Dit is nou die tyd om die Woord te verkondig
“Hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.”—Handelinge 5:42.
1, 2. (a) Van watter eerste-eeuse resultate van die Koninkryksprediking het ons ’n verslag in die Bybel? (b) Hoe het Jesus in Mattheüs 28:19, 20 en Handelinge 1:8 getoon dat prediking die werk van sy volgelinge sou wees?
NA DIE uitgieting van die heilige gees op Pinkster is Jesus Christus se volgelinge met krag en moed vervul om aan te hou om die evangelie oor die Christus, Jesus, aan ander te leer en te verkondig. Wat was die resultate in daardie eerste eeu? Ons word meegedeel dat baie van diegene wat na Jesus se volgelinge geluister het, gelowiges geword het. Trouens, die getal manne wat geglo het, was ongeveer 5 000 (Handelinge 4:4). Die Bybelverslag sê op ’n ander plek dat gelowiges in die Here voortdurend bygevoeg is, menigtes van manne sowel as vroue.—Handelinge 5:14.
2 Kort na Pinkster was daar letterlik duisende wat gelowiges geword het omdat Jesus se volgelinge aangehou het om vir mense die evangelie oor Christus te leer. Dit is aangrypend om te lees van die werksaamhede van diegene wat die “evangelie” in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling verkondig het kort na Jesus se dood en opstanding en die uitgieting van die heilige gees om so ’n grootse werk te verrig. Ons getroue broers en susters van die eerste eeu was voorwaar werkers, harde werkers, wat die werk gedoen het wat die Here Jesus Christus aan hulle opgedra het.—Mattheüs 28:19, 20; Handelinge 1:8.
3, 4. (a) Wanneer in ons dag was alles gereed vir ’n herlewing van die predikingswerk? (b) Wat het Jehovah gedoen om te sorg dat sy werk gedoen word ondanks die valse Christendom se pogings om die Koninkrykspredikingswerk te dwarsboom, en met watter resultate gedurende ’n uiters beroerde tyd in mensegeskiedenis?
3 Is dit enigsins anders gesteld in die 20ste eeu? Kom ons ondersoek die feite. Hou die volgende in gedagte oor die eerste eeu en die begin van die Christelike godsdiens: Dit het met een man, die Here Jesus Christus, begin. In die kort tydperk van drie en ’n halfjaar het dit so vinnig versprei dat sy godsdiensteenstanders gesê het: “Kyk, die hele wêreld loop agter Hom aan” (Johannes 12:19). In ons dag, veral teen die einde van die 19de eeu, het die tyd nader gekom vir Jehovah se groot oeswerk deur Christus Jesus om te begin (Mattheüs 13:24-30, 36-43). Die valse Christendom het al eeue lank bestaan, maar in plaas daarvan om die lig van die waarheid in verband met die evangelie oor Christus Jesus en die koninkryk waarvoor Christene bid en waarna hulle uitsien, te bevorder, het sy daardie lig met haar talle valse leerstellings weggesteek. Maar Jehovah se voorneme sou nie gedwarsboom word toe die tyd nader gekom het vir sy Seun om Koninkryksmag aan te neem nie. Deur middel van ’n groep opregte Bybelstudente het Jehovah se gees begin om insig te gee aan diegene wat geregtigheid liefhet en waarlik sy wil en werk wou doen. Die resultate sedert daardie vroeë dae is aangrypend, net soos dit in die eerste eeu die geval was. Daar word geraam dat daar tot 4 000 was wat hulle hoop teen die einde van die 19de eeu in die openbaar verkondig het.
4 Ons vind dat Jehovah oor ’n tydperk van sowat 80 jaar sedert die jaar 1900 deur die beroerdste tyd in mensegeskiedenis voortgegaan het om die geledere van daardie bedienaars wat die goeie nuus oor die Christus en sy koninkryk verkondig, te laat aangroei. (Vergelyk Handelinge 16:5.) En die 1981-diensjaar van Jehovah se Getuies het vir die Koninkryksverkondigers oor die hele wêreld baie seëninge meegebring.
Wat gebeur het
5. (a) Hoe het Jehovah se Getuies en belangstellende in 1981 getoon dat hulle in die herdenking van die Here se Aandmaal belangstel? (b) Hoeveel van diegene wat dit bygewoon het, het gedurende die jaar die Koninkryk in die openbaar verkondig?
5 As ons eers kyk na die belangrikste dag op die Christelike kalender, die viering van die Here se Aandmaal ter herdenking van Christus se dood, sien ons dat daar 5 987 893 op Sondag, 19 April 1981 (14 Nisan, Joodse kalender) in 43 870 gemeentes dwarsoor die wêreld byeengekom het vir hierdie viering. Hierdie miljoene het ’n bespreking gehoor oor die ware en akkurate betekenis van die Here se dood soos in die Bybel geleer word. Gedurende die 1981-diensjaar het 2 247 486 van daardie getal dwarsoor die wêreld gereeld die goeie nuus van die Koninkryk in 206 lande en eilande verkondig en ander geleer. En daar was ’n hoogtepunt van 2 361 896 Getuies wat die een of ander tyd gedurende die jaar ’n aandeel in hierdie God-gegewe bediening gehad het. Wat het hulle bereik? Tot watter mate slaag hulle boodskap daarin om mense te help? Kom ons kyk.
Die Woord word uitgedra
6. (a) Wie se godsdiensleerstellings het denke in Sentraal- en Suid-Amerika eeue lank oorheers, en watter toestand het dit meegebring? (b) Watter verandering vind egter in hierdie lande plaas?
6 Rooms-Katolisisme het Sentraal- en Suid-Amerikaanse denke eeue lank oorheers, met die gevolg dat die massas baie min waardering vir die ware leerstellings van die Bybel het (2 Korinthiërs 4:4). Sonder die kennis van Christus Jesus en die goeie nuus van die Koninkryk is die mense gestroop en mishandel, baie soos die toestand wat Jesus onder die Jode van sy dag gesien het toe hulle onder die tirannie van die skrifgeleerdes en Fariseërs was (Mattheüs 9:36, vgl. NW). Maar as gevolg van God se seën op die 20ste-eeuse predikingswerk van Jehovah se Getuies in hierdie Latynse lande is ’n wonderlike verandering besig om plaas te vind. Namate die lig helderder geskyn het in die geestelike duisternis wat die aarde oordek, is duisende opregte persone na Jehovah se organisasie gelei.—Jesaja 60:1, 2, 8.
7. Beskryf die goeie ondervinding van ’n twaalfjarige dogtertjie in Argentinië.
7 Bybelwaarheid het ’n groot uitwerking op persone van alle ouderdomme en help hulle om hulle standpunt vir Jehovah se koninkryk in te neem (Psalm 119:129, 130). ’n Twaalfjarige ongedoopte verkondiger in Argentinië het vertel van die groot vreugde wat sy daaruit put om agt tuis-Bybelstudies te hou. Sy het geskryf: “Veral gedurende die vakansie wy ek soveel tyd moontlik aan die huis-tot-huiswerk, herbesoeke en Bybelstudies. Dit maak my baie gelukkig en dit is vir my ’n groot voorreg om deur Jehovah gebruik te word om baie mense te help om hom as die ware God te leer ken. Ek bid dat ek altyd hierdie voorreg mag hê.” Sy beplan om binnekort gedoop te word en haar doel is om ’n pionier te word. En dit ’n twaalfjarige dogtertjie! Watter goeie invloed het die Woord van God tog op ons denke!
8. Watter wonderlike vermeerdering ln die aantal Koninkryksverkondigers was daar sedert 1945 in Sentraal- en Suid-Amerika?
8 In 1945, aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog wat groot verwoesting op die aarde aangerig het, was daar 4 720 persone in die hele Sentraal- en Suid-Amerika, Mexiko inkluis, wat die goeie nuus van die Koninkryk verkondig het. Gedurende die 1981-diensjaar het ’n hoogtepunt van 373 919 verkondigers die “goeie nuus” in daardie lande verkondig. Die waters van die waarheid is waarlik in daardie verskroeide lande beskikbaar gestel en diegene wat dors het, het wonderlik daarop gereageer.—Vergelyk Johannes 7:37, 38.
9. Wat was die situasie ten opsigte van Koninkryksverkondigers in Europa sedert die begin van die 20ste eeu?
9 Die goeie nuus van die Koninkryk het diep wortels in baie lande van Europa. Die getuies van Jehovah, destyds bekend as Internasionale Bybelstudente, het reeds in die vroeë deel van die 20ste eeu, en in party lande selfs nog vroeër, die Koninkryksevangelie aan die mense verkondig. Die eerste verslag van enige getuieniswerk in Duitsland dateer byvoorbeeld terug na die eeuwisseling. Die Wagtoringgenootskap se eerste president, Charles T. Russell, het Duitsland in 1891 besoek, en daarna is reëlings getref om ’n paar boeke en traktaatjies in Duits te druk. Die eerste Duitse gemeentes is kort na 1901 in Duitsland gestig.
10. Watter ondervinding uit Duitsland toon dat die huis-tot-huisbediening steeds doeltreffend is?
10 Tot vandag toe vind Jehovah se volk in Duitsland dat die huis-tot-huiswerk die doeltreffendste manier is om die goeie nuus van Jehovah se koninkryk na die mense te bring (Lukas 9:1-6). Nadat daar vir een egpaar in die huis-tot-huiswerk getuig is, het 12 tot 14 persone vir ’n tuis-Bybelstudie vergader. Die familie het later na Australië geëmigreer, en daar het die hele familie, met die uitsondering van een getroude dogter, voortgegaan om saam met Jehovah se Getuies te studeer. Die moeder en vader is sedertdien gedoop.
11. Hoe voel ’n bejaarde, gebreklike getuie van Jehovah in Wes-Berlyn oor haar bediening?
11 ’n Kommentaar van een 84-jarige suster in Wes-Berlyn wat hulppionierdiens doen ondanks die feit dat sy baie gebreklik is, gee ’n mens ’n idee van haar waardering vir die waarheid en die nodigheid om nou die Woord van God te verkondig. Sy het gesê: “Ek het Jehovah so lief dat ek eenvoudig velddiens moet doen en vergaderinge moet bywoon om dit vir hom te bewys.”—Vergelyk Psalm 122:1.
12. (a) Tot watter mate het Italië in die besonder sedert 1945 die Koninkryksevangelie gehoor? (b) Watter bemoedigende inligting het ons oor die Koninkrykswerk ln Italië, Portugal en Spanje?
12 In Italië, waar die Rooms-Katolieke Kerk eeue lank die mense se godsdienslewens oorheers het, het die gebeure van afgelope jare die werk van Jehovah se Getuies soos nog nooit tevore nie op die voorgrond geplaas. Van ’n handjievol, nagenoeg 90, in 1945, het Jehovah se Getuies aangewas tot die tweede-grootste godsdiensorganisasie in Italië (Jesaja 60:22). Vir die 1981-diensjaar het die tak aldaar ’n hoogtepunt van 90 553 Koninkryksverkondigers berig. Die tyd is nou ryper as ooit tevore vir die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk in Italië en ander Latynse lande van Europa. Soos reeds gemeld, was daar in 1945 nagenoeg 90 verkondigers in Italië, maar daar is geen verslag dat enige getuies van Jehovah die Koninkryksevangelie daardie jaar in Spanje en Portugal verkondig het nie. Maar in 1981 was daar altesaam 159 972 verkondigers in hierdie drie lande. Jesus het gesê: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min.”—Mattheüs 9:37.
Die oeswerk elders
13. (a) Wat toon die verslae oor die verkondiging van die “goeie nuus” op die vasteland van Afrika? (b) Watter ondervinding toon dat die tyd inderdaad ryp is vir die insameling van nog liefhebbers van geregtigheid?
13 In baie dele van Afrika het derduisende gereageer op die boodskap van waarheid wat Jehovah se getroue getuies gedurende die 20ste eeu daar verkondig het. In party plekke soos Nigerië, Suid-Afrika, Zambië, Zimbabwe en Malawi is sade van waarheid reeds in 1923 tot 1927 gesaai, terwyl die boodskap eers hier tussen 1962 en 1970 Koninkryksverkondigers opgelewer het in lande soos Mali, Mauritanië, Opper-Volta en Rwanda. Dit is beslis ’n geleë tyd om alles in ons vermoë te doen om dorstiges te help om na die waters van waarheid te kom voordat Jehovah sê dat die werk gedaan is. In Zambië het ’n spesiale pionier die hoofman van ’n stat wat groot belangstelling in die Koninkryksboodskap getoon het, besoek. Die hoofman het ander genooi om na die bespreking te kom luister, met die gevolg dat altesaam 18 persone die boodskap van die spesiale pionier gehoor het en ’n aantal tuis-Bybelstudies begin is. In ’n kort tydjie het die ledetal van die plaaslike gemeente van 65 tot 86 verkondigers toegeneem. Daar is vandag baie min plekke op die vasteland van Afrika waar geen getuies van Jehovah die “goeie nuus” verkondig nie.
14. Watter interessante ondervinding het volgens berig plaasgevind op die eilande van die Torres-Straat?
14 Die rapporte vir die afgelope jaar uit ander dele van die wêreld vertel van seëninge en vooruitgang. Naby die noordelikste puntjie van Australië lê die eilande van die Torres-Straat. Daar is 100 eilande in hierdie groep, waarvan 20 bewoon word. Op een van hierdie eilande, Thursday-eiland, is daar ’n florerende gemeente van Jehovah se Getuies. ’n Kringopsiener en twee broers van Thursday-eiland het een van die ander eilande genaamd Sue besoek waar hulle hartlik verwelkom is. Die eiland se voorsitter, soos hy genoem word, het die broers soontoe genooi omdat hy belangstel in die waarheid van die Bybel en die werk van Jehovah se Getuies, daar hy publikasies van Jehovah se Getuies besit. Hoe verbaas was die broers om uit te vind dat hierdie voorsitter baie streng was wat die eilandbewoners se sindelikheid en netheid asook hulle gedrag betref. Hy reël gereeld geestelike omgang vir die mense. Tydens die besoek van die broers het hulle geluister na liedere wat by een van hierdie samekomste gesing is en waarvan die woorde uit party van die Wagtoringgenootskap se publikasies geneem is. Hulle het vir ’n gehoor van sowat 40 ’n toespraak gehou en hulle aangespoor om voort te gaan met hulle studie van die Bybel met behulp van die Genootskap se publikasies.
Die wêreldwye getuienis
15. Wat is dus steeds die verantwoordelikheid van Jehovah se bedienaars van die Koninkryk?
15 Hoe dikwels het ons tog al Jesus se woorde in Mattheüs 24:14 aangehaal: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom”! Jehovah se getroue knegte lewer die Koninkryksgetuienis deur woord en daad. Wanneer ’n voldoende getuienis gelewer is—Jehovah God sal bepaal wanneer—sal die einde kom. Ons toewysing is dus steeds om aan te hou getuig oor die grootste gebeurtenis wat die wêreld ooit sal sien, die koms van Jehovah se koninkryk in die hande van sy heersende Koning, ons Here Jesus Christus.
16. (a) Watter statistiek word aangegee om te toon dat Jehovah se Getuies besef dat dit nou die tyd is om die Woord te verkondig? (b) Watter persoonlike vraag word gevolglik aan elk van ons gestel?
16 In 206 lande en eilande van die wêreld het 2 361 896 verkondigers van die Koninkryksevangelie die afgelope jaar 358 581 547 uur gewy aan die verkondiging van hierdie opwindende boodskap. Hulle het 1 475 177 tuis-Bybelstudies gehou en het 31 444 062 boeke en boekies en 234 163 921 eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! dwarsoor die aarde versprei. Dit, tesame met die groot getuienis wat gedurende die baie jare van die 20ste eeu gelewer is, lewer oorvloedige bewys van die begeerte van Jehovah se volk om uitvoering te gee aan hulle opdrag om ‘die blye boodskap te bring aan die ootmoediges, om die gebrokenes van hart te verbind, om vrylating vir die gevangenes uit te roep, om die jaar van die welbehae van Jehovah en die dag van die wraak van onse God uit te roep en om al die treurendes te troos’ (Jesaja 61:1, 2). Het jy NOU ’n aandeel in die verkondiging van die Woord van God en sy beloofde koninkryk?
17. Watter verdere blyk van Jehovah se seën word vervolgens bespreek?
17 In die 1981-diensjaar het 119 836 persone aangesluit by die geledere van diegene wat hulle lewens aan Jehovah toegewy en dit deur waterdoop gesimboliseer het. Ons verwelkom hulle almal in die Christelike broederskap. As jy die bygaande tabel in hierdie tydskrif oor die Koninkrykspredikingswerk van Jehovah se Getuies in die 1981-diensjaar raadpleeg, sal jy sien dat derduisende in die Ooste en die Weste gekom het na die waters van die lewe en van die waarheid wat in die Woord van God voorsien is, en hierdie persone het ook begin om die evangelie van die Koninkryk te verkondig.
18. Hoe raak die feit dat die tyd daagliks korter word die belangrikheid van ons predikingswerk, en wat moet dus ons voorneme wees?
18 Die tyd wat vir hierdie goddelose stelsel oorbly, word daagliks korter, en dit beteken dat ons geleenthede om die “evangelie” te verkondig al hoe belangriker word. Mag ons ons elke dag ywerig inspan om te bewys dat ons getroue volgelinge van Jesus is wat probeer om sy lewensweg as ’n voorstander van reine aanbidding na te volg. Mag die ywer vir Jehovah se huis, sy reine en skoon aanbidding, ons net soos getroue Dawid laat vasstaan in ons onkreukbaarheid en laat aanbly in die geledere van die Koninkryksverkondigers totdat Jehovah sê dat die werk gedaan is.—Psalm 69:10.
[Venster/Prent op bladsy 23]
Toename in die aantal predikers van die Woord in SENTRAAL- en SUID-AMERIKA—
1945 . . . 4 720 verkondigers
1981 . . . 373 919 verkondigers
[Venster/Prent op bladsy 24]
Vermeerdering in die aantal Koninkryksverkondigers in SPANJE, PORTUGAL en ITALIË—
1945 . . . 90 verkondigers
1981 . . . 159 972 verkondigers
[Venster/Prent op bladsy 25]
Vermeerdering in die aantal Getuies in AFRIKA—
1945 . . . 19 083 verkondigers
1981 . . . 300 989 verkondigers
[Tabel op bladsye 26-29]
WÊRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 1981-DIENSJAAR
(Sien publikasie)