Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 4/1 bl. 8-13
  • Volg die lig van die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Volg die lig van die wêreld
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Ander soort lig
  • Die wêreld is in geestelike duisternis
  • “’n Groot lig”
  • “Deur hom was lewe”
  • Gawes van Jehovah
  • Goddelike lig verdryf duisternis!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • ‘Die lig het in die wêreld gekom’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • ‘Gord die wapens van die lig aan’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Ligdraers—Met watter doel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 4/1 bl. 8-13

Volg die lig van die wêreld

“Wie my volg, . . . sal die lig van die lewe hê.”—JOHANNES 8:12.

1. Hoe belangrik is lig?

WAT sou ons sonder lig doen? Stel jou voor dat jy elke dag van die jaar opstaan en dit 24 uur lank donker is. Stel jou ’n wêreld sonder kleur voor, want sonder lig is daar geen kleur nie. Trouens, as lig nie bestaan het nie, sou ons ook nie bestaan het nie! Waarom nie? Want deur die proses van fotosintese gebruik groen plante lig om die voedsel wat ons eet—graan, groente en vrugte—te vervaardig. Ons eet weliswaar soms die vleis van diere. Maar daardie diere het plante geëet of het ander diere geëet, wat van plante geleef het. Ons fisiese lewe hang dus geheel en al van lig af.

2. Watter kragtige ligbronne is daar, en wat vertel dit ons van Jehovah?

2 Ons lig kom van die son, wat ’n ster is. Hoewel ons son geweldig baie lig uitstraal, is hy maar net ’n middelslagster. Menige ster is baie groter. En die sterrestelsel waarin ons woon, die Melkweg, het meer as honderdmiljard sterre. Daarbenewens is daar tallose miljarde sterrestelsels in die heelal. Wat ’n ontsaglike aantal sterre! Wat ’n ontsaglike hoeveelheid lig straal hulle tog nie uit nie! Wat ’n kragtige bron van lig is Jehovah wat dit alles geskep het! Jesaja 40:26 sê: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte [“die oorvloed van dinamiese energie”, NW] en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.”

’n Ander soort lig

3. Hoe belangrik is die geestelike lig wat van Jehovah af kom?

3 Jehovah is ook die Bron van ’n ander soort lig; ’n lig wat ons in staat stel om geestelik te kan sien, om geestelik verlig te wees. Een woordeboek definieer die werkwoord “verlig” as volg: “Om kennis te voorsien aan: om te onderrig; om geestelike insig te gee aan”. Dit definieer die byvoeglike naamwoord “verlig” as: “bevry van onkunde en verkeerde inligting”. Geestelike lig van Jehovah word deur die juiste kennis van sy Woord, die Bybel, voorsien. Dít stel ons in staat om te weet wie God is en wat sy voornemens is. “God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus” (2 Korinthiërs 4:6). Die waarhede in God se Woord bevry ons dus van onkunde en verkeerde inligting. Jesus het gesê: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”—Johannes 8:32.

4, 5. Hoe dien die kennis wat van Jehovah af kom as ’n lig in ons lewe?

4 Jehovah, die Bron van ware geestelike lig, se ‘kennis is volmaak’ (Job 37:16, NAV). Psalm 119:105 sê ook van God: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.” Hy kan dus nie net geestelike lig op die volgende tree van ons lewe werp nie, maar hy kan ook ons hele lewenspad voor ons verlig. Sonder daardie lig sou die lewe soos ’n motor wees wat ’n mens op ’n maanlose aand langs ’n kronkelende bergpad bestuur met geen ligte aan die motor of op enige ander plek nie. Geestelike lig wat van God af kom, kan vergelyk word met die motor se kopligte. Die kopligte verlig die pad sodat ons presies kan sien waarheen ons gaan.

5 Die profesie in Jesaja 2:2-5 toon dat God in ons tyd mense uit alle nasies bymekaarmaak wat geestelike lig wil hê sodat hulle ware aanbidding kan leer ken en kan beoefen. Vers 3 sê: “Dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel.” Vers 5 nooi waarheidsoekers: “Kom . . . laat ons wandel in die lig van die HERE.”

6. Waarheen sal die lig van Jehovah af ons uiteindelik lei?

6 Jehovah is dus die bron van twee soorte lig wat noodsaaklik is vir lewe: fisiese en geestelike lig. Die fisiese lig help ons fisiese liggame om nou aan die lewe te bly, miskien 70 of 80 jaar of wat. Maar die geestelike lig lei ons tot die ewige lewe in ’n paradysaarde. Dit is soos Jesus in gebed tot God gesê het: “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken [“voortdurend kennis opdoen van U”, NW], die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”—Johannes 17:3.

Die wêreld is in geestelike duisternis

7. Waarom het ons nou meer as ooit tevore geestelike lig nodig?

7 Ons het vandag meer as ooit tevore geestelike lig nodig. Profesieë, soos Mattheüs hoofstuk 24 en 2 Timotheüs hoofstuk 3, toon dat ons na aan die einde van hierdie stelsel van dinge is. Hierdie en ander profesieë het die verskriklike dinge voorspel wat in ons tyd plaasgevind het, en hieruit weet ons dat ons in “die laaste dae” lewe. Ter vervulling van daardie profesieë het hierdie eeu een ramp na die ander ondervind. Misdaad en geweld het oral vreeswekkende afmetings aangeneem. Oorloë het meer as honderdmiljoen lewens geëis. Siektes, soos die gevreesde vigs, bedreig miljoene, en meer as 160 000 mense het reeds in die Verenigde State alleen aan vigs gesterf. Die gesinslewe het verbrokkel en geslagsedelikheid word as outyds beskou.

8. Watter situasie staar die mensdom nou in die gesig, en waarom?

8 Die voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Javier Pérez de Cuéllar, het gesê: “Die wêreldsituasie lewer ontstellende bewys dat armoede die samehorigheidsgevoel van gemeenskappe [ondermyn].” Hy het gesê dat “meer as eenmiljard mense nou in volslae armoede lewe” en dat “dit momentum gee aan die kragte wat tot gewelddadige konflik lei”. Hierdie “ernstige maatskaplike kwale”, het hy gesê, “kan nie uit die weg geruim word deur die oplossings waarmee die regerings vorendag kan kom nie”. En die hoof van ’n invloedryke organisasie het ook gesê: “Die kernprobleem waarmee die samelewing te kampe het, is dat dit onregeerbaar geword het.” Hoe waar is die woorde van Psalm 146:3 tog: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.”

9. Wie is hoofsaaklik verantwoordelik vir die duisternis wat die mensdom oordek, en wie kan ons van hierdie invloed bevry?

9 Die situasie vandag is soos Jesaja hoofstuk 60:2 voorspel het: “Kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke.” Hierdie duisternis wat die meeste aardbewoners oordek, bestaan omdat hulle nie die geestelike lig van Jehovah af inneem nie. En die hoofoorsaak van die geestelike duisternis is Satan die Duiwel en sy demone, die vernaamste vyande van die God van lig. Hulle is “die wêreldheersers van die duisternis” (Efesiërs 6:12). Soos 2 Korinthiërs 4:4 sê, is die Duiwel “die god van hierdie wêreld” wat ‘die ongelowiges se sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie’. En geen menseheerskappy kan die wêreld van Satan se invloed bevry nie. Net God kan dit doen.

“’n Groot lig”

10. Hoe het Jesaja voorspel dat daar in ons dag lig oor die mensdom sou skyn?

10 Maar terwyl dik duisternis die meeste mense oordek, het God se Woord ook in Jesaja 60:2, 3 voorspel: “Maar oor jóu sal die HERE opgaan [“skyn”, NW], en sy heerlikheid sal oor jou gesien word. En nasies sal trek na jou lig.” Dit is in ooreenstemming met Jesaja hoofstuk 2, wat belowe het dat die verligte, ware aanbidding van Jehovah in hierdie laaste dae stewig gevestig sou word, en soos verse 2 en 3 sê: “Al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE”, dit wil sê na sy verhewe ware aanbidding. Hoewel die wêreld dus onder Satan se beheer is, word die lig van God af uitgestraal en hierdie lig bevry menigtes uit die duisternis.

11. Wie sou die vernaamste een wees wat Jehovah se lig sou weerkaats, en hoe het Simeon hom geïdentifiseer?

11 Die profesie in Jesaja 9:1 het voorspel dat God iemand in die wêreld sou instuur om sy lig te weerkaats. Dit sê: “Die volk wat in duisternis wandel, het ’n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ’n lig geskyn.” Hierdie “groot lig” is Jehovah se Hoofwoordvoerder, Jesus Christus. Jesus het gesê: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Johannes 8:12). Party het dit al geweet selfs toe Jesus nog ’n klein kindjie was. Lukas 2:25 sê dat ’n man met die naam Simeon “regverdig en vroom” was en dat ‘die Heilige Gees op hom was’. Toe Simeon die klein kindjie Jesus sien, het hy in gebed tot God gesê: “My oë het u middel tot redding gesien, wat u voor die oë van al die volke voorberei het, ’n lig wat die sluier van die nasies sal verwyder.”—Lukas 2:30-32, NW.

12. Wanneer en hoe het Jesus die sluier van duisternis van die mensdom begin verwyder?

12 Jesus het die sluier van duisternis van die mensdom kort na sy doop begin verwyder. Mattheüs 4:12-16 sê vir ons dat dit ter vervulling was van Jesaja 8:23 tot 9:1, wat van die “groot lig” gepraat het wat sou begin skyn op mense wat in geestelike duisternis gewandel het. Mattheüs 4:17 sê: “Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Dit was deur die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig dat Jesus geestelike lig aangaande God se voornemens aan mense voorsien het. Hy het “die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring . . . deur die evangelie”.—2 Timotheüs 1:10.

13. Hoe het Jesus homself beskryf, en waarom kon hy dit met soveel oortuiging sê?

13 Jesus het die lig van God getrou weerkaats. Hy het gesê: “Ek het as ’n lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie. . . . Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ’n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek. En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is.”—Johannes 12:44-50.

“Deur hom was lewe”

14. Hoe word Jesus in Johannes 1:1, 2 geïdentifiseer?

14 Ja, Jehovah het sy Seun na die aarde gestuur om ’n lig te wees wat mense die weg na die ewige lewe sou wys. Let op hoe die feit in Johannes 1:1-16 beklemtoon word. Verse 1 en 2 lees: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God [“’n god”, NW]. Hy was in die begin by God.” Hier noem Johannes die voormenslike Jesus op die titel die “Woord”. Dit identifiseer die werk wat hy as Jehovah God se Woordvoerder gedoen het. En wanneer Johannes sê: “In die begin was die Woord”, beteken dit dat die Woord die begin van Jehovah se skeppingswerke was, “die begin van die skepping van God” (Openbaring 3:14). Die Woord se voortreflike posisie onder al God se skepsele voorsien ’n ware grondslag vir die feit dat hy “’n god”, of ’n magtige, genoem word. Jesaja 9:6 (NW) noem hom “Magtige God”, maar nie die almagtige God nie.

15. Watter bykomende inligting verstrek Johannes 1:3-5 aan ons oor Jesus?

15 Johannes 1:3 sê: “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.” Kolossense 1:16 sê: “Deur middel van hom is alle ander dinge in die hemele en op die aarde geskep” (NW). Johannes 1:4 sê: “Deur hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense” (NW). Alle ander lewensvorme is dus deur middel van die Woord geskep; God het dit ook deur middel van sy Seun vir die sondige, sterwende mensdom moontlik gemaak om die ewige lewe te verkry. Jesus is beslis die magtige wat Jesaja 9:1 “’n groot lig” noem. En Johannes 1:5 sê: “Die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.” Lig verteenwoordig die waarheid en geregtigheid, in teenstelling met die duisternis, wat sonde en ongeregtigheid verteenwoordig. Johannes toon dus dat die duisternis nie die lig sal oorwin nie.

16. Hoe het Johannes die Doper die aandag op die omvang van Jesus se werk gevestig?

16 Johannes redeneer nou in verse 6 tot 9: “Daar was ’n man van God gestuur, wie se naam Johannes [die Doper] was. Hy het tot ’n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo. Hy [Johannes] was nie die lig nie, maar hy moes van die lig [Jesus] getuig. Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.” Johannes het die aandag gevestig op die komende Messias en het sy volgelinge na Hom toe gerig. Mettertyd is almal die geleentheid gegee om die lig aan te neem. Jesus het dus nie net tot voordeel van die Jode gekom nie, maar tot voordeel van die hele mensdom—ryk of arm, ongeag hulle ras.

17. Wat sê Johannes 1:10, 11 vir ons oor die geestelike toestand van die Jode in Jesus se dag?

17 Verse 10 en 11 sê verder: “Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.” In sy voormenslike bestaan was Jesus die een deur wie die wêreld van die mensdom geskep is. Maar toe hy op aarde was, is hy deur die meeste van sy eie mense, die Jode, verwerp. Hulle wou nie gehad het dat hulle boosheid en geveinsdheid aan die kaak gestel moes word nie. Hulle het die duisternis bo die lig verkies.

18. Hoe toon Johannes 1:12, 13 dat sommige kinders van God sou word en dat hulle ’n spesiale erfenis sou ontvang?

18 Johannes sê in verse 12 en 13: “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders [“seuns”, NW] van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ’n man nie, maar uit God gebore is.” Hierdie verse toon dat Jesus se volgelinge aanvanklik nie seuns van God was nie. Voordat Christus aarde toe gekom het, was sulke seunskap of ’n hemelse hoop nie vir mense moontlik nie. Maar deur geloof te stel in die waarde van Christus se losprysoffer is sommige mense as seuns aangeneem, en hulle kon die hoop op die lewe as konings saam met Christus in God se hemelse Koninkryk hê.

19. Waarom is Jesus die beste bevoeg om God se lig te weerkaats, soos Johannes 1:14 toon?

19 Vers 14 redeneer: “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom.” Toe Jesus op aarde was, het hy God se heerlikheid weerkaats soos net God se Eniggeborene dit kon doen. Hy was dus, op ’n unieke wyse, die beste bevoeg om God en Sy voornemens aan die mense te openbaar.

20. Wat vertel Johannes die Doper ons oor Jesus, volgens Johannes 1:15?

20 Johannes skryf vervolgens in vers 15: “Johannes [die Doper] getuig van Hom en roep en sê: Dit was Hy van wie ek gesê het: Hy wat ná my kom, het voor my geword [“uitgegaan”, NW], want Hy was eerder as ek.” Johannes die Doper is omtrent ses maande voor Jesus se geboorte as ’n mens gebore. Maar Jesus het baie meer werke as Johannes gedoen sodat hy in elke opsig voor Johannes uitgegaan het. En Johannes erken dat Jesus voor hom bestaan het, aangesien Jesus ’n voormenslike bestaan gehad het.

Gawes van Jehovah

21. Waarom sê Johannes 1:16 dat ons “onverdiende goedhartigheid op onverdiende goedhartigheid” ontvang het?

21 Johannes 1:16 sê: “Uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade [“onverdiende goedhartigheid op onverdiende goedhartigheid”, NW].” Hoewel die mensdom in sonde gebore is omdat hulle dit van Adam geërf het, het Jehovah Hom voorgeneem om hierdie bose stelsel te vernietig, miljoene behoue te laat bly om in die nuwe wêreld in te gaan, die dooies op te wek en sonde en die dood te verwyder, wat tot die ewige lewe in ’n herstelde paradysaarde sal lei. Al hierdie seëninge is onverdiend, die sondige mensdom is dit heeltemal onwaardig. Hulle is genadegawes wat ons van Jehovah deur middel van Christus ontvang.

22. (a) Wat maak God se grootste gawe moontlik? (b) Watter uitnodiging word in die laaste boek van die Bybel aan ons gerig?

22 Wat is die grootste gawe wat dit alles moontlik maak? “Want so lief het God die wêreld [van die mensdom] gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Juiste kennis van God en sy Seun, “die Hoofbewerker van die lewe”, is dus lewensbelangrik vir diegene wat geestelike lig en die ewige lewe wil hê (Handelinge 3:15, NW). Daarom rig die laaste boek van die Bybel die volgende uitnodiging aan almal wat die waarheid liefhet en die lewe wil hê: “Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”—Openbaring 22:17.

23. Wat sal skaapgeaarde mense doen wanneer hulle na die lig kom?

23 Nederige skaapgeaarde mense sal nie net na die lig van die wêreld kom nie, maar sal daardie lig volg: “Die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken [die waarheid in sy stem herken]” (Johannes 10:4). Trouens, hulle verlustig hulle daarin om ‘sy voetstappe na te volg’, omdat hulle weet dat dit vir hulle die ewige lewe sal beteken.—1 Petrus 2:21.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Watter twee soorte lig kom van Jehovah af?

◻ Waarom is dit so belangrik om vandag geestelik verlig te wees?

◻ In watter opsig was Jesus “’n groot lig”?

◻ Wat vertel Johannes hoofstuk 1 ons oor Jesus?

◻ Watter gawes word op diegene uitgestort wat die lig van die wêreld volg?

[Prent op bladsy 10]

Simeon het Jesus “’n lig wat die sluier van die nasies sal verwyder”, genoem

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel