God se koninkryk “kom”—Wanneer?
1. (a) Waarom moet ons op die einde “wag”? (b) Hoe kan ons ‘ons bediening verheerlik’, en met watter vertroue?
WANNEER kan ons presies verwag dat hierdie beloftes op wonderlike wyse vervul sal word? Vir party wat Jehovah al 20, 30, 40 jaar of langer getrou dien, lyk dit moontlik of “die einde” vertoef. Maar onthou wat God se profeet Habakuk ons meedeel: “As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie” (Habakuk 2:3). Ons hoef nie voor die tyd “dié dag en dié uur” te weet wanneer die “groot verdrukking” met al sy krag op hierdie wêreld gaan losbars nie. Vir die hede is dit genoeg as ons ‘ons bediening verheerlik’ deur die goeie nuus van die opgerigte koninkryk ywerig te verkondig. Want ons kan daarvan seker wees dat “die einde” eers sal kom wanneer die Koninkrykspredikingswerk gedoen is tot die mate wat Jehovah dit gedoen wil hê.—Mattheüs 24:14, 21, 36; Romeine 11:13.
2. (a) Wat is interessant in verband met Jehovah se rooster vir gebeure? (b) Wanneer en met watter gebeurtenis het die “laaste dae” van die Joodse stelsel begin?
2 In verband met Jehovah se rooster vir gebeure is hierdie feit interessant: God het voor die tyd geopenbaar wanneer die twee belangrikste tydperke in mensegeskiedenis tot op hede sou begin. Watter twee tydperke is dit? Albei is oordeelstydperke. Die eerste van hierdie tydperke was die “laaste dae” van die Joodse stelsel, en dit het begin met die doop van Jesus en sy salwing as Messias (Joël 1:15; 2:28-32; Handelinge 2:17). Daniël se profesie, wat meer as 500 jaar tevore opgeteken is, het die jaar 29 G.J. noukeurig as die begin van daardie “laaste dae” aangedui. Hoe so?
Die Joodse “laaste dae”
3, 4. (a) Wat is die “sewentig sewetalle” wanneer het hulle begin en wanneer het hulle geëindig? (b) Watter gebeure tydens die laaste ‘week van jare’ het dit ’n belangrike ‘week’ gemaak?
3 In Daniël 9:24-27 lees ons van ’n tydperk van “sewentig weke van jare” (An American Translation; Moffatt), of altesaam 490 jaar, wat begin met “die uitgang van die woord . . . om Jerusalem te herstel en op te bou”.a Wanneer was dit? Die Bybelverslag in Nehemia 2:1-7 sê dat Artasasta, die koning van Persië, sy Joodse skinker, Nehemia, in sy “twintigste jaar” beveel het om na die stad van sy voorvaders terug te keer en dit ‘op te bou’. Volgens sekulêre geskiedenis is hierdie “twintigste jaar van koning Artasasta” 455 v.G.J. As ons 490 jaar van daardie jaartal afreken, kom ons uit by die jaar 36 G.J. Daniël se profesie deel ons mee dat die laaste ‘week van jare’, 29-36 G.J., van spesiale belang is. En waarom?
4 Want “van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ’n Gesalfde, ’n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle”. Die Messias sou dus aan die begin van daardie sewentigste week van jare verskyn. Dit sou ook die begin wees van die “laaste dae” van die Joodse stelsel, en gedurende die eerste sewe jaar van daardie oordeelstydperk sou die Messias die Abrahamitiese verbond bevestig vir die Jode wat hom aangeneem het. “Gedurende die helfte” van daardie week van jare, dit wil sê, in 33 G.J., sou die Messias “uitgeroei” word en sou sy groot soenoffer “slagoffer en spysoffer [volgens Israel se wet] laat ophou” omdat dit nie langer enige waarde sou hê nie.—Hebreërs 10:12, 18.
5. (a) Wat toon dat die Jode goed bekend was met die tydaspek van die “sewentig sewetalle”? (b) Waarom is die Jode teleurgestel? (c) Hoe is Daniël se profesie vervul?
5 Die Jode was ongetwyfeld goed bekend met die tydaspek van die “sewentig sewetalle” want die Bybelskrywer Lukas deel ons mee dat “die volk” destyds “in verwagting was” wat die Christus betref (Lukas 3:15). Maar hulle hoop was gevestig op die koms van ’n glorieryke stryder-koning wat die Jode tot ’n oorwinning oor hulle Romeinse verdrukkers sou aanvoer. Hulle geloof het nie geloof ingesluit in die feit dat die Messias in 33 G.J. “uitgeroei” vermoor, sou word nie. Hulle kon ook nie geloof heg aan die profetiese waarskuwing dat Jerusalem en sy volk ‘verwoes’ sou word nie. Maar hoe is die waaragtigheid van Daniël se profesie tog gestaaf toe die Romeinse legioene onder generaal Titus Jerusalem in 70 G.J. verwoes het!
Globale “laaste dae”—wanneer?
6. Watter ander jaartal het Jehovah voor die tyd geopenbaar, en waarvan was dit die begin?
6 Maar wat is die ander aanvangsjaar wat Jehovah goedgunstiglik voor die tyd geopenbaar het? Dit is die begin van “die laaste dae” van Satan se hele wêreldstelsel (2 Timotheüs 3:1-5). Dit is die “swaar tye” wat aardwyd in die jaar 1914 G.J. begin het.
7, 8. (a) Hoe het ywerige Bybelstudente daardie jaartal sedert 1880 en reg tot in die tagtigerjare van hierdie eeu beskou? (b) Watter verklarings deur goed ingeligte manne van die wêreld het eweneens die aandag op 1914 gevestig?
7 Vier-en-dertig jaar lank voor 1914 het ywerige Bybelstudente na daardie jaar uitgesien. Van 1880 af het Die Wagtoring dikwels die aandag op die betekenis daarvan gevestig. En nou, 68 jaar na 1914, kyk ons terug na daardie jaar as een wat vol betekenis is. En ons is nie die enigstes nie. Een goed ingeligte skrywer het na 1914 verwys as die jaar toe “die wêreld, soos ons dit toe geken en aanvaar het, geëindig het”.b ’n Ander een het 1914 beskryf as die begin van “die hedendaagse tydvak [wat] almal deeglik besef . . . in massa-uitwissing kan eindig”.c—Kyk ook die boek “Let Your Kingdom Come” bladsye 127-140, 186-189.
8 Meer as 50 jaar na 1914 het Duitse staatsman Konrad Adenauer teruggedink: “Gedagtes en beelde kom by my op, . . . gedagtes uit die tyd voor 1914 toe daar ware vrede, rus en veiligheid op hierdie aarde was—’n tyd toe ons nie vrees geken het nie. . . . Veiligheid en rus het sedert 1914 uit die lewens van mense verdwyn.” En pas in November 1980 het Britse staatsman Harold Macmillan teruggekyk oor sy 86 lewensjare en met heimwee gepraat van die “outomatiese vooruitgang” van koningin Victoria se tydvak. Hy het gesê: “Alles het voortdurend verbeter. Dit was die wêreld waarin ek gebore is. [Maar] alles het skielik, onverwags, een oggend in 1914 geëindig.”
9. (a) Hoe het Bybelstudente voor die tyd besef dat die jaar 1914 betekenisvol kon wees? (b) Watter uitleg van Daniël se profesie in hoofstuk 4 het tot hierdie beskouing gelei?
9 Hoe het opregte Bybelstudente, wat nou as Jehovah se Getuies bekend staan, 34 jaar voor die tyd geweet dat so ’n verandering in 1914 sou kom? Dit was omdat die “getroue en verstandige dienskneg” (Mattheüs 24:45-47), wat bestaan uit gesalfde Christene wat onder hulle Heer, Jesus Christus, dien, in ooreenstemming met die woorde in Tweede Petrus 1:19 ‘ag gegee het op die profetiese woord soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn’. Uit die profesie in Daniël hoofstuk 4 het hulle geleer dat die omverwerping van die dinastie van koning Dawid in Jerusalem in 607 v.G.J. nie beteken het dat Jehovah nooit weer oor die aarde sou heers nie. Die “boom” van God se koninklike gesag sou weer uitloop. Na “sewe tydperke” of 2 520 jaar, van dierlike, Heidense bewind oor die aarde, sou dit bekend wees dat “die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil, en die nederige onder die mense daaroor aanstel”.—Daniël 4:14-17.
10. Hoe het die Messias se verskyning in 1914 ’n teenstelling gevorm met sy eerste koms?
10 Ja, dit sou in daardie veelbewoë jaar 1914 wees dat die “nederige” wat met sy eerste koms as Messias wreed “uitgeroei [is], . . . sonder iets vir Hom” weer sou verskyn. Maar hierdie keer kom Christus onsigbaar, met hemelse heerlikheid, vergesel van al die heilige engele, om “op sy heerlike troon [te] sit”.—Daniël 9:26; Mattheüs 25:31.
Die “geslag” van 1914
11. (a) Watter “geslag” sal nie verbygaan voordat die dinge wat Jesus voorspel het, plaasvind nie? (b) Wat kan oorblywende lede van hierdie “geslag” verwag om te sien?
11 Aan die begin van Christus se teenwoordigheid, of parousia, was hy onsigbaar vir mense-oë. Maar daardie geslag van 1914 het beslis gesien wat hier op aarde plaasgevind het as ’n “teken” van sy teenwoordigheid en as “’n begin van die smarte” vir die mensdom! (Mattheüs 24:8). En die oorblywende lede van daardie geslag van 1914 praat nog steeds daaroor. Party van hulle sal nog daaroor praat reg tot wanneer die “groot verdrukking” Satan se goddelose stelsel van ons aardbol af uitwis. Want Jesus Christus self verseker ons: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag [die geslag wat die ‘begin van die smarte’ in 1914 gesien het] sal sekerlik nie [heeltemal] verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.”—Mattheüs 24:3, 8, 34, 35.
12. (a) Watter dinge wat van 1914 af plaasvind, moet ons oortuig dat die profesie akkuraat is? (b) Waarin is ons geloof egter geanker? (c) Wat is die kern van die “evangelie”?
12 Die “smarte” wat volgens voorspelling in 1914 sou begin, het die wêreld verbasend skielik getref. En dit teister nog steeds die mensdom! Dit is die oortuigende “teken” dat 1914 die begin van die “voleinding van die wêreld” was. Maar ons geloof is nie bloot op ’n datum, soos 1914, gebaseer nie. Ons geloof is vasgeanker in die hele woord van God, in die “evangelie” wat eers deur Jesus en sy dissipels verkondig is en in die wonderlike vervulling van soveel Bybelprofesieë in ons dag, veral dié wat van toepassing is op die “getroue en verstandige dienskneg” en sy medewerkers en wat hierdie klasse identifiseer. Dit is “hierdie evangelie van die koninkryk” die hele boodskap van die Bybel, wat die grondslag van ons geloof vorm. En die middelpunt hiervan is Jesus Christus, God se Seun, wat hy na die aarde gestuur het om die mensdom vry te koop en wat nou in heerlikheid in die opgerigte koninkryk van die hemele regeer (Mattheüs 24:3, 14, 45-47; 25:31-33; Openbaring 19:10). Omdat ons geloof het, kan ons besef hoe die Koninkryk gaan “kom” tot redding van almal wat geregtigheid liefhet en doen. Hoe sal dit kom?
[Voetnote]
a Kyk “Let Your Kingdom Come” bladsye 58-66, vir ’n volledige bespreking van hierdie tydaspek.
b Die boek 1914, deur James Cameron, uitgegee in 1959.
c Hoofartikel, Seattle se Times, 1 Januarie 1959.
[Prent op bladsy 14]
“SEWENTIG WEKE VAN JARE” (Daniël 9:24-27, AT)
VAN die “uitgang van die woord” van die koning van Persië aan Nehemia in 455 v.G.J.
455 - 1 v.G.J. = 454 jaar
1 v.G.J. - 1 G.J. = 1 jaar
1 G.J. - 36 G.J. = 35 jaar
455 v.G.J. - 36 G.J. = 490 jaar
Die Messias is “uitgeroei . . . gedurende die helfte van die week” April 33 G.J.
TOT die einde van spesiale guns aan die Jode in 36 G.J. met die bekering van Cornelius se huisgesin
[Prent op bladsy 15]
“VASGESTELDE TYE VAN DIE NASIES” (Daniël 4:14-25; Lukas 21:24-26, NW)
Jehovah se soewereiniteit is aan bande gelê toe die Tye van die Nasies in 607 v.G.J. begin het
“SEWE TYDPERKE” = 7x360 = 2 520 jaar
(Kyk Openbaring 12:6, 14; Esegiel 4:6b)
607 - 1 v.G.J. = 606 jaar
1 v.G.J. - 1 G.J. = 1 jaar
1 G.J. - 1914 G.J. = 1 913 jaar
607 v.G.J. - 1914 G.J. = 2 520 jaar
Jehovah se soewereiniteit is in 1914 G.J. in die Messiaanse koninkryk herstel