ’n Langer Lewe is onderhoude gevoer met 1 000 persone wat 100 jaar oud geword het. Wat het baie van hulle gemeen gehad? ’n Koerant het dit soos volg opgesom:

“Moet jou aan niks vergryp nie. Staan vroeg op. Lei ’n geestelike lewe. Bly besig. Wees selfversorgend.”

Ander dinge wat dikwels onder hulle waargeneem is: Hulle het gewoonlik vroeg gaan slaap. Min was vet. Die meeste het bedrywig gebly en was nie dromers nie.

[Venster op bladsy 29]

’n Deurlopende besorgdheid oor gesondheid

ln ’n onlangse suksesboek het dr. Lewis Thomas, hoof van die Memorial Sloan-Kettering Cancer Center in New York, gesê:

“As ’n volk het ons behep geraak met Gesondheid. Daar is iets fundamenteel, radikaal ongesonds hieromtrent. Ons is nie soseer besig om meer lewenslus na te jaag nie, ons is eerder besig om mislukking af te weer en die dood uit te stel. Ons het alle vertroue in die menseliggaam verloor. Die nuwe algemene opinie is dat ons sleg ontwerp is, inherent feilbaar is, kwesbaar vir ’n mag der menigte vyandelike invloede in en om ons, en dat ons lewe aan ’n draadjie hang. Ons loop die gevaar om enige oomblik uitmekaar te val . . .

“Die moeilikheid is dat ons deur die propaganda bedrieg word . . . Ons is in der waarheid redelik gesonde mense. En ons is glad nie dom aanmekaargesit nie, maar ons is verbasend taai, sterk organismes, vol gesondheid, gereed vir die meeste gebeurlikhede. Die nuwe gevaar vir ons welsyn, mits ons voortgaan om na al die praatjies te luister, is dat ons ’n nasie gesonde hipochondriste kan word wat versigtig lewe en onsself half dood bekommer.

“En ons het nie meer tyd hiervoor nie, ons kan ook nie bekostig dat ons aandag so van ons ander, aansienlik dringender probleme afgelei word nie. Ons moet liewer bekommerd wees oor die feit dat ons beheptheid met persoonlike gesondheid ’n simptoom van distansiëring kan wees, . . . terwyl die hele samelewing net hierbuite besig is om ineen te stort.”—The Medusa and the Snail (1979), ble. 36-40.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel