Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 9/1 bl. 21-24
  • “Ons wens julle goeie gesondheid toe!”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Ons wens julle goeie gesondheid toe!”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dinge wat ’n uitwerking op beskouings van gesondheid het
  • Die Christelike godsdiens is goed vir jou gesondheid
  • Vitamiene, minerale en kruie
  • Wanneer wenke gegee word
  • Ander vrae
  • Kruiemedisyne—Kan dit jou help?
    Ontwaak!—2003
  • “Goeie gesondheid” en Christelike redelikheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Behou ’n skriftuurlike beskouing van gesondheidsorg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Handhaaf jou geloof en geestelike gesondheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 9/1 bl. 21-24

“Ons wens julle goeie gesondheid toe!”

DIT is hoe die eerste-eeuse bestuursliggaam van Christene ’n brief aan die gemeentes afgesluit het. Die Griekse uitdrukking wat hulle gebruik het, het die gedagte bevat: ‘Sterkte, vaarwel, gesondheid.’—Handelinge 15:29, NW.

Alhoewel “Ons wens julle goeie gesondheid toe” as ’n hoflike slot vir briewe gebruik is, roer dit iets aan wat ons almal na aan die hart lê—ons gesondheid. Mense streef al lank beter gesondheid na. Maar het jy opgemerk hoeveel mense vandag skynbaar daarmee behep is? Het jy al gewonder wat die gebalanseerde beskouing vir ’n Christen is?

Dinge wat ’n uitwerking op beskouings van gesondheid het

Die toenemende belangstelling in gesondheid weerspieël moontlik hoe deeglik mense van hulle sterflikheid bewus is. Die dood kom so gou! (Psalm 90:10). Jy kan begryp waarom ’n persoon wat meen dat sy huidige lewe al is wat daar is, feitlik enigiets sal doen om siektetoestande te voorkom wat die dood kan bespoedig.

Beskouings van gesondheid word ook beïnvloed deur die algemene wantroue van “die gesagsorde” onder meer deskundiges op die gebied van die geneeskunde. Hierdie wantroue bring mee dat baie persone aan die gehalte van kommersiële voedselprodukte twyfel. Omdat hulle gehoor het hoe skadelik verfynde “prulkos” met chemiese bymiddels is, verkies miljoene om baie min verwerkte kos te eet. Party het so ’n hoë dunk van “natuurlike kossoorte” dat hulle feitlik niks anders eet nie. Ander wat bewus is van tragedies soos die gebreklike kinders as gevolg van talidomied, bejeën geneesmiddels met agterdog. Hulle vermoed dat middels wat farmaseutiese maatskappye sterk aanbeveel en wat ’n paar besige geneeshere voorskryf sonder om dit deeglik te kontroleer, newegevolge kan hê.

Een gevolg hiervan is dat mense al hoe onafhankliker in gesondheidsaangeleenthede optree. Jy stem waarskynlik saam dat elke volwassene self besluite oor sy gesondheid moet neem, besluite wat gebaseer is op betroubare inligting oor verskeie moontlikhede. Maar is daar gevare wat ons in ag moet neem? Kan die Bybel ons in gesondheidsaangeleenthede help?

Die Christelike godsdiens is goed vir jou gesondheid

Die brief van die eerste-eeuse bestuursliggaam het verduidelik dat Christene hulle moet ‘onthou van hoerery en van bloed’ (Handelinge 15:28, 29). Dit is verstandig selfs uit ’n gesondheidsoogpunt. Hoerery stel mense bloot aan veneriese siektes en ongewenste swangerskappe. Bloedoortappings het derduisende besmet met hepatitis en kwale soos die dikwels noodlottige virus wat pous Johannes Paulus II gekry het.

Dink ook aan die beter gesondheid wat mense geniet wanneer hulle God se raad oor dronkenskap en rook toepas. Dr. Joel Posner het berig dat 60 persent van die geld wat in die Verenigde State aan gesondheidsorg bestee word, aan kwale bestee word wat verband hou met die gebruik van sterk drank en tabak.—Spreuke 20:1; 2 Korinthiërs 7:1.a

Die Bybel beskerm ook ons gesondheid op ander maniere. Jy kan begryp dat dit die geval is wanneer jy kyk wat dit oor sindelikheid sê (Exodus 30:17-21; Deuteronomium 23:12-14). Selfs die algemene gees wat ’n Christen verkry wanneer hy die Bybel bestudeer, kan sy gesondheid verbeter. Deur sagmoedigheid, vriendelikheid en liefde na te jaag, geniet hy meer vrede met ander, en dit is goed vir sy gesondheid (Spreuke 14:30). Bowendien beweeg die Christen se hoë agting vir lewe hom om redelike voorsorg te tref ten einde risiko’s te vermy. Hy is byvoorbeeld pligsgetrouer as die meeste mense waar dit kom by die gebruik van veiligheidsgordels in motors (Handelinge 17:24, 25, 28). Dr. K. L. White, onderhoof van die Rockefeller-Stigting se Gesondheidswetenskapafdeling, het gesê dat sake soos “lewenswyse en persoonlike gedrag” “belangrike faktore is wat die gesondheid van individue beïnvloed”.

Die Bybel gee ook die volgende raad: “Het jy heuning gevind, eet tot jy genoeg het, sodat jy daar nie sat van word en dit uitspuug nie. Om baie heuning te eet, is nie goed nie” (Spreuke 25:16, 27). Wat ook al die relatiewe voordele van heuning bo suiker as ’n versoetmiddel, daardie raad bevat ’n voorskrif vir goeie gesondheid: Maak matigheid die grondslag van jou dieet. As ’n persoon se dieet ’n verskeidenheid kossoorte insluit en hy onmatigheid vermy, en ook nie te veel van een soort kos eet nie, sal hy gesondheidsvoordele maai. Die kommentare oor heuning kan met nut toegepas word op ander dinge in die strewe om gesond te wees.

Vitamiene, minerale en kruie

Verbeterde voeding het tot beter gesondheid bygedra. ’n Belangrike faktor was die ontdekking van ons behoefte aan vitamiene en minerale. Gebreksiektes soos beri-beri, pellagra, skeurbuik en ragitis kan byvoorbeeld genees of voorkom word deur ’n gebalanseerde dieet met genoeg vitamiene B, C en D. En namate dokters meer voedingnavorsing gedoen het, het verslae verskyn oor ander kwale wat skynbaar behandel kan word met groot hoeveelhede van sekere vitamiene en minerale wat onder mediese toesig ingeneem word.

Maar baie persone het op hulle eie begin om groot dosisse aanvullende voedselsoorte te eet, asof daar oral ernstige tekorte bestaan. Party persone wat aan sulke selfbehandeling glo, dink: ‘As ’n bietjie goed is, is meer beter’, en: ‘Vitamiene en minerale kan nie skade berokken nie, want jou liggaam raak van enige oortollige hoeveelheid ontslae.’ Dit is waar dat indien jy te veel van sekere vitamiene eet, hulle ‘in die maag kom en uitgewerp word’, en die gevolg bloot duur uitwerpsels is (Mattheüs 15:17). Maar as jy te veel van ander vitamiene en minerale inneem, kan hierdie voedingstowwe begin om die uitwerking van dwelmmiddels te hê en selfs skadelike gifstowwe word.

Deur groot hoeveelhede van sekere vitamiene in te neem, het persone al liggaamsorgane beskadig of iets ergers oorgekom. ’n Man in Brittanje wat groot hoeveelhede wortelsap gedrink en vitamien A geëet het, het byvoorbeeld gesterf aan die gevolglike hipervitaminose. Talle kinders is ook benadeel deur oormatige vitamiene wat aan hulle gegee is deur ouers wat opreg was maar verkeerd ingelig was oor voeding. ’n Oogarts en oogchirurg het die volgende persoonlike opmerking oor minerale gemaak: “Ek is besorg oor baie wat groot dosisse kalsium, koper, sink en chroom inneem. Ek begin om blindheid by 20- tot 30-jarige broers en susters aan te tref.” Herinner jou aan die Bybel se verstandige raad oor heuning. Of dit nou ’n sintetiese geneesmiddel of ’n natuurlike vitamien, mineraal of kruid is, te veel kan vir jou nadelig wees.

Ja, ’n mens moet ook versigtig wees waar dit by kruie kom. Party kruierate het ongetwyfeld waarde; digitalis en kinien het byvoorbeeld ’n “kruiebasis”. ’n Studie in Kenia het getoon dat “ten minste 50 persent van die kruiemiddels wat toordokters gebruik waarlik geneeskragtig is”. Maar dit beteken dat baie geen waarde het waarvan ons bewus is nie. En die feit dat dit Jehovah se voorneme was dat “plante” die mens se oorspronklike voedsel moes wees, beteken nie dat alle kruie veilig is nie. Tabak en dagga is “kruie”.—Genesis 1:29, 30.

Selfs kruie wat een persoon oënskynlik help, kan vir ’n ander gevaarlik wees. ’n Reisende evangeliedienaar in Ohio het maagprobleme gehad. Besorgde vriende het hom aangespoor om ’n algemene kruieraad op die proef te stel. Toe die probleem voortduur, het hy ’n mediese dokter geraadpleeg wat na deeglike toetse vasgestel het dat hy galstene het. Die dokter het ook ontdek dat die evangeliedienaar se bloed nie stol nie; ’n sny kon veroorsaak het dat hy doodgebloei het. Toe die dokter van die kruiebehandeling hoor, het hy gesê dat dit daarvoor bekend is dat dit bloedstolprobleme veroorsaak. Nadat hy die kruiebehandeling gestaak het, het die bloedprobleem verdwyn.

Wanneer wenke gegee word

Dit is te begrype dat ’n persoon wat ’n siek vriend of familielid wil help, iets sal voorstel wat hy meen hom gehelp het of wat hy gehoor het doeltreffend is. Soms kan dit selfs ’n Christelike weldaad wees, soos toe die apostel Paulus jong Timotheüs aangeraai het om die plaaslike water te vermy maar om ‘’n bietjie wyn ter wille van sy maag en sy herhaalde ongesteldhede te gebruik’.—1 Timotheüs 5:23.

’n Persoon wat gereeld geneesmiddels, vitamiene, minerale of kruie aanbeveel, moet egter versigtig wees, veral as hy nie ’n deeglike kennis van gesondheidsake en die liggaam se orgaanstelsels het nie. Hy behoort homself af te vra: Besit ek werklik die feite? Sal ’n drogery, vitamien, mineraal of kruid iemand anders benadeel, selfs al het dit my skynbaar gehelp? Indien wel, sal ek dan deels verantwoordelik of aanspreeklik daarvoor wees? En selfs al is die raat wat ek aanbeveel onskadelik en ondoeltreffend, sal dit dalk meebring dat ’n persoon doeltreffende behandeling uitstel totdat sy toestand kritiek of noodlottig is?—Vergelyk 1 Timotheüs 5:22.

Party dweep met die een of ander raat. ’n Uiterste voorbeeld is dié van ’n Christenopsiener wat ’n brief van ’n vriend wat vitamiene verkoop onder sy deur gekry het. Dit het ten dele gelui: ‘Daar is ’n logiese en verbasende rede waarom die (soort) aanvulling doeltreffend is. Dit is net soos “die waarheid” vergeleke met “Babilon die Grote”. Soms weet ek nie hoe party van ons broers en susters ooit die waarheid gekry het nie. Hulle ignoreer Spreuke 18:13 al is dit ons uitsluitlike doel om hulle te help.’

Die feit dat party om die een of ander rede met rate kan begin dweep, onderstreep die nodigheid vir alle Christene om versigtig te wees dat hulle nie ongebalanseerd raak nie.

Ander vrae

Christene kan dankbaar wees dat ons die raad van God se Woord het, want dit help ons op verskillende maniere om gesond te bly. Maar daar is ander gesondheidsaspekte wat aandag verdien, soos: Hoe kan ek bepaal watter behandeling ek moet aanvaar? Wat van onortodokse vorme van diagnose of behandeling? Hou party van hulle geestelike gevare in? Hoe moet jou beskouing van God se koninkryk jou gedagtes oor gesondheid beïnvloed? Die volgende artikel sal hierdie aspekte bespreek.

[Voetnoot]

a Kyk die hoofstuk “Better Health and Longer Life—How? in Happiness—How to Find It, wat uitgegee word deur die Wagtoringgenootskap.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel