Die pad van die regverdiges word beslis helderder
“’n Heerser oor mense, ’n regverdige, . . . is soos die môrelig by sonsopgang.”—2 Sam. 23:3, 4.
1. Watter verwagting wek 2 Samuel 23:3, 4 by ons, en is dit verwesenlik?
DIE lig op die pad van Jehovah se knegte het van die vroegste tye af tot die hede voortdurend verhelder. Dit was veral die geval sedert daardie merkwaardige jaar 1914 toe, soos verwikkelinge hier op aarde getoon het, “die koninkryk van die wêreld die koninkryk van ons Here [Jehovah] en van sy Christus geword het” (Openb. 11:15, NW). Lig het uit God se Woord gestraal soos die sonskyn op “’n more sonder wolke” om die pad wat Jehovah se knegte moet bewandel selfs duideliker te verlig.—2 Sam. 23:3, 4.
2. Hoe kan ons periodieke aanpassings in ons beskouing beskou?
2 Maar dit het moontlik vir party gelyk asof daardie pad nie altyd reguit vorentoe loop nie. Soms het verduidelikings deur Jehovah se sigbare organisasie aanpassings bevat wat dit laat lyk het asof vroeëre beskouings weer aanvaar is. Maar dit was nie werklik die geval nie. Dit kan vergelyk word met wat seelui “lavering” noem. Met behulp van die seile kan die matrose ’n skip van regs na links, heen en weer, laat seil terwyl hulle die hele tyd nader aan hulle bestemming kom ondanks teenwinde. En die doelwit wat Jehovah se knegte voor oë het, is die “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” wat God beloof het.—2 Pet. 3:13.
3. Watter getuienis is daar dat Jehovah steeds sy getuies seën?
3 Dit ly geen twyfel dat Jehovah God steeds die globale bedrywigheid van sy getuies, wat deur die “getroue en verstandige dienskneg” gerig word, seën nie. Dit blyk uit die vrugte. Onthou, Jesus het gesê: “So dra elke goeie boom goeie vrugte.” En sulke regverdige vrugte kan vandag dwarsoor die aarde slegs onder een volk gesien word—die verenigde, globale gemeenskap van Jehovah se Getuies.—Matt. 7:17.
4, 5. Watter ander instrument, bo en behalwe sy geïnspireerde Woord, gebruik Jehovah God om sy volk te lei?
4 Ongeag waar ons vandag op aarde woon, dien God se Woord steeds as ’n lig vir ons pad en ’n lamp vir ons weg waar dit kom by gedrag en leerstellings (Ps. 119:105). Maar Jehovah God het ook sy sigbare organisasie, sy “getroue en verstandige dienskneg”, wat uit geesgesalfdes bestaan, voorsien om Christene in alle nasies te help om die Bybel te verstaan en behoorlik in hulle lewens toe te pas. Tensy ons in verbinding is met hierdie kommunikasiekanaal wat God gebruik, sal ons nooit vordering op die weg tot die lewe maak, ongeag hoe baie ons die Bybel lees nie.—Vergelyk Handelinge 8:30-40.
5 In verband met God se kommunikasiekanaal het Jesus gesê dat die “getroue en verstandige dienskneg” aan al sy volgelinge geestelike voedsel op tyd sou gee en dat hy hierdie “dienskneg” oor al sy besittings sou aanstel (Matt. 24:45-47). Dit is ook opmerklik dat die apostel Paulus in Efesiërs 4:11-16 aangedui het dat die Christengemeente nie alleen geïnspireerde instrumente soos apostels en profete nodig gehad het nie, maar ook evangeliste, herders en leraars om Christene te help om tot die eenheid van die geloof en die juiste kennis van die Seun van God te kom, en om volle geestelike rypheid te bereik.—Kyk ook 1 Korinthiërs 1:10; Filippense 1:9-11.
6. As gevolg van watter faktore is dit soms nodig om beskouings te hersien?
6 Hierdie “getroue en verstandige dienskneg” wat aan Jehovah se Getuies verbonde is, word inderdaad deur Jehovah God gebruik om sy volk te lei, te versterk en te rig. Aangesien die lig progressief helderder word en omdat daar foute begaan is weens menslike onvolmaaktheid en swakheid, moes hierdie Christene weliswaar nou en dan beskouings en leerstellings hersien. Maar het dit nie tot suiwering gelei wat tot hulle voordeel strek nie? Beskou ’n paar voorbeelde.
DIE LOSPRYS EN JEHOVAH SE NAAM
7. Waarom en op watter grondslag het die Bybelstudente die leerstelling oor die losprys so op die voorgrond geplaas?
7 In 1878 het Charles T. Russell, wat later die eerste president van die Wagtoringgenootskap geword het, sy bande met die mederedakteur van The Herald of the Morning, N. H. Barbour, verbreek oor die kwessie van die losprys. Mnr. Barbour het die gedagte verwerp dat Jesus se offerande krag het om sondes weg te neem. Daarna het Bybelstudente, soos hierdie getuies van Jehovah hulself destyds genoem het, jare lank die losprys as die vernaamste leerstelling van die Bybel beskou. En dit ly geen twyfel dat redding deur geloof in Christus se losprys in God se Woord beklemtoon word nie (Joh. 3:16; Hand. 4:12; Hebr. 5:9; Openb. 7:10). Jesus se losprysoffer is profeties afgeskadu deur Abraham se opoffering van Isak en deur die offerandes onder die Mosaïese wet. Dit is ook deur die profete voorspel. Die Bybelstudente het dus groot klem gelê op wat Jesus Christus vir die mensdom gedoen het.—Luk. 24:25-27, 44.
8. (a) Wat het hulle toe gesien is van groter belang? (b) Waartoe het dit gelei, maar watter aanpassing is in latere dekades aangebring?
8 Maar die Bybel toon dat daar iets is wat baie belangriker is as ons persoonlike redding. Dit is die groot geskil oor Jehovah se universele soewereiniteit, wat Satan ten tye van die opstand in Eden betwis het (Gen. 3:15; 1 Kor. 15:24, 25; Openb. 11:15; 12:10). Dit vereis die regverdiging van Jehovah se naam. Trouens, die tema van die Bybel, van Genesis tot Openbaring, is die Messiaanse koninkryk waardeur daardie glorieryke Naam vir ewig geregverdig en verheerlik sal word! Ons lees sowat 75 keer in die Bybel dat God verklaar het: ‘Hulle sal weet dat ek Jehovah is.’a Sy getuies het mettertyd besef dat skepsele by Jehovah God kon pleit op grond daarvan dat sy naam by die saak betrokke is en dat ‘elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, gered sal word’ (Rom. 10:13; Joel 2:32; Sef. 3:9). Etlike jare lank is Jehovah se naam en die regverdiging daarvan so op die voorgrond geplaas dat kritici van die Getuies hulle daarvan beskuldig het dat hulle nie aan Jesus Christus glo nie. Maar dit was hoogstens ’n geval van oorbeklemtoning. Soos gereelde lesers van Die Wagtoring die afgelope dekades maar te goed besef, het die Christengetuies van Jehovah beslis die nodige eer aan Jesus se rol in die ontplooiing van God se voornemens gegee. Jehovah se profetiese Woord vestig inderdaad die aandag op Jesus as God se vernaamste ‘bewerker van saligheid’.—Hebr. 2:10; 12:2; Openb. 19:10.
9. Watter beginsel wat wetenskaplike vooruitgang beheer, is skynbaar hier van toepassing?
9 Daar kan gesê word dat sulke aanpassings getrou is aan ’n beginsel wat glo die vooruitgang van wetenskaplike waarheid beheer. Dit werk min of meer soos volg: Daar word eers ’n stelling gemaak waaroor daar geargumenteer kan word. Dit hou groot moontlikhede vir verligting of praktiese toepassing in. Maar mettertyd blyk dit dat dit sekere gebreke of swakhede het. Die neiging is dan om ’n stelling te steun wat na die ander uiterste oorhel. Later word daar gevind dat daardie posisie ook nie die hele waarheid is nie, met die gevolg dat daar ’n samestelling van die geldige punte in albei posisies is. Hierdie beginsel het keer op keer gegeld in die wyse waarop Spreuke 4:18 vervul is.b
GEDRAG EN PREDIKINGSWERK
10, 11. Watter twee posisies is om die beurt beklemtoon, maar wat was die finale uitslag?
10 Beskou nog ’n voorbeeld van progressiewe begrip: Nagenoeg 40 jaar lank het die Bybelstudente beklemtoon hoe belangrik dit is om ’n voorbeeldige Christelike persoonlikheid aan te kweek, en hulle het die kweekproses “karakterontwikkeling” genoem. Dit is so sterk beklemtoon omdat dit in die valse Christendom verwaarloos word. Christene moes weliswaar ook getuig deur met ander oor God se voornemens te praat, maar dit was min of meer ondergeskik. Toe God se volk later besef het hoe belangrik Jehovah se naam is en dat hulle vir sy naam en koninkryk moet getuig, is dit beklemtoon, met die gevolg dat minder aandag aan die aankweek van ’n Christelike persoonlikheid geskenk is. Daar is geredeneer dat Jesus bowenal gekom het om te getuig, en dat dit die predikingswerk is wat werklik van belang is. Dit was nodig om die ewewig tussen die twee posisies te vind.—Rom. 10:10; Gal. 5:22.
11 Daardie ewewig is mettertyd gevind. Christene moet die vrug van God se gees aankweek én ook onverskrokke en getrou vir Jehovah getuig. Albei hierdie vereistes is belangrik. Ons kan nie die een verwaarloos op die veronderstelling dat ons die ander doen nie. Die apostel Paulus het gesê: “Wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!” Maar hy het ook gesê: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.”—1 Kor. 9:16, 27.
ONDERDANIGHEID AAN DIE “HOËRE OWERHEDE”
12, 13. (a) Wie het die vroeë Bybelstudente geglo is die “magte” van Romeine 13:1? (b) Tot watter ander uiterste het dit gelei, maar met watter duidelike voordeel?
12 Die verkryging van ’n behoorlike begrip van Romeine 13:1-7 is nog ’n voorbeeld van hoe daar na die regte beskouing “gestuur” is. Die vroeë Bybelstudente het korrek verstaan dat die ‘magte oor hulle’ of “hoëre owerhede” die politieke heersers van hierdie wêreld is. (Vergelyk die Afrikaanse Bybel en die New World Translation.) Op grond van daardie begrip het hulle tot die gevolgtrekking gekom dat indien ’n Christen in oorlogstyd opgeroep word, hy in die leër sou moes dien, ’n uniform sou moes aantrek en na die slagveld sou moes gaan. Maar daar is toegelaat dat hy, wanneer hy ’n medemens moes doodmaak, net in die lug kon vuur.
13 Dit was egter baie duidelik dat die apostel Paulus nie so ’n weg kon aanbeveel het nie. Die vraag het ontstaan: Kon die ‘magte oor ons’ dan na Jehovah God en Jesus Christus verwys? God se volk het ’n ruk lank hierdie mening gehuldig. En gedurende die moeilike jare van die Tweede Wêreldoorlog het dit hulle ten minste versterk om ‘aan God meer gehoorsaam te wees as aan die mense’, terwyl hulle ’n wonderlike reputasie van onverskrokke Christelike neutraliteit dwarsoor die aarde opgebou het (Hand. 5:28, 29). Daar het nog nooit enige twyfel bestaan dat Christene hulle grootste trou aan die Soewereine Heer Jehovah en sy Messiaanse koning, Jesus Christus, moet gee nie. Maar is Hulle terselfdertyd die “hoëre owerhede” aan wie ons ‘belasting, tol en eer’ moet gee?—Rom. 13:7.
14. Hoe is die kwessie van onderdanigheid aan wêreldlike regeringsowerhede eindelik in die regte lig gesien?
14 In 1962 het Jehovah gelukkig sy volk gehelp om die beginsel van betreklike onderdanigheid te verstaan. Daar is gesien dat toegewyde Christene die sekulêre heersers as die “hoëre owerhede” moet gehoorsaam en dié met genoeë as ’n “dienaar van God” vir hulle beswil moet erken (Rom. 13:4). Maar gestel nou hierdie “owerhede” verwag van hulle om God se wette te verbreek? Tot op daardie stadium was Christene gehoorsaam aan die bevel in Romeine 13:1: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is.” Maar dit word gekwalifiseer deur Jesus se woorde wat in Mattheüs 22:21 opgeteken is: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.” Wanneer die “keiser” Christene vra om dinge te doen wat in stryd met God se wil is, moet hulle Jehovah se wet voor die “keiser” s’n stel. Dit is strydig met wat oor die algemeen in die valse Christendom beoefen word. Talle sogenaamde Christene aarsel nie om God se wette te verbreek wanneer die keiser hulle beveel om dit te doen nie. Een patriot het dit selfs soos volg uitgedruk: “Ons land! . . . mag hy altyd reg hê; maar ons land, reg of verkeerd.” Maar dit is nie die geval met die Christengetuies van Jehovah nie! Wanneer hulle beveel word om in stryd met God se wil op te tree, maak hulle die woorde van Jesus se apostels hulle eie en sê hulle: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”—Hand. 5:29.
WIE IS BEDIENAARS?
15, 16. (a) Wie het Jehovah se Getuies lank geglo is God se bedienaars? (b) Watter aanpassing is gemaak, en waarom? (c) Maar watter gebreke het hierdie aanpassing gehad?
15 Ons wil net nog een voorbeeld van progressiewe verligting aanhaal: die vraag of alle opreg toegewyde Christene bedienaars is, ongeag ouderdom of geslag. Jehovah se Getuies het jare lank geglo dat almal wat berouvol was, hul bekeer het, geloof in God en Christus beoefen het, hulself aan Jehovah toegewy het om sy wil te doen soos deur Christus geopenbaar, en gedoop is, inderdaad bedienaars is. Maar toe het party besware geopper. Regeringsowerhede het nie altyd hierdie posisie erken nie. Daar is ook geredeneer dat baie tale nie ’n ekwivalent vir die Engelse woord “minister” het nie en dat dit dus nie in ’n godsdienssin gebruik moes word deur diegene wie se tale dit nie gehad het nie. Daar is ook geredeneer dat doop nouliks na ’n voldoende wydingsplegtigheid gelyk het. Maar was dit gegronde redes om die Engelse benaming “minister” te beperk tot diegene wat in ’n amp in die gemeente aangestel is, naamlik tot ouere manne en “diakens” of bedieningsknegte?
16 Die feit is dat die landswet gewoonlik elke godsdiensorganisasie toelaat om te bepaal wat ’n persoon een van sy bedienaars maak. As ander nie hulle posisie erken of daarmee saamstem nie, maak dit nie saak nie. Dit maak ook nie saak dat baie tale nie ’n ekwivalent vir die woord “minister” het nie. Dit behoort nie dié tale wat so ’n woord bevat—Engels, Italiaans, Spaans en ander—te verhoed om dit te gebruik as dit ’n geldige doel dien nie.
17, 18. Wie kan werklik in Engels “ministers” genoem word, en hoe moet hulle hulle “bediening” beskou?
17 Die Engelse woord “minister” is ’n nuttige, want dit verwys na ’n spesiale soort “dienaar”, een met ’n verhewe, spesiale dienstoewysing. Enigiemand, ongeag ouderdom of geslag, wat kan toon dat hy of sy ’n goeie begrip van God se wil en voornemens vir die mensdom het, en wat sy of haar lewe na Bybelbeginsels geskik het, en wat hom of haar toegewy het en gedoop is ooreenkomstig Jesus se bevel in Mattheüs 28:19, 20, is waarlik een van God se bedienaars. Trouens, daar kan gesê word dat so ’n persoon meer bevoeg is om vir God te spreek as enige van diegene wat aan kweekskole gestudeer het maar wat nie God se voornemens verstaan nie en moontlik nie hulle lewens na God se regverdige vereistes geskik het nie. Diegene wat God waarlik dien, kan saam met die apostel Paulus sê: ‘Ek verheerlik my bediening.’—Rom. 11:13.
18 Daar moet beklemtoon word dat die woord “minister” nie ’n titel is nie, maar ’n beskrywing. (Vergelyk Mattheüs 20:28, NW.) Dit is nie genoeg vir ’n persoon om die stappe te doen wat hom laat kwalifiseer om as ’n kneg van Jehovah God gedoop te word nie. Die individu moet die bediening, sy “heilige diens” vir Jehovah God, die hoofdoelwit in sy lewe maak. Anders kan hy, ongeag hoeveel tyd hy weens omstandighede buite sy beheer aan sy bediening wy, hom nie tereg ’n bedienaar noem of deur ander as een van God se bedienaars beskou word nie.—Rom. 12:1, NW; 2 Tim. 4:5.
19. (a) Wat het hierdie ontwikkeling van begrip tot gevolg gehad, maar hoe is lojale persone geseën? (b) Wat is Jehovah se reëling vir die verspreiding van geestelike voedsel, en waarom moet dit altyd ons keuse wees?
19 Hierdie ontwikkeling van begrip, wat as ’t ware “lavering” behels, het natuurlik dikwels gedien as ’n toets van lojaliteit vir diegene wat met die “getroue en verstandige dienskneg” assosieer. Maar daar word voortdurend gevorder tot ’n vollediger begrip van die “evangelie” en alles wat dit beteken. Dit was die ervaring van diegene wat na aan God se organisasie bly dat vrae en dinge wat moeilik was om te verstaan altyd met verloop van tyd opgehelder is. En hoe hartverblydend en bevredigend is die weg tog namate die lig altyd helderder skyn! Dit is soos Petrus dit gestel het toe party van die dissipels gestruikel het oor Jesus se leer: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe” (Joh. 6:68). Die Here Jesus Christus het nog steeds daardie “woorde”, en hy maak dit bekend deur die een “getroue en verstandige dienskneg”-organisasie wat hy vandag op aarde gebruik. Dit is soos die “goeie boom” wat Jesus gesê het “goeie vrugte” dra (Matt. 7:17). Die enigste ander keuse is omgang met Satan se politieke “dier” en “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens (Openb. 13:1; 17:5, NW). Geen toegewyde Christen wil daarna terugkeer nie!—2 Pet. 2:22; Joh. 14:6.
20. (a) Waarom kan ons nou meer vertroue as ooit hê in ‘die lig wat opgaan’? (b) Watter gelukkige toekoms wag op almal wat die pad van verhelderende lig kies?
20 Ja, waarlik, “vir die regverdiges het daar lig gekom” (Ps. 97:11, NTP). Spreuke 4:18 word vervul daar “die pad van die regverdiges” soos ’n lig is wat al helderder skyn. As daar soms ’n effense aanpassing gemaak moet word, het dit sonder uitsondering ’n beter posisie tot gevolg. Die suiwering was nie tevergeefs nie. Omdat Christus nou heers, is die verligting wat Jehovah se volk geniet “soos die môrelig by sonsopgang” (2 Sam. 23:3, 4; Matt. 25:31). Almal wat lojaal saam met die “getroue en verstandige dienskneg”-organisasie, Jehovah se sigbare kommunikasieagent, dien, is voorwaar begunstig! Hulle het die verstandige keuse gedoen, want hulle pad lei tot die kosbare doelwit van ewige lewe in die nuwe orde wat Jehovah skep.—Jes. 65:17, 18; 66:22.
[Voetnote]
a Nagenoeg 60 keer in die boek Esegiel alleen; ook in Exodus 6:6; Deuteronomium 29:6; Jesaja 49:23; Joel 3:17, en ander tekste.
b Dit word genoem die tese (stelling), antitese (teenstelling) en sintese (’n samestelling van die twee).
[Diagram/Prent op bladsy 27]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Lavering teen die wind
[Venster op bladsy 30]
Deur studie en ondervinding sien Jehovah se knegte nou die volgende in behoorlike ewewig:
Dat die regverdiging van Jehovah se naam belangriker as die redding van skepsele is.
Dat ywer in die getuieniswerk en die aankweek van die vrugte van die gees ewe belangrik is.
Dat die Christen se onderdanigheid aan sekulêre owerhede ’n betreklike onderdanigheid is.
Hulle geëerde posisie as bedienaars wat Jehovah waarlik verteenwoordig, ongeag hoe ander hulle beskou.