Hoe die Koninkryk “kom”
1. Waarom verbaas dit ons nie dat die “laaste dae” van hierdie wêreldstelsel tot 1982 toe voortgeduur het nie?
ONS weet nie hoeveel tyd oorbly voordat die “groot verdrukking” losbars nie. Die “laaste dae” van die Joodse stelsel het gestrek van 29 tot 70 G.J., en was dus altesaam 41 jaar lank. Maar nou gaan God se oordeel aan ’n veel groter stelsel voltrek word. Dit is die Duiwel se hele wêreldstelsel, waarvan die wêreldryk van valse godsdiens, en veral die Christendom se vervalste godsdiens, die laakbaarste deel is. Dit is dus nie verbasend dat die “laaste dae” van hierdie wêreldstelsel nou al 68 jaar lank duur nie, naamlik van 1914 tot 1982. Dit is alles met ’n doel. En wat is dit?
2. Hoe was eerste-eeuse Christene vir ons ’n voorbeeld?
2 Wel, wat het die eerste-eeuse Christene gedurende die “laaste dae” van die Joodse stelsel gedoen? Hulle het gepreek! Hulle het die waarskuwing uitgebasuin! Die apostel Paulus kon gevolglik net ’n paar dekades later skryf van “die hoop van die evangelie . . . wat julle gehoor het en wat verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel”.—Kolossense 1:23.
3, 4. Wie is deur Jehovah se gees in staat gestel om die hedendaagse getuienis te lewer, en met watter gevolge?
3 Vandag is die arbeidsveld groter. Dit is die wêreld, die hele wêreld! Maar onder die aandrywende krag van God se gees het die Christengetuies van Jehovah weer eens tot aan die eindes van die aarde gegaan. Hulle verkondig die waarheid in meer as 160 tale. Hulle het die “skape” uit al die nasies versamel, tot 5 980 000 wat die Gedenkmaal van Jesus se dood in 1981 bygewoon het. As ’n wagklas gee die “getroue en verstandige dienskneg” die leiding in die verkondiging van die dag van Jehovah se wraak, terwyl hulle al die treurendes vertroos (Jesaja 21:11, 12; 61:1, 2). In hulle predikingswerk het Jehovah se Getuies die afgelope eeu 460 000 000 Bybels en boeke versprei, asook 4 767 000 000 eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! Is dit nie ’n ontsaglike getuienis vir Jehovah se naam en koninkryk nie?
4 Hierdie verkondiging van die Koninkryksevangelie nader nou sy hoogtepunt! Dwarsoor die aarde het getroue sendelinge, pioniers en gemeenteverkondigers eendragtig ’n wonderlike werk verrig—“nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees” sê Jehovah van die leërskare (Sagaria 4:6). Gevolglik het miljoene mense na vore getree om hulle aan die kant van die ‘getroue dienskneg’ te skaar en gesê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is.”—Sagaria 8:23.
5. Hoe beeld Daniël hoofstuk 2 die ‘koms’ van die Koninkryk uit?
5 Al wat nou moet gebeur, is dat God se koninkryk moet “kom”! Hoe? Op die wyse wat die profeet Daniël in hoofstuk twee van sy profesie beskryf! Hier word die Messiaanse koninkryk voorgestel as ’n “klip” uit die simboliese “berg” van Jehovah se ewigdurende soewereiniteit. Soos ’n missiel spoed hierdie “klip” voort, ja, “kom” dit om die struktuur van mensgemaakte regerings te tref en tot stof te verbrysel. Dan word hierdie Koninkryks-“klip” self ’n “berg” wat die aarde vul, alles tot Jehovah se lof en eer.—Daniël 2:34, 35, 44, 45, vgl. NW.
Die verwoesting van die “hoer”
6. (a) Waarom moet dit nie vreemd klink dat Jehovah radikale menslike organisasies sal gebruik om sy oordeel te voltrek nie? (b) Watter hedendaagse teenbeeld het Jerusalem, en van watter ryk is dit ook ’n deel?
6 Maar hierdie finale verbryseling van menseheerskappy op die aarde moet eers deur ’n paar dinge voorafgegaan word. Die profetiese boek Openbaring toon dat Jehovah eers radikale magte in die Verenigde Volke as ’n hamer van vernietiging sal gebruik. Dit behoort nie vreemd te klink nie, want in die ou tyd het Jehovah die Babiloniese wêreld-moondheid as “die hamer van die hele aarde” gebruik om sy oordeel aan die nasies, en aan afvallige Jerusalem in die besonder, te voltrek (Jeremia 50:23). Jerusalem van die ou tyd vind sy teenbeeld in die georganiseerde godsdiens van die valse Christendom. Dit gee voor dat dit die God van die Bybel aanbid, maar dit het dit eerder ’n deel van die wêreldryk van valse godsdiens gemaak. Die profesie identifiseer daardie ryk as “Babilon die Grote, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde”.—Openbaring 17:5, NW.
7. (a) Watter keuse het valse godsdiens gedoen? (b) Hoe toon sy woordvoerders wat hulle hoop is? (c) Maar wat toon die Skrif is die mensdom se hoop?
7 Daardie wêreldryk van valse godsdiens het sy keuse gedoen. Dit het God se inkomende koninkryk in die hande van die Messias verwerp ten gunste van mensgemaakte plaasvervangers. Vandag gee die geestelikes van die wêreld se godsdienste hulle heelhartige steun aan die Verenigde Volke. Volgens ’n Joodse rabbi is die Verenigde Volke “die enigste hoop op blywende vrede in ’n wêreld wat daarvan afhanklik is vir sy voortbestaan”. En pous Johannes Paulus II het dit beskryf as “die vernaamste forum vir vrede en geregtigheid”. Maar het die Verenigde Volke vrede en geregtigheid op ons aarde bewerkstellig? Is die Verenigde volke werklik die mensdom se “enigste hoop”? Of is daardie hoop God se koninkryk? Daardie hoop hang voorwaar saam met die ‘koms’ van God se koninkryk in die hande van die Messias!—Mattheüs 12:18, 21.
8. Watter verklaring in die V.V.O. se Handves herinner ons aan 1 Thessalonicense 5:3, en waarom moet dit ons interesseer?
8 In sy Handves sê die Verenigde Volke dat sy eerste oogmerk is “om internasionale vrede en veiligheid te handhaaf”. Klink daardie woorde nie vir ons as Jehovah se Getuies bekend nie? Ja! Want die apostel Paulus het gesê: “Wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid— dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thessalonicense 5:3). Terwyl ons dan die einde van hierdie “laaste dae” nader, kan ons na ’n treffende verklaring oor “Vrede en veiligheid” soek. Wat volg wanneer die nasies dit sê? Die profesie antwoord: ‘Skielike, onverwagte en onontkombare verderf!’
9. (a) Watter rampspoedige einde wag op valse godsdiens? (b) Hoe sal politieke leiers en groot sakemagnate dit beskou, en waarom?
9 Wêreldgodsdiens se ongeoorloofde “verhouding” met die Verenigde Volke sal rampspoedig eindig! In “een uur” sal alles verby wees! Die “tien horings” van die “dier” die Verenigde Volke, sal Babilon die Grote aanval. Militaristiese, radikale elemente in daardie wêreldliggaam sal haar stukkend skeur, haar verlate maak, haar duur klere afruk en haar verbrand. Verdorwe politici, wat valse godsdiens gebruik het om hulle posisie te versterk, asook groot sakemagnate, wat haar gebruik het as ’n dekmantel vir wapensmokkelary en ander profytmakery, sal van ver af oor haar ween. Hulle sal haar beklaag en sê: “Wee, wee jou, o groot stad Babilon, o sterk stad, want in een uur het jou oordeel gekom! . . . omdat in een uur soveel rykdom verwoes is!”—Openbaring 18:10, 16.
Armageddon—en daarna
10. Waarom sal Armageddon gou volg, en met watter gevolg?
10 Sake sal vinnig verloop. Daardie selfde politieke “horings” wat die groot “hoer” verlate gemaak het, sal dan die oënskynlik weerlose getuies van Jehovah aanval. Maar nou sal hulle hulle gewikkel vind in ’n stryd met niemand anders nie as Jehovah se “Koning van die konings en Here van die here”. Hulle sal by Armageddon wees. Dit is waar Jehovah se koninkryk in die hande van die die Messias “kom” om sy grootste daad ter regverdiging van Jehovah se soewereiniteit en van sy getroue knegte te verrig. Die stryd sal hewig en beslissend wees. Satan se militaristiese, politieke bewind oor die aarde sal beëindig word, en Satan self sal gebind en in die afgrond gewerp word vir 1 000 jaar, “sodat hy die nasies nie meer sou verlei . . . nie”.—Openbaring 16:14; 17:14; 19:11-21; 20:2, 3.
11. (a) Hoe sal die ‘koms’ van die Koninkryk die hele mensdom dan tot seën strek? (b) Watter oorplasing vind plaas wanneer die 1 000 jaar eindig, en met watter aangename vooruitsig gaan dit gepaard?
11 En dan? Dan is die duisendjarige koninkryk hier! Hoe sal die oorlewendes van Armageddon hulle tog verheug! Hoe wonderlik sal die liefde, die vreugde en die vrede wat dan dwarsoor die aarde sal versprei tog nie wees nie! Hoe wonderlik sal die opstanding wat dierbares dwarsoor die wêreld weer sal verenig tog nie wees nie! Hoe stimulerend sal die genesingsprogram wees wanneer Jesus en sy medekonings en -priesters die strelende voordele van sy losprysoffer aanwend en duisendmiljoene mense help om volmaak te word! En hoe sal almal wat oorgebring word van Christus se duisendjarige koninkryk na die ryk van Jehovah se ewige soewereiniteit en wat die finale toets deur Satan oorleef, hulle tog nie verheug in hulle aandeel in die ontplooiing van die wondere van die ewigheid nie!—Openbaring 20:7-9; 21:3, 4.
12. Waarvan hang hierdie wonderlike dinge af, en wat moet ons dus nou beweeg word om te doen?
12 Dit is die ‘koms’ van God se koninkryk in die hande van die Messias wat al hierdie wonderlike dinge moontlik maak. Beweeg dit ons nie om gedurende die laaste dae van Satan se stelsel met ander oor “die groot dade van God” die heerlikheid van sy koningskap en die onwankelbare koninkryk van die Messias te spreek nie? (Psalm 145:11; Handelinge 2:11; Hebreërs 12:28). Beweeg dit ons nie om vurig tot ons hemelse Vader te bid nie: “Laat u koninkryk kom”?—Mattheüs 6:9, 10.
13. Waarom moet ons van ganser harte bid dat die Koninkryk moet “KOM”?
13 Ja, “KOM” God se koninkryk, om Satan se werke en organisasie van die aarde af uit te wis! Ja, “KOM” om aan die hele mensdom die regte soort regering te gee! Ja, “KOM” om die glorieryke duisendjarige heerskappy te bring, sodat die paradys herstel kan word, die dode opgewek kan word en die duisendmiljoene lede van die mensdom volmaaktheid kan bereik. Ja, “KOM” o koninkryk van die Messias, dat die ongeëwenaarde naam van die Soewereine Heer JEHOVAH vir ewig geheilig kan word!
DIE KONINKRYK IN GOD SE VOORNEME
◻ Jehovah se profete het dit voorspel
◻ Dawid se koninkryk het dit afgeskadu
◻ Jesus se dissipels het dit verkondig
◻ Dit is in 1914 in die hemele opgerig
◻ Dit word sedert 1919 verkondig tot ’n getuienis vir al die nasies
◻ Die “groot menigte” word nou bymekaargemaak vir redding
◻ Die einde kom met—Die uitroep “Vrede en veiligheid” Die vernietiging van die “groot Babilon” Die vernietiging van politieke heersers, leërs en ondersteuners deur die Koninkryk
◻ Die Koninkryk vul die aarde met vreugde, vrede en lof aan Jehovah
[Prent op bladsy 18]
Die Koninkryksklip sal ’n “berg” word wat die aarde vul