Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 2/15 bl. 15-19
  • “Vir die regverdiges het daar lig gekom”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Vir die regverdiges het daar lig gekom”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE VOORBEELD VAN ABRAHAM
  • DANIËL EN ANDER PROFETE
  • JESUS EN SY APOSTELS
  • NIE-JODE TOEGELAAT
  • ‘O God, stuur u lig’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Jehovah openbaar sy voorneme
    God se Koninkryk regeer!
  • Hoe die lig in ons dag verhelder het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Jehovah—die God met voornemens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 2/15 bl. 15-19

“Vir die regverdiges het daar lig gekom”

“Vir die regverdiges het daar lig gekom, blydskap vir die opregtes.”—Ps. 97:11, NTP.

1. Wat is een ding wat die regverdiges van die goddelose onderskei?

WAT is een ding wat die regverdiges van die goddelose onderskei, die ware knegte van Jehovah God van diegene wat slawe is van God se teenstander, Satan die Duiwel? Dit is ongetwyfeld by uitstek die feit dat die regverdiges, die ware knegte van Jehovah God, lig geniet. Vir hulle het daar inderdaad “lig gekom” (Ps. 97:11, NTP). Maar die goddelose wandel in die duisternis. Ja, “terwyl die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe, is die weg van die goddelose soos duisternis: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie.”—Spr. 4:18, 19.

2. Hoe kan die verhelderende lig op die pad van die regverdiges toegelig word?

2 Let daarop dat die lig op die pad van die regverdiges progressief is. Dit word “al helderder”. Ons kan dit toelig deur ’n man wat voor dagbreek opstaan en te voet deur die platteland begin reis. Hy sien moontlik die silhoeët van ’n gebou in die verte, maar kan aanvanklik nie uitmaak of dit ’n skuur of ’n huis is nie. Namate die dag geleidelik breek en hy nader kom, kan hy sien dat dit ’n huis is. Na ’n ruk kan hy sien dat dit ’n houthuis is, nie ’n baksteenhuis nie. Nog later kan hy sien wat die kleur van die huis is, ensovoorts.

3. Watter faktore het ’n invloed op die verheldering van die lig?

3 Dit is ook die ondervinding van God se knegte. Wanneer ons sake wat nog in die verre toekoms gelê het, beskou het op ’n tydstip toe daar nog min lig op die onderwerp was, het ons dikwels ’n onvolledige en selfs ’n verkeerde beskouing van sake gehad. In sulke situasies was ons heel moontlik beïnvloed deur beskouings wat ons vantevore gehuldig het. Maar namate die lig helderder word en ons nader aan die gebeure kom, word ons begrip van die ontplooiing van God se voornemens duideliker. Profesieë word vir ons duideliker namate Jehovah se heilige gees lig daarop werp en namate hulle deur wêreldgebeure of deur die ondervindinge van God se volk vervul word. Is dit nie presies die manier waarop Jehovah God van ouds af met sy knegte gehandel het nie? Beslis!

DIE VOORBEELD VAN ABRAHAM

4, 5. Hoe het God geleidelik sy voorneme aan Abraham geopenbaar?

4 Beskou Abraham, die man van geloof wat God self Sy vriend genoem het (Jes. 41:8; Jak. 2:23). Ondanks sy intieme verhouding met Jehovah God het hy aanvanklik nie ’n volledige begrip van God se voornemens gehad nie. Dit blyk uit ’n aantal verwikkelinge in Abraham se lewe—sy begrip het geleidelik verbeter. God het hom geroep om sy geboorteland te verlaat en vir hom gesê dat Hy hom ’n groot nasie sou maak en dat al die geslagte van die aarde hulle deur hom sou seën. Maar Abraham het nie al die besonderhede geken nie; ons lees dat hy gehoorsaam het “sonder om te weet waar hy sou kom” (Hebr. 11:8). En al het God hom beloof dat sy saad die land sou ontvang, het Abraham nie geweet hoe dit sou gebeur nie. Hy het selfs sy kommer uitgespreek dat sy dienskneg Eliëser sy huis sou erf. Toe het Jehovah sake duidelik gestel en vir Abraham gesê: “Die een wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal jou erfgenaam wees” (Gen. 12:1-3, 7; 15:2-4). Aangesien Abraham se vrou. Sara, onvrugbaar was, het sy hom gevra om omgang met haar diensmaagd, Hagar, te hê, en dié het vir hom Ismael gebaar. Later het God vir Abraham verduidelik dat die beloofde erfgenaam deur Sara sou kom.—Gen. 17:15-17.

5 Ons kan dus sien dat hoewel alles wat Jehovah regstreeks aan Abraham geopenbaar het waar was, Abraham nie ’n akkurate begrip gehad het van hoe God sy voorneme sou volbring nie. Hy het nietemin steeds geloof beoefen en op Jehovah gewag, en mettertyd verdere verligting ontvang. Toe Jehovah hom beveel het om sy seun Isak op die berg Moria op te offer, het Abraham eweneens nie geweet hoe hierdie saak presies sou verloop nie. Maar hy het geglo dat God ’n saad deur Isak sou verwek selfs al moes God Isak uit die dode opwek.—Hebr. 11:17-19.

DANIËL EN ANDER PROFETE

6, 7. (a) Watter woorde van Daniël toon dat God sake slegs op Sy bestemde tyd openbaar? (b) Watter getuienis gee die apostel Petrus ons in hierdie verband?

6 Daniël, ’n “geliefde man” vir God, was onder die talle profete wat Jehovah met regstreekse openbaringe begunstig het (Dan. 10:11, 19). Jehovah het vir hom baie, spesifieke inligting oor sy eie dag sowel as die toekoms gegee; tog het Daniël nie alles verstaan nie. Van party van die gesigte wat hy gesien het, het hy gesê: “Ek het dit gehoor, maar nie verstaan nie.” Toe hy om meer inligting gevra het, is hy meegedeel: “Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe” (Dan. 12:8, 9). Jehovah God het eweneens aangehou om baie waarhede aan sy knegte die profete te openbaar. Tog was daar baie dinge wat hulle nooit verstaan het nie.

7 Dit is waarom die apostel Petrus kon skryf: “Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors, en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna. Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is.” Trouens, selfs die engele het nie ’n volledige en afgeronde begrip gehad van hoe God se voornemens volbring sou word nie.—1 Pet. 1:10-12.

8. Hoe het ’n vraag van Johannes die Doper getoon dat sy begrip onvolledig was?

8 Johannes die Doper was die laaste van hierdie profete. God het hom gebruik om die weg vir die Christus, Jesus, voor te berei (Luk. 1:16, 17, 76-79). Johannes was baie begunstig deurdat hy van God die teken ontvang het wat die Messias geïdentifiseer het, en daar hy die voorreg gehad het om hom aan Israel voor te stel (Joh. 1:26-36). Johannes het nietemin nie ’n duidelike begrip gehad van al die besonderhede in verband met Jesus se eerste koms nie. Dit blyk uit die feit dat terwyl Johannes in die gevangenis was, hy sy dissipels na Jesus gestuur het met die vraag: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag?” Johannes se vraag het nie van ’n gebrek aan geloof getuig nie, maar van ’n begeerte na meer spesifieke bevestiging. Jesus se antwoord, wat die aandag op sy werke gevestig het, het Johannes ongetwyfeld vertroos.—Matt. 11:2-6.

JESUS EN SY APOSTELS

9. Wat toon dat Jesus nie ’n volledige begrip van sy Vader se voornemens gehad het nie?

9 God openbaar sy wil aan sy knegte slegs op sy bestemde tyd, en dit het selfs vir Jesus Christus gegeld. Jesus het ongetwyfeld regstreekse informasie ontvang toe hy by sy Vader in die hemel was. Maar hy het self nie geweet wanneer die einde van ons teenswoordige stelsel sou aanbreek nie. Dit is waarom hy erken het: “Niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.”—Matt. 24:36, NTP.

10, 11. (a) Watter verkeerde gevolgtrekking het Jesus se dissipels oor die Koninkryk gemaak? (b) Waarom het Jesus slegs beperkte inligting oor die toekoms sowel as ander sake aan sy apostels verstrek?

10 In sy handelinge met sy dissipels het Jesus self opgetree in ooreenstemming met die beginsel in Spreuke 4:18. Hy het vir hulle baie omtrent die Koninkryk vertel: dat hy sou weggaan en dat hy na ’n lang tyd weer sou kom en hulle na hom in die hemel toe sou neem. Maar ten spyte hiervan het sy apostels vasgeklou aan die idee dat die Messiaanse koninkryk die herstelde koninkryk van Dawid in Jerusalem sou wees. Dit is waarom hulle vir die verrese Jesus gevra het: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” Jesus het vir hulle gesê dat daar party dinge was wat hulle nog nie kon verstaan nie: “Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie.”—Hand. 1:6, 7.

11 Dat daar ’n bestemde tyd is om ’n begrip van sekere aspekte van God se voornemens te verkry, blyk uit Jesus se woorde aan sy apostels: “Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie” (Joh. 16:12). Dit toon dat God sy knegte ’n begrip van sy wil gee na gelang van hulle vermoë om dit te snap en te gebruik. Jesus het weliswaar vir sy apostels gesê dat God se gees hulle “in die hele waarheid” sou lei (Joh. 16:13). Maar het Jesus bedoel dat hulle die hele waarheid sou verstaan van die dag af dat hulle heilige gees ontvang het en dat hulle nie later verdere insig nodig sou hê nie? Die feite toon dat dit nie die geval was nie.

NIE-JODE TOEGELAAT

12, 13. (a) Watter duideliker begrip het Jesus se volgelinge op Pinkster gekry, en watter uitwerking het dit op hulle gehad? (b) Wanneer het hulle eers begin om Jesus se opdrag om dissipels van mense van al die nasies te maak uit te voer, en waarom eers toe?

12 Op Pinksterdag 33 G.J. het die dissipels heilige gees ontvang en daarmee saam ’n duideliker begrip van die waarheid in verband met Jesus se opstanding, sy hemelvaart en die betekenis van die koninkryk van God. Hierdie kennis het hulle met ywer besiel om die “evangelie” aan ander te verkondig. Selfs al het Jesus gesê dat hulle dissipels van mense van al die nasies moes maak, het hulle hulle predikingswerk aanvanklik tot die Jode en nie-Joodse proseliete beperk, en mettertyd die Samaritane ingesluit. Hulle het nie verstaan dat hulle na die onbesnede nie-Jode moes gaan nie (Matt. 28:19, 20). Jehovah het ongetwyfeld sulke verligting teruggehou, want die profesie van Daniël het gesê dat die Messias die verbond met die Jode vir die res van die 70ste week van krag sou laat bly.—Dan. 9:24-27.

13 Toe daardie “week” in 36 G.J. geëindig het, het Jehovah God opgetree deur die “evangelie” vir die mense van die nasies beskikbaar te stel. Petrus het inderdaad hulp nodig gehad om sy denke aan te pas voordat hy die huis van ’n onbesnede nie-Jood, wat deur die Wet as onrein bestempel is, binnegegaan het. Terwyl hy in ’n verrukking verkeer het, moes hy beveel word: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie.” Petrus en die ander apostels moes dus hulle beskouing van hierdie saak verander. Petrus het dit gedoen en is deur God gebruik om aan die nie-Jode te verkondig dat die weg na God se hemelse koninkryk geopen is.—Hand. 10:9-43.

14. Watter lig oor die vereistes van die Mosaïese wet het die vroeë Christene jare later ontvang?

14 Maar 13 jaar later was die besnydenis nog steeds ’n twispunt onder party Christene. Dit was nodig vir Paulus en ander dissipels om na Jerusalem te gaan om hierdie saak voor te lê aan die apostels en ander ouere manne wat destyds die bestuursliggaam van die Christengemeentes uitgemaak het. Hierdie liggaam het geluister na wat Petrus te sê gehad het oor die bekering van Cornelius, en Paulus se getuienis oor die kragtige dade wat God in verband met Paulus se bediening aan die nie-Jode verrig het. Toe het hulle bespreek wat God se geïnspireerde Woord oor die saak te sê gehad het. Met behulp van die heilige gees het hulle die regte gevolgtrekking gemaak, naamlik dat hoewel sekere gedragstandaarde nodig was, dit nie vir nie-Jode nodig was om besny te word en die Mosaïese wet te hou om Christene te kan word nie.—Hand. 15:1-16:5.

15, 16. (a) Watter woorde van Paulus het getoon dat hy besef het dat die waarheid progressief geopenbaar word? (b) Watter soortgelyke getuienis het die apostel Petrus gelewer?

15 Omtrent ses jaar na hierdie vergadering het Paulus sy eerste brief aan die Korinthiërs geskryf, waarin hy aangaande geesverwekte Christene van sy dag gesê het: “Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele. Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan. Want nou sien ons deur ’n spieël in ’n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.” Selfs op hierdie stadium het die heilige gees geesverwekte Christene, onder meer die apostel Paulus self, nog nie tot ’n volkome kennis van die hele waarheid gelei nie. Hulle kennis was steeds slegs gedeeltelik, tot die mate dat God hulle tot op daardie tyd ’n begrip gegee het. Maar dit was voldoende vir die behoeftes wat hulle toe gehad het.—1 Kor. 13:9, 10, 12.

16 Wat het Petrus sowat nege jaar nadat Paulus die voorgaande geskryf het, of omtrent die jaar 64 G.J., aan sy mede-Christene geskryf? Na ’n bespreking van die gedaantewisseling wat bevestig het dat Jesus die Seun van God is, het hy gesê: “Ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die morester opgaan in julle harte” (2 Pet. 1:16-21). Christene moes dus steeds die Skrif ondersoek en baie aandag aan die profetiese woord skenk, wat sou wees soos ’n lamp wat in ’n donker plek skyn. Hulle moes voortgaan om dit te doen reg tot die tyd wanneer gesalfde Christene hulle beloning by die glorieryke openbaring van Jesus Christus sou ontvang.

17. (a) Watter nuwe waarhede het die Christene geleer toe die boek Openbaring gegee is? (b) Wanneer sou daar meer lig op daardie boek gewerp word?

17 Sowat 32 jaar nadat Petrus sy tweede brief geskryf het, of sowat 63 jaar na Pinkster 33 G.J., het die apostel Johannes die reeks gesigte wat die boek Openbaring uitmaak, ontvang en neergeskryf. In hierdie gesigte is ’n aantal waarhede oor God se voornemens vir die eerste keer aan geesverwekte Christene geopenbaar. Hulle het byvoorbeeld geleer dat 144 000 manne en vroue uit alle nasies vrygekoop sou word om mede-erfgename van Jesus Christus in die hemel te wees en as konings, priesters en regters in die duisendjarige Messiaanse koninkryk sou regeer (Openb. hfste. 7, 14 en 20). Maar selfs Christene van daardie vroeë tyd het nie volledige kennis gehad nie. Hedendaagse studente van God se Woord kan sien dat die gesigte van Openbaring, wat vir Christene van Johannes se dag leersaam en bemoedigend was, spesiale waarde het vir diegene in die “dag van die Here” waarin ons ons nou bevind (Openb. 1:10). Openbaring 5:1-14 beskryf dus ’n figuurlike boek, met seëls wat gebreek moes word sodat die boek oopgemaak kon word. Dit toon dat daar ten tye van die vervulling van die profesieë van Openbaring ’n geleidelike openbaring van kennis en begrip moet wees wanneer elke seël op sy beurt gebreek word.

18. Hoe het Jehovah God dus in vervloë tye en gedurende die eerste eeu waarhede aan sy knegte geopenbaar?

18 Ons kan dus sien dat Jehovah se getroue knegte in voor-Christelike tye sowel as die gemeente gesalfde Christene van die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling sonder uitsondering almal onvolledige kennis en begrip gehad het. Hulle moes voortdurend vordering maak en hulle begrip aanpas namate hulle die geleidelike ontplooiing van Jehovah se voornemens waargeneem en ondervind het. Vir hulle was die pad van die regverdiges inderdaad soos ‘’n lig wat al helderder word’ (Spr. 4:18). Namate die lig toegeneem het, het hulle kennis verbreed en het hulle die wonderlike waarhede wat Jehovah voortdurend aan hulle openbaar het duideliker onderskei.

19. Wat het God aangaande kennis en insig in die “tyd van die einde” aan die profeet Daniël gesê?

19 Maar wat van Jehovah se knegte in die tyd van die einde? ’n Engel het vir Daniël gesê: “En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit [God se Woord] deursoek, en die kennis sal [gevolglik] vermeerder” (Dan. 12:4). Vers 10 sê verder aangaande God se knegte: “Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan.” Sou hierdie verligting eensklaps kom? Moet God se knegte volkome, gedetailleerde kennis en insig hê sodat hulle nie met verloop van tyd enige aanpassings of veranderinge in hulle beskouings van sekere leerstellings of ander sake hoef aan te bring nie as hulle as daardie “verstandiges” geïdentifiseer wil word? Hierdie en ander vrae sal in die volgende artikels bespreek word.

[Prente op bladsy 15]

Tydens ’n wandeling vroeg in die oggend word dinge duideliker namate ’n mens nader daaraan kom en die duisternis geleidelik deur lig verdryf word

[Venster op bladsy 19]

Jehovah se handelinge met sy knegte in die verlede toon dat ’n begrip van sy voornemens dikwels geleidelik kom.

Abraham het nie geweet hoe God se belofte oor die “saad” presies vervul sou word nie.

Daniël het nie die finale vervulling van sy profesieë verstaan nie.

Johannes die Doper, wat die Messias voorgestel het, het later gevra of daar iemand anders sou kom.

Jesus self het nie die dag en die uur van die “groot verdrukking” geweet nie.

Die apostels moes progressief leer dat die koninkryk ’n hemelse is en dat nie-Jode dit ook kan beërf.

Dit was eers met die ontvangs van die boek Openbaring dat die vroeë Christene geleer het dat Christus se bewind 1 000 jaar lank sou wees en dat hy 144 000 mede-erfgename sou hê.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel