Voorwaarts, bedienaars van die Koninkryk!
“Doen die werk van ’n evangelis; vervul jou bediening.”—2 Timotheüs 4:5.
1. Wat is die kontras tussen die geestelike toestand van Babilon die Grote en dié van Jehovah se Getuies?
IN BAIE lande het die geestelike weivelde van valse godsdiens vandag verdor en is die water waarop Babilon die Grote sit, besig om op te droog. Dit herinner ons aan een van Jesaja se profesieë wat in ons dag vervul word, naamlik die een in Jesaja 65:13: “Kyk, my knegte sal eet, maar julle sal honger bly; kyk, my knegte sal drink, maar julle sal dors wees; kyk, my knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan.” Dit is so omdat Jehovah se volk inderdaad eers die Koninkryk soek en alles in hulle vermoë doen om toe te sien dat die goeie nuus van God se koninkryk in die hande van sy Koning-Seun, Christus Jesus, oor die hele aarde verkondig word.—Openbaring 14:6-8; 16:12; 17:5, 15, vgl. NW.
2. Wie staan onder verpligting om as bedienaars van die Koninkryk voorwaarts te gaan?
2 Die gebiedende oproep in ons dag is: Voorwaarts, bedienaars van die Koninkryk!’ Om as ’n liggaam volgelinge van ons Here Jesus Christus op hierdie oproep ag te slaan, staan al Jehovah se Getuies, diegene in posisies van toesig, asook alle ander, manne, vroue, jong seuns en dogters, onder verpligting om die koninkryk van God te verdedig (Psalm 145:10-12; 148:12, 13; 2 Timotheüs 4:2, 5). Dit is die geval selfs al kan party, weens omstandighede, nie soveel soos ander doen nie. Hulle bedrywigheid laat ’n mens egter dink aan die weduwee wat alles gegee het wat sy gehad het, al was dit net twee geldstukkies met min waarde.—Lukas 21:1-4.
3. Tot watter mate het die mensdom vandag die goeie nuus van die Koninkryk nodig, en wat sluit die Koninkryksboodskap in?
3 Het die mensdom vandag die Koninkryk nodig? O, hoe het hulle tog die Koninkryk nodig! Hulle het dit nie alleen nodig om ’n einde te maak aan pyn, siekte, droefheid en die dood nie, maar ook om ’n einde te maak aan alle ongeregtigheid, alle goddeloosheid, alle misdadigheid, geweld en oorlog, ja, om ’n einde te maak aan alle onreg, alle diskriminasie (Jesaja 9:6). As ons as bedienaars van die Koninkryk voorwaarts beweeg, gee ons mense iets waarop hulle kan hoop, iets wat hulle sal onderskraag totdat Armageddon ’n einde aan Satan se stelsel maak. Weens die vermeerdering van ongeregtigheid moet ons voorwaarts beweeg, nie alleen met ’n boodskap van liefde en hoop nie, maar ook met ’n waarskuwende boodskap oor die “dag van die wraak van onse God”.—Jesaja 61:2.
4. Wat behoort die vernaamste beweegrede te wees wat ’n mens ’n bedrywige bedienaar van God se koninkryk maak?
4 Maar hoe kan ons, in ’n wêreld vol verkeerde beweegredes en ’n heersende gees van eiebelang, voortgaan met ’n gees van selfopoffering as bedienaars van God vir die wêreld? Eerstens, in die lig van die goedertierenheid wat Jehovah aan ons betoon het, moet dit ons begeerte wees om voorwaarts te beweeg uit liefde vir hom, uit waardering vir alles wat hy gedoen het, steeds doen en nog vir ons gaan doen. Soos die apostel Johannes ons herinner, is dit die liefde tot God dat ons sy gebooie bewaar, en een van sy gebooie is om die goeie nuus van sy koninkryk te verkondig (Mattheüs 24:14; 1 Johannes 5:3). Jehovah God kry boonop die skuld vir die mensdom se probleme en word belaster as ’n God wat mense vir ewig folter. Liefde vir Jehovah, ons liefdevolle hemelse Vader, sal ons beslis beweeg om as sy bedienaars voorwaarts te gaan en te help om sy naam van sulke bose lastering te suiwer.
5. Watter bykomende beweegrede het ons om ons as God se bedienaars voorwaarts te laat gaan?
5 Liefde vir ons medemens sal ons ook voorwaarts laat beweeg as bedienaars van God se koninkryk. Liefde vir ons naaste sal maak dat sy geestelike belange, sy ewige welsyn, voorkeur geniet bo ons stoflike genietinge. Liefde sal ons beweeg om ons gebied herhaaldelik te dek en dit deeglik te doen. Liefde sal ons aanspoor om herbesoeke te doen en om die verpligting te aanvaar om weeklikse tuis-Bybelstudies saam met liefhebbers van waarheid te hou. Dit beteken dat ons vriendelik, lankmoedig, sagmoedig, taktvol en medelydend wil wees en empatie wil betoon.
6. Hoe sal dit ons van vreugde beroof as ons ons bediening verwaarloos?
6 Glo ons werklik God se Woord? Dit sê vir ons: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). As ons velddiens verwaarloos, toon ons deur ons dade dat ons nie werklik daardie woorde van Jesus glo nie. Ons word ook verseker dat ‘ons volop sal maai as ons volop saai’, dat ‘die siel wat seën, versadig sal word’, en dat ‘hy wat laaf, self ook gelaaf sal word’. Dit is nie blote gemeenplase nie, maar onontkombare waarhede en beginsels wat ons liefde vir Jehovah God en vir ons naaste en ons lojaliteit aan God se koninkryk op die proef stel.—2 Korinthiërs 9:6; Spreuke 11:25.
7. Hoe kan ’n persoon bewys dat hy vry van die bloed van almal is?
7 Maar dit is nie net ander se lewens wat op die spel is nie. Ons moet as bedienaars van God se koninkryk voorwaarts gaan om vry van bloedskuld te wees. Onthou die woorde in Esegiel 33:2-4: “Mensekind, spreek met die kinders van jou volk en sê vir hulle: As Ek die swaard oor ’n land bring, en die mense van die land neem ’n man uit hulle kring en stel hom as wag vir hulle aan, en hy sien die swaard aankom oor die land en blaas met die basuin en waarsku die mense—as dan iemand die geluid van die basuin hoor, maar hom nie laat waarsku nie, en die swaard kom en neem hom weg, dan is sy bloed op sy hoof.” Ons wil kan sê wat die apostel Paulus gesê het, naamlik “dat ek rein is van die bloed van almal”.—Handelinge 20:26, 27.
Hoe die bediening vervul word
8. Watter vrae word tereg gestel oor hoe hierdie bediening vervul word?
8 Maar hoe moet ons voorwaarts beweeg? In ons eie krag? Met ’n trotse, selfversekerde houding? Met vertroue in die arm van vlees? Of gaan ons na die ander uiterste oorhel deur skugter en halfhartig te wees terwyl ons blyke van mensevrees gee? Sal ons onafhanklik voorwaarts gaan en die leiding van ons voorgangers ignoreer? Beslis nie! Daar is veral drie punte wat ons in gedagte moet hou:
9. (a) Hoe trek ’n mens in die krag van Jehovah in die bediening uit? (b) Watter leiding gee 1 Petrus 3:15 ons aangaande ons gedrag in die bediening?
9 Die eerste is: Ons gaan voorwaarts as bedienaars van God se koninkryk in die krag van Jehovah God terwyl ons op sy gees staatmaak om ons aan te spoor, te verlig en te versterk. As ons in die krag van Jehovah uittrek, kan ons daardie vrymoedigheid, daardie rondborstigheid, daardie moed aan die dag lê wat Petrus en Johannes geopenbaar het in hulle handelinge met die godsdiensleiers van hulle dag (Handelinge 4:13). Ons wil terselfdertyd sorg dat ons ons boodskap met sagmoedigheid en diepe eerbied aanbied.—1 Petrus 3:15, vgl. NW.
10. (a) Wat beteken dit om ’n ‘rein draer’ van Jehovah se boodskap te wees? (b) Wat is Filippense 1:10, 11 se raad in hierdie verband?
10 Die tweede is: Ons wil voorwaarts gaan as rein draers van Jehovah se boodskap in ooreenstemming met wat ons in Jesaja 52:11 lees: “Reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die HERE!” Jehovah se hedendaagse voorwerpe, die kosbare waarhede van sy Woord, is rein, suiwer, mooi en regverdig. Almal wat hulle na die mense dra, moet hulself dus moreel rein en geestelik mooi hou. Ons nooi mense mos om hulself sedelik te reinig en die werke van die vlees te staak, en ons ‘roep sondaars tot bekering’, net soos Jesus gedoen het, nie waar nie? (Lukas 5:32). Moet ons dan nie vir hulle ’n goeie voorbeeld op hierdie gebied stel nie? Onthou, Paulus het die Christene in Filippi vermaan “om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand ’n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus, vervul met die vrug van geregtigheid wat daar is deur Jesus Christus tot heerlikheid en lof van God”.—Filippense 1:10, 11.
11. (a) Hoe belangrik is persoonsversorging vir ’n bedienaar van God? (b) Wie se goeie voorbeeld behoort ons in hierdie opsig te kan volg?
11 Die derde is: Wanneer ons voorwaarts gaan, moet dit altyd ons begeerte wees om behoorlik versorg te wees. Dit is moeilik om te begryp waarom enige kneg van Jehovah die modes eie aan die onsedelike, opstandige elemente van die Duiwel se wêreld wil navolg. Waarom probeer om soos die wêreld te wees as jy vir mense sê dat dit binnekort gaan eindig as gevolg van die regverdige dade van God? Waarom probeer om soos die wêreld te wees en gevolglik opvallend anders onder Jehovah se volk wees? Moet ons nie liewer soos Jehovah se volk lyk en aldus opvallend anders as wêreldlinge wees nie? Wie probeer ons behaag? Wie se guns streef ons na? Laat jou gerus lei deur die behoorlike kleding en persoonsversorging van die ryp broers en susters onder ons in die gemeentes. Kan ons nie ’n wenk vat en hulle goeie voorbeeld volg nie?—1 Timotheüs 2:9; 1 Petrus 3:3, 4, 16, 17.
12. Watter voordele hou die huis-tot-huisbediening in vir diegene wat daaraan deelneem, al is dit moeilik?
12 Dit is weliswaar vir party nie maklik om met die goeie nuus van God se koninkryk van huis tot huis te gaan nie. Maar daar is al herhaaldelik getoon hoe waardevol en effektief dit is (Mattheüs 10:7, 11-13; Handelinge 20:20, 21). Omdat ons die huis-tot-huismetode van prediking so goed benut, het dit die kenmerk van Jehovah se ware knegte geword. En dit is nie alleen ’n doeltreffende manier om vir ander te getuig nie, maar die huis-tot-huiswerk strek almal wat daaraan deelneem tot groot voordeel. Die blote feit dat ’n mens se vlees daarvan terugdeins, maak dit ’n oorwinning elke keer wanneer ’n Christenbedienaar daaraan deelneem.—1 Korinthiërs 9:16, 27.
Versorging van en toesig oor die gesin
13. Watter verantwoordelikheid, benewens ’n mens se verpligtinge as bedienaar, rus op baie, en watter balans verg dit?
13 Benewens ons verpligting om bedienaars van die Koninkryk te wees, is daar nog ’n verantwoordelikheid wat op diegene met gesinne rus. Voorwaarts bewegende bedienaars van die Koninkryk met gesinne moet, uit hoofde van hulle Godgegewe rol as ouers, hulle eie kinders leer. Elke jaar is ’n aansienlike aantal van diegene wat gedoop word jongmense wie se ouers hulle “in die tug en vermaning van die Here” grootgemaak het (Efesiërs 6:4). Ongelukkig het party hierdie verpligting en geleentheid tot hulle groot verdriet verwaarloos. Dit verg beslis balans om voorwaarts bewegende bedienaars te wees. Ons wil nie die huis-tot-huiswerk verwaarloos met die verskoning dat ons informele getuieniswerk doen nie; en ons wil ook nie geleenthede vir informele getuieniswerk deur die vingers laat glip net omdat ons van huis tot huis gaan nie. Ouers moet eweneens nie toelaat dat velddiens of gemeentelike verantwoordelikhede en ander pligte soveel van hulle tyd in beslag neem dat hulle hulle gesinne verwaarloos nie. Dit is immers hulle eerste verpligting om aandag aan die gesin se geestelike en materiële behoeftes te skenk.—1 Timotheüs 5:8.
14. (a) Hoe kan ouers die tyd, sorg en geld wat hulle in hulle kinders se opvoeding belê het, verloor? (b) Waaraan het kinders van kleins af behoefte totdat hulle jong volwassenes is?
14 Ja, kinders verg tyd, aandag en geld. Daar is al geraam dat dit duisende rande kos om ’n kind groot te maak. ’n Gewisse manier om daardie belegging van geld, sowel as tyd, te verloor, is deur nie behoorlike geestelike toesig te hou oor diegene aan wie ons die lewe skenk nie. Die buitengewoon groot oes jeugmisdadigers getuig vandag van die feit dat die meeste ouers hulle kinders aan hulself oorlaat (Spreuke 29:15). Ouers, familielede en ander maak dikwels ’n groot ophef van babas en klein kindertjies. ‘Hoe oulik is hulle tog! Hoe pragtig is hulle tog! Mamma se dogtertjie, en Pappa se seuntjie!’ Dit is miskien heeltemal waar. Maar ouers moet onthou dat namate hierdie kinders tienderjariges en daarna volwasse manne en vroue word, hulle nog steeds sorg en aandag, liefde en dissipline, geestelike opleiding en onderrig nodig het (Deuteronomium 11:18-21). Dit is die ouers se Christelike verantwoordelikheid. Bedienaars van God sal nie hierdie verpligting wat op hulle skouers rus, vergeet nie.
Die aardwye eenheid van God se bedienaars
15, 16. (a) Hoe kan ons sorg dat die Koninkryksboodskap wat ons verkondig ’n duidelike wekroep is vir diegene wat dit hoor? (b) Watter hulp het ons om dwarsoor die aarde eenstemmig te wees?
15 Beskou nog ’n verantwoordelikheid van Christenbedienaars. “As die basuin ook ’n onduidelike klank gee, wie sal klaarmaak vir die oorlog?” (1 Korinthiërs 14:8). Met daardie woorde het die apostel Paulus ’n beroep op volgelinge van Christus gedoen om hulle tonge so te gebruik dat ander kon verstaan wat gesê word. As die boodskap oor die Koninkryk wat ons verkondig in ons dag ’n duidelike wekroep tot die mensdom moet wees, dan moet ons noodwendig eenstemmig wees. Jesaja 52:8 (NW) sê: “Luister! Jou wagte het hul stem verhef. Eenstemmig bly hulle vreugdevol uitroep.” Dit verg nederigheid en broederliefde om saam met ander so ’n verenigende geroep te laat hoor. Ons weet dat ons almal dieselfde boodskap moet verkondig en Jehovah se naam, sy wysheid en liefde en sy koninkryk as die mensdom se enigste hoop moet beklemtoon as ons wil hê dat ons getuieniswerk doeltreffend moet wees. In 1 Korinthiërs 1:10 het Paulus ons vermaan om almal eenstemmig te wees.
16 Ons moet nie toelaat dat ons boodskap deur enige onduidelikheid gedemp word nie. Ons het die bevel as bedienaars van God. Jesaja 61:1, 2 sit ons boodskap duidelik uiteen. Jehovah se getroue en verstandige dienskneg laat geen steen onaangeroer om ons te help om met ’n verenigde stem te spreek nie en publiseer Bybels en Bybelhulpe in ’n mag der menigte tale sodat mense bereik kan word met ’n boodskap wat hulle kan verstaan. Ons kan ons deel doen deur te probeer om die “goeie nuus” as ’n verenigde liggaam aanbidders van Jehovah te verkondig.—Psalm 66:1, 2; 68:12.
Sal ons die tyd daaraan afstaan?
17. Watter eerlike selfondersoek moet ons doen ten opsigte van ons aandeel in die bediening?
17 Is dit, waar dit kom by ons persoonlike pogings om voorwaarts te gaan, dalk vir ons moontlik om meer tyd aan ons bediening te wy? Elkeen van ons wat ’n gesonde gemeenteverkondiger is en wat nie die verpligting het om kinders groot te maak of vir bejaarde ouers te sorg nie, kan homself gerus afvra: Wat verhinder my om in die voltydse diens te wees? Is dit omdat ek nie ten volle besef hoe belangrik die Koninkryksbediening is nie? Is dit omdat ek nie selfopofferend is nie? Kan jy, as dit vir jou onmoontlik is om ’n gewone pionier te wees, plek vir die hulppionierdiens in jou lewe inruim? As jy dit kan doen, sal jy beslis voorwaarts beweeg as ’n Christenbedienaar. Eerlike selfondersoek sal vir jou toon presies hoeveel jy as persoon kan doen om elke maand meer tyd te wy aan die bevordering van die belange van die Koninkryksregering van ons hemelse Vader en sy Seun.—Psalm 26:1, 2, 11, 12; Markus 12:28-34.
18. Wat sal ons help om ’n goeie verhouding met Jehovah en Jesus Christus te behou?
18 Jehovah God en Jesus Christus het vir ons die voorbeeld gestel deur vorentoe te kyk en voorwaarts te beweeg. As elkeen van ons dit ook wil doen, het ons in die eerste plek ’n goeie verhouding met Jehovah God nodig. Probeer ons hard om ’n goeie gewete te behou en raak ons nooit onverskillig ten opsigte van enigiets wat ons gewete kan besoedel nie? Benut ons die kosbare voorreg van gebed en volhard ons daarin? (Romeine 12:12). Staan ons tyd aan persoonlike studie en bepeinsing af? Miskien moet ons ’n paar veranderinge in ons lewenswyse aanbring sodat ons aan hierdie belangriker dinge die aandag kan skenk wat hulle verdien, sodat ons bediening in woord en in daad voorkeur in ons lewe kan geniet.—Efesiërs 4:22-24.
19, 20. (a) Wat is die “woord van God” wat in Hebreërs hoofstuk 4 bespreek word? (b) Hoe is hierdie “woord” lewend en skerper as enige tweesnydende swaard, en waarom gaan ons van die werk wat gedurende die 1981-diensjaar gedoen is, hersien?
19 Dit is ’n genoeë om te berig dat bedienaars van Jehovah die afgelope jaar dwarsoor die aarde besig en bedrywig was in die verkondiging van hierdie goeie nuus van die Koninkryk. Die boodskap het ’n diepgaande en blywende indruk op die lewens van tienduisende persone gemaak. Sulke persone het wonderlike veranderinge in hulle lewens aangebring as gevolg van die hervormingskrag van God se Woord. Daar bestaan geen twyfel dat die boodskap van die “evangelie” lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard is nie (Hebreërs 4:2, 12, 13). En wanneer die woord van God sy goeie werk in die hande van bekwame bedienaars doen, word Jehovah se naam verheerlik en word sy koninkryk as die mensdom se enigste hoop verhoog.—Efesiërs 6:17.
20 Om jou ’n idee te gee van wat Jehovah se Getuies in die 12 maande van die 1981-diensjaar bereik het, gee die volgende artikel ’n uiteensetting van wat in daardie tydperk gedoen is as gevolg van die verenigde pogings van hierdie groepie Christene wat in 206 lande en eilande werksaam is (Spreuke 25:25). Ons is seker dat jy hierdie vlugtige hersiening van die werk van God se bedienaars in hierdie 20ste eeu sal geniet.
[Prent op bladsy 18]
Ons wend ons tot Jehovah om ons vir sy diens te versterk
[Prent op bladys 19]
Behoorlike kleredrag en goeie persoonsversorging is gepas vir Christenbedienaars
[Prent op bladsy 20]
Voorwaarts bewegende bedienaars maak hulle kinders ‘in die tug van Jehovah’ groot
[Prent op bladsy 21]
Bejaarde bedienaars van die Koninkryk gaan steeds voorwaarts