Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 2/15 bl. 20-25
  • Hoe die lig in ons dag verhelder het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe die lig in ons dag verhelder het
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • LIG OP JEHOVAH GOD EN SY WOORD
  • JESUS CHRISTUS EN DIE KONINKRYK
  • CHRISTELIKE VERPLIGTINGE
  • LIG OP PROFESIEË EN GELYKENISSE
  • TEOKRATIESE ORDE
  • Deel een—Flitse van lig—groot en klein
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Ligdraers—Met watter doel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Volg die lig van die wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • ‘Die lig het in die wêreld gekom’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 2/15 bl. 20-25

Hoe die lig in ons dag verhelder het

“Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.”—Spr. 4:18.

1. Watter getuienis van die vervulling van Spreuke 4:18 het ons reeds bespreek?

DIE Bybelverhaal van Genesis tot Openbaring toon dat die pad van Jehovah se knegte inderdaad soos die lig van die môreglans is wat al helderder word (Spr. 4:18). In die dae van Jesus en sy apostels het baie van die profesieë oor die Messias verstaanbaar geword, soos Mattheüs en ander Evangelieskrywers dan ook getuig het. En die uitgieting van God se gees op Pinksterdag en die verkondiging van die “evangelie” aan die nie-Jode het gepaard gegaan met die verdere opheldering van God se Woord.—Hand. 2:14-36; 10:34-43; 15:6-21.

2. (a) Wat verklaar waarom ’n tydperk van duisternis oor die verklaarde volgelinge van Jesus Christus neergedaal het? (b) Wat speel ’n belangrike rol by die skeidingswerk in die oestyd?

2 Maar na die dood van die apostels het ’n tydperk van duisternis geleidelik die verklaarde volgelinge van Jesus Christus verswelg. “Wrede wolwe” het die oorhand gekry (Hand. 20:29, 30). Dit was net soos Jesus in een van sy gelykenisse voorspel het. Hy het die koninkryk van die hemele vergelyk met “’n man wat goeie saad in sy land gesaai het”. Toe het ’n “vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai”. Die onkruid het gevolglik talle, talle eeue lank daardie wêreldwye godsdiensveld oorheers. Maar in die oestyd vind ’n skeidingswerk plaas. Daardie oestyd het nou aangebreek, want “die oes is die voleinding van die wêreld”. Gelukkig is ’n “koring”-klas ware Christene ingesamel. Die feite toon dat immerverhelderende lig op die pad van hierdie Christene ’n belangrike rol speel om hulle te skei van die wettelose “onkruid”, wat op vernietiging afstuur.—Matt. 13:24-30, 36-43.a

LIG OP JEHOVAH GOD EN SY WOORD

3, 4. Watter feite aangaande die Skepper, Jehovah God, het die vroeë Bybelstudente mettertyd besef?

3 In die vroeë sewentigerjare van die vorige eeu het ’n groep opregte, onbevange Bybelstudente begin vergader vir ’n onbevooroordeelde studie van God se Woord. In plaas van die geloofsbelydenisse van die valse Christendom het hulle die geïnspireerde Skrif as hulle rigsnoer gebruik. Die wysheid, redelikheid, harmonie en krag van die Bybel se boodskap het in hulle harte geskyn. Dit het hulle oortuig van die basiese feit dat ’n intelligente Skepper werklik bestaan—iets wat strydig was met die heersende ateïstiese en evolusionêre leerstellings. Hulle kon sien dat “gevolge afdoende oorsake moet hê” en dat “die ontsaglikheid van die skepping, die simmetrie, prag, orde, harmonie en verskeidenheid daarin” van Hom as die groot Ontwerper getuigb (Rom. 1:20). Hulle het ook ’n duidelike begrip van die Skepper se persoonlikheid verkry, dat hy vier hoofkaraktertrekke of basiese eienskappe het, naamlik oneindige wysheid, onbeperkte mag, volmaakte geregtigheid en ongeëwenaarde liefde.—Deut. 32:4; Ps. 62:12; Spr. 2:6, 7; 1 Joh. 4:8.

4 Hulle het boonop mettertyd besef dat God ‘van ewigheid tot ewigheid’ is en dat sy naam Jehovah is (Ps. 83:18, NW; 90:2). Hulle het gesien dat die hoofleerstelling van die valse Christendom—die Drie-eenheidsleer—onredelik sowel as onskriftuurlik is. Die lig van Bybelwaarheid het vir hulle gewys dat God “’n enige Here” is, dat Jesus die Seun van God is (sy eie getuienis staaf dat sy Vader ‘groter as hy is’) en dat God se heilige gees glad nie die derde persoon van die Drie-eenheid is nie, maar ‘God se krag is wat hy gebruik om uiteenlopende resultate mee te behaal’.c—Mark. 12:29; Joh. 14:28; Hand. 2:17, 18.

5. Watter standpunt het daardie liefhebbers van waarheid ten opsigte van die Bybel ingeneem?

5 Met moed en oortuiging het hulle verkondig dat die Bybel God se geïnspireerde Woord is; dat dit redelik is om in die lig van God se hoedanighede te verwag dat die Skepper ’n goddelike openbaring vir die mens se voorligting sal voorsien. Hulle het die Bybel beskryf as “die fakkel van die beskawing en vryheid”. Dit is “die oudste boek wat bestaan; dit het die storms van dertig eeue oorleef. Boonop het “alle ander boeke tesame nie daarin geslaag om die vreugde, vrede en seën aan die sugtende skepping te verskaf wat die Bybel verskaf het nie”.d Hierdie opregte studente het in die onselfsugtige, selfopofferende lewens van die Bybelskrywers duidelike bewys gesien dat hulle beweegredes suiwer was. Kortom, hulle het gesien dat ‘die Bybel ’n redelike en harmoniese verklaring is oor die oorsake van boosheid, en dat dit vertel van die oplossing en die finale uitslag; en dat dit die knegte van Jehovah God rig en versterk’.

JESUS CHRISTUS EN DIE KONINKRYK

6. Watter waarhede het hierdie Bybelstudente aangaande Jesus Christus ingesien?

6 Hierdie opregte Bybelstudente, soos hulle hulself genoem het, het uit die staanspoor die basiese waarhede aangaande Jesus Christus duidelik verstaan. Hy is God se “eniggebore Seun”. Hy het ’n voormenslike bestaan gehad. Hy het sy lewe gegee as ’n “losprys vir almal”. Hy is as ’n gees opgewek en het as ’n gees opgevaar hemel toe, en hy sou as ’n gees terugkeer—die onsigbare Messiaanse koning van God se koninkryk. Christus se wederkoms is inderdaad belangrik: Waarom, hoe en wanneer?—Joh. 3:16; 17:5; 1 Tim. 2:5, 6; 1 Pet. 3:18, NW.

7. Wat het die verhelderende lig aangaande God se koninkryk en die seëninge daarvan geopenbaar?

7 Die immerverhelderende lig het die belangrikheid van Jehovah se koninkryk as die enigste oplossing vir die mensdom se kwale laat duidelik word. Daardie koninkryk bestaan uit Jesus Christus en sy 144 000 metgeselle wat uit die mense vrygekoop is en wat 1 000 jaar lank saam met hom as konings en priesters sal regeer. Op grond van Christus se losprysoffer wek die Koning al die vrygekooptes in die gedenkgrafte op, met die vooruitsig op ewige lewe op ’n paradysaarde. Die Bybel hou gevolglik twee bestemmings vir die lede van die geredde mensdom voor—’n hemelse bestemming vir ’n “klein kuddetjie” Koninkrykserfgename, en lewe op aarde vir Jesus se “ander skape”, wat “’n groot menigte” oorlewendes van die aarde se grootste “verdrukking” insluit, sowel as die talle miljoene wat in die gedenkgrafte is en wat sal uitkom om ewige lewe op die paradysaarde te geniet.—Luk. 12:32; Joh. 5:28, 29; 10:16; Openb. 7:9, 14; 14:1, 4; 20:6.

8. Watter begrip is verkry oor die mensesiel en die toestand van die dode?

8 Die verhelderende lig het ook vir hierdie onbevooroordeelde Bybelstudente geopenbaar dat die leerstellings van die valse Christendom oor die aard van die mensesiel en die toestand van die dode heeltemal verkeerd is! Hulle het duidelik gesien dat Adam ‘’n lewende siel geword het’ toe hy geskape is, en dat hy as ’n siel gesterf en eenvoudig opgehou het om te bestaan toe hy weens ongehoorsaamheid na die aarde teruggekeer het. Ja, hy het teruggekeer tot die stof waaruit hy oorspronklik geneem is. In die dood is daar geen bewustheid, geen werk nie (Gen. 2:7; 3:19; Pred. 9:5, 10). Die “loon van die sonde is die dood”, nie ewige foltering nie. ’n Brandende hel en ’n folterende vaevuur bestaan slegs in die gedagtes van misleide godsdiensbeoefenaars. Dit is omdat die mens by die dood inderdaad ophou om te bestaan dat ’n opstanding nodig is sodat hy by Christus se offerande kan baat vind.—Rom. 6:23.

CHRISTELIKE VERPLIGTINGE

9. Watter standpunt het hierdie verligte Christene ten opsigte van heiligheid ingeneem?

9 Hierdie Christene het ook die dinge wat die Bybel oor ware heiligheid sê ernstig opgeneem. Dit moet nie met skyn-vroomheid of skynheiligheid verwar word nie. Hulle het gesien dat hulle moet lewe volgens Bybelbeginsels soos: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebr. 13:4). Hulle het besef dat hulle nie gebruike soos hoerery, owerspel en homoseksualiteit—wat deur die Bybel veroordeel word—deur die vingers kon sien of onder hulle kon duld nie (1 Kor. 6:9, 10). Hulle moet eweneens alle wetsoortreding vermy, aan die keiser betaal “wat die keiser toekom”, en ook “aan God wat God toekom”. Hulle moet eerlik wees in al hulle handelinge met ander en lewe volgens die Christelike reël: “Soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.”—Matt. 22:21; Luk. 6:31.

10. Watter waarheid het hierdie Christene vroeg reeds oor die Christelike opdrag ingesien?

10 Die vernaamste oogmerk van hierdie Bybelstudente was klaarblyklik om ’n Christelike persoonlikheid aan te kweek. Hulle het ook die nodigheid gesien om vir God en Jesus te getuig. Hulle het besef dat elke Christen onder verpligting gestaan het om die lig na ander te dra nadat hy die lig van waarheid ontvang het. Hulle het die nodigheid gesien om ’n bedienaar van God te wees en ’n mens se lig te laat skyn—deur voorbeeldige Christelike gedrag sowel as deur woorde (Matt. 5:14-16). Trouens, baie vroeg al is ’n oproep gedoen: “Benodig: 1 000 predikers.” Dit was ’n spesiale beroep op diegene sonder gesinsverantwoordelikhede wat die helfte of meer van hulle tyd kon wy aan die verkondiging van die “evangelie” deur middel van die gedrukte bladsy.

11. Watter stappe moes ’n persoon doen om ’n Christenbedienaar te word, en waarom is die onderskeid tussen geestelikes en lekedom verwerp?

11 Om ’n Christenbedienaar te word, moet elkeen God se Woord glo, berou toon, hom bekeer en geloof beoefen in God en Jesus Christus as die mensdom se Verlosser. Die individu moet hom aan God “toewy” om Sy wil te doen en deur onderdompeling in water gedoop word (Hand. 3:19; Matt. 28:19, 20). Omdat hulle almal bedienaars is, het hierdie Christene ’n onderskeid tussen geestelikes en lekedom verwerp. Maar met behulp van God se Woord het hulle die nodigheid gesien om bekwame manne as “ouderlinge” en “diakens” aan te stel om na die behoeftes van elke gemeente om te sien.—Filip. 1:1; 1 Tim. 3:1-10, 12, 13.

12. Watter waarheid aangaande organisasies het hulle mettertyd ingesien, en wat het logies gevolg?

12 Namate die lig steeds verhelder het, het hulle al hoe meer besef hoe belangrik dit is om Jehovah se naam en sy koninkryk as die mensdom se enigste hoop te verkondig. Hulle het ook gesien dat daar net twee organisasies in die heelal is en dat elkeen òf aan God se organisasie òf aan Satan s’n behoort, en laasgenoemde se aardse deel bestaan uit die groot sakewêreld, die politieke bedeling en die godsdiensstelsel. God se hemelse organisasie lojale geesskepsele word op aarde deur sy georganiseerde getuies verteenwoordig (Gal. 4:26; 2 Kor. 4:4). Dit volg dat Christene hulle nie met die politiek moet bemoei of betrokke moet raak by die geweld tussen die nasies nie; trouens, hulle mag nie eens deelneem aan nasionalistiese plegtighede nie. Jehovah God se knegte steun en veg vir sy koninkryk, hoewel nie met vleeslike wapens nie.—Matt. 26:52; Joh. 15:19; 18:36; 2 Kor. 10:4; Jak. 1:27; 4:4.

13. ’n Begrip van watter treffende geskil het hierdie Bybelstudente die naam “Jehovah se getuies” laat aanneem, en waarom was dit so gepas?

13 Hierdie getroue knegte van Jehovah het mettertyd besef dat die regverdiging van Jehovah se naam die groot geskil voor die mensdom is, en dat dit verreweg belangriker is as selfs die redding van menseskepsele. Dit was voorwaar ’n glansryke ligstraal wat helderder geskyn het as enigiets wat tevore verstaan is. Hierdie treffende waarheid het die onderskeid tussen die ware en die vervalste Christelike godsdiens nog duideliker gemaak. Toe hulle hierdie belangrike waarheid eers besef het, was dit nie lank voordat hierdie Christene gesien het dat hulle naam (Bybelstudente), hoewel nie verkeerd nie, nie onderskeidend genoeg was nie. Hulle vernaamste roeping en doel in die lewe was byvoorbeeld nie bloot om studente van die Bybel te wees nie, maar ook om getuies vir Jehovah te wees. En die naam Bybelstudente het hulle ook nie onderskei van die miljoene wat beweer het dat hulle die Bybel studeer maar wat nietemin aan dwaalleerstellings geglo het nie. Deur die verligtende krag van God se heilige gees het hulle toe gesien dat die naam wat tereg en uniek op hulle van toepassing was, in Jesaja 43:10-12 (NW) aangetref word, naamlik “Jehovah se getuies”. In 1931 het hulle vreugdevol hierdie naam aangeneem.

LIG OP PROFESIEË EN GELYKENISSE

14. Watter insig in die herstellingsprofesieë het die verhelderende lig gegee?

14 Tot op hierdie stadium het baie persone die mening gehuldig dat die Jode se terugkeer na hulle tuisland die vervulling van Bybelprofesie was. Maar nee, hierdie pragtige en bemoedigende herstellings-profesieë het hulle eerste vervulling in die sesde eeu v.G.J. gehad toe die Jode uit Babilon teruggekeer het, en hulle het hulle grotere vervulling in ons dag op geestelike Israel. Ons sien bewys van hulle vervulling in die geestelike paradys waarin die hedendaagse “Israel van God” en hulle lojale metgeselle hulself bevind.—2 Kor. 12:4; Gal. 6:16.

15, 16. Watter lig is op twee van Jesus se gelykenisse gewerp?

15 ’n Akkurater begrip van Jesus se gelykenisse het ook gevolg. ’n Besondere voorbeeld is die gelykenis van die skape en die bokke, wat in Mattheüs 25:31-46 opgeteken is. Daar is lank gemeen dat hierdie gelykenis gedurende Christus se duisendjarige bewind vervul sou word. Maar toe het Jehovah se Getuies gesien dat dit eenvoudig nie op daardie tyd toegepas kon word nie. Die talle redes het onder meer ingesluit dat Christus se “broeders” nie tydens sy duisendjarige bewind op die aarde sou wees nie, laat staan nog dat hulle hulp sou nodig hê omdat hulle siek is of vervolg word. Dit moet dus nou vervul word, terwyl die gekroonde Jesus in die hemel die nasies vir oordeel versamel, en dit word gestaaf deur die waarneembare feite ter vervulling daarvan.

16 Daar is eweneens lig gewerp op die gelykenis van die ryk man en Lasarus. Daar is gesien dat die ryk man nie die Joodse nasie as geheel voorgestel het nie, maar die skynheilige, ryk godsdiensleiers van Jesus se dag, en dienooreenkomstig die geestelikes van die Christendom in ons dag.—Luk. 16:19-31.

17. Watter merkwaardige insig het hulle in die boek Openbaring verkry?

17 Die helderder lig het Jehovah se knegte eweneens laat besef dat die boek Openbaring se kritieke vervulling begin met “die dag van die Here”, dit wil sê, sedert 1914, en nie gedurende die hele geskiedenis van die Christengemeente van apostoliese tye tot die hede, soos eens gemeen is nie (Openb. 1:10). Hulle het mettertyd begryp dat die begin van die “dag van die Here” gekenmerk is deur ’n oorlog in die hemel waartydens Migael (die gekroonde Jesus Christus) en sy engele Satan en sy engele uit die hemel gewerp het (Openb. 12:1-12). Jehovah se volk het hulle grootliks verheug om te sien dat hulle Koninkrykswerk voorspel is, veral in Openbaring hoofstukke 2, 3, 6-11.

TEOKRATIESE ORDE

18. Wat het hulle omtrent teokratiese orde in die Christen-gemeentes geleer, en hoe is dit in die praktyk toegepas?

18 Daar kan nog baie voorbeelde gemeld word van hoe die lig in ons dag verhelder het, maar ruimte laat ons toe om nog net een te meld. Dit staan in verband met die teokratiese wet of Godbeheerde prosedure. In die laaste deel van die 19de eeu het die Bybelstudente hulle gemeentes op ’n demokratiese wyse bestuur; hulle wou wegkom van ’n outokratiese hiërargiese stelsel. Maar in 1938 het hulle besef dat hierdie demokratiese reëling nie deur die Skrif gesteun word nie. Dit het nie met teokratiese orde, wat bewind van God af ondertoe, eerder as van mense af boontoe is, gestrook nie (Jes. 60:1, 17-19). In die laaste tyd stel die “getroue en verstandige dienskneg”e onder leiding van die heilige gees manne in die gemeentes aan om as ouere manne en bedieningsknegte te dien (Hand. 20:28). Hulle moet voldoen aan die Skriftuurlike vereistes wat in 1 Timotheüs 3:1-13 en Titus 1:5-9 gemeld word.

19. Waarom kon ’n mens verwag dat volle en volkome lig nie meteens sou kom nie?

19 Die voorgaande lig inderdaad toe dat die pad van Jehovah se volk soos die lig van die môreglans was en is wat immer helderder word (Spr. 4:18). Toe hulle uit die stikdonker gekom het wat “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, omhul, kon daar nie verwag word dat hulle alles dadelik in die regte lig sou sien nie (Openb. 17:5, NW). Die glans van geopenbaarde waarheid kon geestelik ’n verblindende en selfs ’n verwarrende uitwerking op hulle gehad het. Dit kan vergelyk word met ’n persoon wat uit ’n stikdonker vertrek in helder sonlig inloop. Die persoon se oë het tyd nodig om aan die skielike, skerp sonlig gewoond te raak.

20. (a) Watter groot gebied is deur die progressiewe lig van waarheid gedek? (b) Watter vraag moet nog bespreek word?

20 En soos ons gesien het, dek die progressiewe lig van waarheid ’n groot gebied. Daar was ’n gesuiwerde begrip van leerstellings, van profesieë, van Christelike gedrag en die werk van Christene, van die betekenis van Jesus se gelykenisse, van behoorlike gemeentelike organisasie, ensovoorts. Dit is baie duidelik. Maar party vra nogtans: Waarom lyk dit of die pad van ware Christene nie altyd reguit vorentoe loop nie? Wat is die verklaring? Ons verwys die leser na die volgende artikel vir die antwoorde op hierdie vrae.

[Voetnote]

a Kyk bladsye 102, 103 van die boek “Let Your Kingdom Come”, uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap.

b Studies in the Scriptures. DI. 1. ble. 29-35.

c “The Watch Tower Reprints”. DI. 1, ble. 369-371.

d Studies in the Scriptures. DI. 1, bl. 38.

e Jesus Christus het voorspel dat hy hierdie “getroue en verstandige dienskneg” oor al sy besittings sou aanstel om geestelike voedsel aan sy volgelinge te gee. Die voorgaande feite bewys dat hierdie “dienskneg” ’n samegestelde individu is wat aan die Christengetuies van Jehovah verbonde is.—Matt. 24:45-47.

[Prent op bladsy 23]

’n Begrip van Jehovah se voornemens, soos deur “Die Wagtoring” bekendgemaak, het oor die jare heen duideliker geword

[Venster op bladsy 24]

Die hedendaagse knegte van Jehovah het die volgende reeds vroeg verstaan:

Jehovah is die enige ware God en Jesus is sy eniggebore Seun.

Die heilige gees is God se werkende krag.

Die siel is sterflik en die hoop vir die dode is ’n opstanding.

Christus sal 144 000 mede-erfgename in die hemele hê, terwyl die res van die gehoorsame mensdom ewige lewe op ’n paradysaarde sal ontvang.

Hulle het mettertyd ook besef:

Dat God goddeloosheid toegelaat het as gevolg van die geskil van universele soewereiniteit.

Dat die herstellingsprofesieë op geestelike Israel van toepassing is.

Dat Openbaring in die “dag van die Here” vervul word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel