Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 7/15 bl. 24-27
  • ‘Keer terug na die Herder van julle siele’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Keer terug na die Herder van julle siele’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die gelykenis van die verlore seun
  • Alleen in ’n ver land
  • “Hy het tot homself gekom”
  • Het ek te ver afgedwaal?
  • ‘Wees nie bevrees nie. Ek help jou’
  • “Jehovah, ’n barmhartige en genadige God”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Help hulle om sonder versuim terug te keer!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • ’n Hartlike verwelkoming vir die wat terugkeer
    Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
  • “Keer terug na my”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 7/15 bl. 24-27

‘Keer terug na die Herder van julle siele’

TWEE hartverblydende gelykenisse van Jesus beskryf God se intense besorgdheid oor diegene wat nog lede van sy volk is maar wat afgedwaal het. Stel jou die bekommernis van die herder voor wat die kudde van 99 verlaat en in die woestyn na die verlore skaap soek “totdat hy dit kry”. Of beskou die erns van die vrou wat die penning verloor, moontlik een van ’n kosbare stel. Sy laat geen steen onaangeroer om dit te vind nie—sy steek ’n lamp op en vee haar hele huis uit “totdat sy dit kry”. En hoeveel blydskap is daar tog wanneer sy dit kry!—Lukas 15:4-10.

Jy besef ongetwyfeld dat Jesus gepraat het van mense wat ’n toegewyde verhouding met God het maar om verskeie redes weggedryf of “verlore” geraak het. Jy is dalk een van hulle. Die groot poging wat in die gelykenisse beskryf word om iets kosbaars terug te kry en die blydskap wanneer dit gevind is, raak jou miskien diep. Dit toon hoeveel God, sy Seun, die heilige engele en jou geestelike broers en susters in jou belangstel. Die gelykenis wat op hierdie twee volg, verstrek meer besonderhede oor die optrede van die een wat “verlore” is.

Die gelykenis van die verlore seun

In die gelykenis van die verlore seun toon Jesus met hartroerende duidelikheid (1) waarom ’n persoon wegdryf, (2) wat kan gebeur terwyl hy weg is, (3) wat nodig is om terug te keer, en (4) God se verwelkomingsgesindheid. Die twee seuns in die gelykenis kan vergelyk word met mense wat, soos jy, die Vader leer ken het, die ‘oorvloed van geestelike brood’ in die huis van geloof geniet het en hulle lewens aan Jehovah toegewy het.—Lukas 15:11-32.

Daar is verskeie redes waarom party, soos die jongste seun, die “huis” van ons hemelse Vader verlaat. Dit is dikwels bloot die toenemende las van die “sorge van die lewe” (Lukas 21:34). Soms het die invloed van slegte metgeselle party verhinder om “die waarheid gehoorsaam te wees” (Galasiërs 5:7, 8, 10, 12). Ontevredenheid oor ’n leerstellige saak het ’n aantal laat ‘teruggaan’ na die dinge wat hulle agtergelaat het (Johannes 6:60-66). Dit is basies omdat party, hetsy bewustelik of onbewustelik, die milieu in Jehovah se geestelike huis as te eng beskou het. Hulle wil, net soos die verlore seun, nie meer onder die wakende oog van die Vader wees nie. Hulle soek beweegruimte in ’n “ver land”.

Alleen in ’n ver land

Nadat die verlore seun al sy geld bestee het, het hy allesbehalwe vryheid en pret gevind. Hy het al hoe slegter gelewe totdat hy eindelik “losbandig” gelewe het. Toe swaar tye aangebreek het, het hy hom in desperaatheid by een van die burgers “gaan voeg” en dié het hom “gestuur” om varke op te pas—die laagste taak vir ’n Jood. Hy het selfs die varke se kos begeer!—Lukas 15:13-16.

John was ’n gemeentelike ouere man voor sy reis na ’n geestelik “ver land”. “Dit is beslis ’n beskerming om volgens die waarheid te leef, maar wanneer jy nie bedrywig is nie, verslap jou waaksaamheid” verduidelik John. “Selfs al doen jy nie iets wat waarlik sleg is nie, begin jy om klein dingetjies te duld. Jy sê vir jouself: ‘Ek woon tog nie meer die gemeentelike vergaderinge by nie. Maak dit dan werklik saak wat ek doen?’” ’n Ander Getuie wat jare lank onbedrywig was, het erken: “Ek het my waarlik aan wangedrag skuldig gemaak. Ek het baie gou uitgevind dat daar geen perke is aan hoe laag ’n persoon kan daal wanneer hy met mense van die wêreld omgaan nie. Die enigste manier waarop jy hulle omgang kan geniet, is deur oor Jehovah te swyg. Wanneer jy dit doen, stuur jy op groot moeilikheid af.”

Maar baie wat onbedrywig raak, verval nie in ’n “losbandige” lewe soos die verlore seun van Jesus se gelykenis nie. Maar almal word bewus van die vervreemding wat daar tussen hulle en God ingetree het. Een onbedrywige egpaar “het die Bybel 15 jaar lank nooit oopgemaak nie” en tog het hulle sedelik rein gebly. Die vrou verduidelik: “Op materiële gebied het dit gedurende daardie jare met ons besonder goed gegaan. Jy kan later begin glo dat dit nie nodig is om na Jehovah terug te keer nie. Ons het ons lewens om ons betrekkings en onsself gebou. Ons het probeer om alle herinneringe aan die waarheid uit te wis en selfs na ’n gebied verhuis waar niemand ons geken het nie. Maar al hierdie geluk was net oppervlakkig. Innerlik was ons verskeur. My man was jare lank diep terneergedruk. Ons het opgehou om te bid, selfs voor maaltye. Ek kon baie nagte nie slaap nie omdat ek my oor die waarheid bekommer het en skuldig gevoel het.” Die man het bygevoeg: “Dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis oor ons uitgespreek is.”

Dit is ’n pynlike situasie om van Jehovah vervreemd te wees en geestelik stoksielalleen te voel. Een Christin wat ’n ruk onbedrywig was, het gesê: “Niks kan vergelyk met Jehovah se guns nie. Wanneer jy sleg voel en nie tot hom kan bid nie, of jy daaraan twyfel dat hy jou gebede sal verhoor, is dit ’n verskriklike toestand.”

“Hy het tot homself gekom”

Die verlore seun het sy geestelike gevoelens erken en daarop gereageer. Jesus het gesê: “Hy het tot homself gekom.” Hy was “buite homself”, in ’n onwerklike wêreld. En nou het hy bewus geword van sy ware geestelike toestand. Hy het nagedink oor die vrede en oorvloed wat hy in sy vader se huis geniet het.—Lukas 15:17.

Alhoewel die verlore seun op sy eie tot hierdie besef gekom het, volg sulke insig dikwels eers na verskeie geestelike besprekings wat sluimerende gevoelens weer wek. Terwyl Diane onbedrywig was, het sy byvoorbeeld ’n Getuie wat sy leer ken het in haar vertroue geneem: “Ek kan nie terugkom na Jehovah toe nie. Ek het hom nie lief nie en ek weet dat dit die beweegrede moet wees.” Die Getuie het gevra: “Het jy jou man liefgehad toe hy jou die hof begin maak het?” “Nee, hoe kon ek? Ek het hom nie geken nie” het Diane geantwoord. “Toe het ek besef dat ek Jehovah sou liefhê nadat ek hom weer eens leer ken het” het Diane erken. “Ek het later met die gemeente in verbinding getree en om hulp gevra. Op aanbeveling van ’n ouere man het ’n egpaar die Bybel meer as ’n jaar lank saam met my en my man bestudeer sodat ons weer bedrywig geword het.”

Maar een van die grootste hindernisse vir mense wat wil terugkom, is ’n oorweldigende skuldgevoel.

Het ek te ver afgedwaal?

“Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.” Dit is hoe die verlore seun gevoel het nadat hy “tot homself gekom” het. Ander het ook so gevoel—onwaardig om een van God se huisgesin genoem te word.—Lukas 15:17-19.

“Jy besef dat jy Jehovah wetend die rug toegekeer het. Hierdie skuldgevoel het my siek gemaak” het Virginia erken. “Toe ek weer begin het om met die gemeente om te gaan, was dit vir my ’n groot stryd om weer te begin bid. Ek het voortdurend gedink: ‘Hoekom sal Jehovah vir my omgee, aangesien ek hom die rug toegekeer het?’ “Ander het gedink dat hulle die “onvergeeflike sonde” gedoen het.

Het die vader, wat geweet het dat sy seun se sondes groot was, dit as onvergeeflik beskou? Was hy kil en onverskillig toe die seun weer sy verskyning gemaak het? Glad nie! Hy het na sy seun gesoek. “Toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien” het Jesus gesê (Lukas 15:20). Bure sou miskien net die vodde, die vuilheid, die kaal voete gesien het, maar die vader het “hom” gesien. Hy het geweet hoe ver sy seun gekom het. Dit was duidelik dat hy sy “losbandige” lewe vaarwel gesê het en waarlik berouvol was.—Spreuke 28:13.

Die vader het sy seun tegemoetgehardloop en hom omhels. Al wat die seun gehoop het, was om ’n ‘huurling’ te word, iemand wat nie ’n lid van die huisgesin was nie en in party opsigte slegter daaraan toe was as ’n slaaf. Hy het nooit verwag om sy vader te hoor se nie! “Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee ’n ring vir sy hand en skoene vir sy voete. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees.” Hoe wonderlik het Jesus die hartlike reaksie van die vader beskryf!—Lukas 15:22, 23.

Die vader het geweet dat die verlore seun reeds duur betaal het vir sy oortreding—die emosionele letsels van ’n “losbandige” lewe en die verlies van al sy geld, die pyn daarvan om gedurende ’n hongersnood sonder vriende, kos en huisvesting te wees, die skande om saam met varke te moes eet en, laastens, die lang reis huis toe. Jehovah besef eweneens dat ’n mens baie ly terwyl jy “verlore” is en dat dit nie maklik is om terug te keer nie. Maar ons medelydende, hemelse Vader, wat “groot van goedertierenheid” is, ‘sal nie vir altyd twis en ons nie vergeld na ons ongeregtighede nie’, mits ons waarlik berouvol is en die saak met hom “uitmaak”. Selfs persone wat growwe sondes gedoen het terwyl hulle van die Christengemeente af weg was, maar wat waarlik berouvol terugkeer en hulle sondes voor die ouere manne bely, kan liefdevolle, bedagsame behandeling verwag wat hulle sal help om ten volle te herstel.—Psalm 103:8-10; 130:3; Jesaja 1:18, 19.

Die Bybel praat weliswaar van ontroue Christene wie se sondes nooit vergewe word nie. Maar Paulus toon dat hulle “teenstanders” van die Waarheid is en met veragting op die losprysoffer getrap het deur dit as niks besonders te beskou nie (Hebreërs 10:26-31). Maar het jy al ooit so ’n ernstige stap gedoen? Die feit dat jy hierdie materiaal jou ernstige aandag skenk en dit nie met veragting bejeën nie, toon dat jy nog ’n mate van liefde vir geestelike dinge het. Die feit dat jy skuldig voel en jou hart ontsteld is, toon dat jy nie te ver gegaan het nie. Jy kan daarvan verseker wees dat Jehovah jou biddend versoek sal verhoor net soos hy Dawid s’n verhoor het toe hy gepleit het: “Vergeef my ongeregtigheid, want dit is groot.”—Psalm 25:11.

‘Wees nie bevrees nie. Ek help jou’

Twee ouere manne het ’n onbedrywige egpaar besoek wat in die verlede besonder ywerige Getuies was. Die gesprek het skaars begin toe die onbedrywige man ’n verdedigende houding aangeneem en gesê het dat hy weet dat hy velddiens moet doen en ander moet onderrig. “Ek dink nie so nie” was die verbasende antwoord van Russell, een van die ouere manne. “Gestel ’n lid van julle gesin was siek. Sou jy vir hom sê om die gras te gaan sny? Wel, ons gaan ook nie vir jou sê om ‘die gras te sny’ nie. Ons wil hê dat jy gesond moet word. Wat kan ons doen om te help?” Liefdevolle bystand, asook hartlike gasvryheid aan die kant van die ouere manne, het die egpaar gehelp om geestelik gesond te word, en die man dien weer eens as ’n ouere man.—Vergelyk Jakobus 5:14, 15.

Party berouvolles is huiwerig om weer met die gemeente om te gaan omdat hulle voel dat hulle nie in staat is om al die verantwoordelikhede van ’n Getuie tegelyk te aanvaar nie. Maar Jehovah is redelik. ’n Geleidelike herstel is gewoonlik die mees praktiese. Paulus het gesê dat diegene in sy dag wat geestelik “traag” geword het iemand nodig gehad het om hulle weer van voor af die eerste beginsels van die Waarheid te leer (Hebreërs 5:11, 12). Hierdie geestelike voedsel gee krag en maak ander stappe moontlik. Tydens ’n aantal onderhoude met Getuies wat onaktief geword het maar later herstel het, het die meeste gesê dat hulle gereelde bystand nodig gehad het. En die lede van die gemeente sal met graagte sulke bystand verleen. Hulle voel net soos Jehovah, wat vir sy uitverkore volk gesê het: “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou.”—Jesaja 41:10.

Ja, God sê: “Ook help Ek jou.” Jy sal moontlik jou omgang met sekere slegte metgeselle moet beëindig. Jy sal miskien teenstand moet verduur van familielede wat nie daarvan hou dat jy Christenvergaderinge bywoon nie. Daar is dalk ander sake wat jy voor die ouere manne sal moet bely (Psalm 32:3-5). Maar jy moet nooit vergeet dat Jehovah daar is om jou te help nie. Een Getuie wat herstel het, het gesê: “Jehovah het my toegelaat om net een stap op ’n slag te sien, en hy het my baie gehelp.” ’n Ander een het bygevoeg: “Toe ek by die Koninkryksaal inloop, het al my ou vriende my omhels en gesoen. Hulle geluk het my oorweldig. Ek het gedink: ‘Waarom was ek bang?’ “Hoewel party dalk ’n gesindheid sal hê soos dié van die verlore seun se oudste broer, sal die oorgrote meerderheid verheug wees om jou terug te sien.—Lukas 15:25-32.

Stel dit gerus op die proef. Een Christin wat na ’n geruime tyd herstel het, het gesê: “Gemoedsrus is op geen ander plek te vind nie. Alles het sommer vanself reggekom toe ek weer geestelik bedrywig was. Hierdie wêreld bied niks waardevols aan nie. Die wete dat jy Jehovah behaag en sy beskerming geniet, laat ’n mens so goed voel. Jy kan snags slaap. Jou lewe is nou bevredigend en jy kan waarlik op lewe in die Nuwe Orde hoop.”

As jy ’n skaap is wat afgedwaal het, kan jy gerus die Getuie wat hiérdie tydskrif vir jou gebring het, vra om jou te help om met die ouere manne van die plaaslike gemeente in aanraking te kom. Ervaar die vreugde en tevredenheid wat voortspruit uit die handelwyse wat Petrus beskryf het: “Julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele.”—1 Petrus 2:25.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel