Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 7/15 bl. 20-23
  • Watter uitwerking moet Johannes se Evangelie op jou hê?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Watter uitwerking moet Johannes se Evangelie op jou hê?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Omstrede inleiding
  • Watter uitwerking het lig op ons?
  • Watter soort lewe word aangebied?
  • Watter hoop vir die dode?
  • Watter uitwerking het Christus se liefde op jou?
  • Bybelboek nommer 43—Johannes
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Volg die lig van die wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • ‘Die lig het in die wêreld gekom’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Toon altyd liefde en geloof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 7/15 bl. 20-23

Watter uitwerking moet Johannes se Evangelie op jou hê?

WAAROM is die vier Christelike Evangelies geskryf? Bloot as ’n biografie van die Messias? Of was daar ’n dieperliggende rede? Christus se laaste bevel aan sy dissipels werp lig op hierdie vrae: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”—Mattheüs 28:19.

Dit is dus duidelik dat die Christelike boodskap mense oor die hele wêreld moes beweeg om Jesus se voorbeeld te volg. Hulle sou werklik moes glo dat Christus die Verlosser is. Daarom sê die apostel Johannes dat hy Jesus se lewensverhaal neergeskryf het “dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam”.—Johannes 20:31.

’n Omstrede inleiding

Op watter tydstip stel Johannes Jesus aan ons voor? By sy geboorte, soos die Evangelieskrywers Mattheüs en Lukas? Nee. Hy gaan tallose eeue verder terug. Hy neem ons terug na die begin van alle skeppingswerk met die eenvoudige maar diepsinnige inleiding: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was ’n god [was goddelik, Schonfield]. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur middel van hom ontstaan, en sonder hom het selfs nie een ding ontstaan nie.”—Johannes 1:1-3, NW.

Sonder enige kennis van die res van die Bybel kan hierdie inleiding moeilik wees om te begryp. In Spreuke 8:22-31 word daar byvoorbeeld van die Woord (Christus in sy voormenslike bestaan) gepraat as die verpersoonliking van wysheid en word daar gesê dat hy ’n “kunstenaar” is wat God bygestaan het in Sy skeppingswerk. (Kyk ook 1 Korinthiërs 1:24.) Die apostel Paulus beaam hierdie gedagte in sy brief aan die Kolossense, waar hy Christus beskryf as “die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape”. Hieruit is dit duidelik dat die Woord wat ‘vlees geword en onder ons gewoon het’ God se eerste skepping was wat toe deur die Vader gebruik is om alle verdere skeppingswerk te behartig.—Kolossense 1:15, 16; Johannes 1:14.

Watter uitwerking moet hierdie kennis op ons hê? Moet ons nie dankbaar wees teenoor Jehovah, die Skepper, vir ons bestaan nie? En waardeer ons nie die rol wat die Woord hierin gespeel het nie? God het die man en vrou begaaf met voortplantingsvermoëns wat gelei het tot die huidige mensdom met meer as viermiljard lede. Daar is egter talle ander redes vir dankbaarheid teenoor God en sy Seun, en dit hou verband met die groot temas van Johannes se Evangelie—lig, lewe, liefde en lojaliteit.

Watter uitwerking het lig op ons?

In verse drie en vier van die eerste hoofstuk van sy Evangelie neem Johannes twee van daardie hooftemas op wat deur sy hele geïnspireerde verslag heen geweef is deur te sê: “In Hom [die Woord] was lewe, en die lewe was die lig van die mense.” Wat dra Johannes deur hierdie verklaring oor? Dat die Woord, of Christus, God se Hoofagent was om lewe sowel as lig na die mensdom te bring (Handelinge 3:15). Johannes sê voorts vir ons dat Johannes die Doper opgestaan het om te getuig oor “die waaragtige lig wat elke mens verlig” (Johannes 1:9). Ja, vir elke mens, want Christus het nie in die wêreld gekom om net vir die Jode ’n Messias te wees nie. Hy het gekom tot voordeel van die hele mensdom, soos hy self verduidelik het: “So lief het God die wêreld [van die mensdom sedert Abel] gehad, dat Hy sy eniggebore Seun [Christus, die Woord] gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.

Watter uitwerking moet hierdie teks, wat so dikwels aangehaal word, op ons hê? As God sy Seun na die aarde gestuur het om as ’n lig in die wêreld se geestelike duisternis te dien, moet ons ten minste daardie lig na ander weerkaats, nie waar nie? God se onselfsugtige handelwyse moet die begeerte by ons wek om dit met onselfsugtigheid te beantwoord. Wie van ons sal bereid wees om die persoon wat vir ons die dierbaarste is ’n skandelike dood te laat sterf ten behoewe van mense wat merendeels onverskillig daarteenoor staan? Wat moet God se liefde ons dan beweeg om te doen? Om daadwerklik in Jesus Christus en die lewensreddende waarde van sy offerande te glo. Dit sal lewe beteken, want Jesus het gesê: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.”—Johannes 8:12.

Watter soort lewe word aangebied?

Sonder om voor te gee dat hy ’n grondige kennis van wetenskaplike beginsels het, stel Johannes so ’n beginsel, naamlik dat aardse lewe van lig afhanklik is. En in die simboliese sin is dit net so waar. Christus is die lig wat na die lewe lei. Maar na watter soort lewe? Jesus se antwoord aan die Samaritaanse vrou by Jakob se put bied ’n leidraad: “Elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ’n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe” (Johannes 4:7-15). Christus het die “ewige lewe” met God se seën aangebied.—1 Timotheüs 6:19.

Waar sal mense daardie ewige lewe geniet? Vir die betreklik klein groepie wat die “klein kuddetjie” uitmaak, antwoord Jesus: “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.” Hy het klaarblyklik na hemelse wonings verwys.—Lukas 12:32; Johannes 14:2.

Maar Christus het ook gesê: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.” As gevolg van die inligting in die boek Openbaring, wat Johannes vantevore opgeteken het, het hy geweet dat die “klein kuddetjie” uit 144 000 lede sou bestaan, terwyl die “ander skape” ’n “groot menigte” en ander aardse onderdane onder Christus se Koninkryksheerskappy sou insluit.—Johannes 10:16; Openbaring 7:4, 9, 10.

Watter uitwerking moet daardie vooruitsig op ewige lewe, hetsy in die hemel of op aarde, op ons hê? Dit is maklik om “ewige lewe” te sê, maar dink ’n oomblik na oor wat dit werklik beteken en impliseer. Om vir ewig te lewe! Om die lewe in al sy volheid met God se ewige seën te geniet. Om ontslae te wees van kommer oor ouderdom of gesondheid. Die vraag “Hoe oud is jy?” sal nie meer belangrik wees nie.

Diegene met ’n hemelse roeping sal die ewige lewe geniet as deel van Christus se onsigbare regering wat die aarde se aangeleenthede rig en die waarde van sy offerande tot die liggaamlike en geestelike voordeel van die gehoorsame mensdom aanwend. Watter heerlike voorreg! Johannes se Evangelie moet ons ongetwyfeld beweeg om Jehovah se onverdiende goedheid te waardeer.—Openbaring 20:4-6.

Watter hoop vir die dode?

Daar ontstaan nou nog ’n vraag in verband met daardie gawe, die ewige lewe. Hoe sal die dode daardie beloofde lewe ontvang? Jesus het dit op ’n oortuigende wyse beantwoord deur verskillende persone op te wek, onder meer sy intieme vriend Lasarus, wat vier dae lank dood was. Johannes se unieke verslag deel ons mee wat Jesus by daardie geleentheid gesê het: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.” Daar word verder op hierdie tema uitgebrei in hoofstuk 5, waar Jesus sê: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, [die Seun van God se] stem sal hoor en sal uitgaan.”—Johannes 11:1-44; 5:25-29.

Watter uitwerking het daardie belofte oor die opstanding op jou? Dink ’n bietjie aan diegene wat vir jou dierbaar was en wat nie meer lewe nie. Sal dit nie vir jou heerlik wees om hulle weer te sien en met hulle te gesels nie? Jehovah God het so ’n wonderwerk beloof. Dit is waarom Martha, die suster van die gestorwe Lasarus, so ’n hoop gekoester het selfs nog voordat Jesus haar broer opgewek het, want sy het gesê: “Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag.” Het ons as Christene sulke sterk oortuiging?—Johannes 11:24.

Watter uitwerking het Christus se liefde op jou?

Watter woord sou ons gebruik as ons die Evangelie van Johannes met net een woord wou opsom? Lig? Lewe? Opstanding? Nee, dit sou LIEFDE wees. Waarom? Omdat al hierdie ander seëninge uit God se liefde voortspruit. Jesus het daardie liefde verkondig en weerspieël. Daarom het hy gesê: “Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly.” Wat was Jesus se treffendste gebod? “Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.”—Johannes 15:9-14.

Het Christus self daardie woorde vervul? Het hy onoortreflike liefde aan sy vriende bewys? Johannes se breedvoerige verslag antwoord met ’n besliste Ja! Die verslag in hoofstukke 18 en 19 verduidelik hoedat Jesus in hegtenis geneem en onderwerp is aan ’n reeks ondervragings en fisiese marteling aan die hand van die Joodse en Romeinse owerhede. Tydens al hierdie mishandeling het Jesus vir God se koninkryk getuig. Hy het gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie . . . my koninkryk [is] nie van hier nie.” Sy liefde vir sy Vader en die mensdom was so groot dat hy nie ’n maklike uitweg gesoek het of sy boodskap probeer verwater het nie. “Hiervoor is Ek gebore . . . om vir die waarheid te getuig.” Dronkgeslaan kon Pilatus slegs antwoord: “Wat is waarheid?”—Johannes 18:36-38.

Omdat Jesus deur die Joodse skare onder aanvoering van die geestelikes verwerp is, is hy ter dood veroordeel en aan ’n folterpaal genael. Hy het die grootste vernedering vir ’n Jood verduur—om soos ’n vervloekte aan ’n paal te sterf (Deuteronomium 21:22, 23; Galasiërs 3:10-13). Maar hy het die oorwinning behaal. Sy eie geloof in die opstanding is geregverdig. Op die derde dag is hy uit die dood opgewek. Maria Magdalena, ’n dissipelin, het hom gesien en met hom gepraat. Jy kan jou voorstel hoe opgewonde sy was toe sy die dissipels die nuus meegedeel het: “Ek het die Here gesien!”—Johannes 20:18, NTP.

Watter uitwerking moet Christus se offerande en opstanding dan op ons hê? Behoort dit ons nie met oortuiging, hoop en geesdrif te vervul nie? Ons ken die waarheid aangaande Christus, gebaseer op die geskiedkundige verhaal van die Evangelies. Dit is ’n verhaal van liefde in aksie. Sal ons beweeg word om daardie selfde Christelike liefde te betoon en die boodskap van die Koninkryk na ander te bring?—Johannes 20:31; Mattheüs 24:14.

Watter verdere lesse kan ons uit ’n laaste hersiening van Johannes se verhaal leer? Die les van lojaliteit—Christus se lojaliteit aan sy Vader se saak; sy lojaliteit aan sy volgelinge ondanks die feit dat hulle hom verlaat het (Markus 14:50; Johannes 18:15-27). Die 12 apostels het aanvanklik ook lojaliteit aan die dag gelê. Eenkeer het baie dissipels Jesus verlaat. Hoe indrukwekkend was Petrus se antwoord tog op Jesus se prikkelende vraag: “Wil julle nie ook weggaan nie?” Simon Petrus het hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”—Johannes 6:66-69, NTP.

Glo jy dat Jesus “die Heilige van God” “die Seun van God” is? Dan kan jy ook wandel in die lig wat tot die lewe lei. Jy kan ook liefde en lojaliteit aan Jehovah God en aan sy koninkryk in die hande van Christus toon. Jy kan ook baat vind by die aangrypende Evangelie van Johannes.—Johannes 20:31.

[Prent op bladsy 21]

Jesus bied water aan wat ewige lewe gee

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel