Bloed—Noodsaaklik vir lewe
Hoe kan bloed jou lewe red? Dit is ongetwyfeld vir jou van belang aangesien bloed verband hou met jou lewe. Bloed vervoer suurstof deur jou liggaam, verwyder koolstofdioksied, help jou om by temperatuurveranderinge aan te pas en teen siektes weerstand te bied.
Die verband tussen lewe en bloed is aangetoon lank voor William Harvey die bloedsomloopstelsel in 1628 beskryf het. Die basiese etiek van die groot godsdienste draai om ’n Lewegewer, wat hom oor lewe en oor bloed uitgespreek het. ’n Joods-Christelike wetgeleerde het oor hom gesê: “Dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. Want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.”a
Mense wat in so ’n Lewegewer glo, vertrou dat sy riglyne in ons ewige belang is. ’n Hebreeuse profeet het hom beskryf as die een “wat jou leer om jouself te bevoordeel, wat jou laat stap op die weg waarop jy moet wandel”.
Daardie versekering, in Jesaja 48:17 (New World Translation of the Holy Scriptures), maak deel uit van die Bybel, ’n boek wat gerespekteer word vir etiese waardes wat ons almal tot voordeel kan strek. Wat sê dit oor die mens se gebruik van bloed? Toon dit hoe lewe met bloed gered kan word? In werklikheid toon die Bybel duidelik dat bloed meer as ’n komplekse biologiese vloeistof is. Dit maak meer as 400 keer melding van bloed, en sommige van hierdie verwysings handel oor die redding van lewe.
In een vroeë verwysing het die Skepper verklaar: “Alles wat lewe en beweeg, sal vir julle voedsel wees. . . . Maar julle moenie vleis eet wat nog sy lewensbloed in het nie.” Hy het bygevoeg: “Vir julle eie lewensbloed sal ek beslis rekenskap eis”, en toe het hy moord veroordeel (Genesis 9:3-6, New International Version). Hy het dít vir Noag gesê, ’n gemeenskaplike voorouer wat deur Jode, Moslems en Christene hoog geag word. Die hele mensdom is dus daarvan in kennis gestel dat bloed in die Skepper se oë lewe verteenwoordig. Dit was meer as ’n dieetkundige voorskrif. ’n Sedelike beginsel was klaarblyklik daarby betrokke. Mensebloed is van groot belang en mag nie misbruik word nie. Die Skepper het later besonderhede bygevoeg waaruit ons maklik die sedelike kwessies kan sien wat hy met lewensbloed in verband bring.
Hy het weer van bloed gepraat toe hy die Wet aan eertydse Israel gegee het. Hoewel baie mense agting het vir die wysheid en sedelike norme in daardie kode, is min bewus van sy ernstige wette op bloed. Byvoorbeeld: “As enigeen van die huis van Israel of van die vreemdelinge wat onder hulle vertoef enige bloed eet, sal Ek My aangesig rig teen die persoon wat die bloed eet en Ek sal hom onder sy volk uitroei. Want die lewe van die vlees is in die bloed” (Levitikus 17:10, 11, Tanakh). God het toe verduidelik wat ’n jagter met ’n dooie dier moes doen: “Hy moet die bloed daarvan laat uitloop en dit met grond bedek. . . . Jy mag nie die bloed van enige vlees eet nie, want die lewe van alle vlees is sy bloed. Enigeen wat daarvan eet, sal uitgeroei word.”—Levitikus 17:13, 14, Ta.
Wetenskaplikes weet nou dat die Joodse Wet goeie gesondheid in die hand gewerk het. Dit het byvoorbeeld vereis dat uitwerpsels buite die kamp gestort en begrawe word en dat mense nie vleis eet waardeur hulle maklik siektes kon opdoen nie (Levitikus 11:4-8, 13; 17:15; Deuteronomium 23:12, 13). Hoewel die wet op bloed gesondheidsaspekte behels het, was baie meer daarby betrokke. Bloed het ’n simboliese betekenis gehad. Dit het lewe verteenwoordig wat deur die Skepper gegee is. Deur bloed as iets spesiaals te beskou, het die mense getoon dat hulle van hom afhanklik is vir lewe. Ja, die hoofrede waarom hulle nie bloed moes inneem nie, was nie dat dit ongesond was nie, maar dat dit vir God spesiale betekenis gehad het.
Die Wet het herhaaldelik melding gemaak van die Skepper se verbod op die inneem van bloed ten einde lewe te onderhou. “Jy moet die bloed nie eet nie; gooi dit op die grond uit soos water. Moet dit nie eet nie, sodat dit met jou en jou kinders goed mag gaan, want jy sal doen wat reg is.”—Deuteronomium 12:23-25, NIV; 15:23; Levitikus 7:26, 27; Esegiël 33:25.b
In teenstelling met hoe sommige vandag redeneer, kon God se wet op bloed nie veronagsaam word net omdat ’n noodgeval ontstaan het nie. Tydens ’n krisis in oorlogstyd het sommige Israelitiese soldate diere doodgemaak en “dit met bloed en al geëet”. Was dit toelaatbaar dat hulle hul lewe met bloed onderhou het, aangesien dit ’n noodgeval was? Nee. Hulle aanvoerder het daarop gewys dat hulle handelwyse steeds ’n ernstige sonde was (1 Samuel 14:31-35). Hoe kosbaar die lewe ook al is, ons Lewegewer het dus nooit gesê dat sy standaarde in ’n noodgeval veronagsaam mag word nie.
BLOED EN WARE CHRISTENE
Wat is die standpunt van die Christelike godsdiens ten opsigte van die gebruik van bloed om ’n mens se lewe te red?
Jesus was ’n man van integriteit, en dit is waarom hy so hoog geag word. Hy het geweet dat die Skepper gesê het dat dit verkeerd is om bloed in te neem en dat hierdie wet bindend is. Daar is dus goeie rede om te glo dat Jesus die wet op bloed sou onderhou het selfs as daar druk op hom uitgeoefen is om dit te verbreek. Jesus ‘het geen sonde gedoen nie, en geen bedrog is in sy mond gevind nie’ (1 Petrus 2:22). Hy het derhalwe ’n voorbeeld vir sy volgelinge gestel, en dit het ’n voorbeeld van eerbied vir lewe en bloed ingesluit. (Ons sal later bespreek hoe Jesus se eie bloed betrokke is by hierdie uiters belangrike kwessie wat jou lewe raak.)
Let op wat gebeur het toe daar, jare na Jesus se dood, ’n vraag ontstaan het, naamlik of iemand wat ’n Christen word al Israel se wette moet onderhou al dan nie. Dit is bespreek by ’n raadsvergadering van die Christelike bestuursliggaam, wat die apostels ingesluit het. Jesus se halfbroer Jakobus het na die geskrifte verwys wat die gebooie oor bloed bevat het wat aan Noag en die nasie Israel gegee is. Sou dit vir Christene bindend wees?—Handelinge 15:1-21.
Daardie raad het al die gemeentes van hulle besluit verwittig: Christene hoef nie die wet wat aan Moses gegee is te onderhou nie, maar dit is ‘noodsaaklik’ dat hulle hul “onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is [vleis waarvan die bloed nie uitgeloop het nie] en van hoerery” (Handelinge 15:22-29). Die apostels het nie bloot ’n rituele of dieetkundige ordinansie uitgevaardig nie. Die verordening het fundamentele etiese norme uiteengesit, waaraan vroeë Christene gehoor gegee het. Ongeveer ’n dekade later het hulle erken dat hulle hul steeds moet “onthou van afgodsoffers en bloed . . . en van hoerery”.—Handelinge 21:25.
Jy weet dat miljoene mense kerk toe gaan. Die meeste van hulle sal waarskynlik saamstem dat die Christelike etiek behels dat ’n mens nie afgode aanbid nie en jou nie aan growwe onsedelikheid skuldig maak nie. Maar ons kan gerus daarop let dat die apostels die onthouding van bloed op dieselfde hoë sedelike vlak as die vermyding van hierdie verkeerde dinge geplaas het. Hulle verordening het afgesluit: “As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen. Vaarwel!”—Handelinge 15:29.
Die apostoliese verordening is lank as bindend beskou. Eusebius maak melding van ’n jong vrou teen die einde van die tweede eeu wat, voordat sy doodgemartel is, dit duidelik gestel het dat Christene “nie eers die bloed van redelose diere mag eet nie”. Sy het nie ’n reg om te sterf uitgeoefen nie. Sy wou lewe, maar sy sou nie haar beginsels prysgee nie. Respekteer jy nie mense wat beginsels bo eie gewin stel nie?
Wetenskaplike Joseph Priestley het die gevolgtrekking gemaak: “Die verbod op die eet van bloed wat aan Noag gegee is, is blykbaar bindend op al sy afstammelinge . . . As ons [die] verbod van die apostels vertolk volgens die gebruik van die primitiewe Christene, wat nouliks die aard en omvang daarvan sou misverstaan het, kan ons nie anders as om tot die slotsom te kom dat dit bedoel was om absoluut en ewigdurend te wees nie; aangesien bloed baie eeue lank deur geen Christen geëet is nie.”
WAT VAN BLOED AS GENEESMIDDEL?
Sal die Bybelse verbod op bloed van toepassing wees op mediese gebruike, soos oortappings, wat beslis nie in die dae van Noag, Moses of die apostels bekend was nie?
Hoewel die hedendaagse terapie waarin bloed gebruik word nie destyds bestaan het nie, is die geneeskundige gebruik van bloed niks nuuts nie. In Egipte en elders is mensebloed sowat 2 000 jaar lank “as die probate middel teen melaatsheid beskou”. ’n Geneesheer het bekend gemaak watter terapie aan koning Esar-Haddon se seun gegee is toe die Assiriese nasie aan die voorpunt van tegnologiese ontwikkeling was: “Dit gaan baie beter met [die prins]; die koning, my heer, kan gelukkig wees. Ek het op die 22ste dag begin om (vir hom) bloed te gee om te drink, hy sal (dit) 3 dae lank drink. Nog 3 dae sal ek (hom bloed) gee vir inwendige aanwending.” Esar-Haddon het kontak met die Israeliete gehad. Maar omdat die Israeliete God se Wet gehad het, sou hulle nooit bloed as geneesmiddel drink nie.
Is bloed in die Romeinse tye as geneesmiddel gebruik? Die natuurvorser Plinius (’n tydgenoot van die apostels) en die tweede-eeuse geneesheer Aretaeus meld dat mensebloed ’n behandeling vir epilepsie was. Tertullianus het later geskryf: “Beskou diegene wat, by ’n vertoning in die arena, met ’n gulsige dors die vars bloed van bose misdadigers neem . . . en dit wegdra om hulle epilepsie te genees.” Hy het hulle vergelyk met Christene, wat “nie eens die bloed van diere by [hulle] maaltye [het] nie . . . Tydens die verhore van Christene bied julle vir hulle bloedwors aan. Julle is natuurlik daarvan oortuig dat [dit] vir hulle onwettig is.” Vroeë Christene sou dus eerder sterf as om bloed in te neem.
“Bloed in sy meer alledaagse vorm het nie . . . uit die mode geraak as ’n bestanddeel in geneesmiddels en die toorkuns nie”, sê die boek Flesh and Blood. “In 1483 was Lodewyk XI van Frankryk byvoorbeeld sterwend. ‘Dit het elke dag slegter met hom gegaan, en die medisyne het hom niks gehelp nie, alhoewel dit van ’n vreemde aard was; want hy het vurig gehoop om te herstel deur die mensebloed van sekere kinders wat hy geneem en gesluk het.’”
Wat van bloed wat oorgetap word? Eksperimente hiermee het teen die begin van die 16de eeu begin. Thomas Bartholin (1616-80), professor in die anatomie aan die Universiteit van Kopenhagen, het beswaar gemaak: ‘Diegene wat mensebloed as inwendige behandeling vir siektes gebruik, misbruik dit skynbaar en sondig ernstig. Kannibale word veroordeel. Waarom verafsku ons nie diegene wat hulle kele met mensebloed besmet nie? Dit geld ook vir die ontvangs van vreemde bloed uit ’n gesnyde aar, hetsy deur die mond of deur oortappingsinstrumente. Die bewerkers van hierdie operasie word in angs gehou deur die goddelike wet, wat die eet van bloed verbied.’
Denkers van die vorige eeue het dus besef dat die Bybelse wet net soveel van toepassing was op die inname van bloed deur die are as op die inname van bloed deur die mond. Bartholin het afgesluit: “Beide maniere om [bloed] in te neem, het een en dieselfde doel, dat ’n siek liggaam deur hierdie bloed gevoed of genees word.”
Hierdie oorsig kan jou help om die onversetlike godsdiensstandpunt wat Jehovah se Getuies inneem te verstaan. Hulle ag die lewe baie kosbaar, en hulle soek goeie mediese behandeling. Maar hulle is vasbeslote om nie God se standaard te skend nie, en daardie standaard is konsekwent: Diegene wat lewe as ’n gawe van die Skepper eerbiedig, probeer nie om lewe te onderhou deur bloed in te neem nie.
Nietemin word daar al jare lank beweer dat bloed lewens red. Dokters kan gevalle meld waar iemand baie bloed verloor het, maar vinnig herstel het nadat hy ’n oortapping gekry het. Daarom wonder jy dalk: ‘Hoe verstandig of onverstandig is dit uit ’n mediese oogpunt?’ Mediese bewyse word aangevoer om bloedterapie te steun. Jy is dit derhalwe aan jouself verskuldig om al die feite te kry sodat jy ’n oorwoë keuse oor bloed kan maak.
[Voetnote]
a Paulus, in Handelinge 17:25, 28, nuwe Afrikaanse vertaling van 1983.
b Soortgelyke verbooie is later in die Qur’ān opgeteken.
[Venster op bladsy 4]
“Die voorskrifte wat hierdeur noukeurig en sistematies [in Handelinge 15] opgeteken is, word gekwalifiseer as onontbeerlik, wat die kragtigste bewys lewer dat dit in die gedagtes van die apostels nie ’n tydelike reëling of ’n voorlopige maatreël was nie.”—Professor Édouard Reuss, Universiteit van Straatsburg.
[Venster/Prent op bladsy 5]
Martin Luther het op die implikasies van die apostoliese verordening gewys: “As ons nou ’n kerk wil hê wat voldoen aan die beslissing van hierdie kerkvergadering, . . . moet ons leer en daarop aandring dat geen vors, heer, burger of boer voortaan gans-, hinde-, takbok- of varkvleis eet wat in bloed gekook is nie . . . En burgers en boere moet hulle veral onthou van rooi wors en bloedwors.”
[Erkenning]
Woodcut by Lucas Cranach
[Venster op bladsy 6]
“God en die mens het dikwels heeltemal verskillende beskouings van dinge. Wat in ons oë belangrik lyk, is dikwels onbelangrik in die estimasie van oneindige wysheid; en wat vir ons gering lyk, is dikwels vir God van baie groot belang. Dit was van die begin af so.”—“An Enquiry Into the Lawfulness of Eating Blood”, Alexander Pirie, 1787.
[Prent op bladsy 3]
Medicine and the Artist by Carl Zigrosser/Dover Publications
[Prent op bladsy 4]
Die Christelike bestuursliggaam het by ’n geskiedkundige raadsvergadering bevestig dat God se wet op bloed steeds bindend is
[Prent op bladsy 7]
Die vroeë Christene het geweier om God se wet op bloed te skend, ongeag die gevolge
[Erkenning]
Painting by Gérôme, 1883, courtesy of Walters Art Gallery, Baltimore