Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 11/15 bl. 23-27
  • Behou ’n skriftuurlike beskouing van gesondheidsorg

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Behou ’n skriftuurlike beskouing van gesondheidsorg
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Redelike mate van besorgdheid is natuurlik
  • Vermy oordrewe besorgdheid oor gesondheidsorg
  • Wat is belangriker?
  • “Gesonde verstand” is noodsaaklik
  • ‘Laat julle redelikheid bekend word’
  • ’n Redelike mate van sorg met volmaakte gesondheid in die vooruitsig
  • “Goeie gesondheid” en Christelike redelikheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Handhaaf jou geloof en geestelike gesondheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Gesondheid
    Ontwaak!—2013
  • Volmaakte gesondheid vir almal
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 11/15 bl. 23-27

Behou ’n skriftuurlike beskouing van gesondheidsorg

“Jy moet Jehovah jou God liefhê . . . met jou hele verstand en met al jou krag.”—MARK. 12:30.

1. Wat was God se oorspronklike voorneme vir die mens?

DIT was nie deel van Jehovah God se oorspronklike voorneme dat mense siek word en sterf nie. Adam en Eva is in die tuin van Eden, of “paradys van genot”, geplaas “om dit te bewerk en daarvoor te sorg”, nie net 70 of 80 jaar lank nie, maar vir ewig (Gen. 2:8, 15, vtn. in NW; Ps. 90:10). As daardie eerste mensepaar aan Jehovah getrou gebly het en hulle liefdevol aan sy soewereiniteit onderwerp het, sou hulle nooit siek of swak geword het en gesterf het nie.

2, 3. (a) Hoe word bejaardheid in die boek Prediker uitgebeeld? (b) Wie is verantwoordelik vir die Adamitiese dood, en hoe sal die gevolge daarvan ongedaan gemaak word?

2 Prediker hoofstuk 12 gee ’n treffende beskrywing van “die rampspoedige dae” wat in die geval van onvolmaakte mense met bejaardheid gepaardgaan. (Lees Prediker 12:1-7.) Wit hare word vergelyk met die bloeisels van “die amandelboom”. Bene word vergelyk met “lewenskragtige manne” wat nou buig en waggel. Vroue wat na ’n venster gaan om lig te soek en net donkerte vind, is ’n gepaste beeld van verswakkende gesigsvermoë. Omdat party tande weg is, het “die vroue wat maal, opgehou werk . . . omdat hulle min geword het”.

3 Onvaste bene, verswakkende gesigsvermoë en tandeloosheid is beslis nie deel van God se oorspronklike voorneme vir die mens nie. Wat meer is, die dood wat van Adam geërf is, is een van “die werke van die Duiwel” wat God se Seun deur middel van sy Messiaanse Koninkryk ongedaan sal maak. Die apostel Johannes het geskryf: “Met dié doel is die Seun van God openbaar gemaak, naamlik om die werke van die Duiwel te verbreek.”—1 Joh. 3:8.

’n Redelike mate van besorgdheid is natuurlik

4. Waarom toon Jehovah se knegte ’n redelike mate van besorgdheid oor hulle gesondheid, maar wat besef hulle?

4 Op die oomblik kom party van Jehovah se knegte te staan voor die probleme wat met swak gesondheid en bejaardheid gepaardgaan en eie is aan die sondige mensdom. Onder hierdie omstandighede is ’n redelike mate van besorgdheid oor ons gesondheid natuurlik en selfs voordelig. Ons wil Jehovah tog ‘met al ons krag’ dien, nie waar nie? (Mark. 12:30). Maar terwyl ons probeer om redelik gesond te bly, moet ons realisties wees en erken dat daar baie min is wat ons kan doen om die verouderingsproses te vertraag of alle siekte te vermy.

5. Watter les kan ons leer uit die manier waarop getroue knegte van God siekte verduur het?

5 Talle getroue knegte van Jehovah moes al gesondheidsprobleme die hoof bied. Epafroditus was een van hulle (Fil. 2:25-27). Die apostel Paulus se lojale metgesel Timoteus het dikwels maagprobleme gehad waarvoor Paulus die gebruik van “’n bietjie wyn” aanbeveel het (1 Tim. 5:23). Paulus self het te kampe gehad met “’n doring in die vlees”, moontlik ’n oogkwaal of ’n ander fisiese kwaal waarvoor daar destyds geen genesing was nie (2 Kor. 12:7; Gal. 4:15; 6:11). Paulus het dringende versoeke tot Jehovah gerig oor sy “doring in die vlees”. (Lees 2 Korintiërs 12:8-10.) God het Paulus nie wonderdadig bevry van die “doring in die vlees” nie. God het hom eerder versterk om dit te verduur. Jehovah se krag is sodoende in Paulus se swakheid geopenbaar. Kan ons ’n les hieruit leer?

Vermy oordrewe besorgdheid oor gesondheidsorg

6, 7. Waarom moet ons oordrewe besorgdheid oor ons gesondheid vermy?

6 Soos jy weet, aanvaar Jehovah se Getuies mediese hulp en verskeie vorme van behandeling. Die Ontwaak! bevat dikwels artikels oor gesondheidsake. En hoewel ons nie enige spesifieke behandeling onderskryf nie, waardeer ons die hulp en samewerking van diegene in die mediese beroep. Ons besef natuurlik dat volmaakte gesondheid nog nie moontlik is nie. Daarom weet ons dat dit verstandig is om nie toe te laat dat gesondheidsorg ’n obsessie of ’n knaende bekommernis word nie. Ons gesindheid moet verskil van dié van mense wat “geen hoop” het nie, wat dink dat hierdie lewe al is wat daar is en wat van enige terapie gebruik sal maak in ’n poging om hulle kwale te genees (Ef. 2:2, 12). Ons is vasbeslote om nie Jehovah se goedkeuring te verloor in ’n poging om ons teenswoordige lewe te red nie, want ons is oortuig dat ons “’n stewige houvas op die werklike lewe”, ewige lewe in sy beloofde nuwe stelsel van dinge, sal kry as ons aan God getrou bly.—1 Tim. 6:12, 19; 2 Pet. 3:13.

7 Daar is nog ’n rede waarom ons oordrewe besorgdheid oor ons gesondheid vermy. As ons te besorg is oor ons gesondheid, kan dit ons egosentries laat raak. Paulus het teen hierdie gevaar gewaarsku toe hy die Filippense aangespoor het: “[Moenie] uit persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander” (Fil. 2:4). Dit is gepas om in ’n redelike mate na onsself om te sien, maar die intense belangstelling wat ons in ons broers toon en in die mense vir wie ons “hierdie goeie nuus van die koninkryk” bring, sal verhoed dat ons behep raak met ons fisiese welsyn.—Matt. 24:14.

8. Wat kan oordrewe besorgdheid oor ons gesondheid ons laat doen?

8 Die gevaar bestaan dat ’n Christen kan toelaat dat gesondheidsake Koninkryksbelange op die agtergrond skuif. ’n Obsessie met gesondheidsorg kan ook daartoe lei dat ons ons persoonlike menings oor die waarde van ’n sekere dieet, terapie of voedselaanvuller aan ander probeer opdwing. Beskou in dié verband die beginsel wat in Paulus se woorde vervat is: “Maak [seker] van die belangriker dinge, sodat julle onberispelik kan wees en ander nie laat struikel nie, tot op die dag van Christus.”—Fil. 1:10.

Wat is belangriker?

9. Wat is een van die belangriker dinge wat ons nie moet nalaat nie, en waarom nie?

9 As ons seker maak van die belangriker dinge, sal ons bedrywig wees in die geestelike genesingswerk. Dit word gedoen deur die Woord van God aan ander te verkondig en te leer. Hierdie vreugdevolle werk bring voordele mee vir ons en vir diegene wat ons onderrig (Spr. 17:22; 1 Tim. 4:15, 16). Die Wagtoring en Ontwaak! bevat soms artikels oor ons geestelike broers en susters wat aan ernstige siektes ly. Hierdie verslae verduidelik soms hoe hierdie individue hulle probleme die hoof bied of dit selfs regkry om tydelik daarvan te vergeet deur ander te probeer help om Jehovah en sy wonderlike beloftes te leer ken.a

10. Waarom is ons keuse van ’n terapie belangrik?

10 Elke volwasse Christen wat met ’n gesondheidsprobleem te kampe het, moet “sy eie vrag” van verantwoordelikheid dra in sy keuse van behandeling (Gal. 6:5). Maar ons moet in gedagte hou dat ons keuse van ’n terapie vir Jehovah belangrik is. Net soos respek vir Bybelbeginsels ons beweeg om ons “te onthou . . . van bloed”, moet ons diep eerbied vir God se Woord ons aanspoor om terapieë te vermy wat ons geestelik kan benadeel of ons verhouding met Jehovah skade kan berokken (Hand. 15:20). Sekere diagnostiese en terapeutiese prosedures grens aan die gebruik van bonatuurlike kragte. Afvallige Israeliete wat gebruik gemaak het van “towerkrag”, of spiritistiese gebruike, het hulle Jehovah se misnoeë op die hals gehaal. Hy het gesê: “Hou op om nog waardelose graanoffers te bring. Reukwerk—dit is vir my iets verfoeiliks. Nuwemaan en sabbat, die uitroep van ’n byeenkoms—ek kan die gebruik van towerkrag tesame met die plegtige vergadering nie verdra nie” (Jes. 1:13). Wanneer ons siek is, is dit beslis nie die tyd om iets te doen wat ons gebede kan verhinder en ons verhouding met God in gevaar kan stel nie.—Klaagl. 3:44.

“Gesonde verstand” is noodsaaklik

11, 12. Hoe speel “gesonde verstand” ’n rol wanneer ons behandeling kies?

11 Wanneer ons siek is, kan ons nie verwag dat Jehovah ons wonderdadig moet genees nie, maar ons kan bid vir wysheid wanneer ons behandeling kies. Ons moet ons deur skriftuurlike beginsels en gesonde verstand laat lei wanneer ons ’n besluit hieroor neem. As die probleem ernstig is, is dit miskien verstandig om, indien moontlik, meer as een spesialis te raadpleeg, in ooreenstemming met die gedagte in Spreuke 15:22, wat sê: “Planne misluk waar daar geen vertroulike gesprekke is nie, maar in die veelheid van raadgewers kom iets tot stand.” Die apostel Paulus het medegelowiges aangespoor om “met gesonde verstand en regverdigheid en godvrugtige toegewydheid te midde van hierdie teenswoordige stelsel van dinge te lewe”.—Tit. 2:12.

12 Baie bevind hulle vandag in ’n soortgelyke situasie as dié van ’n siek vrou in Jesus se dag. In Markus 5:25, 26 lees ons: “Daar was ’n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, en sy is baie pyn besorg deur talle geneeshere en het ál haar middele bestee en nie baat daarby gevind nie, maar eerder erger geword.” Jesus het hierdie vrou genees en op ’n medelydende wyse met haar gehandel (Mark. 5:27-34). Uit desperaatheid het party Christene in die versoeking gekom om diagnostiese of terapeutiese metodes te kies wat bots met die beginsels van rein aanbidding.

13, 14. (a) Hoe kan Satan ons keuse van behandeling gebruik om ons onkreukbaarheid te ondermyn? (b) Waarom moet ons wegbly van enigiets wat met die okkulte verband hou?

13 Satan sal enigiets gebruik om ons van ware aanbidding weg te lok. Net soos hy geslagsonsedelikheid en materialisme gebruik om party te laat struikel, probeer hy ander se onkreukbaarheid ondermyn deur middel van twyfelagtige behandelings wat op die gebruik van okkulte magte en spiritisme neerkom. Ons bid tot Jehovah om ons van “die bose” en van “elke soort wetteloosheid” te verlos. Ons moet dus nie Satan se planne bevorder deur ons bloot te stel aan enigiets wat met spiritisme en die okkulte verband hou nie.—Matt. 6:13; Tit. 2:14.

14 Jehovah het die Israeliete verbied om waarsêery en die toorkuns te beoefen (Deut. 18:10-12). Paulus sluit “die beoefening van spiritisme” in by “die werke van die vlees” (Gal. 5:19, 20). Verder sal “dié wat spiritisme beoefen”, geen deel hê in Jehovah se nuwe stelsel van dinge nie (Op. 21:8). Dit is dus duidelik dat enigiets wat selfs ’n sweempie van spiritisme bevat, vir Jehovah verfoeilik is.

‘Laat julle redelikheid bekend word’

15, 16. Waarom moet ons wysheid aan die dag lê wat gesondheidsorg betref, en watter wyse raad het die eerste-eeuse bestuursliggaam gegee?

15 Met die oog op die voorgaande sal dit verstandig van ons wees om enige diagnostiese of terapeutiese prosedure te verwerp waaroor ons twyfel. Die blote feit dat ons nie self kan verduidelik hoe ’n gesondheidstegniek werk nie, beteken natuurlik nie noodwendig dat dit met die een of ander vorm van spiritisme verband hou nie. Dit vereis goddelike wysheid en goeie oordeel van ons kant om ’n skriftuurlike beskouing van gesondheidsorg te behou. Ons vind hierdie vermaning in Spreuke hoofstuk 3: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak. . . . Bewaar praktiese wysheid en denkvermoë, en dit sal lewe vir jou siel wees.”—Spr. 3:5, 6, 21, 22.

16 Terwyl ons dan probeer om so gesond as moontlik te bly, moet ons oppas dat ons nie God se guns verloor in ons pogings om die probleme van siekte of veroudering die hoof te bied nie. Net soos in ander sake, moet ons in gesondheidsorg ‘ons redelikheid aan alle mense bekend laat word’ deur in ooreenstemming met Bybelbeginsels te lewe (Fil. 4:5). In ’n uiters belangrike brief het die eerste-eeuse bestuursliggaam Christene beveel om hulle te onthou van afgodediens, bloed en hoerery. Daardie brief het dié versekering ingesluit: “As julle julle sorgvuldig van hierdie dinge bewaar, sal julle voorspoedig wees” (Hand. 15:28, 29). In watter opsig?

’n Redelike mate van sorg met volmaakte gesondheid in die vooruitsig

17. Hoe strek ons gehoorsaamheid aan Bybelbeginsels ons fisies tot voordeel?

17 Elkeen van ons kan ons gerus afvra: ‘Besef ek hoe voorspoedig ek in werklikheid is omdat ek Bybelbeginsels in verband met bloed en hoerery streng gehoorsaam?’ Dink ook aan die voordele wat ons geniet danksy ons pogings om “ons van elke verontreiniging van die vlees en die gees [te] reinig” (2 Kor. 7:1). Ons vermy talle fisiese kwale deur by Bybelstandaarde in verband met persoonlike higiëne te bly. Ons is voorspoedig omdat ons nie tabak en dwelmmiddels, wat ons geestelik en fisies verontreinig, gebruik nie. Dink ook aan die gesondheidsvoordele wat voortvloei uit matige eet- en drinkgewoontes. (Lees Spreuke 23:20; Titus 2:2, 3.) Hoewel faktore soos rus en oefening tot ons algemene fisiese welsyn kan bydra, is ons in die besonder fisies en geestelik voorspoedig omdat ons skriftuurlike riglyne volg.

18. Wat moet vir ons van die grootste belang wees, en na die vervulling van watter profesie oor gesondheid kan ons uitsien?

18 Ons moet bowenal na ons geestelike gesondheid omsien en ons kosbare verhouding versterk met ons hemelse Vader, die Bron van ons ‘teenswoordige lewe en ons toekomstige lewe’ in sy beloofde nuwe wêreld (1 Tim. 4:8; Ps. 36:9). In God se nuwe wêreld sal volkome geestelike en fisiese genesing teweeggebring word deur middel van vergifnis van sondes op grond van Jesus se losprysoffer. Die Lam van God, Jesus Christus, sal ons na “fonteine van waters van die lewe” lei, en God sal elke traan van ons oë afvee (Op. 7:14-17; 22:1, 2). Dan sal ons ook die vervulling van hierdie opwindende profesie ondervind: “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie.”—Jes. 33:24.

19. Waarvan kan ons seker wees terwyl ons in ’n redelike mate na ons gesondheid omsien?

19 Ons is oortuig dat ons verlossing op hande is, en ons wag gretig vir die dag wanneer Jehovah die proses van menslike siekte en die dood sal omkeer. Intussen het ons die versekering dat ons liefdevolle Vader ons sal help om die las van ons pyne en kwale te verdra, want ‘hy sorg vir ons’ (1 Pet. 5:7). Laat ons dus na ons gesondheid omsien, maar altyd in ooreenstemming met die duidelike riglyne in God se geïnspireerde Woord!

[Voetnoot]

a ’n Lys van party van hierdie artikels verskyn in die venster op bladsy 17 van Die Wagtoring van 1 September 2003.

Ter hersiening

• Wie is verantwoordelik vir siekte, en wie sal ons verlos van die gevolge van sonde?

• Wat moet ons vermy, hoewel dit normaal is om oor ons gesondheid besorg te wees?

• Waarom is ons keuse van ’n terapie vir Jehovah belangrik?

• Hoe kan dit ons gesondheid tot voordeel strek as ons by Bybelbeginsels bly?

[Prent op bladsy 23]

Die mens is nie geskep om siek en oud te word nie

[Prent op bladsy 25]

Jehovah se knegte put vreugde uit die bediening ten spyte van gesondheidsprobleme

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel