Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 6/15 bl. 14-19
  • Heg die regte waarde aan jou gawe van lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Heg die regte waarde aan jou gawe van lewe
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Toon respek vir lewe
  • Bloed—Hoe kon dit gebruik word?
  • Die Lewegewer se oplossing
  • Die Bloed wat werklik lewens red
    Hoe kan bloed jou lewe red?
  • ’n Goddelike beskouing van lewe
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Toon respek vir lewe
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Bloed—Noodsaaklik vir lewe
    Hoe kan bloed jou lewe red?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 6/15 bl. 14-19

Heg die regte waarde aan jou gawe van lewe

“Die bloed van die Christus [sal] ons gewetens van dooie werke reinig sodat ons heilige diens aan die lewende God kan verrig.”—HEBREËRS 9:14.

1. Wat bewys dat ons groot waarde aan lewe heg?

SÊ NOU iemand vra jou wat jou lewe vir jou werd is; wat sal jy sê? Ons heg groot waarde aan lewe—ons eie en dié van ander. Een bewys hiervan is dat ons moontlik dokter toe gaan vir behandeling wanneer ons siek is of vir gereelde ondersoeke. Ons wil aan die lewe bly en goeie gesondheid geniet. Selfs die meeste bejaardes of gestremdes wil nie doodgaan nie; hulle wil bly lewe.

2, 3. (a) Op watter verpligting vestig Spreuke 23:22 die aandag? (b) Hoe is God betrokke by die verpligting wat in Spreuke 23:22 genoem word?

2 Die waarde wat jy aan lewe heg, beïnvloed jou verhoudings met ander. God se Woord sê byvoorbeeld: “Luister na jou vader wat jou geboorte veroorsaak het, en moenie jou moeder verag bloot omdat sy oud geword het nie” (Spreuke 23:22). Om te “luister”, beteken meer as om net woorde te hoor; hierdie spreuk beteken om te hoor en dan te gehoorsaam (Eksodus 15:26; Deuteronomium 7:12; 13:18; 15:5; Josua 22:2; Psalm 81:13). Waarom sê God se Woord dat jy moet luister? Dit is nie net omdat jou vader en moeder ouer is as jy of meer ondervinding het nie. Die rede wat gegee word, is dat hulle “jou geboorte veroorsaak het”. Party vertalings gee hierdie vers soos volg weer: “Luister na jou vader wat jou lewe gegee het.” As jy waarde aan jou lewe heg, is dit verstaanbaar dat jy ’n verpligting teenoor die bron van daardie lewe voel.

3 As jy ’n ware Christen is, erken jy Jehovah natuurlik as die oorspronklike Bron van jou lewe. Deur hom ‘het jy lewe’; kan jy “beweeg”, optree as ’n voelende wese; en “bestaan” jy nou en kan jy dink aan die toekoms of daarvoor beplan, met inbegrip van ewige lewe (Handelinge 17:28; Psalm 36:9; Prediker 3:11). In ooreenstemming met Spreuke 23:22 is dit reg om uit gehoorsaamheid na God te “luister”, met die begeerte om eerder sý beskouing van lewe te verstaan en dienooreenkomstig op te tree as om enige ander beskouing van lewe te verkies.

Toon respek vir lewe

4. Hoe het respek vir lewe vroeg in die mens se geskiedenis ’n kwessie geword?

4 Vroeg in die mens se geskiedenis het Jehovah duidelik getoon dat hy dit nie aan mense oorlaat om lewe sommer na willekeur te gebruik (of te misbruik) nie. Kain was rasend van jaloesie en het ’n onskuldige lewe uitgewis, sy broer Abel s’n. Dink jy Kain het die reg gehad om so ’n besluit oor lewe te neem? God het nie so gedink nie. Hy het Kain tot verantwoording geroep: “Wat het jy gedoen? Luister! Jou broer se bloed roep van die grond af na my toe uit” (Genesis 4:10). Let daarop dat Abel se bloed op die grond sy lewe verteenwoordig het, wat wreed kort geknip is, en dit het na God uitgeroep om wraak.—Hebreërs 12:24.

5. (a) Watter verbod het God in Noag se dag ingestel, en op wie was dit van toepassing? (b) In watter opsig was hierdie verbod ’n belangrike stap?

5 Ná die Vloed het die mensdom van nuuts af begin met net agt siele. In ’n verklaring wat op alle mense van toepassing was, het God meer geopenbaar omtrent die waarde wat hy aan lewe en bloed heg. Hy het gesê dat mense dierevleis mag eet, maar hy het hierdie beperking gestel: “Al die diere wat beweeg en lewe, mag vir julle as voedsel dien. Soos in die geval van die groen plante, gee ek dit alles aan julle. Net vleis met sy siel—sy bloed—mag julle nie eet nie” (Genesis 9:3, 4). Volgens party Jode beteken dit dat mense nie die vleis of bloed mag geëet het van ’n dier wat nog lewe nie. Maar dit het later duidelik geblyk dat wat God hier verbied het, die inname was van bloed om lewe te onderhou. Daarbenewens was God se bevel deur Noag ’n groot stap vorentoe in die verwesenliking van Sy verhewe voorneme met betrekking tot bloed—’n voorneme wat mense in staat sou stel om die ewige lewe te verkry.

6. Hoe het God deur Noag Sy beskouing van die waarde van lewe beklemtoon?

6 God het verder gesê: “[Ek sal] julle bloed van julle siele terugeis. Van elke dier sal ek dit terugeis; en van die hand van die mens, van die hand van elkeen wat sy broer is, sal ek die siel van die mens terugeis. Elkeen wat ’n mens se bloed vergiet, deur die mens sal sy bloed vergiet word, want na God se beeld het hy die mens gemaak” (Genesis 9:5, 6). Jy kan uit hierdie verklaring aan die hele mensdom sien dat ’n mens se bloed in God se oë sy lewe verteenwoordig. Die Skepper gee die persoon lewe, en niemand mag daardie lewe, wat deur bloed verteenwoordig word, neem nie. As iemand wel soos Kain moord pleeg, het die Skepper die reg om die moordenaar se lewe ‘terug te eis’.

7. Waarom moet ons belangstel in God se verklaring aan Noag oor bloed?

7 Deur sy verklaring het God mense beveel om bloed nie te misbruik nie. Het jy al ooit gewonder waarom? En wat was die rede vir God se beskouing van bloed? Wel, die antwoord hou verband met een van die belangrikste leringe in die Bybel. Dit is die kern van die Christelike boodskap, hoewel baie kerke verkies om dit te ignoreer. Wat is dié lering, en hoe raak dit jou lewe, besluite en dade?

Bloed—Hoe kon dit gebruik word?

8. Watter beperking het Jehovah in die Wet op die gebruik van bloed gestel?

8 Jehovah het meer besonderhede oor lewe en bloed voorsien toe hy die Wet aan Israel gegee het. Hy het sodoende ’n verdere stap geneem in die verwesenliking van sy voorneme. Jy weet waarskynlik dat die Wet offers aan God vereis het, soos graan, olie en wyn (Levitikus 2:1-4; 23:13; Numeri 15:1-5). Daar was ook diereoffers. God het hiervan gesê: “Die siel van die vlees is in die bloed, en ek het dit vir julle op die altaar geplaas om vir julle siel versoening te doen, want die bloed doen versoening deur die siel wat daarin is. Daarom het ek vir die kinders van Israel gesê: ‘Geen siel onder julle mag bloed eet nie.’” Jehovah het bygevoeg dat iemand, soos ’n jagter of ’n boer, wat ’n dier vir voedsel doodgemaak het, die bloed moes laat uitloop en dit met stof moes bedek. Die aarde is God se voetbank, en deur die bloed op die aarde uit te giet, het die persoon erken dat die lewe aan die Lewegewer teruggegee word.—Levitikus 17:11-13; Jesaja 66:1.

9. Slegs waarvoor kon bloed volgens die Wet gebruik word, en wat was die doel hiervan?

9 Daardie wet was nie bloot ’n godsdiensritus wat geen betekenis vir ons het nie. Het jy opgemerk waarom die Israeliete verbied is om bloed in te neem? God het gesê: “Daarom het ek vir die kinders van Israel gesê: ‘Geen siel onder julle mag bloed eet nie.’” Wat was die rede? “Ek het [bloed] vir julle op die altaar geplaas om vir julle siel versoening te doen.” Sien jy dat dit lig werp op die rede waarom God vir Noag gesê het dat mense nie bloed mag eet nie? Die Skepper het besluit om ’n verhewe betekenis aan bloed te heg en dit te bewaar vir een spesiale gebruik wat baie lewens kan red. Dit sou ’n lewensbelangrike rol speel in die bedekking van sondes (versoening). Onder die Wet het God dus slegs toegelaat dat bloed op die altaar gebruik word om versoening te doen vir die lewe van die Israeliete, wat Jehovah se vergifnis gesoek het.

10. Waarom kon dierebloed nie volkome vergifnis meebring nie, maar watter herinnering het die offerandes onder die Wet voorsien?

10 Hierdie begrip is nie vreemd aan die Christelike godsdiens nie. Met verwysing na hierdie goddelik ingestelde kenmerk van die Wet het die Christenapostel Paulus geskryf: “Byna alles word volgens die Wet met bloed gereinig, en tensy bloed uitgestort word, vind geen vergifnis plaas nie” (Hebreërs 9:22). Paulus het dit duidelik gestel dat die vereiste offerandes die Israeliete nie in volmaakte, sondelose mense verander het nie. Hy het geskryf: “Deur hierdie offerandes is daar van jaar tot jaar ’n herinnering aan sondes, want dit is nie vir die bloed van bulle en van bokke moontlik om sondes weg te neem nie” (Hebreërs 10:1-4). Hierdie offerandes was nietemin nuttig. Dit het die Israeliete daaraan herinner dat hulle sondig was en iets meers nodig gehad het om volkome vergifnis te ontvang. Maar as die bloed wat die lewe van diere verteenwoordig het, mensesondes nie volkome kon bedek nie, sou enige lewensbloed dit dan kon doen?

Die Lewegewer se oplossing

11. Hoe weet ons dat offerandes van dierebloed na iets vooruitgewys het?

11 Die Wet het in werklikheid vooruitgewys na iets wat baie doeltreffender sou wees om God se wil te volbring. Paulus het gevra: “Waarom dan die Wet?” Hy het geantwoord: “Dit is bygevoeg om oortredings openbaar te maak, totdat die saad sou kom aan wie die belofte gemaak is; en dit is deur middel van engele deur die hand van ’n middelaar [Moses] oorgedra” (Galasiërs 3:19). Paulus het ook geskryf: “Die Wet [het] ’n skaduwee . . . van die toekomstige goeie dinge, maar nie die wese van die dinge nie.”—Hebreërs 10:1.

12. Hoe kan ons die ontvouing van God se voorneme met betrekking tot bloed sien?

12 Ter opsomming: Onthou dat God in Noag se dag bepaal het dat mense dierevleis kon eet om lewe te onderhou, maar dat hulle nie bloed kon inneem nie. Later het God gesê: “Die siel van die vlees is in die bloed.” Ja, hy het besluit om bloed te beskou as iets wat lewe verteenwoordig en gesê: “Ek het [bloed] vir julle op die altaar geplaas om vir julle siel versoening te doen.” Maar God se voorneme sou op ’n wonderlike wyse verder ontvou. Die Wet het toekomstige goeie dinge voorafgeskadu. Watter dinge?

13. Waarom was Jesus se dood belangrik?

13 Die werklikheid het verband gehou met die dood van Jesus Christus. Jy weet dat Jesus gemartel en aan ’n paal gehang is. Hy het soos ’n misdadiger gesterf. Paulus het geskryf: “Christus het inderdaad, terwyl ons nog swak was, op die vasgestelde tyd vir goddeloses gesterf. . . . Hierin beveel God sy eie liefde by ons aan, dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was” (Romeine 5:6, 8). Deur vir ons te sterf, het Christus ’n losprys voorsien om ons sondes te bedek. Daardie losprys is die kern van die Christelike boodskap (Matteus 20:28; Johannes 3:16; 1 Korintiërs 15:3; 1 Timoteus 2:6). Wat het dit met bloed en lewe te doen, en hoe raak dit jou lewe?

14, 15. (a) Hoe beklemtoon party vertalings van Efesiërs 1:7 Jesus se dood? (b) Wat omtrent Efesiërs 1:7 kan oor die hoof gesien word?

14 Party kerke beklemtoon Jesus se dood, en hulle lidmate sê dinge soos: “Jesus het vir my gesterf.” Kyk hoe party Bybelvertalings Efesiërs 1:7 weergee: “In hom en deur sy dood het ons verlossing, dit wil sê die uitwissing van ons oortredings” (The American Bible, deur Frank Scheil Ballentine, 1902). “Deur die dood van Christus is ons vrygemaak, en ons sondes is vergewe” (Today’s English Version, 1966). “In en deur Christus en die opoffering van sy lewe is ons bevry, ’n bevryding wat die vergifnis van sondes beteken” (The New Testament, deur William Barclay, 1969). “Deur Christus se dood is ons sondes vergewe en is ons vrygemaak” (The Translator’s New Testament, 1973). Jy kan in hierdie weergawes sien dat Jesus se dood beklemtoon word. ‘Maar Jesus se dood is werklik belangrik’, sê party dalk. ‘In watter opsig skiet hierdie weergawes dan te kort?’

15 Wel, as jy van sulke vertalings afhanklik was, sou jy moontlik ’n baie belangrike punt oor die hoof sien, en dit kan jou begrip van die Bybel se boodskap beperk. Sulke weergawes verberg die feit dat die oorspronklike teks van Efesiërs 1:7 ’n Griekse woord bevat wat “bloed” beteken. Gevolglik kom baie Bybels, soos die Nuwe Wêreld-vertaling, nader aan die oorspronklike teks: “Deur middel van hom het ons die bevryding deur ’n losprys deur die bloed van daardie een, ja, die vergifnis van ons oortredings, volgens die rykdom van sy onverdiende goedhartigheid.”

16. Waaraan moet die uitdrukking “die bloed van daardie een” ons laat dink?

16 Die weergawe “die bloed van daardie een” is ryk aan betekenis en moet ons aan baie dinge laat dink. Meer was nodig as ’n dood, selfs die dood van die volmaakte man Jesus. Hy het vervul wat in die Wet voorafgeskadu is, veral op die Versoendag. Op daardie spesiale dag is voorgeskrewe diere geoffer. Dan het die hoëpriester van die diere se bloed in die Allerheiligste van die tabernakel of tempel ingeneem en dit daar voor God aangebied, asof hy in Sy teenwoordigheid was.—Eksodus 25:22; Levitikus 16:2-19.

17. Hoe het Jesus vervul wat deur die Versoendag voorafgeskadu is?

17 Jesus het vervul wat deur die Versoendag voorafgeskadu is, soos Paulus verduidelik het. Hy het eers gemeld dat die hoëpriester in Israel een keer per jaar in die Allerheiligste ingegaan het met bloed wat geoffer is “vir homself . . . en vir die sondes wat die volk uit onkunde begaan het” (Hebreërs 9:6, 7). In ooreenstemming met daardie patroon het Jesus, nadat hy as ’n gees opgewek is, in die hemel self ingegaan. As ’n gees, wat nie ’n liggaam van vlees en bloed het nie, kon hy “vir ons voor die aangesig van God” verskyn. Wat het hy vir God aangebied? Nie iets fisies nie, maar iets baie betekenisvols. Paulus het verder gesê: “Toe Christus . . . gekom het as ’n hoëpriester . . . , het hy, nee, nie met die bloed van bokke en van jong bulle nie, maar met sy eie bloed, eens en vir altyd in die heiligdom ingegaan en ’n ewige verlossing vir ons verkry. Want as die bloed van bokke en van bulle . . . sodanig heilig dat die vlees rein word, hoeveel te meer sal dan die bloed van die Christus, wat homself deur ’n ewige gees sonder smet aan God geoffer het, ons gewetens van dooie werke reinig sodat ons heilige diens aan die lewende God kan verrig?” Ja, Jesus het die waarde van sy lewensbloed vir God aangebied.—Hebreërs 9:11-14, 24, 28; 10:11-14; 1 Petrus 3:18.

18. Waarom moet wat die Bybel oor bloed sê, belangrik wees vir hedendaagse Christene?

18 Hierdie goddelike waarheid laat ons die wonderlike omvang besef van wat die Bybel oor bloed sê—waarom God dit beskou soos hy dit beskou, wat ons beskouing daarvan moet wees en waarom ons die beperkings moet respekteer wat God op die gebruik van bloed gestel het. Wanneer jy die boeke van die Christelike Griekse Geskrifte lees, sal jy talle verwysings na die bloed van die Christus vind. (Sien die venster.) Dit toon duidelik dat alle Christene geloof “in sy [Jesus se] bloed” moet stel (Romeine 3:25). Dit is slegs ‘deur die bloed wat hy [Jesus] vergiet het’ dat dit vir ons moontlik is om vergifnis te ontvang en vrede met God te hê (Kolossense 1:20). Dit is beslis waar van diegene met wie Jesus ’n spesiale verbond gesluit het om saam met hom in die hemel te regeer (Lukas 22:20, 28-30; 1 Korintiërs 11:25; Hebreërs 13:20). Dit is ook waar van die hedendaagse “groot menigte”, wat die komende “groot verdrukking” sal oorleef en ewige lewe in ’n aardse paradys sal geniet. In figuurlike sin ‘was hulle hulle klere in die bloed van die Lam’.—Openbaring 7:9, 14.

19, 20. (a) Waarom het God besluit om die gebruik van bloed te beperk, en hoe moet ons daaroor voel? (b) Wat moet ons wil weet?

19 Dit is duidelik dat bloed ’n spesiale betekenis het in God se oë. Dit moet ook met ons die geval wees. Die Skepper, wat besorg is oor lewe, het die reg om te beperk wat mense met bloed mag doen. In sy groot besorgdheid oor selfs ons lewe het hy bepaal dat bloed slegs gebruik kon word op een uiters belangrike manier, die enigste manier wat ewige lewe moontlik maak. Daardie manier hou verband met Jesus se kosbare bloed. Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah God vir ons beswil opgetree het deur bloed—Jesus se bloed—op hierdie lewensreddende manier te gebruik! En hoe dankbaar moet ons tog teenoor Jesus wees dat hy sy bloed as ’n offerande vir ons uitgegiet het! Ons kan werklik die gevoelens verstaan wat die apostel Johannes soos volg uitgedruk het: “Aan hom wat ons liefhet en wat ons deur middel van sy eie bloed van ons sondes losgemaak het—en hy het ons ’n koninkryk gemaak, priesters vir sy God en Vader—ja, aan hom die heerlikheid en die mag tot in ewigheid. Amen.”—Openbaring 1:5, 6.

20 Ons alwyse God en Lewegewer het hierdie lewensreddende rol lank in gedagte gehad. Ons kan dus vra: ‘Watter uitwerking moet dit op ons besluite en dade hê?’ Die volgende artikel sal hierdie vraag bespreek.

Hoe sal jy antwoord?

• Wat kan ons uit die verslae van Abel en Noag omtrent God se beskouing van bloed leer?

• Watter beperking het God in die Wet op die gebruik van bloed gestel, en waarom?

• Hoe het Jesus vervul wat deur die Versoendag voorafgeskadu is?

• Hoe kan die bloed van Jesus ons lewe red?

[Venster op bladsy 18]

WATTER BLOED RED LEWENS?

“Let op julleself en op die hele kudde, waaronder die heilige gees julle as opsieners aangestel het, om as herders toesig te hou oor die gemeente van God, wat hy met die bloed van sy eie Seun gekoop het.”—Handelinge 20:28.

“Veel meer sal ons dus, aangesien ons nou deur sy bloed regverdig verklaar is, deur middel van hom van gramskap gered word.”—Romeine 5:9.

“Julle het geen hoop gehad nie en was sonder God in die wêreld. Maar julle wat eens ver weg was, het nou in eenheid met Christus Jesus naby gekom deur die bloed van die Christus.”—Efesiërs 2:12, 13.

“God het dit goedgevind om die hele volheid in hom te laat woon en om deur hom alle ander dinge weer met homself te versoen deur vrede te maak deur die bloed wat hy aan die folterpaal vergiet het.”—Kolossense 1:19, 20.

“Daarom, broers, [het] ons deur die bloed van Jesus vrymoedigheid . . . ten opsigte van die weg wat toegang tot die heiligdom verleen.”—Hebreërs 10:19.

“Julle [is] nie met verderflike dinge . . . verlos . . . van julle vrugtelose gedragswyse wat julle deur oorlewering van julle voorvaders ontvang het nie. Maar dit was met kosbare bloed, soos dié van ’n smetlose en vlekkelose lam, ja, Christus s’n.”—1 Petrus 1:18, 19.

“As ons in die lig wandel soos hy in die lig is, dan het ons deelgenootskap met mekaar, en die bloed van Jesus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.”—1 Johannes 1:7.

“U is waardig om die boekrol te neem en sy seëls oop te maak, want u is geslag, en met u bloed het u mense uit elke stam en taal en volk en nasie vir God gekoop.”—Openbaring 5:9.

“Die beskuldiger van ons broers . . . is neergeslinger! En hulle het hom oorwin weens die bloed van die Lam en weens die woord van hulle getuienis.”—Openbaring 12:10, 11.

[Prent op bladsy 16]

Deur die Wet het God duidelik getoon dat bloed ’n rol in die vergifnis van sondes kan speel

[Prent op bladsy 17]

Deur die bloed van Jesus kan baie lewens gered word

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel