Moedige getuies van Jehovah in aksie!
Die uitbreiding van die Christelike godsdiens soos vertel in die boek Handelinge
JESUS CHRISTUS het die goeie nuus van God se koninkryk sowat drie en ’n half jaar lank verkondig. Hy het sy volgelinge aangespoor om hulle lig te laat skyn. Maar hulle was net ’n klein groepie, en Jesus het ’n wêreldwye predikingswerk voorspel (Mattheüs 5:14-16; 24:14). Kon sy dissipels ooit so ’n bediening vervul? En watter hulp sou hulle hê, selfs al wou hulle dit doen?
Die getroue dissipel Lukas, ’n geleerde geneesheer, het antwoorde op hierdie en ander vrae verstrek in die goddelik geïnspireerde boek genaamd “Handelinge van die Apostels”. (Vergelyk Lukas 1:1-4; Handelinge 1:1, 2.) Die uitwendige sowel inwendige getuienis dui op Lukas as die skrywer van Handelinge. Dit is waarskynlik omstreeks 61 G.J. in Rome geskryf.—Kolossense 4:14; 2 Timotheüs 4:11.a
Handelinge begin met Jesus se hemelvaart en eindig met Paulus se gevangesetting in Rome. Dit dek gevolglik sowat 28 jaar, van 33 tot 61 G.J. Dit bevat ’n duidelike hersiening van die vroeë Christelike godsdiens en is voorwaar ’n aangrypende verhaal oor moedige getuies van Jehovah in aksie.
Hoe kan die boek Handelinge ons tot voordeel strek? Dit kan onder meer (1) vir ons toon dat Jehovah met sy getroue getuies is; (2) ons bewus maak van die heilige gees se krag en invloed; (3) ons vertroue in goddelik geïnspireerde profesie versterk; (4) ons help om God eerste te stel tydens beproewinge van ons geloof; (5) ons aanspoor om moedig te wees en ’n kragtige getuienis te lewer; (6) ons help om tydens vervolging te volhard; (7) ons aanspoor om selfopofferend in God se diens te wees; (8) ons beweeg om God se woord ywerig te bestudeer; en (9) ons geloof in die wonderlike Koninkrykshoop versterk.
Petrus—’n moedige en getroue getuie
Die boek Handelinge open waar Jesus op die punt staan om sy dissipels te groet. Gaan hy nou die koninkryk vir Israel weer oprig? Hulle wil weet. Maar hy sê vir hulle dat dit ‘hulle nie toekom om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie’. Hoewel Jesus se volgelinge destyds nie ’n volledige begrip van die Koninkryk gehad het nie, beveel hy hulle om sy getuies in Jerusalem, Judea en Samaria, en “tot aan die uiterste van die aarde” te wees. Hoe kan hulle ooit hierdie werk doen? In die krag van die heilige gees!—Handelinge 1:6-8.
Op Pinksterdag is omtrent 120 van Jesus se dissipels in ’n bovertrek in Jerusalem byeen wanneer hulle met die heilige gees vervul word. Dit stel hulle in staat om moedig te getuig in die verskillende tale van Jode en proseliete wat van afgeleë lande gekom het om die Pinkster in Jerusalem te vier. Die apostel Petrus gee die leiding in die getuieniswerk. Hy verduidelik dat die uitgieting van die gees die vervulling van die profesie van Joel is (Handelinge 2:14-21; Joël 2:28-32). Daardie dag het 3 000 siele ‘die woord met blydskap aangeneem en is hulle gedoop’ (Handelinge 2:41). Dit is duidelik dat Jehovah met sy getuies is. Die krag en invloed van die heilige gees kan duidelik waargeneem word. Daarbenewens versterk Petrus se woorde ons vertroue in die vervulling van geïnspireerde profesie.
Vervolgens word ’n kreupel man wonderdadig genees, ’n verdere blyk van die krag van God se heilige gees. Dan lewer Petrus en Johannes ’n moedige getuienis aangaande Jesus. Dit is nou eenmaal te veel vir die godsdiensleiers, wat die apostels in hegtenis neem en die volgende dag verhoor. Petrus en Johannes
toon reguit dat redding slegs deur Jesus Christus moontlik is. Wanneer hulle beveel word om op te hou preek, weier hulle. Nadat hulle gedreig en vrygelaat is, vergader hulle saam met medegelowiges en vra hulle God gesamentlik om hulle te help om ‘sy woord met alle vrymoedigheid te spreek’. Hulle is gevolglik “almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek”. Wanneer hulle weer eens beveel word om op te hou preek, antwoord hulle onverskrokke: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”—Handelinge 4:19, 20, 29-31; 5:29.
Hoe behoort dit Jehovah se hedendaagse getuies tog te help om God eerste te stel tydens beproewings van hulle geloof! En hoe behoort dit ons tog aan te spoor om moedig en kragtig te getuig, selfs wanneer ons vervolg word!
Stefanus, een van die sewe manne wat deur die heilige gees aangestel is om voedsel uit te deel, lewer ook ’n kragtige getuienis voor die Sanhedrin. Wanneer hy wys op die regters se aandeel in Jesus se dood, word hulle woedend en stenig hulle hom. Stefanus se kalmte reg tot aan die einde is ’n goeie voorbeeld wat hedendaagse getuies van Jehovah aanspoor om te volhard ondanks vervolging.—Handelinge 6:1-7:60; vergelyk Filippense 4:6, 7, 13.
Die vervolging neem toe, maar dit skrik die dissipels nie af nie. In al die plekke waarheen hulle verstrooi word, hou hulle aan om “die evangelie” met Jehovah se steun en seën te verkondig (Handelinge 8:4-8). Kort daarna raak die bittere vervolger Saulus van Tarsus bekeer wanneer Jesus persoonlik in ’n helder lig aan hom verskyn en Saulus deur die heerlikheid daarvan verblind word. Ananias herstel Saulus se gesig, en hierdie voormalige vervolger, wat later bekendstaan as die apostel Paulus, word ’n moedige getuie vir God en Christus.—Handelinge 9:1-30; 22:6-11.
Die gemeentes het nou ‘vrede terwyl hulle opgebou word, en terwyl hulle in die vrees van die Here en in die vertroosting van die Heilige Gees wandel, vermeerder hulle’ (Handelinge 9:31). Petrus wek die geliefde Tabita (Dorkas) op. Later word hy versoek om na Cesarea te gaan waar hy die “evangelie” aan Cornelius en sy huis verkondig. Hulle word gelowiges en die heilige gees word op hulle uitgegiet. Omdat Petrus besef dat “God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen. Hom welgevallig is” doop hy hulle—die eerste onbesnede nie-Jode wat Jesus se dissipels geword het.—Handelinge 10:1-48.
Kort daarna laat Herodus Agrippa I die apostel Jakobus om die lewe bring en laat hy Petrus in hegtenis neem met die doel om hom ook tereg te stel. Maar die apostel word deur ’n engel uit die gevangenis verlos. Ondanks ontberings en vervolging is Jehovah met sy getuies en ‘het die woord van God steeds gegroei en toegeneem’.—Handelinge 11:19-21; 12:24.
Paulus se drie sendingreise
Deur die heilige gees word Barnabas en Saulus afgesonder en na Antiochië, Sirië, gestuur (Handelinge 13:2, 3). Op die eiland Ciprus word baie gelowiges, onder meer die goewerneur Sergius Paulus. Die Koninkryksgetuies moet stede herhaaldelik verlaat weens gewelddadige vervolging. In die stad Listre word Paulus byvoorbeeld gestenig en vir dood agtergelaat. Maar wanneer hy bykom, gaan hy voort met sy werk om te getuig en ander aan te spoor om in die geloof te volhard deur te sê: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan” (Handelinge 14:22). Hoe spoor dit Jehovah se hedendaagse getuies tog aan om te volhard ondanks vervolging!
’n Vergadering van die apostels en ouere manne in Jerusalem los die geskil oor die besnydenis op (Handelinge hfst. 15). Nee, daar sal nie van gekerstende nie-Jode verwag word om hulle te laat besny nie. Die heilige gees speel ’n rol hierin, want die brief wat oor die saak handel, lui ten dele: “Die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery.”—Handelinge 15:28, 29.
Silas vergesel Paulus op sy tweede sendingreis, en Timotheüs sluit later by hulle aan. Paulus word in ’n gesig gesmeek om na Macedonië te kom om hulp te verleen. En getrou aan die selfopofferende gesindheid van die apostel en sy metgeselle, beskou hulle dit as hulle toewysing in God se diens. Is ons net so begerig wanneer ons die geleentheid gebied word om ons in Jehovah se diens in te span?—Handelinge 16:9, 10.
In Filippi veroorsaak die Koninkryksgetuieniswerk ’n opskudding, en Paulus en Silas word in die tronk opgesluit. ’n Aardbewing bevry hulle, maar hulle vlug nie. Hulle preek eerder vir die bewaarder en sy huisgesin, waarna almal gedoopte gelowiges word.—Handelinge 16:11-34.
Vandaar is hulle na Thessalonika, en toe na Berea. Die Bereane ‘is edelmoediger as die Thessalonicense, want hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was’ (Handelinge 17:10, 11). Behoort dit ons nie aan te spoor om God se Woord ywerig te bestudeer en as ’t ware hedendaagse Bereane te wees nie?
Wanneer hulle in Athene aankom, getuig Paulus moedig in die markplein en word hy deur filosowe na die Areopagus geneem. Daar lewer hy ’n wonderlike getuienis oor Jehovah se skepperskap, oor die eenheid van die mensdom en oor die opstanding van Jesus Christus. Die gevolg? Party word gelowiges (Handelinge 17:16-34). Vandaar gaan hulle na Korinthe, waar die apostel soveel belangstelling in God se waarheid vind dat hy 18 maande lank daar vertoef.—Handelinge 18:1-17.
Nadat Paulus na Antiochië teruggekeer het en ’n ruk lank daar vertoef het, vertrek hy op sy derde sendingreis. In Efese getuig hy moedig, en God verrig steeds buitengewoon kragtige dade deur hom. Die bediening in Efese is produktief, maar dit lei ook tot ’n opskudding in hierdie stad vol aanbidders van die godin Diana. Die apostel vertrek egter ongedeerd.—Handelinge 19:8-20:1.
Op pad terug na Jerusalem roep Paulus die ouere manne van die gemeente in Efese byeen. Hy herinner hulle aan sy selfopofferende diens terwyl hy in hulle midde was. Hy was bedrywig as ’n Koninkryksverkondiger en kon wys op sy ‘onderrigting in die openbaar en van huis tot huis’. Watter puik voorbeeld is dit tog vir diegene wat vandag opsieners onder Jehovah se volk is!—Handelinge 20:17-35.
Vervolging lê Koninkryksgetuies nie die swye op nie
Alhoewel Paulus gewaarsku word om nie na Jerusalem te gaan nie, draai hy nie om nie (Handelinge 21:10-14). Jakobus en ander ouere manne van die gemeente verheug hulle grootliks wanneer Paulus vir hulle vertel van God se seën op sy bediening onder die nasies. Maar wanneer die apostel sy verskyning in die tempel maak, kry hy ’n heeltemal ander ontvangs! Jode van Asië sweep die hele stad teen hom op, en Romeinse soldate red hom net betyds. In ’n hof wat uit Fariseërs en Sadduseërs bestaan, bring Paulus die kwessie van die opstanding ter sprake, en dit veroorsaak verdeeldheid. Wanneer die meningsverskil al hoe gewelddadiger word, moet Romeinse soldate Paulus wegvat. Hy word in die geheim na goewerneur Felix in Cesarea gestuur. Hy verdedig hom voor die goewerneur teen sy aanklaers. Maar die apostel word twee jaar lank aangehou. Hy verskyn later voor Porcius Festus, lewer ’n moedige getuienis en beroep hom op die keiser (Handelinge 25:11). Nog later verskyn Paulus voor koning Herodes Agrippa II. Alhoewel Agrippa besef dat Paulus onskuldig is, het die apostel hom op die keiser beroep en word hy na Rome gestuur.
Die reis na Rome word deur ’n hewige storm onderbreek. Die skip strand en vergaan, maar almal aan boord bereik die eiland Malta veilig, net soos die engel Paulus verseker het. Drie maande later vertrek Paulus en sy reisgeselle weer na Rome. In die Romeinse hoofstad het Paulus twee jaar lank “in sy eie gehuurde huis gebly en almal ontvang wat na hom gekom het”. Waarom? Sodat hy vir hulle kon getuig, want ons word meegedeel dat hy oor “die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering”.—Handelinge 28:30, 31.
Handelinge eindig dus met ’n verslag oor getroue Koninkryksprediking. Ja, die boek Handelinge beklemtoon die wonderlike Koninkrykshoop. En hierdie geïnspireerde verslag moet hedendaagse knegte van God beweeg om soos hulle eerste-eeuse eweknieë te wees—moedige getuies van Jehovah in aksie!
[Voetnoot]
a Kyk Aid to Bible Understanding, bladsy 32, en “All Scripture Is Inspired of God and Beneficial”, bladsye 198, 199, vir besonderhede. Albei boeke word deur die Wagtoringgenootskap uitgegee.
[Prent op bladsy 18]
Net soos Petrus op Pinkster is alle getroue Christene moedige getuies van Jehovah